Loading…
ln Sy Tempel
“DAARNA het Hy na Kapernaum afgegaan, Hy en Sy moeder en Sy broers en Sy dissipels, en hulle het daar nie baie dae gebly nie. En die pasga van die Jode was naby, en Jesus het opgegaan na Jerusalem.” KE 151.1
Op hierdie reis het Jesus aangesluit by een van die groot reisgesel- skappe wat op weg was na die hoofstad. Hy het nog nie Sy sending in die openbaar aangekondig nie, en Hy het ongemerk onder die skare beweeg. Met sulke geleenthede is die koms van die Messias wat so beklemtoon is deur Johannes in sy bediening, dikwels bespreek. Die hoop op nasionale grootheid het in baie harte opgevlam Jesus het geweet dat hulle teleurgestel sou wees, want hulle hoop het berus op 'n verkeerde vertolking van die Skrifte. Met groot erns het Hy die profesieë verduidelik, en getrag om die mense op te wek tot 'n grondiger studie van Gods Woord. KE 151.2
Die Joodse leiers het die volk geleer dat hulle te Jerusalem onderrig sou word hoe om God te aanbid. Gedurende die paasweek het groot skares byeengekom, uit alle dele van Palestina, en selfs ook uit afgeleë lande. Die tempelhowe het gewemel van 'n gemengde skare. Baie van die mense kon nie die nodige slagoffers saambring wat as tipes moes dien van die een groot Slagoffer nie. Om hulle te help, is diere gekoop en verkoop in die voorhof van die tempel. Hier het alle klasse van mense saamgedrom om hulle slagoffers te koop. Hier ook is die vreemde geld uitgewissel vir die munt van die tempel. KE 151.3
Elke Jood moes jaarliks 'n half-sikkel betaal as “losgeld vir sy lewe en die geld wat so ingevorder is, is gebruik vir die onderhoud van die tempel.” (Exod. 30: 12-16.) Daarbenewens is groot somme geld gegee as vrywillige offergawes, en in die skatkis van die tempel gestort. Buitelandse geld moes eers uitgewissel word vir munt genoem die tempel-sikkel, wat gebruik is vir die diens van die heiligdom. Hierdie besigheid het geleentheid gebied vir bedrog en afpersing wat op skandalige wyse ontwikkel het en 'n bron van inkomste vir die priesters geword het. KE 152.1
Die handelaars het ongehoorde pryse gevra vir hulle diere, en hulle het die winste gedeel met die priesters en owerstes wat hulleself bevooroordeel het ten koste van die volk. Die aanbidders is geleer om te glo dat as hulle nie offer nie, die seën van God nie sou rus op hulle kinders of hulle saailande nie. Gevolglik kon daar 'n hoë prys vir die offerdiere verkry word, want nadat hulle so ver gekom het, sou die mense nie huis toe gaan sonder om die offer te gee waarvoor hulle gekom het nie. KE 152.2
Gedurende die tyd van die Pasga is daar baie diere geoffer, en dus was die getal wat-verkoop is, groot. Omdat daar sulke verwarring geheers het, het dit soos 'n lawaaierige veemark gelyk eerder as die heilige tempel van God. Onder die gestry oor pryse, die gebulk van beeste, die geblêr van skape, en die gekoer van duiwe, is ook die geluid van klinkende munt gehoor. So groot was die rumoer dat dit die aanbidders gesteur het, en die woorde wat hulle tot die Allerhoogste gerig het, is verdring deur die geraas wat die tempel binne- gedring het. Die Jode was baie trots op hulle vroomheid. Hulle het hulle verbly in die tempel, en 'n woord daarteen gespreek, is beskou as godslastering; baie nougeset het hulle die seremonies gevolg in verband daarmee, maar die liefde vir geld het al hulle gewetensbesware gedemp. Hulle het skaars besef hoe ver hulle afgedwaal het van die oorspronklike doel van die dienste wat deur God self ingestel is. KE 152.3
