Loading…
“Lasarus, Kom Uit”
ONDER die standvastigste volgelinge van Jesus was Lasarus van Betanië. Vandat hy Hom die eerste maal ontmoet het, was sy geloof in Christus sterk; sy liefde vir Hom was diepgaande, en die Heiland het hom ook baie liefgehad. Dit was vir Lasarus wat Christus Sy grootste wonderwerk verrig het. Die Heiland het almal geseën wat by Hom hulp kom soek het; Hy het die hele mensdom lief, maar Hy is aan sommige geheg deur spesiale herinneringe. Hy was met sterk bande van liefde verbind aan die gesin van Betanië, en vir een van hulle het Hy die grootste wonderwerk gedoen. KE 532.1
Jesus het dikwels gerus in die huis van Lasarus. Die Heiland het geen huis van Sy eie gehad nie; Hy was afhanklik van die gasvryheid van Sy vriende en dissipels, en dikwels, wanneer Hy moeg was en verlang het na die gemeenskap van medemense, het dit Hom behaag om te ontvlug na hierdie vreedsame gesin, weg van die agterdog en jaloesie van die kwaadwillige Fariseërs. Daar is Hy altyd hartlik verwelkom, en het Hy reine, heilige vriendskap ontvang. Daar kon Hy in eenvoud en alle vrymoedigheid praat, wetende dat Sy woorde begryp en gewaardeer sou word. KE 532.2
Ons Heiland het 'n stille woning en belangstellende toehoorders gewaardeer. Hy het verlang na menslike tederheid, hoflikheid, en liefde. Diegene wat die hemelse onderrig aangeneem het wat Hy altyd gewillig was om te gee, is ryklik geseën. Waar die skare Christus gevolg het deur die oop velde, het Hy aan hulle die skoonheid van die natuurlike wêreld geopenbaar. Hy het getrag om die oë van hulle verstand te open, sodat hulle kon sien hoedat die hand van God die wêreld in stand hou. Om hulle te help om Gods goedheid en liefde te waardeer, het Hy die aandag van Sy toehoorders gevestig op die sagte dou, die sagte reënbuie, en die heerlike sonskyn wat val op beide goeie en siegte mense. Hy wou hê dat die mense 'n beter besef moes kry van die liefde wat God koester teenoor Sy skepsels. Maar die skare was traag om te verstaan, en in daardie huis in Betanië het Christus rus gevind van die vermoeienis van die openbare lewe. Daar kon Hy aan 'n dankbare gehoor dinge uit die Boek van die Voorsienigheid openbaar. By daardie private onderhoude het Hy aan Sy toehoorders dinge geopenbaar wat Hy nie geprobeer het om aan die gemengde skare te verduidelik nie. Daar was dit nie nodig om tot Sy vriende deur middel van gelykenisse te spreek nie. KE 533.1
Wanneer Christus Sy wonderbare lesse gegee het, het Maria aan Sy voete gesit, 'n eerbiedige en getroue toehoorder. By een geleentheid het Martha, belas met die sorge om die ete te berei, by Christus gekla en gesê, “Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar om my te help.” Dit was tydens Christus se eerste besoek aan Betanië. Die Heiland en Sy dissipels het so pas die vermoeiende reis te voet afgelê vanaf Jerigo. Martha wou hulle graag iets voorsit, en in haar gretigheid het sy die hoflikheid vergeet wat haar Gas toegekom het. Jesus het haar sag en geduldig geantwoord, “Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie sal weggeneem word nie.” Maria het in haar hart die kosbare woorde van die Heiland se lippe opgeneem, woorde wat vir haar dierbaarder was as die aarde se kosbaarste juwele. KE 533.2
