Loading…
Golgota
EN toe hulle kom op die plek wat hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig.” KE 762.1
“Daarom het Jesus ook, om die volk deur Sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely.” Heb. 13: 12. Vir die oortreding van die wet van God, is Adam en Eva verban uit die tuin van Eden. Christus, ons plaasvervanger, moes buitekant Jerusalem ly. Hy het buitekant die poort gesterf, waar misdadigers en moordenaars tereggestel is. Die volgende woorde het baie groot betekenis: “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word.” Gal. 3:13. KE 762.2
'n Groot skare het Jesus gevolg van die geregsaal na Golgota. Die nuus van Sy veroordeling het deur Jerusalem versprei, en mense van alle klasse en Stande het na die plek van kruisiging gestroom. Die priesters en owerstes was deur 'n belofte gebind om nie die volgelinge van Christus te molesteer nie as Hy self aan hulle oorgelewer sou word, en die dissipels en gelowiges van die stad en omstreke het aangesluit by die skare wat die Heiland gevolg het. KE 762.3
Toe Jesus by die poort van Pilatus se hof verbygaan, is die kruis wat vir Barabbas berei is, op Sy bloeiende skouers gelê. Twee metgeselle van Barabbas sou saam met Jesus gekruisig word, en ook op hulle is kruise geplaas. In Sy verswakte toestand was die las te swaar vir Hom. Sedert die Avondmaal by die Paasfees saam met Sy dissipels, het Hy geen voedsel of drank gehad nie. Hy het gely in die tuin van. Getsemane in Sy worsteling met sataniese magte. Hy het die angs '' van die verraad verduur, en moes aanskou hoedat Sy dissipels Hom verlaat en vlug. Hy is na Annas, toe na Kajafas, en toe weer na Pilatus geneem. Van Pilatus is Hy na Herodes gestuur, en toe weer terug na Pilatus. Belediging is op belediging gehoop; Hy is deurgaans bespot, en tweemaal gegésel — daardie hele nag was daar die een toneel na die ander van 'n aard om die mense-siel tot die uiterste toe op die proef te stel. Christus het pal gestaan. Hy het geen woord gespreek behalwe alleen om God te verheerlik nie. Deur daardie hele onregverdige verhoor het Hy homself met standvastigheid en waardigheid gedra. Maar toe die kruis na die tweede kastyding op Hom gelê is, kon Sy menslike natuur dit nie meer uithou nie. Hy het flou neergeval onder die las. KE 763.1
Die skare wat Jesus gevolg het, het gesien hoe uitgeput Hy was en hoe Hy gewaggel het, maar hulle het hulle nie oor Hom ontferm nie. Hulle het Hom verwyt en sleggemaak omdat Hy nie die swaar kruis kon dra nie. Weer is die kruis op Hom gelê, en weer het Hy onder die las beswyk. Sy vervolgers het gesien dat Hy onmoontlik nie Sy las verder kon dra nie. Hulle het nie geweet waar om iemand te kry om die vernederende drag te dra nie. Die Jode self kon dit nie doen nie, want dit sou hulle verontreinig sodat hulle nie die Pasga sal kan eet nie. Selfs onder die gepeupel was daar niemand wat homself wou verneder om die kruis te dra nie. KE 763.2
Net toevallig het Simon van Cirene, wat van die veld af gekom het, die skare teëgekom. Hy hoor die lawaai en verwyte van die skare; hy hoor hoe hulle spottend die woorde herhaal, Maak pad vir die Koning van die Jode! Hy staan die toneel verbaas en aankyk, en terwyl hy uiting gee aan sy medelyde, gryp hulle hom en plaas die kruis op sy skouers. KE 763.3
Simon het van Jesus gehoor. Sy seuns was gelowiges in die Here, maar hy self was nie 'n dissipel nie. Dit was 'n seën vir Simon om die kruis na Golgota te dra, en vir altyd daarna was hy bly oor die voorreg. Dit het hom beweeg om die kruis van Christus vrywillig op te neem en dit blymoedig te dra. KE 763.4
Daar was 'n aantal vroue onder die skare wat die Onskuldige na Sy wrede dood gevolg het. Hulle oë was op Jesus gevestig. Sommige van hulle het Hom voorheen gesien. Sommige het hulle siekes en lydendes na Hom toe gebring. Ander is self genees. Hulle vertel van die tonele wat afgespeel is. Hulle is verbaas oor die haat van die skare teenoor Hom oor wie hulle eie harte gebroke is. En nieteenstaande die handelwyse van die waansinnige skare, en die bitsige woorde van die priesters en owerstes, het hierdie vroue uiting gegee aan hulle medelyde. Toe Jesus daar onder die kruis neersak, het hulle geween. KE 764.1
Dit was die enigste ding wat Christus raakgesien het. Alhoewel Hy self in die grootste pyn verkeer het, en terwyl Hy die sondes van die wêreld gedra het, het Hy nie hulle droefheid onverskillig laat verbygaan nie. Hy het die vroue met ontferming aanskou. Hulle was nie gelowiges in Hom nie; Hy het geweet dat hulle nie oor Hom geween het as die Een van God gestuur nie, maar dat dit uit blote jammerte was. Hy het nie hulle medelyde verag nie, maar dit het in Sy hart 'n groter medelyde teenoor hulle laat ontstaan. “Dogters van Jerusalem,” het Hy gesê, “moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders.” Van die toneel voor Hom, het Christus vooruitgesien na die tyd van Jerusalem se verwoesting. In daardie vreeslike ramp sou baie van diegene wat nou oor Hom ween, vergaan saam met hulle kinders. KE 764.2