Toe die Here op die berg Sinai neergedaal het, is die plek geheilig deur Sy teenwoordigheid. Moses is beveel om die berg af te kamp, en dit te heilig, en die woord van God is gehoor in die waarskuwing: “Pas op dat julle nie op die berg klim of sy voet aanraak nie. Elkeen wat die berg aanraak, moet sekerlik doodgemaak word. Geen hand mag dit aanraak nie; maar hy moet sekerlik gestenig of sekerlik met 'n pyl geskiet word; of dit 'n dier of 'n mens is — hy mag nie lewe nie.” Exod. 19: 12, 13. So is die les geleer dat die plek heilig is waar God Sy teenwoordigheid openbaar. Die terrein rondom Gods tempel moes as heilig beskou gewees het, maar in hulle gejaag na geld is dit alles uit die oog verloor. KE 153.1
Die priesters en owerstes is geroep om verteenwoordigers van God te wees vir die volk; dit was hulle plig om die misbruik van die tempelhowe te belet. Hulle moes 'n voorbeeld van opregtheid en barmhartigheid aan die volk gestel het. Pleks van hulle eie belange te bevorder, moes hulle gedink het aan die behoeftes van die aanbidders, en hulle moes bereid gewees het om diegene te help wat nie in Staat was om die nodige slagoffers te koop nie. Maar dit het hulle nie gedoen nie. Hebsug het hulle harte verhard. KE 155.1
Na die fees het lydendes gekom, mense wat behoeftig en ellendig was. Die blindes, die lammes, die dowes, was daar. Sommige is op beddens daarheen gebring. Baie het gekom, te arm vir selfs die nederigste offergawe aan die Here, of om voedsel te koop om hulle honger te stil. Hierdie mense was baie teleurgestel oor die verklarings van die priesters. Die priesters het gespog met hulle vroomheid; hulle het voorgegee om die beskermers van die volk te wees, maar hulle was sonder medelyde of ontferming. Tevergeefs het die armes, die siekes, en die sterwendes hulle op hulle hulp beroep. Hulle lyding het geen jammerte in die harte van die priesters gewek nie. KE 155.2
Toe Jesus die tempel binnekom, het Hy die hele toneel gesien. Hy het die onregverdige transaksies gesien. Hy het die eilende van die armes gesien, wat gedink het dat daar sonder bloedvergieting geen vergifnis van hulle sondes sou wees nie. Hy het gesien hoedat die buitenste voorhof van die tempel in n onheilige handelsplek verander is. Die heilige vertrek het een groot geldmark geword. KE 155.3
Christus het gevoel dat iets gedoen moes word. Die volk moes deelneem aan talryke seremonies sonder die nodige onderrig aangaande die betekenis. Die aanbidders het hulle slagoffers geoffer sonder om te verstaan dat hulle tipes was van die enigste volmaakte Slagoffer. Onder die mense, dog nie herken of geëer nie, het die Een gestaan wat die teenbeeid van hulle hele diens was. Hy het die voorskrifte gegee vir die offers. Hy het hulle simboliese betekenis verstaan, maar nou het Hy gesien hoedat alles verdraai en verkeerd verstaan is. Ware geestelike aanbidding was vinnig aan die verdwyn. Geen skakel het die priesters en owerstes met God verbind nie. Dit was die werk van Christus om 'n heeltemal nuwe godsdiens in te stel. Met een oogopslag het Christus, waar Hy daar op die trappe van die tempelvoorhof gestaan het, die hele toneel opgeneem. Met profetiese oog het Hy in die toekoms gekyk, en nie net jare nie, maar eeue vooruitgesien. Hy het gesien hoedat priesters en owerstes die behoeftiges van hulle regte sou hou en belet dat die evangelie aan die armes verkondig word. Hy het gesien hoedat die liefde van God verberg sou word vir sondaars, en hoe mense sou handel dryf met Sy genade. Waar Hy die toneel aanskou het, is daar verontwaardiging, gesag, en krag in Sy gelaat gesien. Die aandag van die mense is op Hom gevestig. Die oë van diegene wat besig was met hulle onheilige handel, is stip op Hom gevestig. Hulle kan nie hulle oë afwend nie. Hulle voel dat hierdie man hulle gedagtes lees, en hulle bedekte motiewe sien. Sommige van hulle probeer om hulle gesigte te bedek asof hulle sondige dade op hulle gelaat geskryf staan om deur daardie deurdringende oë gelees te word. KE 155.4
