Loading…
Op die O ly ƒ berg
CHRISTUS se woorde aan die priesters en owerstes, “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat” Matt. 23: 38, het hulle harte met vrees vervul. Hulle het gemaak of hulle nie omgee nie, maar die vraag wat daardie woorde tog kon beteken, was gedurig in hulle gedagte. Dit het geskyn of 'n onsigbare gevaar hulle bedreig het. Kon dit wees dat die pragtige tempel, die roem van die volk, eerlank in puin sou lê? Die dissipels het ook die voorgevoel van onheil gehad, en in spanning het hulle gewag op 'n meer bepaalde verduideliking van Jesus. Toe hulle daar saam met Hom die tempel verlaat het, het hulle Sy aandag gevestig op die prag en sterkte daarvan. Die tempel was gebou van spierwit marmerstene, waarvan sommige byna ongelooflik groot was. 'n Gedeelte van die muur het bly- staan tydens Nebukadnesar se beleëring. Die klippe is so goed saam- gevoeg dat dit soos 'n groot, soliede klip uit die steengroef gelyk het. Hoe daardie massiewe mure omvergewerp kon word, was iets wat die dissipels nie kon begryp nie. KE 641.1
Wat moes die onuitgesproke gedagtes van die verworpe Een gewees het toe Sy aandag gevestig is op die pragtige tempelgebou! Wat Hy voor Hom gesien het, was onteenseglik mooi, maar Hy het met droefheid gesê, Ek sien dit alles. Die geboue is inderdaad wonderbaar. Julle wys na daardie mure en dink dat hulle nie vernietig kan word nie, maar luister na My: “Die dag sal kom wanneer daar nie een klip op die ander sal gelaat word wat nie heeltemal afgebreek sal word nie.” KE 641.2
Christus se woorde is gespreek ten aanhore van 'n groot aantal mense; maar toe Hy alleen was, het Petrus, Johannes, Jakobus, en Andreas na Hom toe gekom waar Hy daar op die Olyfberg gesit het. “Vertel ons,” het hulle gesê, “wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van U koms en van die voleinding van die wêreld?” Jesus het nie Sy dissipels geantwoord deur die verwoesting van Jerusalem en die groot dag van Sy koms afsonderlik te behandel nie. Hy het die beskrywing van hierdie twee gebeurtenisse deurmekaar gevleg. As Hy aan Sy dissipels die toekomstige gebeurtenisse sou beskryf het soos Hy hulle gesien het, sou hulle dit nie kon verduur nie. In genade het Hy van die twee groot krisisse tegelyk gepraat, en dit aan die dissipels oorgelaat om die saak vir hulleself verder uit te redeneer. Toe Hy gepraat het van die verwoesting van Jerusalem, het Sy profetiese woorde verder gestrek tot daardie laaste dag van vuur en vlam wanneer die Here uit Sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek en die aarde die bloed sal openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom dood- gemaak is, nie langer sal toedek nie. Hierdie hele gesprek het plaas- gevind, nie alleen vir die dissipels nie, maar vir diegene wat sou lewe in die laaste tonele van die aarde se geskiedenis. KE 642.1
Christus het Hom tot Sy dissipels gewend en gesê, “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder My Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.” Baie valse messiasse sal kom, voorgee dat hulle wonderwerke kan doen, en verklaar dat die tyd vir die verlossing van die Joodse volk aangebreek het. Dit sou baie mislei. Christus se woorde is vervul. Ná Sy dood tot by die beleëring van Jerusalem, het daar baie valse messiasse verskyn. Maar hierdie waarskuwing is ook gegee aan diegene wat in hierdie eeue van die wêreld se geskiedenis lewe. Dieselfde soort bedrog wat daar gepleeg is vóór die verwoesting van Jerusalem, is deur die eeue gepleeg, en dit sal weer gepleeg word. KE 642.2
