Loading...

Loading

Loading
(You are in the browser Reader mode)

“Jou Koning Kom”

VERHEUG jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en 'n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op 'n esel — op 'n jong esel, die vul van 'n eselin.” Sag. 9: 9. KE 578.1

Vyfhonderd jaar vóór die geboorte van Christus, het die profeet Sagaria die koms van die Koning van Israel so voorspel. Hierdie profesie sou nou vervul word. Hy wat so lank koninklike hulde geweier het, kom nou na Jerusalem as die beloofde erfgenaam van die troon van Dawid. KE 578.2

Dit was op die eerste dag van die week dat Christus op Sy segetog Jerusalem binnegery het. Skares wat saamgedrom het om Hom in Betanië te sien, het Hom nou vergesel, gretig om Sy ontvangs te sien. Baie mense was op weg na die stad vir die Paasfees, en hulle het ook by die skare aangesluit wat Jesus vergesel het. Dit het geskyn of die hele natuur gejuig het. Die bome het hulle groen drag aangehad, en hulle bloeisels het die lug met 'n soete geur belaai. Die volk was besiel met 'n nuwe lewe en vreugde. Die hoop op die nuwe koninkryk het weer herleef. KE 578.3

Met die doel om na Jerusalem te ry, het Jesus twee van Sy dissipels gestuur om vir Hom 'n eselin en haar vul te bring. By Sy geboorte was die Heiland afhanklik van die gasvryheid van vreemdelinge. Die krip waarin Hy gelê het, was 'n geleende rusplek. En nou, alhoewel al die diere op 'n duisend berge Syne was, is Hy weer afhanklik van die vriendelikheid van 'n vreemdeling vir 'n dier waarop Hy Jerusalem as Koning kon binnery. Maar weer is Sy Godheid geopenbaar in selfs die uitvoerige bevele wat Hy aan Sy dissipels gegee het in verband met hierdie saak. Soos Hy voorspel het, is die pleidooi, “Die Here het hulle nodig,” geredelik toegestaan. Jesus het die jong esel waarop niemand nog ooit gery het nie, gekies vir Sy doel. Vol blye entoesiasme het die dissipels hulle klere op die dier gelê en hulle Meester daarop laat sit. Voorheen het Jesus altyd te voet gereis, en die dissipels was eers verwonder dat Hy nou verkies het om te ry. Maar die hoop het herlewe in hulle harte toe hulle daaraan gedink het dat Hy die hoofstad nou sou binnery, Homself Koning sou verklaar, en Sy koninklike gesag sou handhaaf. Op weg om die esel te haal het hulle hulle groot verwagtings aan die vriende van Jesus vertel; daar het wyd en syd opwinding geheers, en die verwagtings van die volk het 'n klimaks bereik. KE 580.1

Christus het Jerusalem binnegery volgens die Joodse koninklike gebruik. Soos die konings van Israel het hy op die esel gery, en in die profesieë is voorspel dat die Messias op hierdie wyse na Sy koninkryk sou kom. Nog skaars het Hy die esel bestyg toe 'n luide triomfkreet deur die lug weergalm het. Die skare het Hom gegroet as hulle Messias en hulle Koning. Jesus het nou die hulde aangeneem wat Hy nooit voorheen wou toelaat nie, en die dissipels het dit beskou as bewys dat hulle blye hoop nou verwesenlik sou word om Hom op die troon bevestig te sien. Die skare was oortuig dat die uur van hulle bevryding aangebreek het. In hulle verbeelding het hulle die Romeinse leërs uit Jerusalem verdryf gesien, en Israel weer eens as 'n onafhanklike volk. Almal was bly en opgewonde, en die mense het met mekaar gewedywer om Hom hulde te betoon. Daar kon geen skitterende vertoon wees nie, maar hulle het Hom die aanbidding gegee van hulle gelukkige harte. Hulle was nie in staat om kosbare geskenke aan Hom te gee nie, maar hulle het hulle bo-klere as tapyt op Sy pad gegooi, en ook olyf- en palmtakke daarop gestrooi. Hulle kon die intog nie met vaandels lei nie, maar hulle het palmtakke afgesny, die natuur se simbool van oorwinning, en daarmee gewaai terwyl hulle luide hosannas aangehef het. KE 580.2