Daar het stilte gekom. Die gepraat en gestry het opgehou. Die stilte was ondraaglik. Heilige vrees het oor die mense gekom. Dit was asof hulle voor die regbank van God staan om rekenskap te gee van hulle dade. Waar hulle op Christus kyk, het hulle gesien hoedat die godheid deur Sy mensheid straal. Die Majesteit van die hemel het gestaan soos die Regter op die laaste dag sal staan — nie nou omring van die heerlikheid wat Hy dan sal hê nie, maar met dieselfdc mag om die siel te lees. Sy oog gaan oor die skare, en Hy neem elke indiwidu op. Dit skyn asof Sy gedaante bokant almal uitstaan met gesaghebbende waardigheid, en 'n goddelike glans is op Sy gelaat. Hy praat, en Sy helder stem — dieselfde wat op Sinai die wet afgekondig het wat die priesters nou oortree het — word weergalmend gehoor deur die gange van die tempel: “Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van My Vader 'n handelshuis maak nie.” KE 156.1
Langsaam is Hy met die trappe af, en met die sweep van toutjies wat Hy opgetel het toe Hy die voorhof binnegekom het, omhoog in Sy hand, het Hy die wisselaars gebied om die heilige grond van die tempel te verlaat. Met n ywer en vasberadenheid wat Hy nog nooit tevore geopenbaar het nie, het Hy die tafels van die wisselaars om- gekeer. Die geld het klinkend geval op die marmer plaveisel. Niemand het dit gewaag om Hom te vra op wie se gesag Hy handel nie. Nie een van hulle het vertoef om sy geld op te tel nie. Jesus het hulle nie gestriem met die sweep van toutjies nie, maar in Sy hand het die eenvoudige sweep gelyk soos 'n vlammende swaard. Beamptes van die tempel, priester-spekulante, geldwisselaars en beeshandelaars, met hulle skape en beeste, het van die plek gevlug, met net die een doel, naamlik om te ontkom aan Sy veroordelende teenwoordigheid. KE 156.2
Daar was paniek onder die skare wat die mag van Sy godheid gevoel het. Noodkrete is gehoor van honderde wat hulle bleek geskrik het. Selfs die dissipels het gebewe. Hulle was vreesbevange ten gevolge van die woorde en optrede van Jesus, so anders as gewoonlik. Hulle het onthou dat daar van Hom geskryf is, “Die ywer vir U huis het My verteer.” Ps. 69: 10. Binne 'n kort tydjie was die rumoerige skare met hulle handelsware ver verwyder van die tempel van die Here. Die tempelhowe is gereinig van hulle onheilige handel, en 'n groot stilte het neergesak op die toneel van verwarring. Die teenwoordigheid van die Here wat in die verlede die berg geheilig het, het nou die tempel wat ter ere van Hom gebou is, geheilig. KE 157.1
In die reiniging van die tempel het Jesus Sy sending aangekondig as die Messias, en Sy werk aanvaar. Die tempel, opgerig vir die goddelike teenwoordigheid, was bedoel as aanskouelike les vir Israel en vir die wereld. Van die voortyd af was dit Gods doel dat elke geskape wese, van die heilige serafs tot die mens, n tempel moet wees vir die inwoning van die Skepper. Ten gevolge van die sonde het die mens opgehou om Gods tempel te wees. Verduister en besoedel deu: die sonde, het die hart van die mens nie langer die heerlikheid van God geopenbaar nie. Maar deur die vleeswording van die Seun van God, is