Loading...

Loading

Loading
(You are in the browser Reader mode)

As 'n Kind

Die kinder- en jongelingsjare van Jesus is deurgebring in 'n klein dorpie in die berge. Daar was geen plek op aarde wat nie geëerd sou gewees het deur Sy teenwoordigheid nie. Dit sou 'n voorreg gewees het vir koningspaleise om Hom as gas te hê. Maar Hy het die huise van die rykes verbygegaan, die howe van koninklikes, die sentra van geleerdheid, om Sy tuiste te maak in die onbekende en veragte Nasaret. KE 60.1

Wonderbaar treffend is die kort beskrywing van Sy jeug: “Die Kindjie het gegroei en sterk geword in die gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom.” In die sonlig van Sy Vader se aanskyn het Jesus “toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.” Lukas 2: 40, 52. Verstandelik was Hy baie skerpsinnig, met 'n bedagsaamheid en wysheid ver bokant Sy ouderdom, dog Sy karakter was edel en eweredig. Verstandelik en liggaamlik het Hy geleidelik ontwikkel, ooreenkomstig die wette van die jeug. KE 60.2

As kind het Jesus 'n baie lieflike geaardheid geopenbaar. Sy gewillige hande was altyd klaar om ander te dien. Hy het 'n geduldig heid geopenbaar wat niks kon verstoor nie, en 'n onwrikbare waarheidliewendheid. Hy was, wat beginsel betref, rotsvas, en Sy lewe was gekenmerk deur onselfsugtige hoflikheid. KE 60.3

Met groot belangstelling het die moeder van Jesus Sy ontwikkeling gadegeslaan, en die stempel van volmaaktheid in Sy karakter gesien. Met genoeë het sy getrag om daardie ontvanklike hart aan te moedig. Deur die Heilige Gees het sy wysheid ontvang om saam te werk met hemelse werktuie vir die opwassing van hierdie kind wat God alleen as Vader gehad het. KE 61.1

Van die vroegste tye af het die getroues in Israel baie sorg bestee aan die opvoeding van die jeug. Die Here het beveel dat die kinders van hulle vroegste jeug af geleer moes word van Sy goedheid en grootheid, veral soos geopenbaar in Sy wet, en getoon in die geskiedenis van Israel. Sang, en gebede, en lesse uit die Skrifte moes aangepas word by die ontwikkelende verstand. Vaders en moeders moes hulle kinders leer dat die wet van God 'n openbaring van Sy karakter is, en dat namate hulle die beginsels van die wet in hulle harte ontvang, die beeid van God op hart en siel afgedruk sou word. Baie van die onderrig was mondelings, maar die jeug het ook geleer om die Hebreeuse geskrifte te lees; hulle het toegang gehad tot die perkamentrolle van die Ou Testament. KE 61.2

In die tyd van Christus is die dorp of stad wat nie voorsiening gemaak het vir die godsdiensonderrig van die jeug nie, beskou as onder die vloek van God. Maar die onderrig het in blote vorm ontaard. Oorlewerings het in 'n groot mate die Skrifte vervang. Ware opvoeding sou die jeug lei “sodat hulle die Here mag soek, of hulle Hom miskien kan aanraak en vind.” Hand. 17: 27. Maar die Joodse leiers het hulle aandag bestee aan die seremonies. Die verstand is oorlaai met materiaal wat waardeloos vir die student was, en wat nie erken sou word in die hoër skool van die hemelse howe nie. Die ondervinding wat kom ten gevolge van 'n persoonlike aanname van Gods Woord het geen piek gehad in hulle opvoedingstelsel nie. In beslag geneem deur die roetine van uiterlikhede, was daar geen stille uur vir gemeenskap met God nie. Hulle het nie Sy Woord hoor spreek tot die hart nie. In hulle soektog na kennis het hulle afgedwaal van die Bron van kennis. Die nodige dinge in die diens van God is verwaarloos. Die beginsels van die wet is verduister. Wat hulle beskou het as goeie opvoeding was 'n struikelblok in die weg van ware ontwikkeling. Onder die leiding van die rabbi's is die kragte van die jeug onderdruk. Hulle verstand het eng en bekrompe geword. KE 61.3

