Loading...

Loading

Loading
(You are in the browser Reader mode)

Wie is die Grootste?

TERUG in Kapernaum, het Jesus nie na die welbekende plekke gegaan waar Hy die mense geleer het nie, maar met Sy dissipels het Hy die huis opgesoek wat Sy tydelike tuiste sou wees. Vir die orige tyd van Sy verblyf in Galilea was dit Sy doel om die dissipels te onderrig liewer as om vir die skares te werk. KE 442.1

Op die reis deur Galilea het Christus weer geprobeer om die harte van die dissipels voor te berei vir wat Hy moes deurmaak. Hy het hulle meegedeel dat Hy na Jerusalem sou gaan, dat Hy daar gedood sou word, en weer sou opstaan. Maar Hy het die verdere vreemde mededeling gedoen dat Hy verraai sou word in die hande van Sy vyande. Selfs nou nog het die dissipels nie Sy woorde verstaan nie. Alhoewel die skaduwee van 'n groot droefheid op hulle geval het, was daar 'n gees van wedywering in hulle harte. Hulle het onder mekaar getwis oor wie die grootste sou wees in die koninkryk. Hulle het gemeen om hierdie stryd vir Jesus te verberg, en hulle het nie, soos gewoonlik, dig aan Sy sy gekom nie, maar 'n hele ent agter Hom geslenter, sodat Hy voor was toe hulle Kapernaum binnegaan. Jesus het hulle gedagtes gelees, en Hy het verlang om hulle raad te gee, en te onderrig. Maar Hy het gewag vir 'n stille uur wanneer hulle harte oop sou wees om Sy woorde te ontvang. KE 442.2

Kort ná hulle die dorp binnegegaan het, het die insamelaar van die tempelbelasting na Petrus gekom met die vraag, “Betaal julle Meester nie die tempelbelasting nie?” Dit was nie 'n regerings- belasting nie, maar 'n godsdienstige heffing wat jaarliks geskied het en wat elke Jood moes betaal vir die onderhoud van die tempel. Weiering om die belasting te betaal, is beskou as ontrouheid aan die tempel —'n baie groot sonde in die oë van die rabbi's. Die Heiland se houding teenoor die rabbynse wette, en Sy onomwonde bestraffing van die wat tradisie verdedig het, het hulle die kans gegee vir die beskuldiging dat Hy die tempeldiens wou omvergooi. Nou het Sy vyande gemeen dat hulle 'n geleentheid het om Hom in onguns te bring. In die insamelaar van die belasting het hulle 'n gewillige helper gevind. KE 443.1

In die vraag van die insamelaar het Petrus gemeen dat daar geskimp is op Christus se trou aan die tempel. Ywerig om sy Meester se eer te verdedig, het hy dadelik geantwoord, sonder om Hom te raadpleeg, dat Jesus die belasting sou betaal. KE 443.2

Maar Petrus het slegs gedeeltelik die doel van die vraer begryp. Daar was sommige klasse wat vrystelling geniet het wat belastingbetaling betref. In die tyd van Moses, toe die Leviete afgesonder is vir diens in die heiligdom, het hulle nie 'n erfdeel ontvang saam met die ander nie. Die Here het gesê, “Daarom het Levi geen deel of erfenis saam met sy broers nie; die Here is sy erfdeel.” Deut. 10: 9. In die tyd van Christus is die priesters en Leviete nog beskou as mense wie se diens spesiaal aan die tempel gewy is, en van hulle is die jaarlikse belasting vir die onderhoud daarvan nie ingevorder nie. Ook profete het vrystelling van hierdie belasting geniet. Deur die belasting van Jesus te verg, het die rabbi's Sy aanspraak as profeet of leraar ontken, en Hom behandel as 'n gewone persoon. As Hy sou weier om die belasting te betaal, sou hulle aangevoer het dat dit ontrou aan die tempel was; terwyl, aan die anderkant, sou die betaling daarvan beskou word as regverdiging van hulle verwerping van Hom as profeet. KE 443.3