die doel van die Hemel verwesenlik. God woon in die mensheid, en deur Sy reddende genade word die hart van die mens weer Sy tempel. Dit was Gods doel dat die tempel te Jerusalem n gedurige getuie sou wees van die hoë roeping wat daar vir elke siel moontlik is. Maar die Jode het nie die betekenis verstaan van die gebou wat hulle met soveel trots betrag het nie. Hulle het hulle nie oorgegee as heilige tempels van die goddelike Gees nie. Die voorhowe van die tempel te Jerusalem, gevul met die rumoer van onheilige handel, was 'n ware voorstelling van die menslike hart, besoedel met die teenwoordigheid van vleeslikheid en onreine gedagtes. In die reiniging van die tempel van die wereldse kopers en verkopers, het Jesus Sy werk aangekondig van die reiniging van die hart van die besoedeling van die sonde — van die aardse begeertes, die vleeslike welluste, en die sondige gewoontes wat die siel besmet. “Dan sal skielik na Sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle 'n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die Here van die leërskare. Maar wie kan die dag van Sy koms verdra? En wie sal standhou as Hy verskyn ? Want Hy sal wees soos die vuur j van die smelter en soos die seep van die wassers. En Hy sal sit: 'n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en silwer.” Mal. 3: 1-3. KE 157.2
“Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig en dit is julle.” 1 Kor. 3: 16, 17. Geen mens kan uit eie krag die bose bende uitwerp wat besit van sy hart geneem het nie. Christus alleen kan die sielstempel reinig. Maar Hy sal nie met geweld binnekom nie. Hy kom nie na die hart soos na die tempel van ouds nie; maar Hy sê, “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oop- maak, sal Ek ingaan na hom toe.” Openb. 3: 20. Hy sal kom, nie net vir een dag nie, want Hy sê, “Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, . . . en hulle sal vir My 'n volk wees.” “U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.” 2 Kor. 6: 16; Miga 7: 19. Sy teenwoordigheid sal die siel reinig en heilig, sodat dit 'n heilige tempel vir die Here sal wees, “tot 'n woning van God in die Gees.” Efe. 2:21, 22. KE 158.1
Oorweldig van vrees het die priesters en owerstes gevlug van die voorhof van die tempel, en van die deurdringende oë wat hulle harte gelees het. Toe hulle van die tempel af weggevlug het, het hulle ander ontmoet wat op weg was na die tempel, en het hulle gewaarsku om nie te gaan nie, en hulle vertel wat hulle gesien en gehoor het. Christus het na die vlugtendes gekyk met 'n diepgaande jammerte vir hulle vrees, en hulle onkunde van wat ware aanbidding was. In hierdie toneel het Hy 'n simbool gesien van die verstrooiing van die hele Joodse volk oor hulle sondes en onboetvaardigheid. KE 158.2
En waarom het die priesters gevlug van die tempel af? Hoekom het hulle nie hulle man gestaan nie? Die Een wat hulle beveel het om te gaan, was 'n timmerman se seun, 'n arme Galileër, sonder enige aardse rang of mag. Waarom het hulle Hom nie weerstaan nie? Waarom het hulle hulle winste laat lê wat hulle deur bedrog verkry het, en gevlug op bevel van iemand wat uiterlik so gering was? KE 158.3
Christus het gespreek met die gesag van 'n koning, en in Sy voorkomste en stembuiging was daar iets wat hulle geen mag gehad het om te weerstaan nie. Op daardie bevelwoord het hulle hulle ware posisie as huigelaars en rowers besef. Toe die godheid deur die mensheid geflits het, het hulle nie alleen verontwaardiging op Christus se gelaat gesien nie; hulle het die betekenis van Sy woorde begryp. Dit het gevoel asof hulle voor die troon van die ewige Regter staan en die vonnis vir tyd en die ewigheid aangehoor het. Vir 'n tyd was hulle oortuig dat Christus 'n profeet was, en vele het in Hom geglo as die Messias. .Die Heilige Gees het in hulle harte die woorde van die profete aangaande Christus geflits. Sou hulle handel op daardie oortuiging? KE 159.1