Van die verwoesting van Jerusalem het die gedagtes van Jesus gegaan na die groot oordeelsdag. In die verwoesting van Jerusalem het Hy die finale verwoesting van die wêreld gesien. Hy het gesê: “Dan sal hulle begin om vir die berge te sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons! Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur!” Met die groen boom het Jesus Homself bedoel, die onskuldige Verlosser. God het Sy toorn teen die sonde laat kom op Sy geliefde Seun. Jesus sou gekruisig word vir die mensdom. Watter straf sal die sondaar dan moet verduur wat in sy sonde voortlewe? Al die onboetvaardiges en ongelowiges sal 'n droefheid en ellende ken wat geen pen kan beskryf nie. KE 764.3
Onder diegene wat.die Heiland na Golgota gevolg het, was daar baie wat Hosanna geskreeu en palmtakke geswaai het tydens Sy segetog in Jerusalem. Maar baie wat Hom destyds toegejuig het omdat dit populêr was, het nou saamgeskreeu, “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Toe Christus Jerusalem binnegery het, het die hoop van die dissipels baie hoog gestyg. Hulle het baie na aan hulle Meester gebly, en gevoel dat dit 'n groot eer was om aan Hom verbonde te wees. Maar nou, in Sy vernedering, het hulle Hom op 'n afstand gevolg. Hulle was in groot droefheid en bitter teleurgestel. Hoe treffend is die woorde van Jesus bewaarheid: “Julie sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word.” Matt. 26: 31. Toe hulle by die plek van teregstelling kom, is die gevangenes vasgebind aan die kruise. Die twee diewe het hulleself teëgesit teen diegene wat hulle op die kruise moes plaas; maar Jesus het Hom nie teëgesit nie. Die moeder van Jesus, ondersteun deur die apostel Johannes, het haar seun gevolg na Golgota. Sy het gesien hoedat Hy flou val onder die gewig van die kruis, en sy wou so graag Sy verwonde hoof met haar hand ondersteun, en die gesig wat eenmaal teen haar boesem gerus het, baai. Maar hierdie voorreg is haar geweier. Saam met die dissipels het sy nog die hoop gekoester dat Jesus Sy mag sou openbaar en Homself sou bevry van Sy vyande. Dan het haar hoop weer heeltemal verdwyn namate sy haar herinner het hoe Hy die tonele wat nou plaasvind, voorspel het. Terwyl hulle die diewe aan die kruise vasgebind het, het sy dit in folterende spanning gadegeslaan. Sou Hy wat die dode lewendig gemaak het, toelaat dat hulle Hom kruisig? Sou die Seun van God toelaat dat hulle Hom so wreed om die lewe bring? Moet sy haar geloof versaak dat Jesus die Messias is? Moet sy getuie wees van Sy skande en lyde sonder eens die voorreg te hê om Hom by te staan in Sy eilende? Sy het gesien hoedat hulle Sy arms uitstrek aan die kruis; die hamer en spykers is gebring, en toe hulle die spykers deur Sy vlees slaan, het die hartseer dissipels die moeder van Jesus, wat beswyk het, weggedra van daardie wrede toneel. KE 765.1
Die Heiland het nie gemurmureer of gekla nie. Sy gelaat was kalm en vredevol, maar daar het groot druppels sweet op Sy voorhoof gestaan. Daar was geen ontfermende hand om die doodsweet van Sy gesig af te vee, of woorde van medelyde en trou te spreek om Sy menslike hart te versterk nie. Terwyl die soldate besig was met hulle vreeslike werk, het Jesus vir Sy vyande gebid, “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Sy gedagtes is afgetrek van Sy eie lyde, en Hy het gedink aan Sy vervolgers, en die vreeslike vergelding wat hulle gewag het. Hy het nie die soldate wat Hom so mishandel het, vervloek nie. Ook het Hy nie om wraak geroep op die priesters en owerstes wat so tevrede was omdat hulle hulle doel bereik het nie. Christus was vir hulle jammer in hulle onkunde en skuldigheid. KE 765.2
As hulle geweet het dat hulle iemand daar gemartel het wat die sondige mensdom kom verlos het van ewige ondergang, sou hulle met vrees en afsku vervul gewees het. Maar hulle onkunde het nie hulle skuld weggeneem nie, want hulle het die geleentheid en voorreg gehad om Jesus te ken en aan te neem as hulle Verlosser. Sommige van hulle sou nog hulle sonde besef, berou hê, en tot bekering kom. Ander sou, deur hulle onboetvaardigheid, dit onmoontlik maak dat die gebed van Christus vir hulle verhoor word. Maar nieteenstaande dit alles is Gods planne volvoer. Jesus het daar die reg verdien om by Sy Vader die Voorspraak van die mensdom te word. KE 766.1
