Loading…
Die Skaduwee van die Kruis
DIE werk van Christus op aarde het ten einde gespoed. Voor Hom, helder omlyn, was die tonele waarheen Sy weg gelei het. Nog voordat Hy die menslike natuur aangeneem het, het Hy die hele pad gesien wat Hy sou moes bewandel om te red wat verlore was. Elke steek wat Sy hart gepynig het, elke belediging, elke ontbering wat Hy moes verduur, het Hy gesien toe Hy Sy kroon en koninklike kleed afgelê en van die troon afgestap het om mens te word. Die pad van die krip na Golgota was duidelik voor Hom. Hy het geweet van die angs wat Hy sou moes verduur. Hy het alles geweet, maar nogtans het Hy gesê, “Kyk, Ek kom; in die boekrol is dit My voorgeskrywe. Ek het lus, o My God, om U welbehae te doen, en U wet is binne-in My ingewande.” KE 418.1
Hy het die uitwerking van Sy sending gedurig voor Hom gesien. Sy aardse lewe, so vol werk en opoffering, is veraangenaam deur die vooruitsig dat Hy die bittere lyding nie verniet sou verduur nie. Deur Sy lewe vir die lewe van die mens te gee, sou Hy die wêreld terugwin tot getrouheid aan God. Alhoewel Hy die bloeddoop eers sou moes ondergaan; alhoewel Sy onskuldige siel die sondelas van die hele wêreld sou moes dra; alhoewel die skaduwee van naamlose lyde op Hom geval het, het Hy tog, vir die vreugde wat aan Hom voorgehou is, die kruis verdra en die skande verag. KE 418.2
Vir diegene wat saam met Hom gewerk het, was die tonele wat voor Hom gelê het, nog verberg, maar die tyd was nie meer ver wanneer hulle Sy lyde sou sien nie. Hulle sou sien hoedat Hy — die Een wat hulle liefhet en vertrou — oorgelewer word in die hande van Sy vyande, en gekruisig word op Golgota. Eerlank sou Hy hulle verlaat om die wêreld alleen te trotseer sonder Sy vertroosting en sigbare teen- woordigheid. Hy het geweet hoe bittere haat en ongeloof hulle sou vervolg, en Hy wou hulle graag voorberei vir daardie beproewings. KE 419.1
Jesus en Sy dissipels het by een van die dorpies gekom van Cesarea-Filippi. Hulle was buite die grense van Galilea, in 'n streek waar afgodediens geheers het. Hier was die dissipels weg van die oorheersende invloed van Judaïsme, en is hulle in nouer aanraking gebring met die heidense godsdiens. Rondom hulle het hulle vorms van bygeloof gesien wat in alle dele van die wêreld bestaan het. Jesus wou hê dat die aanskouing van daardie dinge hulle hulle verantwoordelikheid teenoor die heidene sou laat besef. Gedurende Sy verblyf in daardie streek, het Hy getrag om Hom aan die mense te onttrek, en meer tyd aan Sy dissipels te bestee. KE 419.2
Hy wou hulle vertel van die lyde wat Hom gewag het, maar Hy het Hom eers afgesonder en gebid dat hulle harte berei mag word om Sy woorde aan te neem. Toe Hy weer by hulle aangesluit het, het Hy nie dadelik aan hulle vertel wat Hy hulle wou meedeel nie. Voordat Hy dit doen, sou hulle eers geleentheid kry om hulle geloof in Hom te bely om dus versterk te word vir die komende beproewing. Hy het gevra, “Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is?” KE 419.3
Met droefheid moes die dissipels erken dat Israel hulle Messias nie herken het nie. Sommige het wel, toe hulle Sy wonderwerke sien, verklaar dat Hy die Seun van Dawid was. Die skare wat Hy by Betsaida gevoed het, wou Hom graag tot koning van Israel uitroep. Vele was gereed om Hom aan te neem as 'n profeet, maar hulle het nie geglo dat Hy die Messias was nie. KE 419.4
Jesus het nou 'n tweede vraag gestel wat die dissipels persoonlik geraak het: “Maar julle, wie sê julle, is Ek?” Petrus het geantwoord, “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” KE 419.5