Namate hulle voortbeweeg het, het die skare steeds groter geword omdat ander wat gehoor het van die koms van Jesus hulle in aller yl by die optog aangesluit het. Toeskouers onder die skare het gedurig gevra, Wie is dit hierdie? Wat beteken al hierdie lawaai. Hulle het almal van Jesus gehoor en het verwag om Hom na Jerusalem te sien gaan, maar hulle het geweet dat Hy voorheen alle pogings om Hom op die troon te plaas afgeraai het, en hulle was nou baie verbaas om te hoor dat dit Hy was. Hulle het gewonder wat hierdie verandering in Hom kon veroorsaak het aangesien Hy verklaar het dat Sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie. KE 581.1

Hulle vrae word stilgemaak deur 'n triomfkreet. Dit word verskeie- maal herhaal deur die verwagtende skare; die mense daar ver skreeu ook totdat die omliggende berge en klowe weergalm. Nou het daar menigtes van Jerusalem by die skare aangesluit. Van die menigtes wat gekom het vir die Paasfees het duisende uitgegaan om Jesus te verwelkom. Hulle begroet Hom met die geswaai van palmtakke, en gewyde gesange. Die priesters by die tempel blaas die trompette vir die aanddiens, maar daar is min wat gehoorgee, en ontsteld het die owerstes vir mekaar gesê, “Die hele wêreld gaan agter Hom aan.” KE 581.2

Nog nooit tevore in Sy aardse lewe het Jesus so 'n demonstrasie toegelaat nie. Hy het duidelik die resultate voorsien. Dit sou Hom na die kruis bring. Maar dit was Sy doel om Homself so in die openbaar voor te stel as die Verlosser. Hy wou die aandag vestig op die offer wat die kroonstuk sou wees van Sy sending aan 'n verlore wêreld. Terwyl die mense in Jerusalem vergader het om die Paasfees te vier, het Hy, die ware Lam, deur 'n vrywillige daad Homself as soenoffer afgesonder. Dit sou nodig wees vir Sy kerk van alle tye om Sy dood vir die sondes van die wêreld die onderwerp van ernstige oorpeinsing en studie te maak. Elke feit in verband daarmee moet bevestig word bokant enige twyfel. Dit was dus nodig dat die oë van al die mense op Hom gevestig sou word; die gebeurtenisse wat Sy groot offer voorafgegaan het, moes van so 'n aard wees dat dit die aandag sou vestig op die offer self. Ná 'n demonstrasie soos Sy intog in Jerusalem, sou alle oë Sy vinnige vordering sien na die eindtoneel. KE 581.3

Die gebeurtenisse in verband met Sy intog sou deur almal bespreek word, en dit sou Jesus onder die aandag van almal bring. Na Sy kruisiging, sou vele terugdink aan die gebeurtenisse in verband met Sy verhoor en dood. Dit sou hulle beweeg om die profesieë te ondersoek, en dit sou hulle oortuig dat Jesus die Messias was, en in alle lande sou bekeerlinge tot die geloof vermenigvuldig word. KE 582.1

In hierdie een toneel van triomf in Sy aardse lewe, kon die Heiland verskyn het, begelei deur engele, en aangekondig deur die basuin van God; maar so 'n demonstrasie sou indruis teen die doel van Sy sending, en teen die wet wat Sy lewe beheers het. Hy het getrou gebly aan die nederige lot wat Hy aanvaar het. Die las van die mensdom sou Hy dra totdat Hy Sy lewe sou gee vir die lewe van die wêreld. KE 582.2

