Loading…
“Dit is Volbring”
CHRISTUS het nie gesterf voordat Hy al die werk klaargemaak het wat Hy gehad het nie, en met Sy laaste asem het Hy uitgeroep, “Dit is volbring.” Joh. 19: 30. Die stryd was gewonne. Sy regterhand en Sy heilige arm het Hom die oorwinning besorg. As Oorwinnaar het Hy Sy banier op die ewige hoogtes geplant. Was daar nie vreugde onder die engele nie? Die ganse hemel het oorwin in die Heiland se oorwinning. Die Satan was verslaan, en hy het geweet dat sy koninkryk verlore was. KE 778.1
Vir die engele en die wêrelde wat nie geval het nie, het die woorde, “Dit is volbring,” groot betekenis gehad. Dit was vir hulle sowel as vir ons dat die groot verlossingswerk volbring is. Hulle, saam met ons, deel in die vrugte van Christus se oorwinning. KE 778.2
Eers by die dood van Christus is die karakter van die Satan duidelik geopenbaar aan die engele en die wêrelde wat nie geval het nie. Die aartssondaar het homself so met bedrog beklee, dat selfs heilige wesens nie sy beginsels verstaan het nie. Hulle het nie duidelik die aard van sy opstand gesien nie. KE 778.3
Dit was 'n wese van wonderbare krag en heerlikheid wat homself teen God gestel het. Van Lucifer sê die Here, ” Jy was die seëlring van eweredigheid, vol van wysheid en volmaak in skoonheid.” Eseg. 28: 12. Lucifer was een van die skut-engele. Hy het gestaan in die lig van Gods teenwoordigheid. Hy het hoogste gestaan onder al die geskape wesens, en hy het die vernaamste aandeel gehad in die openbaring van Gods raadsbesluite aan die heelal. Na hy gesondig het, was sy mag van bedrog nog bedriegliker, en die openbaring van sy karakter des te moeiliker weens die hoë posisie wat hy by die Vader beklee het. KE 778.4
God kon die Satan en sy aanhangers baie maklik vernietig het, maar Hy het dit nie gedoen nie. Die opstand sou nie met geweld onderdruk word nie. Geweld is iets wat alleen in die regering van die Satan gevind word. Die Here se beginsels is nie van daardie aard nie. Sy gesag berus op goedheid, genade, en liefde; en dit is deur die handhawing van hierdie beginsels wat God werk. Gods regering is sedelik, en waarheid en liefde vier daarin die botoon. KE 779.1
Dit was Gods doel om alle dinge op 'n ewige basis van veiligheid te vestig, en in die raadsbesluite van die hemel is daar besluit dat tyd gegee moes word aan die Satan om die beginsels ten grondslag van sy regeringstelsel te ontwikkel. Hy het gesê dat hulle beter was as Gods beginsels. Tyd is gegee vir die uitwerking van die Satan se beginsels, sodat hulle gesien kon word deur die hemelse heelal. KE 779.2
Die Satan het die mens tot die sonde verlei, en toe is die verlos- singsplan in werking gestel. Vir vierduisend jaar het Christus gewerk vir die opheffing van die mens, en die Satan vir sy verlaging en ondergang. En die hemelse heelal was die toeskouers. KE 779.3
Toe Jesus na hierdie wêreld gekom het, het die Satan sy mag teen Hom aangewend. Van die tyd dat Hy as kindjie in Betlehem gebore is, het die indringer gewerk om Hom te vernietig. Op elke moontlike manier het Hy geprobeer om te belet dat Jesus 'n volmaakte jongeling en foutlose man word, en om Sy heilige bediening en vlekke- lose offer te bederf. Maar hy is verslaan. Hy kon Jesus nie tot die sonde verlei nie. Hy kon Hom nie ontmoedig, of Hom beweeg om die werk waarvoor Hy na die aarde gekom het, te laat vaar nie. Van die woestyn tot by Golgota, het die storm van die Satan se toorn teen Hom gewoed, maar hoe meedoënloser dit gewoed het, hoe vaster het die Seun van God aan Sy Vader se hand geklem en volgehou op die met bloed bevlekte lydensweg. Al die pogings van die Satan om Hom te verdruk en te oorwin, het slegs die reiner lig van Sy vlekkelose karakter helderder laat skyn. KE 779.4