Van die begin af het Petrus geglo dat Jesus die Messias was. Baie ander wat tot oortuiging gebring is deur die prediking van Johannes die Doper, en wat Christus aangeneem het, het begin twyfel aan Petrus het uiting gegee aan die geloof van die twaalf, maar die dissipels het nog glad nie die sending van Christus verstaan nie. Die teenstand en wanvoorstellings van die priesters en owerstes, hoewel dit hulle nie kon beweeg om Christus te verlaat nie, het hulle baie verbyster. Hulle het nie hulle pad duidelik gesien nie. Die invloed van hulle vroeë opvoeding, die leer van die rabbi's, die mag van tra- disie, het nog hulle idee van die waarheid beïnvloed. Van tyd tot tyd het die kosbare strale van die lig van Jesus op hulle geskyn, maar dikwels was hulle soos manne wat in die duister rondgetas het. Maar op hierdie dag, voordat hulle die groot toets van hulle geloof sou verduur, het die Heilige Gees met krag op hulle gekom. Vir 'n tydjie is hulle oë afgewend van die “sigbare dinge,” om die “onsigbare dinge” te sien. 2 Kor. 4: 18. Onder die mantel van die menslike vlees het hulle die heerlikheid van die Seun van God gesien. KE 419.6
Jesus het aan Petrus gesê, “Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit aan jou nie geopenbaar nie, maar My Vader wat in die hemele is.” KE 420.1
Die waarheid wat Petrus bely het, is die grondslag van die gelowige se geloof. Dit is, soos Christus self gesê het, die ewige lewe. Maar daardie kennis moes nie die rede vir selfverheerliking wees nie. Dit is aan Petrus geopenbaar nie op grond van enige wysheid of goedheid van sy eie nie. Nooit kan die mens alleen tot die kennis van die goddelike kom nie. “Hoogtes van die hemel is dit—wat kan jy doen? Dieper as die doderyk—wat kan jy weet?” Job 11:8. Alleen die gees van aanneming kan aan ons die diep dinge van God openbaar, wat “die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie. . . . Maar God het dit aan ons deur Sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.” 1 Kor. 2: 9, 10. “Die verborgenheid van die Here is vir die wat Hom vrees;” en die feit dat Petrus die heerlikheid van Christus gesien het, is bewys dat hy deur “God geleer” is. Ps. 25: 14; Joh. 6: 45. Ja, gewis, “Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit aan jou nie geopenbaar nie.” KE 420.2
Jesus het voortgegaan: “Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek My gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” Die woord Petrus beteken 'n klip —'n los klip. Petrus was nie die rots waarop die kerk gebou is nie. Die poort van die doderyk het hom oorweldig toe hy sy Here verloën het met vloeke. Die kerk is gebou op íemand wat nie deur die poorte van die doderyk oorweldig kon word nie. KE 421.1
Eeue voor die koms van die Heiland het Moses gewys op die Rots van Israel se saligheid. Die psalmis het gesê, “Hy is my rots en my heil.” Jesaja het geskryf, “So sê die Here Here: Kyk, Ek lê in Sion 'n grondsteen, 'n beproefde steen, 'n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is.” Deut. 32: 4; Ps. 62: 7; Jes. 28: 16. Petrus self het hierdie profesie, onder inspirasie, op Jesus toegepas. Hy het gesê, “Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, soos 'n geestelike huis.” 1 Pet. 2:4, 5. KE 421.2
“Niemand kan 'n ander fondament lê as wat daar gelê is nie; dit is Jesus Christus.” 1 Kor. 3:11. “Op hierdie rots,” het Jesus gesê, “sal Ek My gemeente bou.” In die teenwoordigheid van God en al die hemelse wesens, in die teenwoordigheid van die onsigbare leërskare van die hel, het Christus Sy kerk gegrondves op die lewende Rots. Die Rots is Christus self — Sy eie liggaam wat vir ons verbreek is. Die kerk wat op hierdie fondament gebou is, sal nie deur die poorte van die doderyk oorweldig word nie. KE 421.3
Hoe swak het die kerk nie gelyk toe Christus hierdie woorde gespreek het nie! Daar was slegs 'n handjievol gelowiges teen wie al die magte van duiwels en bose mense gerig was, maar die navolgers van Christus moes nie vrees nie. Gebou op die Rots van hulle sterkte kon hulle nie omver gewerp word nie. KE 421.4
Vir sesduisend jaar reeds bou die geloof voort op Christus. Vir sesduisend jaar het die storms en vloedgolwe van sataniese wraak geklots teen die Rots van ons saligheid, maar dit het onbeweeglik bly staan. KE 421.5
Petrus het die waarheid uitgedruk wat die fondament van die kerk se geloof is, en Jesus het hom nou vereer as die verteenwoordiger van al die gelowiges. Hy het gesê, “Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” KE 422.1