“En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.” Vóór die verwoesting van Jerusalem, het mense gestreef om die opperheerskappy. Keisers is vermoor. Vermeende troonopvolgers is om die lewe gebring. Daar was oorloë en gerugte van oorloë. “Alles moet plaasvind,” het Christus gesê, “maar dit is nog nie die einde van die Joodse volk nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte.” Christus het gesê dat die rabbi's, wanneer hulle hierdie tekens sien, sal verklaar dat dit Gods vergelding is van die volke omdat hulle Sy uitverkore volk so lank in ballingskap gehou het. Hulle sal sê dat hierdie dinge die tekens is van die koms van die Messias. Moenie bedrieg word nie; hulle is die begin van Sy oordele. Die volk het op hulleself vertrou. Hulle het hulle nie bekeer sodat Ek hulle kon genees nie. Die gebeurtenisse wat hulle voorhou as tekens van hulle verlossing uit slawerny is die tekens van hulle vernietiging. KE 643.1
“Dan sal hulle julle aan verdrukking oorgee en doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word terwille van My Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.” Dit alles het die Christene gely. Vaders en moeders het hulle kinders verraai. Kinders het hulle ouers verraai. Vriende het mekaar oorgelewer aan die Sanhedrin. Die vervolgers het hulle doel bereik deur Stefanus en Jakobus en ander Christene om die lewe te bring. KE 644.1
Deur Sy dienaars het God aan die Joodse volk 'n laaste kans gegee om hulle te bekeer. Hy het Homself geopenbaar deur Sy getuies in hulle gevangeneming, hulle verhoor, en hulle tronkstraf. Maar tog het hulle regters die doodvonnis oor hulle uitgespreek. Hulle was manne wat die wêreld nie werd was nie, en deur hulle te dood, het die Jode die Seun van God weer gekruisig. So sal dit weer gaan. Die owerhede sal wette maak wat geloofsvryheid aan bande lê. Hulle sal gesag aanneem wat alleen aan God behoort. Hulle sal dink dat hulle die gewete kan dwing, iets wat God alleen behoort te kontroleer. Hulle het reeds daarmee begin, en hierdie werk sal hulle voortsit totdat hulle perke bereik wat hulle nie mag oorskrei nie. God sal tussenbei tree ten behoewe van Sy lojale, gebooie-bewarende kinders. KE 644.2
In elke geval wanneer daar vervolging is, neem diegene wat dit aanskou besluite, óf teen, óf vir Christus. Diegene wat medelyde betoon met die wat ten onregte veroordeel word, toon daardeur hulle liefde vir Christus. Ander neem aanstoot omdat die beginsels van die waarheid hulle handelwyse veroordeel. Baie struikel en val en word afvallig van die waarheid wat hulle eenmaal verkondig het. Diegene wat afvallig word in tye van beproewing, sal, om hulle eie veiligheid te verseker, vals getuig en hulle broeders verraai. Christus het ons hieromtrent gewaarsku, sodat ons nie verbaas moet wees oor die onnatuurlike en wrede handelwyse van diegene wat die lig verwerp nie. KE 644.3
Christus het aan Sy dissipels 'n teken gegee van die verwoesting wat oor Jerusalem sou kom, en Hy het hulle vertel hoe om te ontvlug: “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word.” Hierdie waarskuwing is gegee om veertig jaar later gehoorsaam te word, tydens die verwoesting van Jerusalem. Die Christene het die waarskuwing gehoorsaam, en nie een Christen het omgekom toe die stad verwoes is nie. KE 645.1
“En bid dat julle vlug nie in die winter of op die Sabbat mag plaasvind nie,” het Christus gesê. Hy wat die Sabbat gemaak het, het dit nie afgeskaf deur dit aan Sy kruis te nael nie. Die Sabbat het nie verval by Sy dood nie. Veertig jaar ná Sy kruisiging sou dit nog as heilig beskou word. Vir veertig jaar moes die dissipels bid dat hulle vlug nie op die Sabbat mag plaasvind nie. KE 645.2
