Loading...

Loading

Loading
(You are in the browser Reader mode)

“Die Lig van die Lewe”

EN Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” KE 472.1

Toe Hy hierdie woorde gespreek het, was Jesus in die hof van die tempel wat spesiaal in verband gestaan het met die Huttefees. In die senter van die hof was daar twee lang pale waarop groot lampe was. Na die aandoffer is al die lampe opgesteek en het hulle lig oor Jerusalem geskyn. Hierdie seremonie was ter gedagtenis aan die vuurkolom wat Israel in die woestyn gelei het, en dit is ook beskou as simbool wat gewys het op die komende Messias. Saans as die lampe aangesteek is, was die hof 'n toneel van groot vreugde. Grysaards, die priesters van die tempel, en die owerstes van die volk het deelgeneem aan fees- danse begelei deur musiek en die sang van die Leviete. KE 472.2

In die verligting van Jerusalem het die mense uiting gegee aan hulle hoop op die koms .van die Messias om Israel met Sy lig te bestraal. Maar vir Jesus het die toneel 'n groter betekenis gehad. Soos die helderskynende lampe van die tempel alles rondom hulle verlig het, so sal Christus, die Bron van geestelike lig, die donker wêreld verlig. Maar die simbool was onvolmaak. Die groot lig wat Sy eie hand aan die hemeltrans gestel het, was 'n meer waaragtige voorstelling van die heerlikheid van Sy sending. KE 472.3

Dit was more; die son het net agter die Olyfberg opgekom, en sy strale het met verblindende lig op die marmerpaleise geval, en die goud van die tempelmure verlig, toe Jesus daarop gewys en gesê het, “Ek is die lig van die wêreld.” KE 473.1

Deur iemand wat hierdie woorde gehoor het, is hulle lank daarna weergegee in daardie verhewe skriftuur, “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.” “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.” Joh. 1:4, 5, 9. En lank ná Jesus na die hemel opgevaar het, het ook Petrus onder ingewing van die goddelike Gees, na die simbool verwys wat Christus gebruik het: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die morester opgaan in julle harte.” .2 Pet 1: 19. KE 473.2

In die openbaring van God aan Sy kinders, was lig altyd die simbool van Sy teenwoordigheid. Met die skeppingswoord in die begin, het lig geskyn uit die duisternis. Daar was lig in die wolkkolom bedags en in die vuurkolom snags, wat die leërskare van Israel gelei het. Lig in verskriklike heerlikheid het geskyn rondom die Here op die berg Sinai. Lig het geskyn op die versoendeksel in die tabernakel. Lig het die tempel van Salomo vervul by die wyding daarvan. Lig het geskyn op die berge van Betlehem toe die engele die boodskap van verlossing aan die wakende skaapwagters gebring het. KE 473.3

God is lig; en in die woorde, “Ek is die lig van die wêreld,” het Christus Sy eenheid met God verklaar, en Sy verhouding tot die hele menslike geslag. Dit was Hy wat in die begin gesê het dat daar “uit duisternis lig moet skyn” (2 Kor. 4:6.) Hy is die lig van die son, maan, en sterre. Hy is die geestelike lig wat in simbool, tipe, en profesie op Israel geskyn het. Maar die lig is nie aan die Joodse nasie alleen gegee nie. Soos die sonstrale tot in die verste uithoeke van die aarde skyn, so bestraal die lig van die Son van Geregtigheid elke siel. KE 473.4

“Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.” Die wêreld het sy groot leraars gehad, manne van reuse- intellek en wonderbaarlike navorsing, manne wie se woorde die wêreld laat dink het en wat nuwe sfere van kennis geopenbaar het; en hierdie manne is geëer as leiers en weldoeners van hulle volk. Maar daar is Iemand wat hoër as hulle staan. “Almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word.” “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, Dié het Hom verklaar.” Joh. 1: 12, 18. Ons kan die linie van die wêreld se groot leraars terugspoor sover as wat menslike oorkondes gaan, maar die Lig was vóór hulle. Soos die maan en sterre van ons sonnestelsel skyn met geweerkaatste lig van die son, net so, sover hulle leer reg is, weerkaats die groot denkers van die wêreld die strale van die Son van Geregtigheid. Elke kosbare gedagte, elke flits van die verstand, kom van die Lig van die wêreld. In hierdie tyd hoor ons baie van “hoër onderwys.” Die ware “hoër onderwys” word gegee deur Hom “in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.” “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.” Kol. 2: 3; Joh. 1: 4. “Wie My volg,” het Jesus gesê, “sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” KE 473.5