Die kind Jesus het nie onderrig ontvang in die skool van die sinagoge nie. Sy moeder was Sy eerste onderwyser. Sy het Hom die hemelse dinge uit die geskrifte van die profete geleer. Die juiste woorde wat Hy seif aan Moses gegee het vir Israel, is Hy nou aan moedersknie geleer. Toe Hy Sy jongelingsjare bereik het, het Hy nie na die rabbynse skole gegaan nie. Hy het nie die onderrig uit daardie bronne nodig gehad nie, want God was Sy leermeester. KE 62.1

Die vraag gedurende die Heiland se bediening, “Hoe kom Hy aan die geleerdheid terwyl Hy geen onderwys ontvang het nie?” (Joh. 7: 15) wil nie sê dat Hy nie kon lees nie, maar net dat Hy geen rabbynse onderrig ontvang het nie. Aangesien Hy kennis opgedoen het net soos ons dit kan doen, toon Sy grondige kennis van die Skrifte hoe ywerig Sy jongelingsjare bestee is aan die studie van Gods Woord. En voor Hom was die groot biblioteek van Gods skepping. Hy wat alle dinge geskape het, het die lesse studeer wat Sy eie hand geskryf het in die aarde, die see, en die lug. Afgesonder van die onheilige weë van die wêreld het Hy groot wetenskaplike kennis geput uit die natuur. Hy het die lewe van plante en diere bestudeer, en ook die menselewe. Van Sy vroegste jeug af was Hy met een doel besiel — Hy het gelewe om ander te seën. Vir hierdie doel het Hy geput uit die natuurbronne; nuwe idees het Hom te binne geskiet waar Hy die lewe van plante en diere ondersoek het. Gedurig het Hy die lewende woord van God toegelig met illustrasies van dinge wat Hy gesien het. Die gelykenisse wat Hy gedurende Sy bediening gebruik het in Sy lesse van die waarheid, wys hoe ontvanklik Sy gees was vir die invloede van die natuur, en hoe Hy geestelike lesse gekry het van die dinge waarvan Hy elke dag omring was. KE 62.2

So was die betekenis van die woord en werke van God verduidelik namate Hy getrag het om die redes vir dinge te verstaan. Hemelse wesens het Hom bygestaan en Hy kon heilige gedagtes koester en heilige gemeenskap hê. Vandat Sy intelligensie die eerste maal ontwaak het, het Hy gedurig toegeneem in genade en die kennis van die waarheid. KE 62.3

Elke kind kan kennis verkry soos Jesus. Waar ons trag om ons hemelse Vader te leer ken deur Sy Woord, sal engele naby kom, ons. verstand sal versterk, en ons karakters sal verhef en verfyn word. Ons sal meer soos ons Heiland word. En waar ons die mooi en skoon dinge in die natuur aanskou, sal ons liefde uitgaan tot God. Terwyl die gees met ontsag vervul is, sal die siel verkwik word deur sy aanraking met die Almagtige deur Sy werke. Gemeenskap met God deur gebed ontwikkel die verstandelike en sedelike vermoëns, en waar ons oor geestelike dinge dink, sal ons geestelike kragte versterk word. KE 62.4

Die lewe van Jesus was 'n lewe in harmonie met God. Terwyl Hy 'n kind was, het Hy gedink en gepraat soos 'n kind; maar geen spore van die sonde het die beeid van God in Hom geskend nie. Hy was nogtans nie vry van versoeking nie. Die bewoners van Nasaret was bekend vir hulle goddeloosheid. Wat van hulle gedink is, kom uit in Natanael se vraag, “Kan daar uit Nasaret iets goeds wees?” Joh. 1: 47. Jesus is geplaas waar Sy karakter getoets kon word. Dit was nodig vir Hom om gedurig te waak om Sy reinheid te bewaar. Hy moes dieselfde stryd stry wat ons moet stry, sodat Hy vir ons as kind, jongeling, en man 'n voorbeeld kon wees. KE 63.1

Die Satan was onvermoeid in sy pogings om die Kind van Nasaret te oorwin. Van Sy vroegste jare af is Jesus deur engele beskerm, maar Sy lewe was een lang stryd teen die magte van die duisternis. Dat daar op die aarde een lewe sou wees wat nie deur die sonde besoedel was nie, was 'n aanstoot vir die vors van die duisternis. Hy het alles probeer om Jesus in 'n strik te lei. Geen mensekind sal ooit geroep word om 'n heilige lewe te lei te midde van so 'n feile stryd met die versoeking soos ons Heiland nie. KE 64.1