“Die sleutels van die koninkryk van die hemele” is die woorde van Christus. Al die woorde van die Heilige Skrif is Syne, en dit is hier ingesluit. Die woorde het mag om die hemel oop te sluit of toe te sluit. Hulle stel die voorwaardes waarop mense aangeneem of verwerp word. Die werk van diegene wat Gods Woord verkondig, is dus 'n reuk van die lewe tot die lewe of van die dood tot die dood. Hulle sending het ewige gevolge. KE 422.2
Die Heiland het nie die werk van die evangelie aan Petrus as indiwidu gegee nie. By 'n latere geleentheid, toe Hy die woorde tot Petrus gespreek, herhaal het, het Hy hulle regstreeks op die kerk toe- gepas. Dieselfde woorde is feitelik ook gespreek tot die twaalf as verteenwoordigers van alle gelowiges. As Jesus spesiale gesag gegee het aan een van die dissipels, bokant al die ander, dan sou ons hulle nie later sien stry het oor wie die grootste sou wees nie. Hulle sou hulle onderwerp het aan die wens van hulle Meester en die een eer wat Hy gekies het. KE 422.3
Pleks van een aan te stel as hulle hoof, het Christus aan Sy dissipels gesê, “Laat julle nie rabbi noem nie;” “julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester, Christus.” Matt. 23: 8, 10. KE 422.4
“Julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man.” God, wat alle dinge onder die voete van Christus gestel het, het “Hom as 'n Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee wat Sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” 1 Kor. 11:3; Efe. 1: 22, 23. Die kerk is op Christus as fondament gebou; hy moet Christus gehoorsaam as sy hoof. Hy moet nie op mense vertrou of deur mense beheers word nie. Daar is vele wat meen dat 'n verantwoordelike posisie in die kerk hulle die mag gee om voor te skryf wat ander mense moet glo en wat hulle moet doen. God steun nie hierdie aanspraak nie. Die Heiland sê, “Julie is almal broers.” Almal is blootgestel aan versoeking en almal kan foute begaan. Ons kan nie op feilbare mense steun vir leiding nie. Die Rots van geloof is die lewende teenwoordigheid van Christus in die kerk. Daarop kan die swakste vertrou, en diegene wat meen dat hulle die sterkste is, sal die swakste wees tensy hulle volkome op Christus steun. “Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak.” “Hy is die steenrots wie se werk volkome is.” “Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil.” Jer. 17: 5; Deut. 32: 4; Ps. 2: 12. KE 422.5
Ná Petrus se belydenis het Jesus die dissipels opdrag gegee om aan geen mens te vertel dat Hy die Christus is nie. Hierdie opdrag is gegee ten gevolge van die vasberade opposisie van die skrifgeleerdes en Fariseërs. En wat meer is, die mense, en selfs die dissipels, het so 'n verkeerde begrip gehad van die Messias, dat 'n openbare aankondiging van Hom hulle geen ware begrip sou gegee het van Sy karakter en werk nie. Maar dag na dag het Hy Homself aan hulle geopenbaar as die Verlosser, en so het Hy probeer om hulle 'n ware besef te gee van Hom as die Messias. KE 423.1
Die dissipels het nog verwag dat Christus sou regeer as 'n tydelike vors. Alhoewel Hy Sy plan so lank bedek gehou het, het hulle geglo dat Hy nie altyd in armoede en onbekendheid sou bly nie; die tyd was naby wanneer Hy Sy koninkryk sou stig. Dat die haat van die priesters en rabbi's onoorkomelik was; dat Christus deur Sy eie volk verwerp, as bedrieër veroordeel, en gekruisig sou word as 'n misdadiger — sulke gedagtes het nooit by die dissipels opgekom nie. Maar die uur van die vors van die duisternis het genader, en Jesus moes die dissipels bekendstel met die stryd voor hulle. Die gedagte aan Sy verhoor het Hom met droefheid vervul. KE 423.2
Tot op daardie oomblik het Hy nog niks aan hulle bekendgemaak in verband met Sy lyde en dood nie. In Sy gesprek met Nikodemus het Hy gesê, “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Joh. 3: 14, 15. Maar die dissipels het dit nie gehoor nie, en al het hulle dit gehoor, sou hulle dit nie verstaan het nie. Maar nou het hulle met Jesus gewandel, na Sy woorde geluister en Sy werke gesien, totdat hulle, nieteenstaande Sy nederige omstandighede en die opposisie van die volk, saam met Petrus kon getuig, “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Nou het die tyd gekom om die sluier van die toekoms weg te trek. “Van toe af het Jesus begin om Sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moet gaan en baie van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moet ly en doodgemaak en op die derde dag opgewek word.” KE 423.3