In die woorde, “Ek is die lig van die wêreld,” het Jesus Homself as die Messias verklaar. Die oue Simeon het in die tempel, waar Christus nou geleer het, van Hom gespreek as “'n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van U volk Israel.” (Lukas 2: 32.) Met hierdie woorde het hy op Hom 'n profesie toegepas waarmee die hele Israel bekend was. Deur die profeet Jesaja het die Heilige Gees verklaar: “Dit is te gering dat U My kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak 'n lig van die nasies om My heil te wees tot aan die einde van die aarde.” Jes. 49: 6. Hierdie profesie is algemeen toegepas op die Messias, en toe Jesus gesê het, “Ek is die lig van die wêreld,” kon die mense dit nie anders neem as dat Hy aanspraak gemaak het dat Hy die Beloofde Een is nie. KE 474.1

Vir die Fariseërs en owerstes was hierdie aanspraak hooghartige vermetelheid. Dat 'n mens soos hulle hom so kon aanmatig, was iets wat hulle nie kon gedoog nie. Hulle het Sy woorde skynbaar veron- agsaam, en gevra, “Wie is U dan?” Hulle wou Hom dwing om reguit te sê dat Hy die Christus is. Sy voorkoms en werk het so verskil van wat die volk verwag het, dat hulle gemeen het dat 'n regstreekse verklaring deur Homself dat Hy die Messias is, die volk sou beweeg het om Hom te verwerp as 'n bedrieër. KE 474.2

Maar op hulle vraag, “Wie is U dan?” het Jesus geantwoord, “Juis dit wat Ek vir julle sê.” Joh. 8: 25. Wat in Sy woorde geopenbaar is, is ook in Sy karakter geopenbaar. Hy was die verpersoonliking van die waarhede wat Hy geleer het. “Uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat My Vader My geleer het, dit spreek Ek. En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is.” Hy het nie geprobeer om Sy aanspraak op die Messiasskap te bewys nie, maar het Sy eenheid met God aangetoon. As hulle harte oop was vir Gods liefde, sou hulle Jesus ontvang het. KE 474.3

Onder Sy toehoorders is baie tot Hom getrek in die geloof, en aan hulle het Hy gesê, “As julle in My woord bly, is julle waarlik My dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” KE 475.1

Hierdie woorde het die Fariseërs aanstoot gegee. Hulle het die nasie se lang onderwerping onder 'n vreemde juk veronagsaam en woedend uitgeroep: “Ons is uit die geslag van Abraham en het nog nooit vir iemand slawediens verrig nie; hoe sê U dan: Julle sal vry word?” Jesus het hierdie mense betrag — die slawe van haat, en wat gedurig net aan wraak gedink het — en droefgeestig gesê, “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, 'n slaaf is van die sonde.” Hulle was in die ergste soort slawerny — regeer deur die gees van boosheid. KE 475.2

Elke siel wat weier om homself aan God oor te gee, is onder die beheer van 'n ander mag. Hy behoort nie aan homself nie. Hy mag van vryheid praat, maar hy is in die ergste slawerny. Hy word nie 'toegelaat om die heerlikheid van die waarheid te sien nie, want sy verstand is onder die beheer van die Satan. Hoewel hy homself mag vlei dat hy sy eie oordeel volg, gehoorsaam hy in werklikheid die wil van die vors van die duisternis. Christus het gekom om die bande van die sonde te verbreek en die siel vry te maak. “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” “Die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus,” maak ons vry “van die wet van die sonde en die dood.” Joh. 8: 36; Rom. 8: 2. KE 475.3