Van die verwoesting van Jerusalem het Christus vinnig oorgegaan na die groot gebeurtenis, die laaste skakel in die ketting van hierdie aarde se geskiedenis — die koms van die Seun van God in majesteit en heerlikheid. Tussen daardie twee gebeurtenisse het Christus die lang eeue van duisternis gesien, eeue waarin Sy kerk bloed en trane en lyding sou ondervind. Sy dissipels sou dit nie toe kon verduur het om op hierdie tonele te kyk nie, en Jesus het hulle verbygegaan deur slegs kortliks na hulle te verwys. “Dan sal daar groot verdrukking wees,” het Hy gesê, “soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar terwille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.” Vir meer as duisend jaar sou die navolgers van Christus vervolging verduur soos die wêreld voorheen nooit geken het nie. Sy getroue getuies sou by die miljoene gedood word. As Gods hand nie Sy volk onder beskerming geneem het nie, sou nie een behoue gebly het nie. “Maar terwille van die uitverkorenes,” het Hy gesê, “sal daardie dae verkort word.” KE 645.3
Toe het die Here in ondubbelsinnige taal van Sy tweede koms gespreek, en Hy het gewaarsku van gevare wat Sy koms na hierdie wêreld sou voorafgaan. “As iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! —moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om,-as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn — moet nie uitgaan nie. Kyk, Hy is in die binnekamer — moet dit nie glo nie. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook wees die koms van die Seun van die mens.” As een van die tekens van die verwoesting van Jerusalem, het Christus gesê, “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.” Daar het valse profete opgestaan wat die mense mislei en n menigte in die woestyn gelei het. Goëlaars en towenaars wat aan spraak gemaak het op bonatuurlike mag, het mense agter hulle aangetrek in die berge. Maar hierdie profesie is ook gegee vir die laaste dae. Hierdie teken is gegee as 'n teken van die wederkoms. Selfs vandag is daar valse christusse en valse profete wat tekens en wonders doen om Sy dissipels te verlei. Hoor ons nie die roepstem: “Kyk, Hy is in die woestyn” nie? Het duisende nie na die woestyn gegaan in die hoop om Christus te vind nie? En het ons nie die roepstem gehoor uit duisende vergaderings waar mense voorgee dat hulle gemeenskap met die geeste van afgestorwenes het nie: “Kyk, Hy is in die binnekamer”? Dit is juis wat Spiritiste vandag sê. Maar wat sê Christus? KE 646.1
“Moet dit nie glo nie. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook wees die koms van die Seun van die mens.” KE 646.2
Die Heiland gee die tekens van Sy koms, en nog meer, stel die datum vas wanneer die eerste van hierdie tekens gesien sal word: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son duister word , en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met grote krag en heerlikheid. En Hy sal Sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal Sy uitverkorenes bymekaarmaak uit die vier windstreke, van die een end van die hemele af tot by die ander end daarvan.” KE 646.3
Aan die einde van die groot pouslike vervolging, het Christus gesê, sou die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie. Daarna sou die sterre van die hemel val. Verder het Hy gesê: “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” Matt. 24: 32, 33. KE 647.1
Christus het die tekens van Sy koms gegee. Hy het dit gesê dat ons kan weet wanneer Hy naby is, voor die deur. Hy sê van diegene wat hierdie tekens sien, “Hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan totdat al hierdie dinge gebeur het nie.” Hierdie tekens het gekom. Nou weet ons sekerlik dat die Here se koms op hande is. “Die hemel en die aarde sal verbygaan,” het Hy gesê, “maar My woorde sal nooit verbygaan nie.” KE 647.2