Die “een ding” wat Martha nodig gehad het, was 'n stille, aanbiddende gees, 'n groter begeerte om die toekoms te ken, die ewige lewe, en die genade wat nodig is vir geestelike opwassing. Sy moes haarseif minder gekwel het oor verganklike dinge, en meer oor die ewige dinge. Jesus wil Sy kinders leer om gebruik te maak van elke geleentheid om daardie kennis te verkry wat hulle wys sal maak tot die saligheid. Die saak van Christus het versigtige, energieke werkers nodig. Daar is 'n groot arbeidsveld vir die Marthas met hulle ywer in godsdienstige werk. Maar dan moet hulle eers saam met Maria aan die voete van Jesus sit. Laat ywer, gewilligheid, en energie geheilig word deur die genade van Christus; dan sal die lewe 'n onoorwinlike krag ten goede wees. KE 533.3
Daar het droefheid gekom in daardie rustige huis waar Jesus gerus het. Lasarus het skielik siek geword, en sy susters het die Heiland laat roep, en die volgende boodskap aan Hom gestuur, “Here, hy vir wie U liefhet, is siek.” Hulle het gesien dat dit 'n ernstige siekte was wat hulle broer gehad het, maar hulle het ook geweet dat Jesus bewys het dat Hy in staat is om alle siekte te genees. Hulle het geglo dat Hy medelyde met hulle sou hê in hulle ellende; daarom het hulle Hom nie dadelik dringend versoek om te kom nie, maar slegs die vertrouelike boodskap gestuur, “Hy vir wie U liefhet, is siek. Hulle het gedog dat Hy dadelik sou reageer op hulle boodskap en na hulle sou kom so spoedig as wat Hy Betanië kon bereik. KE 534.1
In angs het hulle gewag op tyding van Jesus. Solank as wat daar nog lewe in hulle broer was, het hulle gebid en gewag vir Jesus. Maar die boodskapper het sonder Hom teruggekom. Hy het egter die volgende boodskap aan hulle gebring: “Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie,” en hulle het bly hoop dat Lasarus nie sou sterf nie. In tederheid het hulle geprobeer om die byna bewustelose lyer met hoop en mocd te besiel. Toe Lasarus sterf, was hulle bitter teleurgestel, maar hulle het nogtans die versterkende genade van Christus gevoel, en dit het hulle weerhou om die Heiland dit nie te verwyt nie. KE 534.2
Toe die boodskap aan Christus gebring is, het die dissipels gemeen dat Hy dit baie koel ontvang het. Hy het nie daardie droefheid geopenbaar wat hulle verwag het nie. Hy het hulle aangespreek en gesê, “Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” Vir nog twee dae het Hy vertoef op die plek waar Hy was. Hierdie handelwyse was 'n raaisel vir die dissipels. Watter vertroosting sou Sy teenwoordigheid nie wees vir die geteisterde huisgesin nie, het hulle gedink! Sy groot liefde vir die gesin van Betanië was goed bekend aan Sy dissipels, en hulle was verwonder dat Hy nie gehandel het nie op die treurige boodskap, “Hy vir wie U liefhet, is siek.” KE 534.3
Gedurende die twee dae het dit geskyn of Jesus die boodskap heeltemal vergeet het, want Hy het nooit van Lasarus gepraat nie. Die dissipels het begin dink aan Johannes die Doper, die voorloper van Jesus. Hulle het gewonder waarom Jesus, wat die mag het om wonderwerke te doen, toegelaat het dat Johannes in die gevangenis kwyn om eindelik 'n gewelddood te sterf. Aangesien Hy sulke groot mag het, waarom het Jesus nie Johannes se lewe gered nie? Hierdie vraag is dikwels deur die Fariseërs gevra, en hulle het dit aangevoer as onweerlegbare bewys teen Christus se aanspraak dat Hy die Seun van God is. Die Heiland het Sy dissipels gewaarsku van beproewings, Verliese, en vervolging. Sou Hy hulle ook verlaat in beproewing? Sommige het getwyfel of hulle Sy sending reg verstaan het. Almal was diep ontstel. KE 535.1