Net 'n rukkie tevore het Petrus Jesus erken as die Seun van God; maar nou het hy die geleentheid laat verbygaan om die karakter van sy Meester te bevestig. Deur sy antwoord aan die insamelaar, naamlik dat Jesus die belasting sou betaal, het hy feitelik die valse opvatting bevestig wat deur die priesters en owerstes verkondig is. KE 443.4

Toe Petrus die huis binnekom, het die Heiland niks gesê van wat gebeur het nie, maar gevra, “Wat dink jy, Simon? Van wie neem die konings van die aarde tol of belasting — van hulle seuns, of van vreemdelinge?” Petrus antwoord Hom, “Van die vreemdelinge.” En toe sê Jesus, “Dan is die seuns vry.” Terwyl die volk van 'n land belas word vir die onderhoud van hulle koning, word die koning se eie kinders vrygestel. So is daar van Israel, wat bely het om Gods volk te wees, verwag om Sy diens te onderhou; maar Jesus, die Seun van God, het nie onder verpligting gestaan om die belasting te betaal nie. As die priesters en Leviete vrystelling geniet het omrede hulle diens in die tempel, hoeveel te meer Hy vir wie die tempel Sy Vader se huis was. KE 444.1

As Jesus die belasting sonder protes betaal het, sou Hy feitelik die bewering bevestig, en dus Sy godheid verloën het. Maar alhoewel Hy dit goedgedink het om die belasting te betaal, het Hy die grond verwerp waarop die eis gemaak is. In die voorsiening van die belastinggeld het Hy bewys gegee van Sy goddelike karakter. Dit is duidelik gestel dat Hy een met God is, en daarom nie belasbaar as 'n gewone onderdaan van die koninkryk nie. KE 444.2

“Gaan na die meer toe,” het Hy Petrus beveel, “gooi 'n hoek uit en neem die eerste vis wat opkom; en as jy sy bek oopmaak, sal jy 'n stater kry; neem dit en gee dit aan hulle vir My en vir jou.” KE 444.3

Alhoewel Hy Sy godheid in menslike vlees geklee het, het hierdie wonderwerk Sy heerlikheid geopenbaar. Dit was duidelik dat dit Hy was wat deur Dawid gesê het, “Die wilde diere van die bos is myne, die vee op duisend berge. Ek ken al die voëls van die berge, en die diere van die veld is by My. As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid.” Ps. 50: 10-12. KE 444.4

Terwyl Jesus duidelik laat verstaan het dat Hy onder geen verpligting was om die belasting te betaal nie, het Hy nie met die Jode 'n stryd aangeknoop oor die saak nie, want hulle sou in elk geval Sy woorde verdraai en dit teen Hom gebruik het. Om nie aanstoot te gee deur nie belasting te betaal nie, het Hy gedoen wat Hy nie verplig was om te doen nie. Hierdie les sou van groot waarde wees vir Sy dissipels. Groot veranderings sou binnekort plaasvind wat hulle verhouding tot die tempeldiens sou raak, en Christus het hulle geleer om hulleself nie onnodig in stryd te bring met die gevestigde gods diens nie. Sover moontlik moes hulle geen aanleiding gee vir 'n verkeerde voorstelling van hulle geloof nie. Hoewel Christene geen beginsel van waarheid moet opoffer nie, moet hulle indien moontlik, altyd stryery vermy. KE 444.5

Toe Christus en Sy dissipels alleen in die huis was, en onderwyl Petrus na die meer is, het Jesus die ander tot Hom geroep en gevra, “Wat het julle op die pad met mekaar geredeneer?” Die teenwoordigheid van Jesus, en Sy vraag, het die saak in 'n heeltemal ander lig gestel as waarin hulle dit gesien het toe hulle op pad gestry het. Skaamte en selfveroordeling het hulle laat stilbly. Jesus het hulle vertel dat Hy sou sterf vir hulle ontwil, en hulle selfsugtige strewe was pynlik in vergelyking met Sy onselfsugtige liefde. KE 445.1