Die gebed van Christus vir Sy vyande het die hele wêreld ingesluit. Dit het elke sondaar ingesluit wat gelewe het of nog sal lewe, van die begin van die wêreld af tot by die einde van tyd. Almal is skuldig aan die kruisiging van die Seun van God. Aan almal word vergifnis vry aangebied. “Almal wat wil” mag vrede by God hê en die ewige lewe beërf. KE 766.2
Sodra hulle Jesus klaar aan die kruis genael het, het sterk manne dit opgelig en met geweld laat afsak in die gat wat daarvoor gegrawe is. Dit het die Seun van God ondraaglike pyn veroorsaak. Pilatus het toe 'n opskrif geskryf in Hebreeus, Grieks, en Latyn, en dit aan die kruis vasgeheg, bokant die hoof van Jesus. Dit het gelui: “Jesus, die Nasarener, die Koning van die Jode.” Hierdie opskrif het die Jode kwaad gemaak. In die hof van Pilatus het hulle geskreeu, “Kruisig Hom!” “Ons het geen koning behalwe die keiser nie.” Joh. 19: 15. Hulle het verklaar dat almal wat enige ander koning erken het, 'n verraaier was. Pilatus het die gesindheid wat hulle uitgedruk het, in skrif opgestel. Geen misdaad is genoem behalwe dat Jesus die Koning van die Jode was nie. Die opskrif was feitlik 'n betuiging van die Joodse trou aan die Romeinse owerheid. Dit het daarop neergekom dat enigeen wat sê dat hy koning van Israel is, deur hulle veroordeel is as iemand wat die dood verdien. Wat die priesters betref, hulle het te ver gegaan. Toe hulle die dood van Jesus beplan het, het Kajafas gesê dat dit beter sou wees as een man sterf om die volk te red. Nou is hulle huigelagtigheid aan die kaak gestel. Om Christus te vernietig, was hulle bereid om hulle bestaan as volk prys te gee. KE 766.3
Die priesters het besef wat hulle gedoen het, en hulle het Pilatus gevra om die opskrif te verander. Hulle het gesê, “Moenie skrywe: Die Koning van die Jode nie; maar dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode.” Maar Pilatus was kwaad vir homself oor sy vorige swak optrede, en nou het hy die nydige en slinkse priesters en owerstes heeltemal verag. Kil het hy geantwoord, “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.” KE 767.1
n Hoër gesag as die van Pilatus of die Jode het daardie opskrif bo- kant die hoof van Jesus laat plaas. In die voorsienigheid van God sou dit mense laat dink en hulle die Skrifte laat ondersoek. Die plek waar Christus gekruisig is, was naby die stad. Duisende mense uit alle lande was in Jerusalem, en die opskrif wat verklaar het dat Jesus van Nasaret die Messias was, sou onder hulle aandag kom. Dit was 'n lewende waarheid, geskryf met 'n hand deur God gerig. KE 767.2
In die lyde van Christus aan die kruis, is profesieë vervul. Eeue vóór die kruisiging het die Heiland die behandeling voorspel wat Hy sou ontvang. Hy het gesê, “Honde het My omsingel; 'n bende kwaaddoeners het My omring; hulle het My hande en My voete deurgrawe. KE 767.3
Al My bene kan Ek tel; hulle kyk, hulle sien met welgevalle op My neer! Hulle verdeel My klere onder mekaar en werp die lot oor My gewaad.” Ps. 22: 17-19. Die profesie aangaande Sy gewaad is vervul sonder raadgewing of inmenging deur die vriende, of vyande, van die Gekruisigde. Sy kleding is gegee aan die soldate wat Hom aan die kruis genael het. Christus het gehoor hoe die manne stry toe hulle Sy klere onder mekaar uitgedeel het. Sy onderkleed is aaneen geweef, sonder naat, en hulle het gesê, “Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons daaroor die lot werp, wie syne dit sal wees.” KE 767.4
In n ander profesie het die Heiland verklaar, “Die smaad breek My hart en Ek moet bewe; ja Ek het gewag op medelyde, maar verniet; en op vertroosters, maar het hulle nie gevind nie. En hulle het aan My gal gegee as My spyse, en vir My dors het hulle My asyn laat drink.” Ps. 69: 21, 22. Dit was geoorloof om aan diegene wat aan die kruis moes sterf, 'n verdowingsmiddel te gee om die pyn te versag. Dit is Jesus aangebied, maar toe Hy dit proe, het Hy dit geweier. Hy wou niks drink wat Sy sinne kon benewel nie. Sy geloof moes vas- kleef aan God. Dit was Sy enigste sterkte. As Hy Sy sinne laat benewel het, sou Hy die Satan 'n kans gegee het. KE 767.5
Die vyande van Jesus het uiting gegee aan hulle woede waar Hy daar aan die kruis gehang het. Priesters, owerstes, en skrifgeleerdes het saam met die gepeupel die spot gedryf met die sterwende Heiland. By Sy doop, en tydens die verheerliking op die berg, is die stem van God gehoor wat Christus Sy Seun verklaar het. En weer, net vóór Christus verraai is, het die Vader gespreek en getuig van Sy Godheid. Maar nou is daar geen stem uit die hemel gehoor nie. Daar was geen getuienis ten gunste van Christus nie. Alleen moes Hy die mishandeling en die gespot van bose mense verduur. KE 768.1