Die ganse hemel, en al die werelde wat nie in die sonde geval het nie, was getuies van die stryd. Met watter spannende belangstelling het hulle die slottonele van die stryd gevolg! Hulle het die Heiland die tuin van Getsemane sien binnegaan, Sy siel terneergedruk met die vrees van die groot duisternis. Hulle het Sy gesmeek gehoor, “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan.” Matt. 26: 39. Namate die Vader se teenwoordigheid onttrek is, het hulle gesien hoe beangs Hy was, 'n angs groter as die van die laaste worsteling met die dood. Bloedsweet het uit Sy sweetgaatjies gekom en in druppels op die grond geval. Driemaal het Hy gesmeek om verlossing. Die hemel kon nie langer die gesig verduur nie, en n boodskapper is gestuur om die Seun van God te vertroos. KE 780.1
Die Hemel het gesien hoedat die slagoffer verraai word in die hande van die moorddadige gepeupel, en hoe hulle Hom haastig van die een geregsaal na die ander neem. Hulle het gesien hoe Sy vervolgers Hom verag omrede Sy nederige geboorte. Hulle het gehoor hoe een van Sy mees geliefde dissipels Hom verloën met vloeke. Hulle het die bose werk van die Satan gesien, en sy mag oor die harte van mense. O, verskriklike toneel! Die Heiland word te middernag in Getsemane gevangegeneem, en van paleis na geregsaal gesleep, om tweemaal voor die priesters te verskyn, tweemaal voor die Sanhedrin, tweemaal voor Pilatus, en eenmaal voor Herodes, gesmaad, gegésel, veroordeel, en uitgelei na Golgota, met die swaar kruis op Sy skouers, onder die geween van die dogters van Jerusalem, en die gehoon van die gepeupel. KE 780.2
Die Hemel het met droefheid en verbasing Christus aan die kruis sien hang, die bloed druppende van Sy verwonde slape, en die bloedsweet op Sy voorhoof. Van Sy hande en voete het die bloed druppel vir druppel geval op die klippe wat gehaal is uit die gat waarin die kruis geplant is. Die spykers het gapende wonde gemaak toe die gewig van Sy liggaam feitlik aan Sy hande gehang het. Hy het gejaagd gehyg na asem onder die las van die sondes van die wêreld. Die hele Hemel is met verbasing vervul toe Christus, te midde van die vreeslike foltering, gebid het, “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Lukas 23: 34. Nogtans het daar mense gestaan, geskape in die beeld van God, besig om die lewe te pers uit Sy enig- gebore Seun. Wat 'n skouspel vir die hemelse heelal! KE 780.3
Die owerhede en magte van die duisternis het rondom die kruis gestaan, en die harte van die mense beïnvloed met 'n helse ongeloof. Toe die Here hierdie wesens geskape het om voor Sy troon te staan, was hulle mooi en heerlik. Hulle heerlikheid en heiligheid het gepas by hulle verhewe stand. Hulle was begaaf met die wysheid van God, en omgord met die wapenrusting van die hemel. Hulle was Jehova se dienaars. Maar wie sou nou in hierdie gevalle engele die serafs herken wat eenmaal in die hemelse howe gedien het? KE 781.1
Sataniese werktuie het saamgewerk met bose manne om die mense te beïnvloed om te glo dat Christus die grootste sondaar was, en om Hom die voorwerp van haat te maak. Diegene wat Christus bespot het toe Hy daar aan die kruis gehang het, was besiel met die gees van die eerste groot rebel. Hy het vuil en afskuwelike woorde in hulle mond gelê. Hy het die hoontaal geïnspireer. Maar deur al hierdie dinge het hy niks gewin nie. KE 781.2