Nadat Hy twee dae gewag het, het Jesus aan die dissipels gesê, “Laat ons weer na Judea gaan.” Toe het die vraag by die dissipels ontstaan, waarom, as Jesus na Judea wou gaan, het Hy dan twee dae gewag? Maar bekommernis oor Christus en oor hulleself het nou hulle gedagtes besig gehou. Hulle kon niks as gevaar sien op die weg wat Hy nou wou inslaan nie. “Rabbi,” het hulle gesê, “die Jode het onlangs geprobeer om U te stenig, en gaan U weer daarnatoe? Jesus antwoord: Is daar nie twaalf ure in die dag nie?” Ek is onder die leiding van My Vader; solank as Ek Sy wil doen, is My lewe veilig. My twaalf uur van daglig is nog nie verstreke nie. Ek het die laaste gedeelte van My dag begin, en solank as dit nog nie heeltemal verstreke is nie, is Ek veilig. KE 535.2
“As iemand in die dag wandel, stamp hy hom nie,” het Hy gesê, “omdat hy die lig van hierdie wêreld sien.” Hy wat die wil van God doen, wat wandel in die pad wat God aangewys het, kan nie struikel en val nie. Die lig van Gods Gees gee hom 'n helder begrip van sy plig, en lei hom op die regte pad totdat sy werk klaar is. “Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie.” Hy wat die pad van sy eie keuse bewandel, waarop God hom nie geroep het nie, sal hom stamp. Vir hom word die dag in nag verander, en waar hy ook al is, is hy nie veilig nie. KE 535.3
“Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle: Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak.” “Lasarus, ons vriend, slaap.” Hoe aandoenlik is die woorde! Hoe vol medelyde! Deur te dink aan die gevaar waarin hulle Meester Hom sou begeef om na Jerusalem te gaan, het die dissipels byna die bedroefde gesin in Betanië vergeet. Maar Christus het nie. Die dissipels het gevoel dat hulle bestraf is. Hulle was teleurgestel dat Christus nie dadelik gegaan het toe Hy die boodskap ontvang het nie. Hulle het in die versoeking gekom om te dink dat Hy nie die liefde vir Lasarus en sy susters gehad het wat hulle gemeen het nie, of Hy sou sonder verwyl met die boodskapper saam teruggegaan het. Maar die woorde, “Lasarus, ons vriend, slaap,” het weer die regte gevoelens in hulle harte gebring. Hulle was nou oortuig dat Christus nie Sy lydende vriende vergeet het nie. KE 536.1
“Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word. Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek.” Christus stel die dood as 'n slaap aan Sy gelowige kinders voor. Hulle lewe is met Christus verberg in God, en diegene wat sterf, sal in Hom slaap tot die laaste basuin sal weerklink. KE 536.2
“Toe sc Jesus vir hulle prontuit: Lasarus is dood. En Ek is bly om julle ontwil dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar laat ons na hom toe gaan.” Thomas kon niks anders as die dood vir sy Meester sien as hulle na Judea sou gaan nie; maar hy het sy gees versterk, en aan die ander dissipels gesê, “Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe.” Hy het geweet hoe die Jode Christus gehaat het. Dit was hulle doel om Hom dood te maak, maar hulle het nie daarin geslaag nie, omdat Sy tyd nog nie verstreke was nie. Solank daardie tyd geduur het, het hemelse engele Jesus beskerm; en selfs in die dele van Judea, waar die rabbi's besig was met planne hoe hulle Hom gevange kon neem en doodmaak, sou geen kwaad Hom tref nie. KE 536.3
Die dissipels was verbaas oor Christus se woorde toe Hy gesê het, “Lasarus is dood. En Ek is bly . . . dat Ek nie daar was nie.” Het die Heiland dan met opset vermy om na die huis van Sy lydende vriende te gaan? Oënskynlik was Maria en Martha en die sterwende Lasarus alleen gelaat. Maar hulle was nie alleen nie. Christus het die hele toneel gesien, en ná die dood van Lasarus is die bedroefde susters versterk deur Sy genade. Jesus het die groot droefheid van hulle verskeurde harte gesien terwyl hulle broer met die magtige vyand, die dood, geworstel het. Hy het hulle angs gevoel toe Hy aan Sy dissipels gesê het, “Lasarus is dood.” Maar Christus het nie alleen die geliefdes te Betanië gehad om aan te dink nie; Hy moes ook dink aan die opleiding van Sy dissipels. Hulle sou Sy verteenwoordigers in die wêreld word, sodat die seën van die Vader tot almal mag kom. Vir hulle ontwil het Hy toegelaat dat Lasarus sterf. As Hy hom van sy siekte gesond sou gemaak het, sou die wonderwerk wat van die sterkte van Sy goddelike karakter getuig, nooit geskied het nie. KE 536.4