In die aanname van die verlossing is daar geen dwang nie. Geen uiterlike krag word aangewend nie. Onder die invloed van die Gees van God is die mens vry om te kies wie hy wil dien. In die verandering wat daar plaasvind wanneer die siel homself aan Christus oorgee, is daar vryheid in die hoogste sin. Die uitwerping van die sonde is 'n daad van die siel self. Dit is waar, ons het geen krag om onsself te bevry van die Satan se mag nie; maar wanneer ons begeer om van die sonde bevry te word, en ons in ons groot nood smeek om krag bui- tekant onsself, word die kragte van die siel versterk met die goddelike krag van die Heilige Gees, en gehoorsaam hulle ons wil in die vervulling van die wil van God. KE 475.4

Die enigste voorwaarde waarop vryheid vir die mens moontlik is, is om een met Christus te word. “Die waarheid sal julle vrymaak;” en Christus is die waarheid. Die sonde behaal die oorwinning alleen deur die verstand te verswak en die vryheid van die siel te vernietig. Onderwerping aan God beteken ons herstel —herstel tot die ware heerlikheid en waardigheid van die mens. Die goddelike wet waartoe ons in onderwerping gebring word, is die “wet van vryheid.” (Jakobus 2: 12.) KE 476.1

Die Fariseërs het verklaar dat hulle kinders van Abraham is. Jesus het hulle daarop gewys dat hulle hierdie aanspraak kon handhaaf alleen deur die werke van Abraham te doen. Die ware kinders van Abraham sal lewe soos hy geleef het, 'n lewe van gehoorsaamheid aan God. Hulle sou nie probeer om Iemand dood te maak wat die waarheid spreek wat deur God aan Hom gegee is nie. Deur planne teen die lewe van Christus te smee, was die rabbi's nie besig om die werke van Abraham te doen nie. Om 'n gewone afstammeling van Abraham na die vlees te wees, het geen waarde nie. Sonder geestelike verwantskap aan hom, wat geopenbaar sal word deur dieselfde gees te hê as hy en dieselfde werke te doen, is hulle geen kinders van hom nie. KE 476.2

Hierdie beginsel geld eweseer vir 'n vraag wat die Christen-wêreld al lank besig gehou het, naamlik die vraag van apostoliese opvolging. Afstamming van Abraham is bewys, nie deur naam of stamboom nie, maar deur gelykheid aan karakter. So berus die apostoliese opvolging nie op die oordrag van geestelike gesag nie, maar op geestelike verwantskap. 'n Lewe besiel deur die gees van die apostels, die geloof en verkondiging van die waarheid wat hulle geleer het, dit is die ware bewys van apostoliese opvolging. Dit is wat mense die opvolgers maak van die eerste verkondigers van die evangelie. KE 476.3

Jesus het ontken dat die Jode kinders van Abraham is. Hy het gesê, “Julle doen die werke van jul vader.” Smalend het hulle geant woord, “Ons is nie uit ontug gebore nie; ons het een Vader, naamlik God.” Hierdie woorde, skimpende op die omstandighede van Sy geboorte, was bedoel as dolksteek vir Christus in die teenwoordigheid van diegene wat in Hom begin glo het. Jesus het nie gereageer op daardie gemene insinuasie nie, maar het gesê, “As God julle vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom.” KE 476.4

Hulle werke het getuig van hulle verwantskap met een wat 'n leue- naar en moordenaar is. “Julle het die duiwel as vader,” het Jesus gesê, “en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie. KE 477.1

. . . Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie.” Joh. 8: 44, 45. KE 477.2

Die feit dat Jesus die waarheid gespreek het met sulke besliste sekerheid was die rede waarom die Joodse leiers Hom nie aangeneem het nie. Dit was die waarheid wat hierdie eiegeregtige manne aanstoot gegee het. Die waarheid het die dwaalleer aan die kaak gestel; dit het hulle leer en gebruike veroordeel, en dit was dus onwelkom. Hulle sou liewer hulle oë vir die waarheid sluit as om hulleself te verneder om te erken dat hulle verkeerd was. Hulle het nie die waarheid liefgehad nie. Hulle het dit nie begeer nie, al was dit die waarheid. KE 477.3