Christus sal op die wolke kom met grote heerlikheid. 'n Menigte van skitterende engele sal Hom begelei. Hy sal kom om die dode op te wck, en die lewende heiliges te verheerlik. Hy sal kom om diegene te eer wat Hom liefgehad en Sy gebooie onderhou het, en hulle neem om by Hom te wees. Hy het hulle en die belofte wat Hy gegee het, nie vergeet nie. Die familiekring sal weer herstel word. Wanneer ons ons dode aanskou, moet ons dink aan die opstandingsmore wanneer die basuin van God sal weerklink, en die “dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.” 1 Kor. 15: 52. Ons moet nog net so n klein rukkie wag en dan sal ons die Koning in Sy heerlikheid sien. Nog net 'n klein rukkie om te wag en dan sal Hy alle trane van ons oë afvee. Oor nog net 'n klein rukkie sal Hy ons “sonder gebrek voor Sy heerlikheid stel met gejuig.” Judas 24. Daarom het Hy gesê, toe Hy die tekens van Sy koms gegee het, “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.” KE 647.3
Maar die dag en die uur van Sy wederkoms het Christus nie geopenbaar nie. Hy het duidelik aan Sy dissipels gesê dat Hy self nie die dag en die uur van Sy tweede koms kon openbaar nie. As Hy vry was om die dag te openbaar, waarom was dit dan nodig vir Hom om hulle te vermaan om gedurig te waak? Daar is diegene wat voorgee dat hulle die juiste dag en uur van ons Heiland se verskyning weet. Hulle is baie ywerig om die toekoms te skets. Maar die Here het hulle gewaarsku om afstand te doen van daardie stelling. Die juiste tyd van die tweede koms van die Seun van die mens, is Gods geheim. KE 647.4
Christus het voortgegaan en gewys op die toestande wat in die wêreld sou heers ten tyde van Sy wederkoms: “En net soos die dae van Noag was, so sal ook wees die koms van die Seun van die mens. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook wees die koms van die Seun van die mens.” Christus het hier nie 'n aardse millennium voorgestel nie —'n duisend jaar waarin almal hulle moet voorberei vir die hiernamaals nie. Hy het gesê dat toestande soos in die dae van Noag sal heers wanneer die Seun van die mens weer kom. KE 648.1
Hoe was dit in die dae van Noag? “Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was, en al die versinsels wat hy bedink in sy hart altyddeur net sleg was.” Gen. 6: 5. Die bewoners van die wêreld vóór die sondvloed, het afvallig geword van Jehova, en het geweier om Sy heilige wil te doen. Hulle het hulle eie onheilige versinsels en verdraaide begrippe gevolg. Hulle is vernietig oor hulle boosheid; en vandag bewandel die wêreld dieselfde pad. Ons sien geen tekens van die heerlikheid van 'n millennium nie. Die oortreders van Gods wet vervul die aarde met ongeregtigheid. Hulle weddery, hulle perdewedrenne, hulle dobbelary, hulle losbandigheid, hulle ontug, hulle onbeteuelde hartstogte, vervul vinnig die aarde met geweld. KE 648.2
In die profesie van die verwoesting van Jerusalem, het Christus gesê: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Hierdie profesie sal weer vervul word. Die algemene boosheid van daardie tyd beleef ons ook in hierdie geslag. En so ook met die verkondiging van die evangelie. Voor die val van Jerusalem, het Paulus, onder ingewing van die Heilige Gees geskryf dat die evangelie “aan die ganse mensdom onder die hemel” verkondig is. Kol. 1: 23. En ook nou, vóór die koms van die Seun van die mens, sal die ewige evangelie verkondig word “aan alle nasies en stamme en tale en volke.” Openb. 14: 6, 14. God het “'n dag bepaal waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel.” Hand. 17: 30, 31. Christus vertel ons wanneer daardie dag sal kom. Hy sê nie dat die wêreld tot bekering sal kom nie, maar dat “hierdie evangelie van die koninkryk verkondig sal word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Deur die evangelie aan die wêreld te verkondig, is dit in ons mag om die wederkoms van die Here te verhaas. Ons moet nie net die koms van die dag van God verwag nie, maar dit ook verhaas. 2 Pet. 3:12. As die kerk van Christus sy aangewese werk volgens die opdrag van die Here sou uitgevoer het, sou die hele wêreld lankal gewaarsku gewees het, en die Here Jesus sou na ons aarde teruggekom het in grote krag en heerlikheid. KE 648.3