“As U die Seun van God is,” het hulle gesê, “kom af van die kruis af.” “Laat Hy Homself verlos as Hy die Christus, die Uitverkorene van God is.” In die woestyn van versoeking het die Satan gesê, “As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.” “As U die Seun van God is, werp Uself af” van die dak van die tempel. Matt. 4: 3, 6. En die Satan met sy engele, in menslike gedaantes, was teen- woordig by die kruis. Die aartsrebel en sy leërskare het saamgewerk met die priesters en owerstes. Die leraars van die volk het die onkundige gepeupel aangehits om Iemand te veroordeel wat baie van hulle nie eens tevore gesien het voordat hulle gevra is om teen Hom te getuig nie. Priesters, owerstes, Fariseërs en die verharde gepeupel het saamgestaan in hulle sataniese ywer. Geestelike leiers het saamgestaan met die Satan en sy engele. Hulle het sy bevele uitgevoer. KE 768.2
Jesus, lydende en sterwende, het elke woord gehoor toe die priesters gesê het, “Ander het Hy gercd, Homself kan Hy nie red nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo. Christus kon van die kruis afgekom het. Maar dit is omdat Hy Homself nie wou red nie dat die sondaar hoop op vergifnis het en op die guns van God.” KE 768.3
In hulle bespotting van die Heiland het die mense wat voorgegee het dat hulle die verklaarders van profesieë is, juis die einste woorde herhaal wat die profesieë voorspel het wat hulle sou sê by hierdie geleentheid. Maar in hulle blindheid het hulle nie gesien dat hulle die profesieë vervul het nie. Diegene wat spottend die woorde geuiter het, “Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou red as Hy behae in Hom het; want Hy het gesê: Ek is die Seun van God,” het nooit gedink dat hulle woorde deur die eeue sou weerklink nie. Maar alhoewel hulle dit spottend gesê het, het daardie woorde mense beweeg om die Skrifte te ondersoek soos nooit tevore nie. Wyse manne het gehoor, ondersoek, oorpeins en gebid. Daar was diegene wat nie gerus het voordat hulle deur skriftuur met skriftuur te vergelyk, die betekenis van Christus se sending verstaan het nie. Nog nooit tevore was daar so 'n algemene kennis van Jesus as toe Hy aan die kruis gehang het nie. In die harte van baie wat die kruisiging gesien en Christus se woorde gehoor het, het die lig van die waarheid geskyn. KE 768.4
Tot Jesus in Sy lyde daar aan die kruis, het daar een straaltjie van vertroosting gekom. Dit was die gebed van die boetvaardige dief. Albei die manne wat saam met Jesus gekruisig is, het Hom in die begin ook verwyt; en een van hulle het deur sy eie lyding net meer desperaat en uitdagend geword. Maar dit was nie die geval met sy maat nie. Hierdie man was nie 'n geharde misdadiger nie; hy is in die verkeerde weg gelei deur bose maats, maar hy was minder skuldig as baie van diegene wat daar by die kruis gestaan en teen Jesus uitgevaar het. Hy het Jesus gesien en gehoor, en is oortuig deur Sy leer, maar hy is deur die priesters en owerstes beïnvloed om Hom nie aan te neem nie. Om die stem van sy gewete te smoor, het hy al dieper en dieper in die sonde verval, totdat Hy eindelik as misdadiger ge- arresteer, verhoor en veroordeel is om aan die kruis te sterf. In die geregsaal, en op weg na Golgota, was hy saam met Jesus. Hy het Pilatus hoor verklaar dat hy “in Hom geen skuld vind nie.” Joh. 19: 4. Hy het Sy goddelike gedrag gesien, en die ontferming waarmee Hy diegene vergeef het wat Hom gemartel het. Nou, daar aan die kruis, sien hy hoedat baie van die groot geestelike leiers hulle tonge in veragting uitsteek en met die Here Jesus spot. Hy sien hoedat die mense hulle hoofde skud. Hy hoor hoedat sy maat ook die verwyte opneem: “As U die Christus is, verlos Uself en ons.” Onder diegene wat daar verbyloop, hoor hy baie Christus verdedig. Hy hoor hulle Sy woorde herhaal, en van Sy werke vertel. Die oortuiging kom weer tot hom dat dit die Christus is. Hy het hom na sy medegekruisigde gedraai en gesê, “Vrees jy nie ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is?” Die sterwende diewe het niks meer te vrees van mense nie. Maar by een ontstaan die oortuiging dat daar 'n God te vrees is, en n toe- koms wat hom laat sidder. En nou, vol sonde soos dit is, sal sy lewens- geskiedenis haas afgesluit word. “Ons tog regverdiglik,” sê hy droe- wig, “want ons kry die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.” KE 769.1