Hulle wou hulle nie bekeer nie. Hulle het geweet dat Christus se medelyde vir die armes opgewek was. Hulle het geweet dat hulle skuldig was aan afpersing in hulle transaksies met die volk. Omdat Christus hulle gedagtes gelees het, het hulle Hom gehaat. Hulle hoogmoed is gekwes toe Hy hulle in die openbaar bestraf het, en hulle was afgunstig op Sy toenemende invloed onder die mense. Hulle het besluit om Hom te ondervra aangaande die mag waardeur Hy hulle uitgedryf het, en wie Hom daardie mag gegee het. KE 159.2
Langsaam en bedagsaam, maar met haat in hulle harte, het hulle na die tempel teruggekeer. Maar wat 'n verandering het daar in hulle afwesigheid plaasgevind! Toe hulle gevlug het, het die armes agtergebly; hulle het nou na Jesus gekyk op wie se gelaat hulle Sy liefde en medelyde gesien het. Met trane in Sy oë het Hy aan die bewendes rondom Hom gesê: Moenie vrees nie; Ek sal julle verlos, en julle sal My verheerlik. Hiervoor het Ek in die wêreld gekom. KE 159.3
Die mense het na Hom toe gekom met dringende, hartroerende versoeke: Meester, seën my. Sy oor het elke versoek gehoor. Met ontferming groter as die van 'n tere moeder, het Hy neergebuig oor die lydendes. Almal het Sy aandag geniet. Elkeen is genees van die siekte waaraan hy gely het. Die stommes het Hom geloof; die blindes het die aangesig van hulle Heelmeester gesien. Die harte van die lyers is blygemaak. KE 159.4
Wat 'n openbaring was die geluide wat hulle gehoor het, vir die priesters en tempeldienaars wat hierdie groot werk gesien het! Die mense het vertel van die pyn wat hulle gely het, van hulle teleurgestelde hoop, van dae van pyn en slapelose nagte. Toe dit geskyn het dat die laaste vonkie van hoop uitgeblus was, het Christus hulle genees. Die las was so swaar, het een gesê, maar ek het 'n Helper gevind. Hy is die Christus van God, en ek sal my hele lewe wy aan Sy diens. Ouers het aan hulle kinders gesê: Hy het jou lewe gered, verhef jou stem en loof Hom. Die stemme van kinders en jongmense, vaders en moeders, vriende en toeskouers, het saamgesmelt in danksegging aan God. Hulle harte is vervul met hoop en blydskap. Vrede het in hulle gemoed gekom. Hulle is genees in liggaam en siel; hulle is huis toe, en het orals vertel van die grenslose liefde van Jesus. KE 159.5
Tydens die kruisiging van Jesus, het diegene wat genees is, nie saam met die gepeupel geskreeu nie. Hulle het medelyde met Jesus gehad; want hulle was die ontvangers van Sy groot medelyde en het Sy wonderbare krag gevoel. Hulle het Hom geken as hulle Verlosser, want Hy het aan hulle genesing van liggaam en siel gebring. Hulle het geluister na die prediking van die apostels, en die ingang van Gods Woord in hulle harte het hulle wysheid gegee. Hulle het werk- tuie van Gods genade geword en van Sy verlossing. KE 160.1