“Wie van julle oortuig My van sonde? En as Ek die waarheid spreek, glo julle My nie.” Dag vir dag, vir drie jaar lank, het Christus se vyande Hom agtervolg en gesoek na 'n klad op Sy karakter. Die Satan en al sy bose leërskare het geprobeer om Hom te oorwin; maar hulle kon niks in Hom vind om die oorhand oor Hom te kry nie. Selfs die duiwels moes teen wil en dank erken, “U is die Heilige van God.” Markus 1: 24. Jesus het die wet uitgeleef voor die hemelse toeskouers, voor al die wêrelde wat nie in die sonde geval het nie, en voor sondige mense. Voor engele, mense, en duiwels, het Hy, sonder teenspraak, woorde gespreek wat op die lippe van enige ander persoon godslastering sou gewees het: Ek doen altyd “wat Hom welgevallig is.” KE 477.4

Die feit dat die Jode Christus nie wou aanneem alhoewel hulle geen sonde teen Hom kon inbring nie, was bewys dat hulle self geen verbinding met God gehad het nie. Hulle het nie Sy stem herken in die boodskap van Sy Seun nie. Hulle het gedink dat hulle die vonnis oor Christus uitgespreek het, maar deur Hom te verwerp, het hulle hulleself gevonnis. “Die wat uit God is,” het Hy gesê, “luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.” KE 477.5

Hierdie les geld vir alle tye. Menige man wat homself begeef tot haarklowery, wat kritiseer, en na iets soek in Gods Woord om oor te stry, dink dat hy daardeur toon dat hy 'n onafhanklike denker en verstandelik baie wakker is. Hy stel homself aan as regter oor die Bybel wanneer hy inderwaarheid homself veroordeel. Hy openbaar daardeur dat hy nie in Staat is om die waarhede van die hemel wat ewige dinge insluit, te waardeer nie. Voor die groot berg van Gods geregtigheid, het sy gees geen eerbied nie. Hy hou homself besig met soek na stokkies en strooitjies, en daardeur verraai hy sy bekrompe aardse natuur —'n hart wat vinnig besig is om voeling met God te verloor. Hy wie se hart deur die goddelike hand aangeraak is, sal soek na die dinge wat sy kennis van God sal vermeerder, en wat sy karakter sal verfyn en verhef. Soos 'n blom hom na die son draai sodat die strale daarvan sy pragtige kleure kan uitbring, so sal die siel hom tot die Son van Geregtigheid keer dat die lig van die hemel sy karakter kan verfraai met die deugde van die karakter van Christus. KE 478.1

Jesus het voortgegaan en die teenstelling skerp laat uitkom tussen die posisie van die Jode en dié van Abraham: “Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy My dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly.” KE 478.2

Abraham het sterk begeer om die beloofde Verlosser te sien. Hy het vurig gebid dat hy, vóór hy sterwe, die Messias mag sien. En hy het Christus gesien. Bonatuurlike lig is aan hom gegee, en hy het Christus se goddelike karakter erken. Hy het Sy dag gesien en was bly. Hy het 'n gesig gesien van die goddelike slagoffer. Daarvan het hy 'n illustrasie gehad in sy eie lewe. Die bevel het tot hom gekom, “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet . . . en offer hom daar as brandoffer.” Gen. 22: 2. Op die altaar het hy die seun van belofte gelê, die seun in wie al sy hoop was. En toe, terwyl hy by die altaar gewag het, met mes opgehef om God te gehoorsaam, het hy 'n stem uit die hemel hoor sê, “Moenie jou hand na die seun uitsteek nie en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” Gen. 22: 12. Hierdie vreeslike toets is aan Abraham gestel sodat hy die dag van Christus kon sien en Gods groot liefde vir die wêreld kon verstaan —'n liefde so groot dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het om die skanddood te sterf om sondaars te red. KE 478.3

Abraham het van God die grootste les geleer wat nog ooit aan 'n sterweling gegee is. Sy bede dat hy Christus mag sien vóór sy sterfdag is beantwoord. Hy het Christus gesien; hy het alles gesien wat 'n sterweling se oë kon sien en nog kan leef. Deur 'n volkome oorgawe kon hy die gesig wat hy van Christus gesien het, verstaan. Aan hom is getoon dat God deur Sy eniggebore Seun te gee om sondaars van die ewige dood te red, 'n baie groter offer gegee het as wat 'n mens ooit kon gee. KE 479.1