By hom is daar nou geen vraag meer nie. Daar is geen twyfel, en geen verwyte nie. Toe hy veroordeel is vir sy misdaad, het die dief hopeloos en wanhopig geword; maar nou het daar vreemde, teer gedagtes in hom opgekom. Hy dink terug aan alles wat hy van Jesus gehoor het, hoe Hy siekes genees, en sondes vergewe het. Hy het die woorde gehoor van diegene wat in Jesus geglo, en Hom wenende gevolg het. Hy het die opskrif gesien en gelees wat bokant die Heiland se hoof geplaas is. Hy het gehoor hoedat die verbygangers dit lees, sommige met bewende lippe, en ander spottend. Die Heilige Gees verlig sy verstand, en trapsgewys word die skakel van getuienis gesmee. In Jesus, verwond, bespot, en hangende aan die kruis, sien hy die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem. Daar is hoop en angs in sy stem waar 'n hulpelose, sterwende siel hom op die genade van 'n sterwende Heiland beroep. “Dink aan my, Here,” roep hy, “wanneer U in U koninkryk kom.” KE 770.1
Dadelik het die antwoord gekom. Die woorde was sag, wellui-dend, vol liefde, ontferming, en krag: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy met My in die Paradys wees.” KE 770.2
In die ure van foltering het Jesus net skel- en spotwoorde gehoor. Waar Hy daar aan die kruis gehang het, het Hy steeds vloeke en gespot gehoor. Met 'n verlangende hart het Hy geluister vir die betuiging van geloof deur Sy dissipels. Al wat Hy gehoor het, was, “Ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos.” Hoe aangenaam was dit vir die Heiland om die woorde van geloof en liefde te hoor van die sterwende dief! Terwyl die vooraanstaande Jode Hom verloën, en selfs Sy dissipels aan Sy Godheid twyfel, noem die arme dief op die randjie van die dood, Jesus Here. Baie was gewillig om Hom Here te noem toe Hy wonderwerke gedoen het, en ná Hy uit die graf opgestaan het; maar niemand het Hom erken waar Hy daar aan die kruis gehang het nie, behalwe die sterwende dief wat terelfderure gered is. KE 770.3
Diegene wat daar gestaan het, het gehoor hoe die dief Jesus Here noem. Die stem van die berouvolle man het hulle aandag getrek. Diegene wat daar aan die voet van die kruis rusie gemaak het oor Christus se klere, en die lot gewerp het oor Sy onderkleed, het stilgebly en geluister. Hulle harde stemme het stil geword. In spanning het hulle na Christus gekyk, en gewag op die antwoord van Sy sterwende lippe. KE 771.1
Toe Hy hierdie belofte gegee het, is die donker wolk wat, soos dit gelyk het, die kruis oorskadu het, deurdring met 'n helder, lewende lig. Die boetvaardige dief het die volle vrede ondervind wat kom ten gevolge van aanname deur God. In Sy vernedering is Christus verheerlik. Hy wat vir almal gelyk het soos 'n oorwonnene, was Oorwinnaar. Hy is erken as die draer van die sonde. Mense kon mag hê oor Sy vleeslike liggaam; hulle kon daardie heilige slape verwond met n doringkroon; hulle kon Sy klere van Hom afskeur en rusie maak daaroor; maar hulle kan Hom nie beroof van Sy mag om sondes te vergewe nie. Sterwende het Hy getuienis gegee van Sy eie Godheid tot verheerliking van die Vader. Sy oor is nie swaar sodat dit nie kan hoor nie, en Sy arm verkort sodat dit nie kan red nie. Dit is Sy koninklike reg om volkome te red, almal wat deur Hom na God kom. KE 771.2
Ek sê vir jou vandag, jy sal met My in die Paradys wees. Christus het nie die dief belowe dat hy daardie dag met Hom in die Paradys sou wees nie. Hy het in die graf geslaap, en op die opstandingsmore het Hy gesê, “Ek het nog nie opgevaar na My Vader nie.” Joh. 20: 17. Maar op die dag van die kruisiging, die dag van skynbare neerlaag en duisternis, is die belofte gegee. “Vandag” terwyl Hy sterwende was aan die kruis as 'n misdadiger, verseker Christus die arme sondaar, sal jy met My in die Paradys wees. KE 771.3
Die diewe wat saam met Jesus gekruisig is, is geplaas “een aan elke kant, en Jesus in die middel.” Dit is gedoen op aandrang van die priesters en owerstes. Christus se posisie daar tussen die twee diewe moes aantoon dat Hy die grootste misdadiger van die drie was. So is die Skrif vervul dat Hy “saam met die oortreders getel was.” Jes. 53: 12. Maar die priesters het nie die volle betekenis van hulle daad gesien nie. Soos Jesus, gekruisig saam met die diewe, in die middel geplaas is, so is Sy kruis geplant in die middel van 'n wêreld in sonde. En die woorde van vergifnis aan die boetvaardige dief, het 'n lig aangesteek wat sou skyn tot die uithoeke van die aarde. KE 771.4
Met verbasing het die engele die ewige liefde van Jesus aanskou, wat, in die grootste foltering van gemoed en liggaam verkeer het, net aan ander gedink het, en 'n boetvaardige siel aangemoedig het om te glo. In Sy vernedering het Hy as profeet die dogters van Jerusalem toegespreek; as priester en voorspraak het Hy by die Vader gepleit om Sy moordenaars te vergewe; as liefdevolle Heiland het Hy die sondes vergewe van die boetvaardige dief. KE 772.1