Spraakloos van droefheid en verbasing, het die dissipels geluister. Christus het Petrus se belydenis aangeneem dat Hy die Seun van God is; en nou was Sy woorde wat verwys het na Sy ly de en dood, onverstaanbaar. Petrus kon nie stilbly nie. Hy het sy Meester beetgepak as- of hy Hom wou wegtrek van die dreigende onheil, en uitgeroep, “Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie!” KE 424.1
Petrus het sy Here liefgehad; maar Jesus het hom nie geprys nie omdat hy sy begeerte uitgespreek het om Hom te beskerm van die lyding. Petrus se woorde was nie 'n troos vir Jesus in die groot beproewing voor Hom nie. Hulle was nie ooreenkomstig Gods genadeplan vir die verlore wêreld nie, en ook nie met die les van selfopoffering wat Jesus deur Sy eie voorbeeld kom leer het nie. Petrus wou nie graag die kruis sien in die werk van Christus nie. Die indruk wat sy woorde sou maak, was lynreg teen die indruk wat Christus wou skep by Sy navolgers, en die Heiland was verplig om een van die kwaaiste bestraffings te gee wat ooit van Sy lippe gekom het: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, omdat jy nie oor die dinge van God dink nie, maar oor die van die mense.” KE 424.2
Die Satan het geprobeer om Jesus te ontmoedig en Hom te laat terugdeins vir Sy sending; en Petrus, in sy blinde liefde, het die versoeking in woorde uitgedruk. Die vors van die duisternis was die ingewer van daardie gedagte. Hy het gesit agter daardie dringende versoek. In die woestyn het die Satan die heerskappy van hierdie wêreld vir Christus aangebied op voorwaarde dat Hy die pad van vernedering en opoffering verlaat. Nou het hy dieselfde versoeking gebring aan die dissipel van Christus. Hy het Petrus beïnvloed om sy oë op aardse heerlikheid te vestig, sodat hy nie die kruis kon sien waarop Jesus sy aandag wou vestig nie. En deur Petrus het die Satan Jesus weer versoek. Maar die Heiland het nie daarna geluister nie; Hy het net aan Sy dissipel gedink. Die Satan het tussen Petrus en sy Meester gekom, sodat die hart van die dissipel nie aangeraak kon word by die aanskouing van Christus se vernedering vir hom nie. Die woorde van Christus is gespreek, nie tot Petrus nie, maar tot die een wat probeer het om hom van sy Meester te skei. “Gaan weg agter My, Satan! Moenie langer tussen My en my swak dienskneg indring nie. Laat My van aangesig tot aangesig met Petrus praat, sodat Ek aan hom die verborgenheid van My liefde kan openbaar. KE 424.3
Dit was n bittere les vir Petrus, en een wat hy maar baie stadig geleer het, naamlik, dat die pad van Christus op aarde deur lyding en vernedering sou gaan. Die dissipel het teruggedeins vir gemeenskap met sy Here in Sy lyde. Maar in die hitte van die smeltkroes sou hy die seën daarvan leer. Lank daarna, toe arbeid en ouderdom hulle spore diep op hom gelaat het, het hy geskryf: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook in die openbaring van Sy heerlikheid met blydskap kan jubel.” 1 Pet. 4: 12, 13. KE 425.1
Jesus het nou aan Sy dissipels verduidelik dat Sy eie lewe van selfverloëning n voorbeeld is van wat hulle s'n behoort te wees. Hy het die mense wat daar rond was, na Hom en die dissipels geroep, en gesê, “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” Die kruis het in verband gestaan met die mag van Rome. Dit was die instrument vir die wreedste en mees vernederende vorm van teregstelling en die dood. Die laagste misdadigers moes hulle kruis dra na die plek van teregstelling; dikwels wanneer dit op hulle skouers geplaas is, het hulle hulleself heftig teë- gesit, totdat hulle later oorweldig en die kruis op hulle rug vasgemaak is. Maar Jesus het aan Sy navolgers gesê om hulle kruis op te neem en dit agter Hom aan te dra. Vir die dissipels, alhoewel hulle Sy woorde nie heeltemal verstaan het nie, het dit oorgawe aan die bitterste vernedering beteken — ja, onderwerping aan die dood om Christus ontwil. Die Heiland kon die volkome selfoorgawe nie duideliker gestel het nie. En dit alles het Hy vir hulle ontwil aangeneem. Jesus het die hemel nie as 'n begeerlike plek gereken terwyl ons nog verlore was nie. Hy het die hemel verlaat vir 'n lewe van smaad, belediging, en om die skanddood te sterf. Hy wat ryk was aan die skatte van die hemel, het arm geword, sodat ons deur Sy armoede ryk kon word. Ons moet in die pad wandel wat Hy bewandel het. KE 425.2