As Christus in die siekekamer was, sou Lasarus nie gesterf het nie, want dan sou die Satan geen mag oor hom gehad het nie. Die dood sou nie sy pyl op Lasarus afgeskiet het in die teenwoordigheid van die Lewegewer nie. Om daardie rede het Christus weggebly. Hy het die vyand toegelaat om sy mag te gebruik, sodat Hy hom kon terugdryf en verslaan. Hy het toegelaat dat Lasarus onder die heerskappy van die dood kom; en die bedroefde susters moes sien hoedat hulle broer in die graf gelê word. Christus het geweet dat dit n verskriklike toets vir hulle geloof sou wees as hulle die lyk van hulle broer moes aanskou. Maar Hy het ook geweet dat die gevolg van die vreeslike beproewing wat hulle sou deurmaak, hulle geloof met baie groter krag sou laat skyn. Al die droefheid wat hulle deurgemaak het, het Hy ook gevoel. Hy het hulle nie minder liefgehad omdat Hy nie dadelik gekom het nie, maar Hy het geweet dat daar vir hulle, vir Lasarus, vir Homself, en vir Sy dissipels 'n groot oorwinning sou behaal word. KE 537.1
“Om julle ontwil;” “met die doel dat julle mag glo.” Vir almal wat ernstig soek na die leiding van God, is die oomblik wanneer alles die donkerste lyk die tyd wanneer goddelike hulp die naaste is. Hulle sal met dankbaarheid terugkyk op daardie donker pad wat hulle moes bewandel. “Die Here weet om die godsaliges te verlos uit versoeking.” Pet. 2:9. Uit elke versoeking en elke beproewing sal Hy hulle bring met 'n sterker geloof en 'n ryker ondervinding. KE 537.2
Deur nie dadelik na Lasarus te gaan nie, het Christus genade betoon aan diegene wat Hom nie aangeneem het nie. Hy het getalm om te kom sodat Hy, deur Lasarus op te wek uit die dode, aan Sy hardnekkige, ongelowige volk nog verdere bewys kon gee dat Hy inderwaarheid “die opstanding en die lewe” is. Hy het nie maklik alle hoop vir Sy volk, die arme dwalende skape van die huis van Israel, opgegee nie. Hulle onboetvaardigheid het Sy hart gebreek. In Sy barmhartigheid het Hy besluit om hulle 'n verdere bewys te gee dat Hy die Hersteller is, die enigste Een wat die lewe en die onsterflikheid kan gee. Dit sou bewys wees wat die priesters nie sou kon misverstaan nie. Dit was die rede waarom Hy nie dadelik na Betanië gegaan het nie. Hierdie kroon van Sy wonderwerke, naamlik die opwekking van Lasarus, sou die seël van God plaas op Sy werk en Sy aanspraak op die godheid. KE 537.3
Op Sy reis na Betanië, het Jesus, soos Sy gewoonte was, die siekes en die behoeftiges gehelp. Toe Hy in die dorpie aankom, het Hy 'n boodskapper na die susters gestuur om hulle te verwittig van Sy koms. Christus het nie dadelik die huis binnegegaan nie, maar het op 'n stil plekkie langs die pad gewag. Die groot vertoon wat die Jode gemaak het by die dood van vriende, of bloedverwante, het nie die stille gees van Christus aangestaan nie. Hy het die geweeklaag van die gehuurde roudraers gehoor, en Hy wou nie graag die susters in daardie verwarring ontmoet nie. Onder die vriende was daar bloedverwante van die gesin, sommige waarvan hoë en verantwoordelike betrekkings in Jerusalem beklee het. Onder hulle was van Christus se bitterste vyande. Christus was bewus van hulle planne, en daarom het Hy Homself nie sommer dadelik aangemeld nie. KE 538.1