Toe Jesus hulle vertel het dat Hy doodgemaak sou word, en die derde dag weer sou opstaan, wou Hy hulle tot 'n bespreking uitlok in verband met die groot beproewing van hulle geloof. As hulle gereed was om te ontvang wat Hy graag aan hulle wou meedeel, dan sou hulle baie bittere angs en wanhoop bespaar gewees het. Sy woorde sou vir hulle 'n troos gewees het in die uur van verlies en teleurstelling. Maar ondanks die feit dat Hy so reguit gepraat het oor wat Hom gewag het, het Sy mededeling dat Hy eerlank na Jerusalem moet gaan, weer die hoop in hulle laat ontbrand dat Hy op die punt gestaan het om die koninkryk op te rig. Dit het hulle beweeg om te redeneer oor wie die hoogste poste sou beklee. Toe Petrus van die see af terug was, het die dissipels hom vertel van die Heiland se vraag, en eindelik het een dit gewaag om aan Jesus te vra, “Wie is tog die grootste in die koninkryk van die hemele?” KE 445.2

Die Heiland het Sy dissipels rondom Hom vergader en aan hulle gesê, “As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees.” Hierdie woorde is met 'n krag en erns gespreek wat die dissipels glad nie begryp het nie. Wat Christus gesien het, kon hulle nie sien nie. Hulle het nie die aard van Christus se koninkryk verstaan nie, en dit was hierdie onkunde wat die stryd onder hulle laat ontstaan het. Maar die ware oorsaak het nog dieper geskuil. Deur die aard van Sy koninkryk te verduidelik, kon Christus miskien die twis vir 'n tyd gestil het, maar dan sou Hy nie die grond- oorsaak geopenbaar het nie. Selfs nadat hulle die volledigste kennis gehad het, sou enige bespreking van voorrang die moeilikheid  KE 445.3

Terwyl Lucifer hom graag met God wou gelykstel, het Christus, die Verhoogde Een, “Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en in die gelykenis van mense te kom; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja die dood van die kruis.” Filip. 2: 7, 8. Nou was die kruis net voor Hom; en Sy eie dissipels was só vol selfsug — die grondbeginsel van die koninkryk van die Satan — dat hulle nie met hulle Here kon meevoel, of Hom verstaan waar Hy gepraat het van Sy vernedering vir hulle nie. KE 446.1

Tederlik, maar met groot erns, het Jesus geprobeer om die euwel uit te roei. Hy het gewys op die beginsel wat die botoon voer in die koninkryk van die hemel, en waarin ware grootheid bestaan volgens die maatstaf van die howe daarbo. Diegene wat besiel is met hoogmoed en selfverheffing dink net aan hulleself en die loon wat hulle sal ontvang, liewer as aan hoe hulle die gawes aan God kan terüggee wat hulle ontvang het. Daar sal vir hulle geen plek in die koninkryk van die hemel wees nie, want hulle staan in die geledere van die Satan. KE 446.2

Nederigheid kom voor verering. Om 'n hoë plek voor mense te vul, soek die Hemel die werker wat, soos Johannes die Doper, 'n nederige plek voor God inneem. Die dissipel wat die kinderlikste is, is die beste werker vir God. Die hemelse wesens kan saamwerk met die een wat soek, nie om homself te verhef nie, maar om siele te red. Die een wat sy behoefte aan goddelike hulp die diepste voel, sal daarom smeek; en die Heilige Gees sal aan hom 'n blik op Jesus gee wat sy siel sal versterk en verhef. Van gemeenskap met Christus sal hy uitgaan om te werk vir diegene wat vergaan in hulle sondes. Hy is gesalf vir sy werk, en hy sal slaag waar baie ander wat geleerd en intellektueel is, sal faal. KE 447.1

Maar wanneer mense hulleself verhef en voel dat hulle absoluut nodig is vir die sukses van Gods groot plan, sal die Here hulle op- sy skuif. Dit is duidelik dat die Here nie van hulle afhanklik is nie. Die werk staan nie stil omdat hulle daarvan verwyder is nie, maar dit gaan voort met groter krag. KE 447.2