Terwyl Jesus die skare rondom Hom aanskou het, het een figuur Sy aandag getrek. Aan die v.oet van die kruis het Sy moeder gestaan, ondersteun deur die dissipel Johannes. Sy kon nie van haar Seun af wegbly nie, en Johannes, wetende dat die einde naby was, het haar weer na die kruis gebring. In Sy sterwensuur het Christus aan Sy moeder gedink. Hy het na haar droewige gelaat gekyk, en toe na Johannes, en Hy het aan haar gesê, “Vrou, daar is u seun!” en aan Johannes, “Daar is jou moeder!” Johannes het Christus se woorde verstaan, en die verantwoordelikheid aanvaar. Hy het Maria dadelik na sy huis geneem, en van daardie uur af het hy teer vir haar gesorg. O, jammerhartige, liefdevolle Heiland, in al Sy liggaamlike en verstandelike foltering, het Hy met besorgdheid gedink aan Sy moeder! Hy het geen geld gehad om in haar behoeftes te voorsien nie, maar Johannes het Hom liefgehad, en Hy het Sy moeder aan sy sorg toevertrou. So het Hy aan haar gegee wat sy die meeste nodig gehad het — die tere sorg van iemand wat haar liefhet omdat sy Jesus liefhet. En deur haar onder sy sorg te neem, het Johannes 'n groot seën ontvang. Sy het hom gedurig herinner aan sy geliefde Meester. KE 772.2
Die volmaakte voorbeeld van Christus se liefde as seun, skyn met onafgebroke helderheid uit die newels van die eeue. Vir byna dertig jaar het Jesus deur Sy daelikse arbeid gehelp om die laste van die huis te dra. En nou, selfs in Sy laaste lyde, het Hy onthou om voorsorg te maak vir Sy hartseer weduwee-moeder. Elke dissipel van die Here sal dieselfde gees openbaar. Diegene wat Christus volg, sal voel dat dit deel van hulle godsdiens is om hulle ouers te eer en vir hulle te sorg. Uit die hart waar Sy liefde gekoester word, sal vader en moeder altyd troue sorg ontvang. KE 772.3
En nou was die Here van die heerlikheid sterwende, 'n losprys vir die volk. Toe Hy Sy kosbare lewe opgeoffer het, is Christus nie versterk deur oorwinningsvreugde nie. Alles was terneerdrukkende duisternis. Dit was nie die vrees vir die dood wat so swaar op Hom gedruk het nie. Dit was nie die pyn en skande van die kruis wat sulke onbeskryflike foltering veroorsaak het nie. Christus was die Vors van lyers, maar Sy lyde is veroorsaak deur die besef van die sondigheid van die sonde, die wete dat die mens, deur sy gewoondheid aan die sonde, verblind is vir die sondigheid daarvan. Christus het gesien hoe vas die sonde die menslike hart gegryp het, en hoe min daar was wat gewillig sou wees om los te breek uit die mag daarvan. Hy het geweet dat die mensdom sonder die hulp van God, sou vergaan, en Hy het menigtes sien vergaan binne bereik van oorvloedige hulp. KE 772.4
Op Christus, ons plaasvervanger en borg, is al ons sondes geplaas. Hy is as oortreder getel, sodat Hy ons kon verlos van die veroordeling van die wet. Die skuld van elke Adamskind het op Sy hart gedruk. Die toorn van God teen die sonde, die vreeslike openbaring van Sy ontevredenheid oor die ongeregtigheid, het die siel van Sy Seun met ontsteltenis vervul. Sy hele lewe lank het Christus aan 'n gevalle wêreld die blye nuus van die Vader se genade en vergewende liefde verkondig. Die saligheid vir die grootste sondaar was Sy tema. Maar nou, met die verskriklike gewig van die skuld wat Hy dra, kan Hy nie die Vader se versoenende gelaat sien nie. Die onttrekking van die goddelike aanskyn van die Heiland in hierdie uur van die grootste angs het Sy hart deurboor met 'n droefheid wat nooit deur die mens ten volle sal verstaan word nie. So groot was hierdie angs dat Sy lig- gaamlike lyding byna nie gevoel is nie. KE 773.1
Die Satan met sy feile versoekings het die hart van Jesus gepers. Die Heiland kon nie deur die poorte van die graf sien nie. Hoop het Hom nie voorgestel as oorwinnaar uit die graf nie, of Hom verwittig van die Vader se aanname van Sy offer nie. Hy het gevrees dat die sonde so afskuwelik vir God was dat hulle skeiding van mekaar ewig- durend sou wees. Christus het die angs gevoel wat die sondaar sal voel wanneer genade nie langer sal pleit vir die sondige geslag nie. Dit was die besef van die sonde, die koms van die Vader se toorn op Hom as die mens se plaasvervanger, wat die beker wat Hy gedrink, so bitter gemaak het, en wat die hart van die Seun van God gebreek het. KE 773.2
Met verbasing het die engele die Heiland se wanhoopsangs aanskou. Die leërskare van die hemel het hulle aangesigte verberg vir die vreeslike skouspel. Die lewenlose natuur het medelyde betoon met sy beledigde, sterwende Skepper. Die son het geweier om die vreeslike toneel te aanskou. Sy vol, helder strale het die aarde op die middag verlig, toe dit skielik gelyk het of dit uitgedoof is. Volkome duisternis, soos 'n doodskleed, het die kruis omhul. “Daar het duisternis oor die hele aarde gekom tot drie-uur toe.” Daar was nie 'n sonsverduistering of 'n natuurlike oorsaak vir hierdie duisternis nie; dit was soos die middernagtelike duisternis, sonder maan of sterre. Dit was wonderbaarlike getuienis deur God gegee sodat die geloof van geslagte daarna bevestig mag word. KE 773.3