Hierdie dag, wat vir die dissipels gelyk het as die kroonstuk van hulle lewe, sou vir hulle maar 'n treurige dag gewees het as hulle kon geweet het dat hierdie toneel van blydskap slegs die voorspel was tot die lyde en dood van hulle Meester. Alhoewel Hy hulle herhaaldelik verwittig het van die gewisse opoffering van homself, het hulle tog, in die vreugde van die oomblik, Sy droewige woorde vergeet, en het hulle vooruitgesien na Sy heerlike regering op die troon van Dawid. KE 582.3

Die skare in die optog het steeds aangegroei, en met 'n paar uit- sonderings, het almal onder die inspirasie van die uur gekom, en hulle het hosanna geskreeu totdat dit van berg tot berg en kloof tot kloof weergalm het. Daar is onafgebroke geskreeu: ”Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” KE 582.4

Nog nooit tevore het die wêreld so 'n triomftog gesien nie. Dit was nie soos die van die aarde se beroemde oorwinnaars nie. Daar was nie 'n lang tou van vernederde gevangenes waarmee die konings gewoonlik gespog het nie. Maar rondom die Heiland was die heerlike trofeë van Sy werk van liefde vir die sondige mensdom. Daar was die gevangenes wat Hy verlos het uit die Satan se mag, lowende God vir hulle verlossing. Die blindes wie se gesig Hy herstel het, was op die voorpunt. Die stommes wie se tonge Hy losgemaak het, het die luidste hosanna geskreeu. Die kreupeles wat Hy genees het, het gehuppel van vreugde, en hulle was die ywerigste om palmtakke af te breek en te swaai voor hulle Heiland. Weduwees en wese het die Naam van Jesus geloof vir Sy werke van barmhartigheid aan hulle. Die melaatses wat Hy genees het, het hulle rein klere voor Hom gesprei, en Hom gegroet as die Koning van heerlikheid. Diegene wat deur Sy stem uit die dode geroep is, was onder daardie skare. Lasarus, wie se liggaam verderf in die graf gesien het, maar wat hom nou verbly het in die krag van sy manlikheid, het die esel gelei waarop die Heiland gery het. KE 582.5

Baie van die Fariseërs het die toneel aanskou, en, brandende van haat en nyd, het hulle probeer om die openbare gevoelens in 'n ander rigting te stuur. Met al hulle gesag het hulle geprobeer om die mense stil te maak; maar hulle beroepe en dreigemente het die entoesiasme net laat toeneem. Hulle het gevrees dat die skare, in die krag van hulle oormag, Jesus koning sou maak. In 'n laaste poging het hulle deur die skare gedring tot waar die Heiland was, en Hom in die volgende bestraffende en dreigende woorde aangespreek: ”Meester, bestraf U dissipels.” Hulle het gesê dat sulke luidrugtige demonstrasies onwettig was en nie deur die owerheid sou toegelaat word nie. Maar die antwoord van Jesus het hulle die swye opgelê, “Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.” Daardie toneel van triomf is deur God so beskik. Dit was deur die profeet voorspel, en die mens was mag- teloos om Gods plan te verydel. As die mens in gebreke gebly het om Sy plan uit te voer, sou Hy aan die dooie klippe 'n stem gegee het, en hulle sou Sy Seun met lofbetuigings begroet het. Toe die Fariseërs wat die swye opgelê is, teruggeval het, het honderde stemme die woorde van die profeet Sagaria aangehef: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en 'n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op 'n esel, die vul van 'n eselin.” KE 583.1

Toe die optog bo-op die berg kom en wou afsak na die stad, het Jesus stilgehou, en die hele skare het tot stilstand gekom. Voor hulle het Jerusalem uitgestrek gelê in al sy heerlikheid, nou in die volle glans van die sakkende son. Die tempel het die aandag van almal getrek. Die pragtige gebou het uitgestaan bo alle ander geboue, as- of dit na die hemel gewys en die aandag van die mense gevestig het op die ware en lewende God. Lank reeks was die tempel die trots en heerlikheid van die Joodse volk. Die Romeine was ook trots op die heerlikheid daarvan, 'n Koning, deur die Romeine aangestel, het die Jode gehelp om dit te herbou en te versier, en die keiser van Rome het dit verryk met sy gawes. Die krag, rykdom, en prag daarvan het dit een van die wonders van die wêreld gemaak. KE 583.2