Dit was nie genoeg vir die dissipels van Jesus om op hoogte te wees met die aard van Sy koninkryk nie; wat hulle nodig gehad het, was 'n verandering van hart wat hulle in ooreenstemming sou bring met die beginsels daarvan. Jesus het 'n klein kindjie na Hom toe geroep en hom daar onder hulle geplaas; toe het Hy tederlik Sy arms om die kindjie geslaan en gesê, “As julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie.” Die eenvoudigheid, die onbaatsugtigheid, en die vertrouende liefde van 'n kind — dit is die eienskappe wat die hemel waardeer. Dit is die eienskappe van ware grootheid. KE 447.3

Weer het Jesus aan die dissipels verduidelik dat die kenmerke van Sy koninkryk nie aardse eer en vertoon was nie. Aan die voete van Jesus word al daardie dinge vergeet. Die rykes en die armes, die geleerdes en onkundiges, kom daar saam sonder om te dink aan rang en stand. Almal ontmoet as siele wat deur bloed gekoop is, en almal is afhanklik van die Een wat hulle vir God vrygekoop het. KE 447.4

'n Opregte, boetvaardige siel, is kosbaar in die oë van God. Hy plaas Sy seël op mense, nie volgens hulle rang of rykdom of intellek- tuele grootheid nie, maar volgens hulle eenheid met Christus. Die Here van heerlikheid is tevrede met diegene wat sagmoedig en nederig van hart is. “Ook het U my die skild van U uitredding gegee,” het Dawid gesê, “en U neerbuigende goedheid het my groot gemaak.” Ps. 18: 36. KE 447.5

“Elkeen wat een van sulke kindertjies ontvang in My Naam,” het Jesus gesê, “ontvang My. En elkeen wat My ontvang, ontvang nie My nie, maar Hom wat My gestuur het.” “So sê die Here: Die hemel is My troon en die aarde die voetbank van My voete. . . . Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir My woord.” Jes. 66: 1, 2. KE 448.1

Die Heiland se woorde het by die dissipels 'n gevoel van self- verfoeiing laat ontstaan. In Sy woorde het Jesus nie spesiaal op enig- een van hulle gewys nie, maar Johannes wou weet of sy handelwyse in een sekere geval reg was. In die gees van 'n kind het hy die saak voor Jesus gelê, en gesê: “Meester, ons het iemand gesien wat in U Naam duiwels uitdryf en wat ons nie volg nie; en ons het hom belet, omdat hy ons nie volg nie.” KE 448.2

Jakobus en Johannes het gemeen dat hulle deur hierdie man teë te gaan die eer van hulle Meester beskerm het; nou het hulle begin sien dat hulle hulle eie eer wou beskerm. Hulle het hulle fout ingesien, en die bestraffing van Jesus aangeneem, “Moet hom nie belet nie, want daar is niemand wat 'n krag in My Naam sal doen en gou van My sal kan kwaadpraat nie.” Niemand wat homself enigsins vriendelik teenoor Jesus betoon, moet belet word nie. Daar was baie wat diep getref is deur die karakter en die werk van Christus, en wie se harte in die geloof vir Hom oopgegaan het; en die dissipels wat nie hulle motiewe kon lees nie, moes versigtig wees om nie sulke siele te ontmoedig nie. Wanneer Jesus nie langer meer persoonlik by hulle sou wees nie, en die werk in hulle hande gelaat is, moes hulle nie toegee aan 'n enge,eksklusiewe gees nie, maar hulle moes dieselfde verreikende simpatie betoon wat hulle by hulle Meester gesien het. KE 448.3

As iemand nie in alles handel volgens ons eie persoonlike idees en opinies nie, sal dit ons nie regverdig om hom te belet om vir God te werk nie. Christus is die groot Leermeester; ons moet nie oordeel of beveel nie, maar in nederigheid moet elkeen aan die voete van Jesus sit, en van Hom leer. Elke siel wat God gewillig maak, is 'n kanaal deur wie Christus Sy vergewende liefde sal openbaar. Hoe versigtig moet ons wees dat ons nie een van Gods ligdraers ontmoedig nie en so die ligstrale wegkeer wat Hy op die wêreld wil laat skyn! KE 448.4