Abraham se ondervinding beantwoord die vraag: “Waarmee sal ek die Here tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met eenjaar-oud kalwers? Sal die Here 'n welbehae hê in duisende van ramme en tienduisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel?” Miga 6: 6, 7. In die woorde van Abraham, “God sal vir Homself die lam vir 'n brandoffer voorsien, my seun” (Gen. 22: 8), en in Gods voorsiening van 'n brandoffer in die plek van Isak, is daar verklaar dat geen mens versoening vir homself kan doen nie. Die heidense stelsel van offerandes was heeltemal onaanneemlik vir God. Geen vader moes sy seun of sy dogter as sondoffer gee nie. Alleen die Seun van God kan die skuld van die wêreld betaal. KE 479.2

Deur sy eie lyde is Abraham in staat gestel om die Heiland se sending van opoffering te sien. Maar Israel sou nie iets verstaan wat onwelkom vir hulle trotse harte was nie. Christus se woorde aangaande Abraham het vir Sy toehoorders geen diepe betekenis gehad nie. Daarin het die Fariseërs net 'n ander geleentheid gesien vir haarklowery. Smalend het hulle geantwoord, asof om te bewys dat Jesus gek was, “U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien?” KE 479.3

Met groot waardigheid het Jesus geantwoord, “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, IS EK.” KE 479.4

Daar het stilte in die vergadering gekom. Die Naam van God, vir Moses genoem om die idee van ewigdurende teenwoordigheid voor te stel, is deur hierdie Galilese Rabbi toegeëien as Sy eie. Hy het Homself verklaar as die selfbestaande Een, Hy wat aan Israel belowe is, Wie se “uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.” Miga 5: 1. KE 479.5

Weer het die priesters en rabbi's teen Jesus uitgeroep dat Hy God laster. Sy vorige aanspraak dat Hy gelyk aan God is, het hulle so woedend gemaak dat hulle Hom wou doodmaak, en n paar maande later het hulle gesê, “Dit is nie oor 'n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat 'n mens is, Uself God maak.” Joh. 10: 33. Omdat Hy die Seun van God was, en ook gesê het dat Hy dit is, was hulle vasbeslote om Hom dood te maak. Nou het baie van die mense hulleself aan die kant van die priesters en rabbi s geskaar, en klippe opgeneem om Hom te stenig. “Maar Jesus het stilletjies uit die tempel gegaan terwyl Hy tussen hulle deurloop; en so het Hy vertrek.” KE 480.1

Lig het geskyn in die duisternis, “en die duisternis het dit nie oorweldig nie.” Joh. 1: 5. KE 480.2

“En toe Hy verbygaan, sien Hy 'n man wat blind was van sy geboorte af. En Sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werk van God moet in hom openbaar word. ... En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man en sê vir hom: Gaan was jou in die bad van Siloam, wat vertaal word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en toe hy kom, sien hy.” KE 480.3

Daar is oor die algemeen deur die Jode geglo dat sonde in hierdie lewe gestraf word. Elke siekte is beskou as die straf vir die een of ander sonde, òf deur die lyer self gepleeg òf deur sy ouers. Dit is waar dat alle lyding die gevolg is van die oortreding van Gods wet, maar daardie waarheid het verdraaid geraak. Die Satan, die bewerker van alle sonde en al die gevolge daarvan, het die mense daartoe gebring om siekte en die dood te beskou as dinge wat van God kom, as arbitrêre straf op die sonde. Daarom is iemand wat die slagoffer van die een of ander ernstige siekte geword het, beskou as 'n groot sondaar. KE 480.4

So is die weg gebaan vir die Jode om Christus te verwerp. Hy wat al “ons krankhede op Hom geneem het, en ons smarte” is deur die Jode beskou as iemand wat “deur God geslaan en verdruk was” (Jes. 53: 4), en hulle het hulle aangesigte vir Hom verberg. KE 480.5

God het 'n les gegee wat bedoel was om dit te verhoed. Die geskiedenis van Job het getoon dat lyding van die Satan kom, en dat God ingryp as 'n betoning van Sy genade. Maar Israel het nie die les verstaan nie. Dieselfde dwaling waarvoor God Job se vriende bestraf het, is herhaal deur die Jode in hulle verwerping van Christus. KE 480.6