In daardie stikdonkere duisternis was Gods teenwoordigheid verberg. Hy maak die duisternis Sy skuilplek, en bedek Sy heerlikheid vir die oë van mense. God en Sy heilige engele was daar by die kruis. Die Vader was by Sy Seun. Maar Sy teenwoordigheid is nie geopenbaar nie. As Sy heerlikheid uit daardie wolk geskyn het, sou elke menslike toeskouer verslind gewees het. En in daardie vreeslike uur sou Christus nie vertroos word met die Vader se teenwoordigheid nie. Hy het die parskuip alleen getrap, en van die volk was daar niemand om Hom te help nie. KE 774.1
In daardie stikdonkere duisternis het God die laaste lyde van Sy Seun bedek. Almal wat Christus in Sy lyde gesien het, was oortuig van Sy Godheid. Daardie gesig, eenmaal deur 'n mens gesien, sou nooit weer vergeet word nie. Net soos die gesig van Kain getoon het dat hy 'n moordenaar was, so het die gesig van Christus Sy onskuld, vreedsaamheid, en goedheid geopenbaar — die beeld van God. Maar Sy beskuldigers wou nie let op die seël van die hemel nie. Deur die lang lydensure is Christus aanskou deur die spottende skare. Nou is Hy genadiglik verberg deur die mantel van God. KE 774.2
Dit het geskyn of die stilte van die graf neergesak het op Golgota. Die skare wat rondom die kruis vergader het, was met 'n naamlose vrees bevange. Die gespot en gevloek het opgehou in die middel van halfuitgesproke sinne. Manne, vroue en kinders het plat op die grond neergeval. Helder blitse het by tye uit die wolk geskiet, en die kruis en die gekruisigde Heiland sigbaar gemaak. Priesters, owerstes, skrifgeleerdes, laksmanne, en die gepeupel — almal het gedink dat hulle uur van vergelding aangebreek het. Ná 'n tydjie het sommige gefluister dat Jesus nou van die kruis sal afkom. Sommige het gepro beer om voel-voel hulle pad terug te vind na die stad; hulle het op hulle bors geslaan en gekreun van vrees. KE 774.3
Teen drie-uur het die duisternis begin afneem, maar dit het nog die Heiland omring. Dit was n simbool van die angs en verskrikking wat so swaar op Sy hart gedruk het. Geen oog kon die duisternis deurdring wat die kruis omhul het, en niemand kon deur die groter duisternis sien wat die lydende siel van Christus omring het nie. Dit het geskyn asof die vreeslike blitse teen Hom gemik is waar Hy daar aan die kruis gehang het. Toe het “Jesus met 'n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtani?” Dit beteken, “My God, My God, waarom het U My verlaat?” Toe die buitenste duisternis om die Heiland begin toesak, het baie stemme uitgeroep, Die toorn van die hemel het Hom getref. Die blitse van Gods toorn is teen Hom gestuur, omdat Hy gesê het dat Hy die Seun van God is. Baie wat in Hom geglo het, het Sy wan- hoopsgeroep gehoor. Die hoop het hulle verlaat. As God Jesus dan verlaat het, waarop kon Sy volgelinge vertrou? KE 775.1
Toe die duisternis verdwyn het van die verdrukte gees van Christus, het Hy Sy liggaamlike lyding gewaar geword, en gesê, “Ek het dors!” Een van die Romeinse soldate het baie jammer vir Hom gekry toe hy Sy droë lippe sien, en hy het 'n spons vol asyn gemaak en op 'n hisopstingel gesit en aan Sy mond gebring. Maar die priesters het gespot met Sy lyde. Toe die duisternis oor die aarde gekom het, het hulle baie bang geword; namate hulle vrees verdwyn het, was hulle weer baie bang dat Jesus hulle nog sou ontsnap. Sy woorde, “Eli, Eli, lama sabagtani?” het hulle verkeerd vertolk. Met bittere veragting en hoon het hulle gesê, “Hy roep Elia.” Die laaste kans om Sy lyde te versag, het hulle geweier. “Wag, laat ons sien,” het hulle gesê, “of Elia kom om Hom af te haal.” KE 775.2
Die vlekkelose Seun van God het aan die kruis gehang, Sy vlees stukkend geslaan; daardie hande wat so dikwels in seën uitgestrek was, is aan die kruishout vasgenael; daardie voete wat so onvermoeid geloop het om liefdesdiens te verrig, is vasgespyker aan die hout; daardie koninklike hoof is verwond deur die doringkroon; daardie bewende lippe het nou in angs uitgeroep. En alles wat Hy verduur het — die bloed wat getap het van Sy hoof, van Sy hande en voete, die foltering van Sy liggaam, en die onbeskryflike angs wat Sy siel vervul het toe die Vader Sy aangesig verberg het — spreek tot elke mensekind, en sê: Dit was vir jou dat die Seun van God die sondeskuld gedra het; vir jou het Hy die heerskappy van die dood verbreek, en die poorte van die Paradys oopgemaak. Hy wat die woeste bare stilgemaak en op die onstuimige meer geloop het, wat duiwels laat sidder en siekte laat vlug het, wat die oë van die blindes geopen en die dode opgewek het — Hy gee Homself aan die kruis as slagoffer, en dit doen Hy uit liefde vir jou. Hy, die draer van die sonde, verduur die toorn van goddelike geregtigheid, en om jou ontwil, word Hy die sonde self. KE 775.3