Onvriendclikheid of kilheid deur 'n dissipel teenoor iemand wat Christus na Hom toe wil trek—'n daad soos dié waar Johannes iemand verbied het om wonders te doen in die Naam van Jesus — mag ten gevolg hê dat daardie persoon se voete in die pad van die vyand gerig word, en dus veroorsaak dat 'n siel verlore gaan. Liewer as om dit te doen, het Jesus gesê, is dit “vir hom beter dat 'n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.” Verder het Hy gesê: “As jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur. . . . En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om kreupel die lewe in te gaan, as om twee voete te hê en in die hel gewerp te word.” Markus 9: 43-45. KE 449.1

Hoekom het die Here hierdie sterk taal gebruik? Omdat die Seun van die mens gekom het “om te soek en te red wat verlore was.” Sal Sy dissipels dan minder besorgdheid vir die siele van hulle medemense openbaar as die Majesteit van die hemel getoon het? Elke siel het 'n onberekenbare prys gekos, en hoe vreeslik is die sonde om één siel van Christus te laat wegdraai sodat die Heiland se liefde en vernedering en lyde vir hom tevergeefs was! KE 449.2

“Wee die wêreld weens die struikelblokke. Want dit is nood- saaklik dat daar struikelblokke kom.” Matt. 18: 7. Die wêreld, geinspireer deur die Satan, sal sekerlik die navolgers van Christus be-kamp, en trag om hulle geloof te vernietig; maar wee hom wat Christus se Naam bely en tog daardie werk doen. Ons Here word gesmaad deur diegene wat voorgee dat hulle Hom dien, maar wat Sy karakter verkeerd voorstel sodat menigtes bedrieg en op valse weë gelei word. KE 449.3

Enige gewoonte, of gebruik wat tot sonde sal lei en Christus oneer sal aandoen, moet versaak word al kos dit ook wat. Enigiets wat God oneer aandoen, kan nooit goed wees vir die siel nie. Die seën van die hemel kan nie rus op die persoon wat die ewige beginsels van reg oortree nie. Net een sonde in die hart gekoester, is genoeg om die karakter te verlaag en ander te mislei. As die voet of die hand afgekap, of 'n oog uitgepluk moet word om die liggaam van die dood te red, hoe absoluut noodsaaklik is dit dan nie om die sonde te versaak wat die siel kan dood nie! KE 449.4

In die rituele dienste is elke offerande gesout. Dit, soos die reukoffer, het getuig dat alleen die geregtigheid van Christus die offerande aanneemlik vir God kon maak. Verwysende na hierdie gebruik, het Jesus gesê, “Elke offerande sal met sout gesout word.” “Julle moet sout in julle hê en met mekaar vrede hou.” Almal wat hulleself as 'n “lewendige, heilige en aan God welgevallige offer” (Rom. 12: 1) wil stel, moet die reddende sout ontvang, die geregtigheid van ons Heiland. Dan word hulle “die sout van die aarde,” wat bose mense in toom hou, net soos sout bederf voorkom. (Matt. 5: 13.) Maar as die sout smaakloos geword het, as daar slegs 'n skyn-godsaligheid is, sonder die liefde van Christus, is daar geen krag ten goede nie. Die lewe sal dan geen reddende invloed in die wêreld hê nie. Julie energie en bruikbaarheid om My koninkryk op te bou, sê Jesus, is afhanklik van die ontvangs van My Gees. Julle moet deelgenote van My genade wees as julle 'n reuk van die lewe tot die lewe wil wees. Dan sal daar geen wedywering, geen selfsug, en geen begeerte vir die hoogste plek wees nie. Julie sal daardie liefde hê wat nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander. KE 450.1