Christus se dissipels het ook net soos die Jode geglo ten opsigte van sonde en lyding. Terwyl Jesus hulle uit hulle dwaling gehelp het, het Hy nie die oorsaak van daardie man se sonde geopenbaar nie, maar het hulle vertel wat die gevolg sou wees, naamlik dat die werke van God daardeur geopenbaar sou word. “Solank as Ek in die wêreld is,” het Hy gesê,” “is Ek die lig van die wêreld.” En toe, nadat Hy die oë van die blinde man gesalf het, het Hy hom gestuur om in die bad van Siloam te gaan was, en die man het siende geword. So het Jesus die vraag van die dissipels op 'n praktiese wyse beantwoord, soos Hy gewoonlik nuuskierige vrae beantwoord het. Dit was nie die roeping van die dissipels om vas te stel wie gesondig en wie nie gesondig het nie, maar om die krag en genade van God te verstaan in die herstel van die gesig aan die blindes. Dit was duidelik dat daar geen genees- krag in die klei was nie, en nog minder in die poel water waarin die blinde hom moes gaan was; maar die geneeskrag was in Christus. KE 481.1

Die Fariseërs kon nie anders as om verbaas te wees oor die genesing nie. Maar nogtans was hulle meer as ooit vervul met haat, want die wonder het op die Sabbat geskied. KE 481.2

Die bure van die jongman, en diegene wat hom geken het toe hy nog blind was, het gevra, “Is hy nie die een wat sit en bedel het nie?” Hulle het hom met twyfel betrag, want toe sy oë geopen is, het dit sy gelaat verander en laat straal, en hy het soos 'n ander mens gelyk. So is die vraag oor en weer bespreek. Sommige het gesê, “Dit is hy;” en ander weer, “Hy lyk na hom.” Maar die een wat die groot seën ontvang het, het alle twyfel uit die weg geruim deur te sê, “Dit is ek.” Hy het hulle toe vertel van Jesus, en hoe hy genees is, en hulle het gevra, “Waar is Hy? Hy antwoord: Ek weet nie.” KE 481.3

Toe het hulle hom voor die raad van die Fariseërs gebring. Weer is aan die man gevra hoe hy siende geword het. “Hy antwoord hulle: Hy het klei op my oë gesit, en ek het my gewas en ek kon sien. En sommige van die Fariseërs sê: Hierdie man kom nie van God nie, omdat Hy die Sabbat nie hou nie.” Die Fariseërs het gehoop om te bewys dat Jesus 'n sondaar was, en dus nie die Messias nie. Hulle het nie geweet dat dit Hy is wat die Sabbat gemaak het, die verplig- ting daarvan geken het, en wat die blinde man genees het nie. Hulle was vreeslik ywerig vir die onderhouding van die Sabbat, maar op daardie juiste dag was hulle besig met planne om moord te pleeg. Maar vele is diep ontroer toe hulle van die wonderwerk hoor, en hulle was oortuig dat Hy wat die oë van die blinde man geopen het, meer as 'n gewone man was. In antwoord op die beskuldiging dat Jesus n sondaar was omdat Hy nie die Sabbatdag gehou het nie, het hulle gevra, “Hoe kan 'n sondige mens sulke tekens doen?” KE 481.4

Weer het die rabbi's die blinde man aangespreek, “Jy, wat sê jy van Hom, omdat Hy jou oë geopen het? En hy antwoord: Hy is n profeet.” Die Fariseërs het toe beweer dat hy nie blind gebore was en sy gesig teruggekry het nie. Hulle het sy ouers laat roep, en hulle gevra, “Is dit julle seun van wie julle sê dat hy blind gebore is?” KE 482.1

Daar het die man self gestaan en gesê dat hy blind was, en dat sy gesig nou herstel is, maar die Fariseërs sou liewer die getuienis van hulle eie sintuie verloën as om te erken dat hulle verkeerd was. So magtig is vooroordeel, en so verdraaid farisese geregtigheid. KE 482.2