Terwyl die sakkende son die hemeltrans getint het, is ook die rein, wit marmermure van die tempel verlig met die heerlikheid van die son wat sy pilare, met goud bedek, laat glinster het. Van die top van die berg waar Jesus en Sy volgelinge gestaan het, het dit soos 'n massiewe gebou van sneeu gelyk, met goue torinkies. By die ingang van die tempel was 'n wingerdstok van goud en silwer, bedek met groen blare en groot trosse druiwe — die werk van bedrewe kunstenaars. Die beeld het Israel voorgestel as 'n vrugbare wynstok. Die goud en silwer en groen het seldsame smaak en groot kuns getoon; waar dit so grasieus teen die wit, glinsterende pilare opgeklim, en vasgerank het aan die goue versiersels, het die heerlikheid van die ondergaande son daarop geskyn, en alles het geglinster met 'n heerlikheid van die hemel geleen. KE 584.1

Jesus het die toneel aanskou, en die groot skare het stil geword, betower deur die skielike aanskouing van die skoonheid. Alle oë word op die Heiland gevestig in die verwagting dat hulle in Sy gelaat ook die bewondering sou sien wat hulle gevoel het. Instede daarvan het hulle 'n wolk van droefheid gesien. Hulle is verwonderd en teleurgestel om trane in Sy oë te sien, terwyl Sy liggaam heen-en- weer swaai soos 'n boom in 'n sterk wind, en daar 'n jammerklag oor Sy lippe kom asof uit die diepte van 'n gebroke hart. Wat 'n skouspel was dit vir engele! Hulle geliefde Aanvoerder in droefheid en trane! Wat 'n skouspel was dit vir die blymoedige skare wat Hom met triomfkrete en wuiwende palmtakke begelei na die heerlike stad waar hulle stellig gehoop het Hy sou regeer! Jesus het geween by die graf van Lasarus, maar dit was met goddelike droefheid in medelyde met menslike droefheid. Maar hierdie skielike droefheid was soos die geweeklaag in 'n groot triomfkoor. Te midde van 'n toneel van vreugde waarin almal Hom hulde gebring het, was Israel se Koning in trane; nie in stille trane van blydskap nie, maar trane en kreune van droefheid wat nie onderdruk kon word nie. Die skare het in 'n skielike somber stemming gekom. Daar was geen toejuigings meer nie. Baie het in medelyde geween met 'n droefheid wat hulle nie kon verstaan nie. KE 584.2

Die trane van Jesus was nie oor die verwagting van Sy eie lyding nie. Net vóór Hom was Getsemane, waar Hy eerlank sou beklem word met die aakligheid van 'n groot duisternis. Die skaapspoort was ook in sig — die poort waardeur die offerdiere vir eeue uitgelei is. Hierdie poort sou binnekort vir Hom oopgaan, die groot Teenbeeid, na wie se opoffering vir die sondes van die wêreld al die offers vooruitgewys het. Daar naby was Golgota, die plek van Sy aanstaande foltering. Maar dit was nie ten gevolge van hierdie gedagtes aan Sy wrede dood dat die Verlosser geween en in die angs van Sy gees gekreun het nie. Sy droefheid was nie selfsugtige droefheid nie. Die gedagte aan Sy eie foltering het nie daardie edel, selfopofferende siel banggemaak nie. Dit was die aanskouing van Jerusalem wat die hart van Jesus deurboor het — Jerusalem wat die Seun van God verwerp en Sy liefde versmaai het, wat nie oortuig wou word deur Sy magtige wonderwerke nie, en nou op die punt gestaan het om Hom die lewe te ontneem. Hy het gesien wat haar skuld sou wees deur haar verwerping van haar Verlosser, en wat sy kon gewees het as sy Hom aangeneem het — Hy wat haar verwonding kon genees. Hy het gekom om haar te red; hoe kon Hy haar opgee? KE 585.1