Nadat Hy die tekens van Sy koms gegee het, het Christus gesê: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.” “Pas op, waak en bid.” God het nog altyd die mens gewaarsku van komende oordele. Diegene wat Sy boodskap vir hulle tyd aangeneem het, en wat hulle geloof uitgelewe het, in gehoorsaamheid aan Sy gebooie, het die oordele vrygespring wat gekom het oor die wat ongehoorsaam en ongelowig was. Die woord het tot Noag gekom, “Gaan in die ark, jy en jou hele huisgesin, want jou het Ek regverdig bevind.” Noag het gehoorsaam en hy is gered. Die boodskap het tot Lot gekom, “Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit, want die Here gaan die stad verwoes.” Gen. 7: 1; 19: 14. Lot het homself geplaas onder die beskerming van die hemelse boodskappers, en hy is gered. So is ook Christus se dissipels gewaarsku van die verwoesting van Jerusalem. Diegene wat op hulle hoede was vir die teken van die komende ramp, en uit die stad gevlug het, het nie in die verwoesting omgekom nie. So word ons ook nou gewaarsku van Christus se tweede koms en die verwoesting van hierdie wêreld. Diegene wat ag slaan op die waarskuwing sal gered word. KE 649.1
Omdat ons nie die juiste tyd van Sy koms weet nie, word ons beveel om te waak. “Gelukkig is daardie slawe vir wie die heer wakker sal vind as hy kom.” Lukas 12: 37. Diegene wat waghou vir die Here se koms, moet nie in ledigheid wag nie. Die verwagting van Christus se koms behoort mense godvresend en bang vir Sy straf op oortreding te maak. Dit moet hulle onder 'n diep besef bring van die groot sonde om Sy aanbod van genade te verwerp. Diegene wat wag vir die Here, sal hulle siele reinig deur gehoorsaamheid aan die waarheid. Hulle sal getrou waghou en ywerig werk. Omdat hulle weet dat die Here voor die deur is, sal hulle baie ywerig wees om saam te werk met die hemelse werktuie vir die redding van siele. Hulle is die getroue en verstandige bestuurders wat aan die diensvolk van hulle heer hulle rantsoen op tyd gee. Lukas 12:42. Hulle verkondig die waarheid wat nou veral van toepassing is. Soos Henog, Noag, Abraham, en Moses die waarheid, eenkeer vir hulle tyd, verkondig het, so sal Christus se dienaars nou die spesiale waarskuwing aan hulle geslag gee. KE 649.2
Maar Christus openbaar nou 'n ander klas: “Maar as daardie slaaf in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die slawe en slavinne begin slaan, en begin eet en drink en dronk word, dan sal die heer van daardie slaaf kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie.” Die bose slaaf sê in sy hart, “My heer talm om te kom.' Hy sê nie dat Christus nie sal kom nie. Hy spot nie met die idee van Sy tweede koms nie. Maar in sy hart en deur sy dade en woorde verklaar hy dat die koms van die Here vertraag is. Hy neem uit die harte van ander die oortuiging weg dat die Here spoedig sal kom. Sy invloed beweeg mense tot vermetele, onverskillige uitstel. Hulle word bevestig in hulle wêreldsgesindheid en ongevoeligheid. Aardse drifte en vuil gedagtes neem besit van die hart. Die bose slaaf eet en drink saam met die dronkaards, en gee homself oor aan singenot. Hy slaan sy medeslawe, en beskuldig en veroordeel diegene wat getrou is aan hulle Meester. Hy gaan met wêreldlinge om. Hy word soos diegene met wie hy omgaan. Dit is 'n vreeslike assimilasie. Saam met die wêreld word hy in die strik gevang. “Die heer van daardie slaaf sal kom . . . op 'n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom middeldeur sny en hom 'n deelgenoot maak van die ontroues.” KE 650.1