Vir die Fariseërs was daar nog een hoop oor, en dit was om die man se ouers bang te maak. Met skynbare opregtheid het hulle nou gevra, “Hoe sien hy dan nou?” Die ouers wou hulleself nie kompromitteer nie, want daar is gesê, dat almal wat Jesus as die Christus erken “uit die sinagoge sou geban word;” dit wil sê dat hulle vir dertig dae toegang tot die sinagoge sou belet word. Gedurende daardie tydperk was dit hulle nie geoorloof om 'n kind te laat besny of die dode te beween nie. So 'n ban is as 'n vreeslike straf beskou, en as dit die oortreder nie boetvaardig gemaak het nie, is n baie swaarder vonnis opgelê. Die groot wonder wat vir hulle seun verrig is, het die ouers oortuig, maar tog het hulle geantwoord, “Ons weet dat dit ons seun is en dat hy blind gebore is; maar hoe hy nou sien, weet ons nie; of wie sy oë geopen het, weet ons nie. Hy is self oud genoeg, vra hom; hy sal vir homself praat.” So het hulle al die verantwoordelikheid van hulleself op hulle seun afgeskuif; want hulle kon dit nie waag om Christus te bely nie. KE 482.3

Die dilemma waarin die Fariseërs hulle bevind het, hulle ondervraery en vooroordeel, hulle ongeloof van die feite van die saak, het die oë van die skare, veral van die gewone mense, begin oopmaak. Jesus het dikwels Sy wonderwerke buite op straat gedoen, en Sy werk was altyd van 'n aard wat lyding versag het. Die vraag in die harte van vele was: “Sou God sulke magtige werke deur 'n bedrieër doen soos die Fariseërs Jesus voorgestel het?” Die stryd aan albei kante het begin ernstig word. KE 482.4

Die Fariseërs het begin sien dat hulle die werke deur Jesus gedoen, geadverteer het. Hulle kon die wonderwerk nie wegredeneer nie. Die blinde man was vervul met blydskap en dankbaarheid; hy het die pragtige dinge van die natuur gesien, en was oorweldig deur die skoonheid van die aarde en die lug. Hy het graag van sy ervaring vertel; maar weer het hulle geprobeer om hom stil te maak, en gesê, “Gee aan God die eer — ons weet dat hierdie man 'n sondaar is.” Dit is: Moenie weer sê dat hierdie man jou gesig herstel het nie; dit is God wat dit gedoen het. KE 483.1

Die blinde man het geantwoord, “Of Hy 'n sondaar is, weet ek nie. Een ding weet ek: dat ek blind was en nou sien.” KE 483.2

Toe het hulle hom weer begin vra, “Wat het Hy vir jou gedoen? Hoe het Hy jou oë geopen?” Met die baie vraery het hulle geprobeer om hom verward te maak, sodat hy moet dink dat hy hom dinge verbeel het. Die Satan en sy bose engele was aan die kant van die Fariseërs, en hulle het hulle kragte listig saamgespan met die menslike redenasies ten einde die invloed van Christus teen te werk. Hulle het die oortuigings laat verflou wat in vele se harte was. Maar daar was ook engele van God om die man te versterk wie se oë geopen is. KE 483.3

Die Fariseërs het nie besef dat hulle met ander moes rekening hou behalwe daardie ongeletterde man wat blind gebore was nie; hulle het die Een nie geken met wie hulle werklik in stryd verkeer het nie. Goddelike lig het geskyn in die hoekies van die blinde man se siel. Waar hierdie huigelaars geprobeer het om hom ongelowig te maak, het God hom gehelp om deur raak antwoorde te toon dat hy hom nie in 'n strik sou laat lei nie. Hy het geantwoord: “Ek het dit al vir julle gesê, en julle het nie geluister nie. Waarom wil julle dit weer hoor? Julie wil tog nie ook Sy dissipels word nie? Hulle skel hom toe uit en sê: Jy is 'n dissipel van daardie man, maar ons is dissipels van Moses. Ons weet dat God met Moses gespreek het; maar wat Hom betref, ons weet nie waar Hy vandaan is nie.” KE 483.4