As hulle maar een sonde in Christus kon vind, as Hy maar in een opsig toegegee het aan die Satan om die vreeslike marteling te vermy, sou die vyand van God en mens die oorwinning behaal het. Christus het Sy hoof gebuig en gesterf, maar Hy het Sy geloof in, en Sy onderworpenheid aan God nie versaak nie. “Toe hoor ek 'n groot stem in die hemel sê: Nou het die saligheid en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword en die mag van Sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.” Openb. 12: 10. KE 781.3
Die Satan het besef dat sy masker afgeruk is. Sy administrasie is blootgelê voor die engele wat nie gesondig het nie, en voor die hemelse heelal. Hy het homself geopenbaar as 'n moordenaar. Deur die bloed te vergiet van die Seun van God, het hy die simpatie van die hemelse wesens vir hom heeltemal vernietig. Voortaan sou sy bedrywighede beperk wees. Wat hy nou ook al mag doen, sou hy nie langer die engele kon inwag wanneer hulle die hemelse howe verlaat, en Christus se broeders voor hulle beskuldig dat hulle beklee is met die kleed van duisternis en die besoedeling van die sonde nie. Die laaste skakel van medelyde tussen die Satan en die hemelse wêreld was verbreek. KE 781.4
Maar tog is die Satan nie vernietig nie. Die engele het selfs toe nog nie alles verstaan wat op die spel is in die groot stryd nie. Die beginsels op die spel sou nog duideliker geopenbaar word. En vir die ontwil van die mens moes die Satan toegelaat word om nog te lewe. Die mens, sowel as die engele moes die teenstelling sien tussen die Vors van die lig en die vors van die duisternis. Hy moet kies wie hy wil dien. KE 781.5
In die begin van die groot stryd het die Satan verklaar dat die wet van God nie gehoorsaam kon word nie; dat geregtigheid onversoenlik is met genade, en dat, as die wet oortree word, dit onmoontlik sou wees vir die sondaar om vergifnis te verkry. Elke sonde moet gestraf word, het die Satan betoog; en as God die oortreder sy straf sou kwyt- skeld, dan is Hy nie 'n God van waarheid en geregtigheid nie. Toe die mens die wet van God oortree, en Sy wil veronagsaam het, het die Satan se vreugde geen perke geken nie. Dit is nou bewys, het hy gesê, dat die wet nie gehoorsaam kan word nie; die mens kan nie vergewe word nie. Omdat hy, het die Satan gesê, na sy opstand uit die hemel verban is, moet die mens ook vir ewig die guns van God verbeur. God kan nie regverdig wees, het hy gesê, en terselfdertyd aan die sondaar genade betoon nie. KE 782.1
Maar selfs as sondaar was die mens nie in dieselfde posisie as die Satan nie. Lucifer in die hemel het gesondig in die lig van Gods heerlikheid. Aan hom, soos aan geen ander wese nie, is daar n openbaring van Gods liefde gegee. Ondanks die feit dat die Satan Gods karakter verstaan, en Sy goedheid geken het, het hy verkies om sy eie selfsugtige en onafhanklike wil te volg. Hierdie keuse was finaal. Daar was niks meer wat God kon doen om hom te red nie. Maar die mens is bedrieg; sy verstand is verduister deur die Satan se drogredes. Hy het nie die hoogte en diepte van Gods liefde geken nie. Vir hom was daar hoop in 'n kennis van die liefde van God. Deur Sy karakter te aanskou, kon hy teruggebring word na God. KE 782.2
Deur Jesus is Gods genade geopenbaar aan die mens; maar die genade stel nie geregtigheid ter syde nie. Die wet openbaar die eien- skappe van Gods karakter, en nie 'n jota of tittel daarvan kon verander word om die mens tegemoet te kom in sy gevalle toestand nie. God het nie Sy wet verander nie, maar Hy het Homself opgeoffer, in Christus vir die verlossing van die mens. God het “in Christus die wêreld met Homself versoen.” 2 Kor. 5: 19. KE 782.3