Israel was die uitverkore volk; God het hulle tempel Sy woonplek gemaak; dit was “skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde.” Ps. 48: 3. Die oorkondes van meer as 'n duisend jaar van Christus se beskerming en tere liefde, soos die liefde van n vader vir sy eie kind, was daar. In daardie tempel het die profete hulle plegtige vermanings gegee. Daar het hulle die reukwerk gebrand, vermeng met die gebede van die aanbidders, wat opgestyg het tot God. Daar het die bloed van die offerdiere gevloei, tipes van die bloed van Christus. Daar het Jehova Sy heerlikheid geopenbaar bokant die versoendeksel. Daar het die priesters vir eeue gedien in die prag van simbool en seremonie. Maar dit alles sou tot n end kom. KE 585.2

Jesus het sy hand opgehef — daardie hand wat so dikwels die siekes en lydendes geseën het — en Hy het dit geswaai in die rigting van die gedoemde stad en in gebroke woorde van droelheid uitgeroep. “As jy tog maar geweet het, ja ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien!” Daar het die Heiland opgehou, en Hy het nie gesê wat die toestand van Jerusalem kon gewees het as sy die hulp aangeneem het wat God haar graag wou gee nie — naamlik die gawe van Sy geliefde Seun. As Jerusalem geweet het wat dit haar voorreg was om te weet, en as sy die lig aangeneem het wat die hemel aan haar gestuur het, kon sy trots en voorspoedig gestaan het, die koningin van die koninkryke, vry in die krag van God. Daar sou geen gewapende soldate in sy poorte gestaan en geen Romeinse baniere op sy mure gewapper het nie. Die heerlike bestemming wat Jerusalem s'n kon gewees het as sy haar Verlosser aangeneem het, het voor die Seun van God opgekom. Hy het gesien dat sy deur Hom kon genees gewees het van haar vreeslike kwaal, bevry uit die slawerny, en bevestig as die magtige hoofstad van die wêreld. Van haar mure sou die vredesduif gevlieg het na alle volke. Sy sou die wêreld se kroon van heerlikheid gewees het. KE 585.3

Maar die heerlike prentjie van wat Jerusalem kon gewees het, verdof uit die Heiland se gesig. Hy besef wat sy nou is onder die Romeinse juk, onder die frons van God, gedoem tot die vergeldende oordeel. Toe neem Hy weer die trant op van Sy onderbroke jammerklag: “Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom, dat jou vyande n skans rondom jou sal opgooi en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.” KE 586.1

Christus het gekom om Jerusalem saam met haar kinders te red; maar farisese hoogmoed, geveinsdheid, jaloesie, en kwaadwilligheid het Hom belet om Sy doel te bereik. Jesus het die verskriklike vergelding gesien wat die gedoemde stad sou tref. Hy het Jerusalem omsingel gesien deur leërs; Hy het die verhongering en dood van die inwoners gesien, hoedat moeders die dooie liggame van hulle eie kinders eet, en hoedat sowel ouers as kinders die laaste stukkie voedsel van mekaar af weggryp, die natuurlike liefde heeltemal vernietig deur die knaende honger. Hy het gesien hoedat die koppigheid van die Jode, soos geopenbaar in hulle verwerping van Sy heil, hulle ook sou lei om te weier om oor te gee aan die invallende leërs. Hy het Golgota gesien waar Hy gekruisig sou word, met kruise so dig op mekaar as bome in 'n woud. Hy het die ellendige inwoners gesien, in die foltering van die pynbank en die kruis; die pragtige paleise verwoes, die tempel in puin, en van die massiewe mure nie een klip op die ander wat oorbly nie, terwyl die stad omgeploeg word soos 'n land. Geen wonder dat die Heiland geween het van droefheid by die aanskouing van so 'n toneel nie. KE 586.2