“As jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos 'n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.” Openb. 3: 3. Die koms van Christus sal die valse leraars verras. Hulle sê, “Vrede en veiligheid.” Net soos die priesters en leraars vóór die verwoesting van Jerusalem, verwag hulle dat die kerk aardse voorspoed en heerlikheid sal geniet. Hulle vertolk die tekens van die tye as voorbodes daarvan. Maar wat sê die ingegewe woord? “Dan oorval 'n skielike verderf hulle.” 1 Thess. 5: 3. Op almal wat op die aarde woon, op almal wat hierdie wêreld hulle tuiste maak, sal die dag van God kom soos 'n strik. Dit sal tot hulle kom soos 'n sluipende dief. KE 650.2
Die wêreld, vol geweld, vol goddelose plesier, is aan die slaap; hy slaap in vleeslike gerustheid. Mense stel die koms van die Here ver in die toekoms. Hulle bespot die waarskuwings. Hulle praat groot en sê, Alles bly “soos dit was van die begin van die skepping af.” “Die dag van more sal wees soos vandag, buitengewoon groot.” 2 Pet. 3: 4; Jes. 56: 12. Hulle sal die plesier met nog groter ywer najaag. Maar Christus sê, “Kyk, Ek kom soos 'n dief.” Openb. 16: 15. Juis wanneer die wêreld spottend vra, “Waar is die belofte van Sy wederkoms?” sal die tekens vervul word. Terwyl hulle sê, “Vrede en veiligheid,” sal 'n skielike verderf hulle oorval. Wanneer die spotter, die verwerper van die waarheid, vermetel word; wanneer die mense sake sal doen en geld maak sonder in agneming van enige beginsel; wanneer mense kennis soek oor alle dinge en die Bybel verwaarloos, sal Christus kom soos 'n dief. KE 651.1
Alles in hierdie wêreld is in beroering. Die tekens van die tye is onheilspellend. Ons sien reeds die skaduwees van die dinge wat kom. Die Gees van God word onttrek van die aarde, en ramp volg ramp op see en op land. Daar is storms, aardbewings, brande, oorstromings, en moord in alle grade. Wie kan die toekoms voorspel? Waar is veiligheid? Daar is veiligheid in niks wat menslik of aards is nie. Die mense begin hulle vinnig te skaar onder die banier wat hulle gekies het. Rusteloos wag hulle en hou hulle die bewegings van hulle leiers dop. Daar is diegene wat wag en werk vir die koms van onse Here. 'n Ander klas word aangemonster onder die leierskap van die eerste groot rebel. Daar is min wat in hart en siel glo dat daar 'n hel te vermy en 'n hemel te win is. KE 651.2
Die krisis kruip langsaam nader. Die son skyn daarbo en volg sy vasgestelde baan, en die hemele verkondig steeds die heerlikheid van God. Die mense eet en drink nog, hulle plant en bou en trou en word in die huwelik uitgegee. Handelaars koop en verkoop nog. Mense worstel met mekaar vir die hoogste plek. Genotsoekers vul nog die teaters, gaan na die wedrenne en na die dobbelhelle. Daar heers die grootste opgewondenheid, en dit alles terwyl die proeftyd vinnig ten einde loop, en elke persoon se lot vir ewig beslis word. Die Satan sien dat sy tyd kort is. Hy het al sy werktuie aan die werk gesit om die mense te bedrieg, te mislei, besig te hou, en te begogel; totdat die dag van genade beëindig en die genadedeur vir ewig gesluit word. KE 651.3
Op die vlerke van die eeue kom tot ons die woorde van waarskuwing wat onse Here op die Olyfberg gespreek het: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en die dag julle nie skielik oorval nie. . . . Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig mag geag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en te staan voor die Seun van die mens.” KE 652.1