Die boodskap is so stil aan Martha gebring dat die ander in die vertrek dit nie gehoor het nie. In haar droefheid het Maria dit nie gehoor nie. Martha het dadelik opgestaan en na haar Here gegaan; omdat sy gedink het dat Martha na Lasarus se graf gegaan het, het Maria in haar droefheid bly sit, maar nie gehuil nie. KE 538.2
Martha is vinnig na Jesus toe met gemengde gevoelens. In Sy gelaat het sy dieselfde tederheid en liefde gesien wat altyd daar was. Haar vertroue in Hom was ewe sterk, maar sy het aan haar geliefde broer gedink wat Jesus ook liefgehad het. Met opwellende droefheid in haar hart omdat Jesus nie eerder gekom het nie, maar nogtans met hoop dat Hy selfs nou nog iets sou doen om hulle te vertroos, het sy gesê, “Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterwe het nie.” Oor en oor, te midde van die rumoer het die susters hierdie woorde herhaal. KE 538.3
Met menslike en goddelike ontferming het Jesus haar droewige gelaat aanskou. Martha het geen begeerte gehad om te vertel wat gebeur het nie; alles het sy uitgedruk in haar patetiese woorde, “Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterwe het nie.” Maar terwyl sy na daardie gelaat van liefde gekyk het, het sy bygevoeg, “Maar selfs nou weet ek dat alles wat U van God vra, God U sal gee.” KE 538.4
Jesus het haar geloof aangemoedig deur te sê, “Jou broer sal opstaan.” Sy antwoord was nie bedoel om hoop te gee dat daar 'n onmiddellike verandering sou plaasvind nie. Hy het Martha se gedagte gevoer verder as die onmiddellike opwekking van haar broer na die tyd van die opstanding van die regverdiges. Dit het Hy gedoen sodat sy in die opwekking van Lasarus 'n belofte kon sien van die opwekking van al die regverdige dode, en 'n versekering dat dit sou geskied deur die krag van die Verlosser. KE 540.1
Martha het geantwoord, “Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.” KE 540.2
Nog soekende om die regte rigting aan haar geloof te gee, het Jesus gesê, “Ek is die opstanding en die lewe.” In Christus is die oorspronklike, ongeleende, onverkryde lewe. “Hy wat die Seun het, het die lewe.” 1 Joh. 5: 12. Die godheid van Christus is die gelowige se versekering van die ewige lewe. “Wie in My glo,” het Jesus gesê, “sal lewe al het hy ook gesterwe. En elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?” Christus het hier vooruitgekyk na die tyd van Sy wederkoms. Dan sal die regverdige dode in onverganklikheid opgewek word, en die lewende regverdiges sal na die hemel geneem word sonder om die dood te smaak. Die wonderwerk wat Christus op die punt gestaan het om te doen, naamlik die opwekking van Lasarus uit die dode, sou 'n voorstelling wees van die opstanding van al die regverdige dode. Deur Sy woorde en Sy werke het Hy getoon dat Hy self die bewerker van die opstanding is. Hy wat eerlank self aan die kruis sou sterf, het met die sleutels van die dood gestaan, oorwinnaar oor die graf, en Hy het Sy reg en Sy mag om die ewige lewe te gee, betuig. KE 540.3
Op Sy vraag, “Glo jy dit?” het Martha geantwoord, “Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom.” Sy het nie die volle betekenis van die woorde wat Christus gespreek het, verstaan nie, maar sy het haar geloof in Sy godheid bely, asook haar vertroue dat Hy in staat is om alles te doen wat dit Hom mag behaag om te doen. KE 540.4