Die wet eis geregtigheid —'n lewe van geregtigheid, n volmaakte karakter; en dit kon die mens nie gee nie. Hy kan nie voldoen aan die eise van Gods heilige wet nie. Maar Christus, deur na die wêreld te kom as mens, het 'n heilige lewe gelei, en 'n volmaakte karakter gevorm. Dit bied Hy aan as 'n vrye gawe aan almal wat dit graag wil hê. Sy lewe staan vir die lewe van die mens. Aldus verkry hulle vergifnis van die sonde deur die verdraagsaamheid van God. En nog meer, Christus besiel hulle met die eienskappe van God. Hy bou die menslike karakter op in die ewebeeld van die goddelike karakter, 'n goeie weefsel van geestelike krag en skoonheid. So word die gereg-tigheid van die wet vervul in die gelowige in Christus. God kan self regverdig wees “en kan regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.” Rom. 3: 26. KE 782.4
God het Sy liefde in Sy geregtigheid geopenbaar net soseer as in Sy genade. Geregtigheid is die grondslag van Sy troon, en die vrug van Sy liefde. Dit was die Satan se besliste doel om genade te skei van waarheid en geregtigheid. Hy het geprobeer om te bewys dat die geregtigheid van Gods wet 'n vyand van die vrede was. Maar Christus het gewys dat hulle in Gods plan onskeidbaar saamgevoeg is; die een kan nie bestaan sonder die ander nie. “Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar.” Ps. 85: 11. KE 783.1
Deur Sy lewe en dood het Christus bewys dat Gods geregtigheid nie Sy genade vernietig het nie, maar dat die sonde kan vergewe word, en dat die wet regverdig is en volkome gehoorsaam kan word. Die Satan se beskuldigings is weerlê. God het aan die mens onmiskenbare bewys gegee van Sy liefde. KE 783.2
Nog 'n ander bedrog is nou verkondig. Die Satan het verklaar dat genade geregtigheid vernietig het, en dat die dood van Christus die Vader se wet opgehef het. As dit moontlik was om die wet te verander of op te hef, dan sou dit nie nodig gewees het vir Christus om te sterf nie. Maar om die wet op te hef, sou die sonde verewig, en die wêreld onder die heerskappy van die Satan geplaas het. Dit was omdat die wet onveranderlik is, en omdat die mens gered kon word alleen deur gehoorsaamheid daaraan, dat Jesus aan die kruis genael is. Juis die middel waardeur Christus die wet bevestig het, is volgens die Satan die een wat dit vernietig. Die laaste groot stryd tussen Christus en die Satan sal oor hierdie punt gaan. KE 783.3
Wat die Satan nou aanvoer, is dat die wet wat deur God self gespreek is, foutief is, en dat sekere bepalings ter syde gestel is. Dit sal sy laaste groot bedrog wees. Hy hoef nie die hele wet aan te val nie; as hy die mense kan beweeg om net een gebod te veronagsaam, sal hy sy doel bereik. “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.” Jakobus 2: 10. Deur hom skuldig te maak aan die oortreding van een gebod, bring die mens homself onder die mag van die Satan. Deur die wet van 'n mens te stel in die plek van die wet van God, probeer die Satan om die wêreld onder sy heerskappy te kry. Dit word in profesie voorspel. Van die groot afvallige mag, die verteenwoordiger van die Satan, word daar gesê: “Hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word.” Dan. 7: 25. KE 783.4
Mense sal sekerlik hulle wette stel teenoor die wette van God. Hulle sal probeer om die gewete van ander te dwing, en in hulle ywer om hierdie wette te handhaaf, sal hulle hulle medemens verdruk. KE 784.1