Die Here Jesus het geweet watter vuurproef hierdie man moes deurmaak, en Hy het hom genade gegee om te antwoord, sodat hy n getuie vir Christus geword het. Hy het die Fariseërs geantwoord met woorde wat hulle goed bestraf het. Hulle het hulleself uitgegee as verklaarders van die Skrifte, as die geestelike leiers van die volk; en hier was nou Iemand wat wonderwerke gedoen het, en volgens hulle eie belydenis het hulle nie die bron van Sy krag geken nie en ook niks omtrent Sy karakter en aansprake nie. Hier is nou “iets wonderliks,” het die man gesê, “dat julle nie weet waar Hy vandaan is nie, en Hy het my oë geopen! En ons weet dat God sondaars nie verhoor nie; maar as iemand godvresend is en Sy wil doen, dié verhoor Hy. Van ouds af is dit nie gehoor dat iemand die oë van 'n blindgebore mens geopen het nie. As Hy nie van God was nie, sou Hy niks kan doen nie.” KE 484.1

Die man het sy ondervraers op hulle eie grond ontmoet. Sy logika was onomstootlik. Die Fariseërs was verbaas, en hulle het stilgebly — uit die veld geslaan deur sy raak woorde. Vir 'n paar oomblikke was daar stilte. Toe het die verontwaardigde priesters en rabbi's elkeen sy kleed om hom gevou asof hulle besoedeling gevrees het; hulle het die stof van hulle voete afgeskud, en op die man begin skel: “Jy is heeltemal in sondes gebore en leer jy ons? En hulle het hom uitgeban.” KE 484.2

Jesus het gehoor wat hulle gedoen het; en toe Hy die man kort daarna ontmoet, het Hy aan hom gevra, “Glo jy in die Seun van God?” KE 484.3

Vir die eerste maal het die blinde man die aangesig van sy Verlosser aanskou. Voor die raad het hy sy verontruste ouers gesien; hy het die fronsende gesigte van die rabbi's gesien, maar nou het sy oë die lieflike, vreedsame aangesig van Jesus aanskou. Alreeds het hy tot groot gevaar vir homself, Hom erken as iemand wat goddelike krag besit; maar nou is daar 'n hoër openbaring aan hom gegee. KE 484.4

Op die Heiland se vraag, “Glo jy in die Seun van God?” het die blinde man geantwoord deur te vra, “Wie is Hy, Here, dat Ek in Hom kan glo?” Jesus het hom geantwoord, “Jy het Hom gesien; en Hy wat met jou spreek, dit is Hy.” Die man het homself aan die voete van die Heiland gewerp in aanbidding. Nie alleen was sy natuurlike gesig herstel nie, maar sy geestelike oë is ook geopen. Christus is aan sy siel geopenbaar en hy het Hom aangeneem as die Een van God gestuur. KE 484.5

'n Groep Fariseërs het daar naby vergader, en die aanskouing van hulle het Jesus weer die kontras laat sien wat altyd geskep word deur die uitwerking van Sy woorde en werke. Hy het gesê, “Tot 'n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word.” Christus het gekom om die blinde oë te open, om lig te gee aan diegene wat in die duisternis sit. Hy het gesê dat Hy die lig van die wêreld is; en die wonderwerk wat Hy so pas gedoen het, was bewys van Sy sending. Die mense wat die Heiland gesien het tydens Sy eerste koms, was bevoorreg met 'n voller openbaring van die goddelike teenwoordigheid as wat die wêreld ooit voorheen gehad het. Die kennis van God is meer volledig geopenbaar. Maar juis deur hierdie openbaring is daar 'n oordeel oor die mense gebring. Hulle karakters is getoets; hulle lot beslis. KE 485.1

Die openbaring van goddelike krag wat beide die natuurlike en geestelike oë van die blinde man geopen het, het die Fariseërs in nog groter duisternis gelaat. Sommige van die toehoorders wat gevoel het dat Christus se woorde op hulle van toepassing was, het gevra, “Is ons dan ook blind?” Daarop het Jesus geantwoord, “As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie.” As God dit onmoontlik vir julle gemaak het om die lig te sien, sou julle geen skuld gehad het nie. Maar nou sê julle, “Ons sien!” Julle glo dat julle kan sien, maar julle verwerp die middel waardeur julle siende kan word. Tot almal wat hulle behoefte besef het, het Christus met oneindige hulp gekom; maar die Fariseërs het geen behoefte gevoel nie; hulle het geweier om tot Christus te kom, en hulle het dus blind gebly —'n blindheid waarvoor hulle self verantwoordelik was. Jesus het aan hulle gesê, “Daarom bly julle sonde.”  KE 485.2