Laat die boetvaardige sondaar sy oë vestig op “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1: 29), en deur aanskouing sal hy verander word. Sy vrees sal in vreugde verander, en sy twyfel in hoop. Daar sal dankbaarheid wees. Die hart van klip is verbreek, 'n Vloedgolf van liefde oorstroom die siel. Christus is in hom 'n fontein van lewende water wat uitvloei tot die ewige lewe. Wanneer ons Jesus, die Man van Smarte en bekend met droefheid, sien werk om die wat verlore is, te red, terwyl Hy verag, gesmaad, en van stad tot stad gedryf word totdat Sy werk klaar is; wanneer ons Hom sien in Getsemane, swetende groot druppels bloed, en in angs sterwende aan die kruis — wanneer ons dit sien, sal die eie-ek nie langer smag na die eerste plek nie. Siende op Jesus, sal ons skaam wees oor ons koudheid, ons. lusteloosheid, en ons selfsug. Ons sal gewillig wees om enigiets of niks te wees nie, sodat ons hartediens vir die Meester kan doen. Ons sal die kruis van Jesus met blydskap dra, en ons sal beproewing, smaad, of vervolging verduur vir Sy ontwil. KE 450.2

“En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie.” Rom. 15:1. Geen siel wat in Christus glo, al is sy geloof swak, en wankel sy voetstappe soos die van 'n kindjie, moet gering geskat word nie. Deur alles wat ons die voorsprong gee oor ander, of dit opvoeding, verfyndheid, edelheid van karakter, Christelike onderrig, of geestelike ervaring is, word ons skuldenaars gemaak van diegene wat minder bevoorreg is; en, sover dit in ons mag is, moet ons hulle dien. As ons sterk is, moet ons die hande sterk van die swakkes. Engele van heerlikheid, wat altyd die aangesig van die Vader aanskou in die hemel, skep behae in diens vir Sy kleintjies. Swak siele wat miskien baie siegte karaktertrekke het, is hulle spesiale verantwoordelikheid. Die engele is altyd teenwoordig, wanneer hulle die meeste nodig is, by diegene wat die swaarste stryd teen die eie-ek moet voer, en wie se omstandighede baie ontmoedigend is. In hierdie diens moet die ware navolgers van Christus saamwerk. KE 451.1

As een van hierdie kleintjies oorweldig sou word, en u sou verontreg, dan is dit u werk om hom te herstel. Moenie vir hom wag om die eerste poging tot versoening te maak nie. “Wat dink julle?” het Jesus gevra, “As iemand honderd skape het en een van hulle verdwaal, sal hy nie die nege-en-negentig laat staan en op die berge die verdwaalde een gaan soek nie? En as hy hom kry, voorwaar Ek sê vir julle dat hy blyer is oor hom as oor die negen-en-negentig wat nie verdwaal het nie. So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemel is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.” KE 451.2

Met 'n gesindheid van sagmoedigheid, “terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Gal. 6: 1), moet jy gaan na die een wat gesondig het en “bestraf hom tussen jou en hom alleen.” Moet hom nie openlik in die skande steek deur sy foute voor ander openbaar te maak nie, en moet ook nie Christus onteer deur die sonde of fout openbaar te maak van iemand wat Sy Naam dra nie. Dikwels moet ons reguit praat met die een wat verkeerd handel; hy moet beweeg word om sy fout te sien, sodat hy kan verbeter. Maar ons moet nie oordeel en veroordeel nie. Moenie probeer om uself te regverdig nie. Laat al jou pogings wees om hom reg te help. In die behandeling van die wonde van die siel moet daar baie saggies gewerk word. Alleen die liefde wat vloei van die Lydende Een van Golgota, sal hier help. Met ontfermende tederheid, moet broeder met broeder praat, wetende dat as u slaag u “n siel uit die dood sal red en 'n menigte van sondes sal bedek.” Jakobus 5: 20. KE 451.3