Die oorlog teen Gods wet, wat in die hemel begin het, sal voort- gesit word tot die einde van tyd. Elke mens sal getoets word. Gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid, dit is die keuse waarvoor die hele wêreld staan. Almal sal geroep word om te kies tussen die wet van God en die wette van mense. Dit is daar waar die skeidslyn getrek sal word. Daar sal slegs twee klasse wees. Elke karakter sal ten volle ontwikkel; en almal sal toon of hulle die kant van getrouheid, of die kant van rebellie gekies het. KE 784.2
Dan sal die einde kom. God sal Sy wet regverdig en Sy kinders verlos. Die Satan, en almal wat by hom aangesluit het in sy opstand, sal vernietig word. Sonde en sondaars sal wortel en tak vergaan Mal. 4: 1—Satan, die wortel, en sy volgelinge, die takke. Die woord sal vervul word aan die vors van die boosheid, “Omdat jy jou hart gemaak het soos die hart van 'n god . . . daarom het Ek jou . . . tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gerub wat beskut. . . . Jy het 'n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.” Dan sal die goddelose “daar nie wees nie; ja jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie;” hulle sal word “asof hulle nooit bestaan het nie.” Eseg. 28: 6-19; Ps. 37: 10; Obadja 16. KE 784.3
Dit is nie die arbitrêre gebruik van mag aan die kant van God nie. Die verwerpers van Sy genade oes wat hulle gesaai het. God is die bron van die lewe, en wanneer 'n persoon die sonde kies, skei hy homself van God af, en so sny hy homself af van die lewe. Hy is “vervreemd van die lewe van God.” Christus sê, “Almal wat My haat, het die dood lief.” Efe. 4: 18; Spreuke 8: 36. God laat hulle vir 'n tyd lewe, sodat hulle hulle karakter kan ontwikkel en hulle beginsels kan openbaar. Daarna oes hulle die gevolge van hulle eie keuse. Deur 'n lewe van rebellie, sny die Satan, en almal wat met hom saamstaan, hulle so volkome van God af dat Sy teenwoordigheid vir hulle soos 'n verterende vuur is. Die heerlikheid van Hom wat liefde is, sal hulle vernietig. KE 784.4
In die begin van die groot stryd, het die engele dit nie verstaan nie. As die Satan en sy leërskare toe die gevolge van hulle sonde sou geoes het, sou hulle vergaan het; maar dan sou dit nie vir die hemelse wesens duidelik gewees het dat dit die onvermydelike gevolge van die sonde was nie. Daar sou in hulle harte twyfel bestaan het oor die goedheid van God, soos bose saad wat sy dodelike vrugte van sonde en eilende sou voortbring. KE 785.1
Maar dit sal nie so wees aan die einde van die stryd nie. Dan sal die verlossingsplan volbring wees, en die karakter van God geopenbaar word aan al die geskape wesens. Die gebooie van Sy wet sal as volmaak gesien word, en onveranderlik. Die sonde sal dan sy aard geopenbaar het, en die Satan sy karakter. Dan sal die uitroeiing van die sonde Gods liefde bewys, en Sy eer bevestig voor 'n heelal van wesens wat 'n behae het om Sy wil te doen, en in wie se harte Sy volmaakte wet is. KE 785.2
Die engele kon hulle wel verbly toe hulle die Heiland se kruis aanskou het; want alhoewel hulle toe nie alles verstaan het nie, het hulle geweet dat die vernietiging van die sonde en die Satan vir ewig verseker is, en dat die heelal vir altyd bevestig is. Christus self het die resultate van Sy soendood aan die kruis ten volle besef. Dit is daarna wat Hy vooruitgesien het toe Hy aan die kruis uitgeroep het, “Dit is volbring.” KE 785.3