“En nadat sy dit gesê het, gaan sy en roep Maria, haar suster, stilletjies en sê: Die Meester is hier en Hy roep jou.” Sy het die boodskap so ongemerk moontlik gegee, want die priesters en owerstes was gereed om Jesus by die eerste geleentheid gevange te neem. Onder die geweeklaag van die roudraers is haar woorde nie gehoor nie. KE 541.1
Toe sy die boodskap kry, het Maria haastig opgestaan, en met 'n trek van verwagting die kamer verlaat. Menende dat sy na die graf gaan om te ween, het die roudraers haar gevolg. Toe sy by Jesus kom waar hy gewag het, het sy aan Sy voete neergekniel en met bewende lippe gesê, “Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterwe het nie.” Die geween van die roudraers het haar gehinder, want sy wou graag 'n paar oomblikke alleen wees met Jesus. Maar sy het geweet van die haat en nyd wat sommige daar teen Jesus gekoester het, en sy het dus nie volle uiting gegee aan haar droefheid nie. KE 541.2
“Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, het Hy geweldig bewoë geword in Sy gees en Hom ontstel.” Hy het die gedagtes gelees van die wat daar vergader het. Hy het gesien dat die openbaring van droefheid in die geval van vele maar net skyn was. Hy het geweet dat sommige daar, wat nou skynheilige droefheid geopenbaar het, eerlank besig sou wees met planne vir die dood, nie net van die magtige Wonderwerker nie, maar ook van die een wat uit die dode opgewek sou word. Christus kon hulle skynheiligheid aan die kaak gestel het. Maar Hy het Sy regverdige toorn bedwing. Die woorde wat Hy in alle waarheid kon gesê het, het Hy nie gespreek nie terwille van die geliefde wat aan Sy voete in droefheid gekniel het, en wat waarlik in Hom geglo het. KE 541.3
“Waar het hulle hom neergelê?” het Hy gevra. “Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk.” Saam is hulle na die graf. Dit was 'n treurige toneel. Hulle was baie lief vir Lasarus, en sy susters het oor hom geween met gebroke harte, terwyl sy vriende saam met sy susters geween het. By die aanskouing van hierdie menslike droefheid, en die feit dat die bedroefde vriende oor die dode kon ween terwyl die Verlosser van die wêreld daar gestaan het, het Jesus ook geween. Alhoewel Hy die Seun van God was, het Hy die menslike natuur aangeneem, en menslike droefheid het Hom ook geaffekteer. Sy teer en jammer hart gaan altyd uit in medelyde waar daar droefheid is. Hy ween saam met diegene wat ween, en Hy verbly Hom saam met diegene wat bly is. KE 541.4
Maar dit was nie slegs ten gevolge van Sy menslike meegevoel met Maria en Martha dat Jesus geween het nie. In Sy trane was daar 'n droefheid so ver bokant menslike droefheid as wat die hemel van die aarde is. Christus het nie geween vir Lasarus nie; want Hy het op die punt gestaan om hom uit die graf op te wek. Hy het geween omdat so baie wat nou getreur het oor Lasarus, eerlank planne sou maak om Hom, die opstanding en die lewe, dood te maak. Maar die ongelowige Jode was hoegenaamd nie in staat om Sy trane reg te begryp nie! Sommige wat niks meer kon sien as net die uiterlike omstandighede van die toneel as die rede waarom Hy geween het nie, het fluisterend gesê, “Kyk, hoe lief het Hy hom gehad!” Ander weer, wat die saad van ongeloof wou saai in die harte van die mense daar teenwoordig, het spottend gevra, “Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterwe het nie?” As Christus die mag gehad het om Lasarus te red, waarom het Hy hom dan laat sterf ? KE 542.1