Jerusalem was die kind van Sy sorg, en soos n barmhartige vader sou ween oor 'n eiewys seun, het Jesus geween oor die geliefde stad. Hoe kan Ek jou opgee? Hoe kan Ek toesien dat jy verwoes word? Moet Ek jou laat begaan om die beker van jou ongeregtigheid vol te maak? Een siel is van so groot waarde dat hele wêrelde nietig is, vergeleke daarmee; maar hier sou 'n hele volk ten gronde gaan. Wanneer die vinnigsakkende son uit die lug verdwyn, sal Jerusalem se dag van genade ook gedaan wees. Terwyl die optog gewag het op die top van die Olyfberg, was dit nog nie te laat vir Jerusalem om berou te hê nie. Die engel van genade was toe reeds besig om sy vlerke op te vou en af te tree van die goue troon om plek te maak vir geregtigheid en die vinnignaderende vergelding. Maar Christus se groot hart van liefde het nog gepleit met Jerusalem wat Sy genade versmaai, Sy waarskuwings verag, en haar nou klaargemaak het om haar hande met Sy bloed te bevlek. As Jerusalem maar tot inkeer wou kom, was dit nog nie te laat nie. Terwyl die laaste strale van die ondergaande son nog op die tempel en torings geval het, sou daar nie miskien 'n goeie engel wees om haar te lei na die Heiland se liefde en so haar ondergang te verhoed nie? Skone en onheilige stad, wat die profete gestenig, en die Seun van God verwerp het, en wat haarseif deur haar onboetvaardigheid in die boeie van slawerny slaan haar dag van genade was byna gedaan! KE 587.1

Maar nog eens spreek die Gees van God tot Jerusalem. Voordat die dag gedaan was, is daar weer vir Christus getuig. Daardie stem het opgegaan uit die profetiese verlede. As Jerusalem gehoor sou gee aan daardie roepstem, as sy die Heiland sou ontvang wat nou haar poorte binnegaan, kon sy nog gered word. KE 587.2

Berigte is in Jerusalem ontvang dat Jesus die stad nader met n groot skaar van mense. Maar daar is geen welkomsgroet vir die Seun van God nie. Toe die skare van die Olyfberg wou afdaal, het die owerstes hulle tegemoet gekom. Hulle verneem na die oorsaak van die gejuig. Op hulle vraag, “Wie is hierdie man?” het die dissipels, onder die gees van inspirasie, die vraag beantwoord. Met welsprekendheid het hulle die profesiee aangaande Christus aangehaal: KE 587.3

Adam sal u sê, Dit is die saad van die vrou wat die kop van die slang sou verbrysel
Vra Abraham, en hy sal u sê, Dit is “Melgisedek, die Koning van Salem,” die Vredevors. Gen. 14: 18.
Jakob sal u vertel, Hy is Silo uit die stam van Juda.
Jesaja sal u sê, “Immanuel,” “Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.” Jes. 7: 14; 9: 5.
Jeremia sal u sê, Die Spruit uit Dawid, “die Here ons geregtigheid.” Jer. 23: 6
Daniël sal u vertel, Hy is die Messias.
Hosea sal u sê, Hy is “Here God van die leërskare, Here is sy gedenknaam.” Hosea 12: 6
Johannes die Doper sal u sê, “Die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Joh. 1: 29.
Die magtige Jehova het van sy troon verklaar, “Dit is My geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.” Matt. 3: 17
Ons, Sy dissipels, verklaar, Dit is Jesus, die Messias, die Vors van die lewe, die Verlosser van die wêreld.
 KE 588.1

En die vors van die magte van die duisternis het Hom herken en verklaar: “Ek ken U wie U is: die Heilige van God!” Markus 1: 24. KE 588.2