Die ouers van Jesus was arm en afhanklik van hulle daelikse werk. Hy het armoede, selfverloëning, en ontbering geken. Hierdie ondervinding was 'n beskerming vir Hom. Omdat Hy moes werk, was daar geen ledigheid om versoeking uit te lok nie. Geen ledige ure het die weg geopen vir verderflike invloede nie. Sover moontlik het Hy die deur gesluit vir die versoeker. Nóg voordeel nóg plesier, en geen applous of bestraffing kon Hom beweeg tot een verkeerde daad nie. Hy was wys om die sonde raak te sien, en sterk om dit te weerstaan. KE 64.2

Christus was die enigste sondelose persoon wat ooit hierdie aarde betree het, ten spyte van die feit dat Hy vir byna dertig jaar tussen die bose bewoners van Nasaret gewoon het. Hierdie feit is 'n bestraffing vir diegene wat dink dat hulle 'n sekere woonplek, geld, of voorspoed moet hê om 'n onberispelike lewe te lei. Versoeking, armoede en beproewing is juis die dissipline wat nodig is om reinheid en standvastigheid te ontwikkel. KE 64.3

Jesus het in die huis van 'n arm man gewoon, en Hy het opgeruimd en getrou Sy deel bygedra om die laste van die gesin te dra. Hy was die gesagvoerder in die hemel, en engele het graag Sy bevele uitgevoer; nou was Hy 'n dienswillige dienskneg, 'n liefdevolle, gehoorsame seun. Hy het 'n ambag geleer, en met Sy eie hande het Hy in die timmermanswinkel van Josef gewerk. In die eenvoudige drag van 'n gewone dagloner het Hy die strate van die klein dorpie bewandel na Sy nederige werk, en terug. Hy het nie Sy goddelike krag gebruik om Sy laste en Sy werk te verlig nie. KE 64.4

Waar Jesus in Sy kinder- en jongelingsjare gewerk het, het Sy liggaam en verstand ontwikkel. Hy het nie Sy liggaamskragte on- verskillig gebruik nie, maar op so 'n manier om gesondheid te bevorder, sodat Hy op elke gebied die beste werk kon lewer. Hy was nie. gewillig om onhandig te wees, selfs in die hantering van Sy gereedskap nie. As werksman was Hy volmaak, en in karakter was Hy volmaak. Deur Sy eie voorbeeld het Hy geleer dat dit ons plig is om werksaam te wees, dat ons werk reg en deeglik gedoen moet word, en dat dit 'n eer is om te werk. Die oefeninge wat die hande leer om bruikbaar te wees, en wat jongmense leer om hulle deel van die lewenslaste te dra, gee fisiese krag en ontwikkel al ons vermoëns. Almal behoort iets te vind om te doen wat hulle tot voordeel sal strek en ander sal help. God het werk beskik as 'n seën, en alleen die ywerige werker sal die wäre heerlikheid en vreugde van die lewe vind. Kinders en jongmense wat blymoedig hulle deel van die huiswerk doen, en vader en moeder help, dra Gods goedkeuring weg. Sulke kinders sal later die ouerhuis verlaat as bruikbare lede van die samelewing. KE 64.5

Deur Sy hele aardse lewe was Jesus 'n ernstige en getroue werker. Hy het veel verwag daarom het Hy veel gewaag. Ná Hy Sy bediening begin het, het Hy gesê, “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, solank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie.” Joh. 9: 4. Jesus het nie probeer om verantwoordelikheid te vermy soos baie van Sy sogenaamde volgelinge vandag doen nie. Dit is omdat hulle hierdie dissipline wil ontduik dat so baie swak en onbekwaam is. Hulle mag baie goeie eienskappe hê, maar hulle het geen ruggraat nie en is omtrent hopeloos wanneer daar moeilikhede en struikelblokke is om te oorwin. Daardie beslistheid en energie, daardie vastheid van karakter, wat ons in Christus sien, moet ook in ons ontwikkel word deur dieselfde dissipline wat Hy verduur het. En die genade wat Hy ontvang het, is ook vir ons. KE 65.1

Solank as Hy onder die mense gelewe het, het ons Heiland in die lot van die armes gedeel. Hy het uit ondervinding die sorge en ontberings geken, en Hy kon alle nederige werkers vertroos en be-moedig. Diegene wat 'n ware begrip het van die leer van Sy lewe, sal nooit voel dat daar 'n onderskeid tussen die klasse moet wees, en dat die rykes bokant die waardige armes vereer moet word nie. KE 65.2