Met profetiese oog het Christus die vyandigheid gesien van die Fariseërs en die Sadduseërs. Hy het geweet dat hulle voornemens was om Hom dood te maak. Hy het geweet dat sommige van die wat oën- skynlik so simpatiek gelyk het, baie gou die deur van hoop en die poorte van die Godstad teen hulkseif sou sluit. In Sy vernedering en kruisiging sou daar 'n toneel afgespeel word wat die verwoesting van Jerusalem ten gevolge sou hê, en as dit gebeur sou niemand die dode beween nie. Die vergelding wat oor Jerusalem sou kom, is duidelik voor Hom geskilder. Hy het Jerusalem beleër gesien deur die Romeinse legioene. Hy het geweet dat baie wat nou oor Lasarus geween het, sou omkom in die beleg van die stad, en in hulle dood sou daar geen hoop wees nie. KE 542.2
Dit was nie alleen oor die toneel voor Hom dat Jesus geween het nie. Die gewig van die droefheid van die eeue was op Hom. Hy het die vreeslike gevolge gesien van die oortreding van Gods wet. Hy het gesien hoedat in die geskiedenis van die wêreld, van die dood van Abel af, die stryd tussen goed en kwaad onafgebroke gewoed het. In die jare van die toekoms het Hy die leed en droefheid en trane en dood gesien wat die lot van die mensdom sou wees. Sy hart is deurboor met die pyn van die mensekinders van alle eeue en alle lande. Die ellende van die sondige geslag het swaar op Sy siel gedruk; die fontein van Sy trane het oopgegaan waar Hy verlang het om hulle te verlos van al hulle eilende. KE 542.3
“En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom.” Lasarus is gelê in 'n spelonk in die rotswand, en 'n groot klip is teen die ingang geplaas. “Neem die steen weg,” het Christus gelas. Menende dat Hy maar net die lyk wou sien, het Martha beswaar gemaak en gesê dat die liggaam al vier dae in die graf was en dat ontbinding al begin het. Hierdie verklaring, gemaak vóór die opwekking van Lasarus, het die vyande van Christus geen kans gegee om te sê dat daar bedrog gepleeg is nie. In die verlede het die Fariseërs valse gerugte versprei aangaande meeste van die wonderbaarlike openbarings van die krag van God. Toe Christus die dogtertjie van Jaïrus opgewek het, het Hy gesê, “Die kind is nie dood nie, maar slaap.” Markus 5: 39. Aangesien sy maar 'n kort rukkie siek was, en onmiddellik ná haar dood weer opgewek is, het die Fariseërs beweer dat die kind nooit dood was nie, en dat Christus self gesê het dat sy slaap. Hulle wou die skyn gee dat Christus nie siektes kon genees nie, en dat daar bedrog was in verband met Sy wonderwerke. Maar in hierdie geval kon niemand dit ontken dat Lasarus werklik dood was nie. KE 543.1
Wanneer die Here op die punt staan om 'n werk te doen, beweeg die Satan altyd iemand om beswaar te maak. “Neem die steen weg,” het Christus gesê. Berei sover moontlik die weg vir My werk. Maar Martha se positiewe en eiesinnige natuur het op die voorgrond getree. Sy wou nie die reeds ontbindende liggaam laat blootstel nie. Die menslike hart is traag om Christus se woorde te verstaan, en Martha se geloof het nie die ware betekenis van Sy belofte begryp nie. KE 543.2
Christus het Martha bestraf, maar Hy het dit baie saggies gedoen. “Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?” Waarom sal jy dan twyfel aan My mag? Waarom redeneer jy teen My bevele. Jy het My Woord. As jy dit wil glo, sal jy die heerlikheid van God sien. Natuurlike omstandighede kan nie die werk belet van die Almagtige nie. Twyfel en ongeloof is nie nederigheid nie. Absolute geloof in Gods Woord is ware nederigheid, ware oorgawe. KE 543.3
“Neem die steen weg.” Christus kon die steen beveel het om weg te rol, en dit sou Sy stem gehoorsaam het. Hy kon die engele wat daar naby was, beveel het om dit te doen. Op Sy bevel sou onsigbare hande die steen weggeneem het. Maar dit moes deur mensehande weggeneem word. So wou Christus toon dat die mensheid met die Godheid moet saamwerk. Dit was nie nodig om goddelike krag te gebruik as menslike krag dit kon doen nie. God wil nie die hulp van die mens ter syde stel nie. Hy versterk die mens, en werk saam met hom waar hy die kragte en vermoëns gebruik wat aan hom gegee is. KE 543.4