In stilte het die toeskouers die einde van die vreeslike toneel afgewag. Die son het weer geskyn, maar die kruis was nog in duisternis gehul. Priesters en owerstes het in die rigting van Jerusalem gekyk, en hulle het gesien dat 'n digte wolk oor die stad en oor die vlaktes van Judea hang. Die Son van Geregtigheid, die Lig van die wêreld, was besig om Sy strale te onttrek aan die eens begunstigde stad, Jerusalem. Die vreeslike blitse van Gods toorn was gemik op daardie gedoemde stad. KE 776.1
Skielik is die duisternis weg van die kruis, en met 'n helder stem, wat, soos dit geskyn het, deur die ganse skepping weerklink, het Jesus uitgeroep, “Dit is volbring!” “Vader, in U hande gee Ek My gees oor!” 'n Lig het om die kruis geskyn, en die gelaat van die Heiland het geglinster soos die heerlikheid van die son. Toe het Hy Sy hoof laat sak op Sy bors, en gesterf. KE 776.2
Te midde van die vreeslike duisternis, en oënskynlik deur God verlate, het Christus die laaste druppels gedrink uit die beker van menslike lyding. In daardie vreeslike ure het Hy vertrou op die getuienis van Sy Vader se aanname wat voorheen aan Hom gegee is. Hy was bekend met die karakter van Sy Vader; Hy het Sy geregtigheid en genade en Sy groot liefde verstaan. Deur die geloof het Hy in Hom berus wat Hy altyd met vreugde gehoorsaam het. En waar Hy Homself in oorgawe aan God toevertrou het, is die besef van die verlies van die Vader se guns weggeneem. Deur die geloof was Christus die Oorwinnaar. KE 776.3
Nog nooit tevore het die aarde so 'n toneel aanskou nie. Die skare het magteloos gestaan, en in gespanne afwagting het hulle die Heiland aangestaar. Weer het duisternis op die aarde toegesak, en 'n gedreun, soos van donderweer, is gehoor. Daar was 'n geweldige aardbewing. Die mense is in klompies saamgeskud. Die grootste vrees en verwarring het geheers. In die omliggende berge is die rotse losgeskeur en het met geweld na die vlaktes neergestort. Grafte is oopgeskeur, en die dode is uitgewerp. Dit het geskyn asof die skep- ping stukkend geskud word. Priesters, owerstes, soldate, laksmanne, en die mense was stom van vrees, en hulle het plat op die grond gelê. KE 776.4
Toe die luide geroep, “Dit is volbring!” van die lippe van Christus gekom het, was die priesters besig met hulle werk in die tempel. Dit was die uur van die aandoffer. Die lam wat Christus voorgestel het, is gebring om geslag te word. Gekleed in sy simboliese, en pragtige kleed, het die priester gestaan met die mes in sy opgehefte hand, net soos Abraham toe hy sy seun wou offer. Met die grootste belangstelling het die mense gestaan en kyk. Toe het die aarde geskud en gebewe; want die Here self het naby gekom. Met 'n skeurgeluid is die binneste voorhangsel van die tempel van bo tot onder geskeur, en aan die oë van die mense is die plek oopgestel wat voorheen vervul was met die teenwoordigheid van God. In daardie plek het die goddelike heerlikheid gewoon. Daar het God Sy heerlikheid geopenbaar, bokant die versoendeksel. Niemand behalwe die hoëpriester het ooit die voorhangsel gelig wat daardie afdeling geskei het van die res van die tempel nie. Hy het dit eenmaal per jaar binnegegaan om versoening te doen vir die sondes van die volk. Maar nou is hierdie voorhangsel in twee geskeur. Die allerheiligste plek van die aardse heiligdom was nie langer heilig nie. KE 777.1
Almal verkeer in vrees en verwarring. Die priester wou net die lam slag, maar die mes val uit sy verlamde hand, en die lam ontsnap. In die dood van die Seun van God het die beeid sy teenbeeid ontmoet. Die groot soenoffer is gegee. Die weg tot die allerheiligste is oopgemaak. 'n Nuwe en lewende weg is vir almal berei. Nie langer hoef sondige en ellendige mense te wag op die koms van die hoëpriester nie. Voortaan sou die Heiland die hoëpriester en voorspraak wees in die hemel van die hemele. Dit was asof 'n lewende stem gespreek het tot die aanbidders: Daar is nou 'n einde aan al die offers vir die sonde. Die Seun van God het gekom in ooreenstemming met Sy Woord, “Kyk, Ek kom — in die boekrol is dit van My geskrywe — om U wil, o God, te doen.” “Deur Sy eie bloed,” het Hy “eenmaal ingegaan in die heiligdom en 'n ewige versoening teweeggebring.” Heb. 10: 7; 9: 12. KE 777.2