Liefde vir siele vir wie Christus gesterf het, beteken die kruisiging van die eie-ek. Die persoon wat 'n kind van God is, sal homself voort- aan beskou as 'n skakel in die ketting wat neergelaat is om die wêreld te red, een met Christus in Sy genadeplan, en saam met Hom werkende om die verlorenes op te soek en te red. Die Christen moet altyd onthou dat hy homself aan God toegewy het, en dat hy in sy karakter Christus aan die wêreld moet openbaar. Die selfopoffering, die medelyde, die liefde, wat geopenbaar is in die lewe van Christus, moet gesien word in die offervaardigheid van die werker van God. KE 426.1
“Want elkeen wat sy siel wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy siel om My ontwil en om die evangelie ontwil, verloor, hy sal dit red.” Selfsug is die dood. Geen orgaan van die liggaam kan lewe as hy sy diens net vir homself doen nie. As die hart nie sy lewensbloed na die hand en die hoof stuur nie, sal hy gou sy krag verloor. Net soos ons lewensbloed, vloei die liefde van Christus na elke deel van Sy mistiese liggaam. Ons is ledemate van mekaar, en die siel wat weier om te gee, sal sterf. “Wat sal dit 'n mens baat,” het Jesus gevra, “as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?” KE 426.2
Anderkant die armoede en vernedering van die hede, het Hy Sy dissipels gewys op Sy aanstaande koms in heerlikheid, nie die heerlikheid van 'n aardse troon nie, maar die heerlikheid van God en die hemelse leërskare. Dan, het Hy gesê, “sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.” En toe het Hy vir hulle bemoediging die belofte gegee, “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in Sy koninkryk sien kom het nie.” Maar die dissipels het nie Sy woorde verstaan nie. Die heerlikheid het vir hulle baie ver weg gelyk. Hulle het hulle oë gevestig op die dinge hier naby, naamlik Sy aardse lewe van armoede, vernedering, en lyding. Moet hulle hulle heerlike verwagtings van die Messias se koninkryk opgee? Sou hulle hulle Here nie verhoog sien op die troon van Dawid nie? Kon dit miskien wees dat Christus sou lewe as 'n nederige, daklose swerweling, om verag, verwerp, en eindelik gedood te word ? Hulle harte was bedruk deur droefheid, want hulle het hulle Meester liefgehad. Daar was ook twyfel in hulle harte, want dit was vir hulle onbegryplik dat die Seun van God aan sulke wrede vernedering kon onderwerp word. Hulle wou weet waarom Hy vrywillig na Jerusalem moet gaan en die behandeling tegemoetgaan wat Hy hulle vertel het wat Hom daar wag. Hoe kon Hy Homself oorgee aan so 'n lot, en hulle in groter duisternis laat as die waarin hulle rondgetas het voordat Hy Hom aan hulle geopenbaar het? KE 426.3
In die gebied van Cesarea-Filippi was Christus buite die bereik van Herodes en Kajafas; so het die dissipels geredeneer. Hy het niks te vrees gehad van die haat van die Jode of van die mag van die Romeine nie. Waarom dan nie daar werk nie, weg van die Fariseërs af? Waarom moet Hy Homself in die dood gaan opgee? As Hy dan moes sterf, hoe kon Hy sê dat Sy koninkryk so heg gegrondves sou word dat die poorte van die doderyk dit nie sal kan oorweldig nie? Vir die dissipels was dit werklik onverklaarbaar. KE 427.1
Hulle was juis op daardie oomblik besig om te reis langs die kus van die Meer van Galilea na die stad waar al hulle hoop geblus sou word. Hulle het dit nie gewaag om met Christus te redeneer nie, maar onder mekaar het hulle mompelend in droefheid gepraat oor wat die toekoms mag inhou. Selfs te midde van al hulle twyfel het hulle vas- geklem aan die hoop dat die een of ander omstandigheid die onheil sou belet wat hulle Here gewag het. So het hulle getreur en getwyfel, gehoop en gevrees vir ses lang, donker dae. KE 427.2