Die bevel is gehoorsaam. Die steen is weggerol. Alles word openlik en met voorbedagte rade gedoen. Almal het geleentheid om te sien dat geen bedrog gepleeg word nie. Daar lê die liggaam van Lasarus in die spelonk, koud en stil in die dood. Die geween van die roudraers word stil. Verbaas en verwagtend staan die groep daar by die graf, om te sien wat sou gebeur. KE 544.1
Kalm het Christus voor die graf gestaan. Daar was 'n heilige erns by almal te bespeur. Christus stap nader. Hy hef Sy oë op na die hemel en sê, “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het.” Net 'n rukkie te vore het Christus se vyande Hom betig van godslastering, en hulle het klippe opgetel om Hom te stenig omdat Hy gesê het dat Hy die Seun van God is. Hulle het gesê dat Hy wonderwerke doen deur die mag van die Satan. Maar hier roep Christus God aan as Sy Vader, en sê Hy met die volste vertroue dat Hy die Seun van God is. KE 544.2
In alles wat Hy gedoen het, het Christus saamgewerk met Sy Vader. Hy het dit altyd baie duidelik laat uitkom dat Hy nie onafhanklik opgetree het nie; dit was deur geloof en gebed dat Hy Sy wonderwerke gedoen het. Christus wou hê dat almal moes weet van Sy verhouding tot Sy Vader. “Vader,” het Hy gesê, “Ek dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar terwille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” Hier sou aan die dissipels en die mense die oortuigendste bewys gegee word van die verhouding tussen Christus en God. Aan hulle sou getoon word dat die aanspraak van Christus nie bedrog was nie. KE 544.3
“En nadat Hy dit gesê het, het Hy met 'n groot stem geroep: Lasarus, kom uit!” Sy stem, helder en deurdringend, het die oor van die dode laat hoor. Toe Hy praat, het die Godheid deur die mensheid geflits. In Sy gesig, wat verlig was deur die heerlikheid van God, het die mense die versekering van Sy mag gesien. Alle oë is op die ingang van die spelonk gerig. Elke oor is gespits om die dofste geluid te hoor. Met intense belangstelling en in die grootste spanning het almal gewag op die toets van Christus se Godheid, die bewys wat Sy aanspraak sou staaf dat Hy die Seun van God is, of wat vir altyd die hoop sou uitdoof. KE 544.4
Daar is beweging in die stille graf, en die een wat dood was, staan by die ingang van die graf. Sy bewegings is belemmer deur die graf- doeke waarmee hulle hom gebind het, en Christus sê aan die verbaasde toeskouers, “Maak hom los en laat hom gaan.” Weer word aan hulle getoon dat die menslike werktuig saam met God moet werk. Die mens moet vir die mens werk. Lasarus is vrygestel, en hy staan voor die groep, nie soos iemand wat deur siekte uitgeteer is, met swak, onvaste ledemate nie, maar soos 'n man in die bloei van sy lewe, in die volle krag van sy manlikheid. Sy oë skitter intelligent en is vol liefde vir sy Verlosser. Hy het in aanbidding neergeval aan die voete van Jesus. KE 545.1
Die toeskouers was eers sprakeloos van verbasing. Toe het daar 'n onbeskryflike toneel van blydskap en danksegging gevolg. Die susters het hulle broer in die lewe terug ontvang as 'n gawe van God, en met trane van blydskap het hulle met gebroke stem hulle Heiland bedank. Maar terwyl broer, susters, en vriende hulle verbly het in die hereniging, het Jesus Hom aan die geselskap onttrek. Toe hulle weer soek na die Lewegewer, was Hy nêrens te vind nie. KE 545.2