Maar selfs hierdie pogings mag vrugteloos wees. In so 'n geval het Jesus gesê, “Neem nog een of twee met jou saam.” Dit kan wees dat hulle gesamentlike invloed die deurslag sal gee. Omdat hulle nie in die saak betrokke is nie, is die moontlikheid groter dat hulle on- partydig sal optree, en hierdie feit sal hulle woorde groter gewig gee by die een wat verkeerd handel. KE 452.1

As hy ook nie na hulle wil luister nie, dan eers, moet die saak voor die hele gemeente gebring word. Laat die lede van die kerk as verteenwoordigers van Christus in liefde saam bid dat die oortreder herstel mag word. Die Heilige Gees sal deur Sy diensknegte spreek, en met die afgedwaalde pleit om hom tot God te bekeer. Die apostel Paulus het onder ingewing gesê, “Ons tree dan op as gesante . . . asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus ontwil: Laat julle met God versoen.” 2 Kor. 5:20. Die een wat die gesamentlike poging van die gemeente verwerp, verbreek die bande wat hom met Christus verbind, en so sny hy homself af van kerklike gemeenskap. “Laat hom vir jou wees,” het Jesus gesê, “soos die heiden en die tollenaar.” Maar hy moet nie beskou word as iemand wat afgesny is van die genade van God nie. Hy moet nie verag of verwaarloos word deur sy vorige broeders nie, maar hy moet met tederheid en ontferming behandel word as een van die verdwaalde skape waarna Christus soek om in Sy kraal terug te bring. KE 452.2

Christus se leer in verband met die behandeling van diegene wat oortree, stem ooreen met die voorskrifte van Moses aan Israel: “Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig berisp, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie.” Lev. 19: 17. Dit beteken dat as iemand die plig versuim wat Christus opgelê het, hy 'n deelgenoot word in die sonde, want sondes wat ons kon belet, maak ons net so skuldig asof ons self die daad gedoen het. KE 452.3

Maar ons moet die verkeerde daad onder die oë van die oortreder self bring. Ons moet dit nie onder mekaar bespreek of kritiseer nie; en selfs nadat dit voor die gemeente gebring is, staan dit ons nie vry om dit aan ander te gaan vertel nie. 'n Kennis van die foute van Christene sal net 'n struikelblok wees vir die ongelowige wêreld; en deur gedurig van daardie dinge te praat, sal ons onsself skade aandoen, want dit is deur aanskouing dat ons verander word. Terwyl ons trag om 'n broeder sy foute te laat insien, sal die Gees van Christus ons lei om hom sover moontlik te beskerm teen kritiek van selfs sy broeders, en hoeveel te meer nie teen die veroordeling van 'n ongelowige wêreld nie. Ons self is vol foute, en het Christus se ontferming en vergifnis nodig; en soos ons wil hê dat Hy met ons moet handel, so beveel Hy ons om mekaar te behandel.  KE 452.4

“Alles wat julle bind op die aarde, sal gebonde wees in die hemel; en alles wat julle ontbind op die aarde, sal ontbonde wees in die hemel.” Julie moet optree as gesante van die hemel, en die gevolge van julle werk is vir die ewigheid. KE 453.1

Maar hierdie groot verantwoordelikheid moet ons nie alleen dra nie. Waar Sy Woord met 'n opregte hart gehoorsaam word, daar woon Christus. Nie alleen is Hy teenwoordig in die byeenkomste van die kerk nie, maar waar Sy dissipels ook in Sy Naam vergader, hoe klein hulle getal ook mag wees, daar sal Hy ook wees. En Hy sê, “As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, sal dit hulle te beurt val van My Vader wat in die hemele is.” KE 453.2

Jesus sê, “My Vader wat in die hemele is,” om Sy dissipels daaraan te herinner dat Hy, terwyl Hy deur Sy mensheid met hulle verbind is, 'n deelgenoot is in hulle beproewings, en medelyde met hulle het in hulle lyding, ook deur Sy godheid verbind is met die troon van die Almagtige. Wonderbare versekering! Die hemelse wesens staan saam met mense in hulle medelyde en arbeid vir dié wat verlore is. En al die mag van die hemel werk saam met menslike pogings om siele tot Christus te trek. KE 453.3