Jesus het gewerk met opgeruimdheid en takt. Dit vereis baie geduld en geestelikheid om Bybelse godsdiens in te bring in die huis en in die werkspiek, sodat ons die druk van wêreldse besigheid kan verduur en nog enkel vir die heerlikheid van God kan lewe. Dit is waar Christus 'n helper is. Hy was nooit so in beslag geneem deur. die sorge van die lewe dat daar geen tyd vir hemelse dinge was nie. Dikwels het Hy uiting gegee aan Sy vreugde deur psalms en hemelse liedere te sing. Baiemaal het die bewoners van Nasaret Sy stem gehoor in lof en danksegging aan God. Hy het in sang gemeenskap met die hemel gehad, en waar Sy metgeselle gekla het dat hulle moeg was van die werk, is hulle opgebeur deur Sy sang. Wanneer Hy God geloof het, het dit die bose engele verjaag, en, soos wierook die plek met 'n soete geur vervul. Dit het die gedagtes van diegene wat Hom gehoor het, weggeneem van hulle aardse ballingskap en gevestig op die hemelse wonings. KE 65.3

Jesus was die fontein van genesende genade vir die wêreld, en deur al die jare van afsondering in Nasaret, het Sy lewe uitgevloei in strome van teerheid en medelyde. Die oues van dae, die treurendes, die wat met sonde belas was, die kinders waar hulle onskuldig gespeel het, die klein diertjies van die bosse, en die geduldige lasdiere — almal was gelukkiger ten gevolge van Sy teenwoordigheid. Hy wie se magwoord die wêrelde in stand hou, sou neerbuk om 'n beseerde voëltjie te help. Daar was niks te gering vir Hom om op te merk nie, niks wat Hy benede Hom geag het nie. KE 66.1

Waar Hy so opgewas het in wysheid en in grootte, het Jesus toegeneem in guns by God en die mense. Hy het die medelyde van alle harte getrek omdat Hy medelyde met almal gehad het. Die atmosfeer van hoop en moed wat Hom omring het, het Hom 'n seën in elke huis gemaak. Dikwels op die Sabbat is Hy gevra om in die sinagoge die les uit die profete te lees, en die harte van die hoorders is getref waar daar nuwe lig gestraal het uit die bekende woorde van die Heilige Skrif. KE 66.2

Maar Jesus het altyd vertoon vermy. Gedurende al die jare van Sy verblyf in Nasaret, het Hy geen vertoon gemaak van Sy wonderwerkende krag nie. Hy het geen hoë posisie gesoek of hoë titels aanvaar nie. Sy stil en eenvoudige lewe, en selfs die stilswye van die Skrifte oor Sy vroeë jare, leer 'n belangrike les. Hoe stiller en eenvoudiger die lewe van die kind — hoe vryer dit is van kunsmatige opwinding en hoe meer dit in harmonie is met die natuur — des te voordeliger sal dit wees vir sy fisiese, verstandelike, en geestelike krag. KE 66.3

Jesus is ons voorbeeld. Daar is vele wat groot belang stel in die tydperk van Sy openbare bediening, terwyl hulle geen ag slaan op die. lesse van Sy jeug nie. Maar dit is in Sy huislike lewe dat Hy die voorbeeld vir alle kinders en jongmense is. Die Heiland het armoede aangeneem, sodat Hy kon leer hoe naby ons in ons nederige lot by God kan wandel. Hy het gelewe om Sy Vader in die gewone dinge van die lewe te behaag, te eer, en te verheerlik. Sy werk het begin in die heiliging van die nederige werk van die ambagsmanne wat swoeg vir hulle daelikse brood. Toe Hy by die skaafbank gewerk het, was Hy net soseer in die diens van God as toe Hy wonderwerke vir die skares verrig het. En elke jongmens wat die voorbeeld van getrouheid en gehoorsaamheid volg wat Christus in Sy eenvoudige ouerhuis gestel het, mag die woorde op homself toepas wat die Vader van Hom gesê het deur die Heilige Gees: “Daar is My kneg wat Ek ondersteun, My Uitverkorene in wie My siel 'n welbehae het.” Jes. 42: 1. KE 66.4