Die skare wat van die tempel gevlug het, het ook na 'n tydjie begin terugkom. Hulle het gedeeltelik herstel van die paniek wat hulle beetgepak het, maar op hulle gesigte was daar 'n uitdrukking van besluiteloosheid en vrees. Hulle het met verbasing die werk van Jesus aanskou, en was oortuig dat die voorspellings aangaande die Messias in Hom vervul is. Die sonde van tempelontheiliging het grotendeels op die priesters gerus. Dit was ten gevolge van hulle reëling dat die voorhof van die tempel in 'n markplaas verander is. Die mense self was in 'n groot mate onskuldig. Die goddelike gesag van Jesus het 'n indruk op hulle gemaak, maar by hulle het die invloed van die priesters en owerstes nog die botoon gevier. Hulle het Christus se werk beskou as 'n nuwigheid, en het Sy reg om in te meng met wat die tempeloutoriteite toegelaat het, in twyfel getrek. Hulle was gebelg omdat die handel daar versteur is, en hulle het die oortuigings van die Heilige Gees geblus. KE 160.2
Van alle ander moes die priesters en owerstes in Jesus die gesalfde van die Here gesien het; want die heilige rolle wat Sy sending beskryf het, was in hulle besit, en hulle het geweet dat die reiniging van die tempel 'n openbaring van meer as menslike krag was. Hoe hulle Jesus ook gehaat het, kon hulle nie die gedagte van hulle afskud me dat Hy moontlik 'n profeet is, deur God gestuur, om die heiligheid van die tempel te herstel. Met 'n eerbied gebore uit vrees, het hulle na Hom gegaan met die vraag, “Watter teken wys U vir ons, dat U hierdie dinge doen?” KE 160.3
Jesus het hulle 'n teken gewys. Deur lig in hulle harte te laat skyn, en deur voor hulle die werke te doen wat die Messias sou doen, het Hy afdoende bewys gegee van Sy karakter. Toe hulle nou om n teken vra, het Hy hulle deur middel van 'n gelykenis geantwoord, wat aangetoon het dat Hy bewus was van hulle kwaadwilligheid, en die dade waartoe dit hulle nog sou lei. “Breek hierdie tempel af, het Hy gesê,” “en in drie dae sal Ek dit oprig.” KE 161.1
Hierdie woorde van Hom het 'n tweevoudige betekenis gehad. Hy het gesinspeel, nie alleen op die verwoesting van die Joodse tempel en godsdiens nie, maar ook op Sy eie dood — die afbreking van die tempel van Sy liggaam. Die Jode was alreeds besig met sulke planne. Toe die priesters en owerstes na die tempel teruggegaan het, het hulle 'n plan gehad om Hom dood te maak, om so ontslae te raak van die beroerder. En tog, toe Hy hulle plan aan hulle openbaar, het hulle Hom nie verstaan nie. Hulle het Sy woorde opgeneem as verwysende na die tempel te Jerusalem, en met verontwaardiging het hulle uitgeroep, “Ses-en-veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig?” Hulle het nou gevoel dat Jesus hulle ongeloof geregverdig het, en hulle verwerping van Hom was 'n uit- gemaakte saak. KE 161.2
Dit was nie Christus se plan dat die ongelowige Jode Sy woorde moes verstaan nie, en ook nie Sy dissipels in daardie tyd nie. Hy het geweet dat Sy vyande dit verkeerd sou opneem en dit teen Hom sou gebruik. By Sy verhoor sou dit as beskuldiging teen Hom ingebring word, en op Golgota sou hulle Hom daarmee smaad. As Hy Sy woorde nou aan Sy dissipels verduidelik het, sou dit hulle kennis gegee het van Sy lyde en droefheid wat hulle nie sou kon dra nie. En dan nog, 'n verduideliking sou vóór die tyd aan die Jode die gevolge van hulle vooroordeel en ongeloof geopenbaar het. Alreeds het hulle die weg ingeslaan wat hulle vasberade sou volg totdat Hy soos 'n lam ter slagting gelei word. KE 161.3
Dit was vir diegene wat in Hom sou glo, dat Christus hierdie woorde gespreek het. Hy het geweet dat hulle oorvertel sou word. Daar hulle by die Paasfees geuiter is, sou duisende hulle te hore kom, en hulle sou na alle dele van die wêreld gedra word. Ná Sy opstanding uit die dood sou hulle betekenis duidelik word. Vir vele sou hulle afdoende bewys wees van Sy godheid. KE 161.4
Om rede hulle geestelike duisternis het selfs Sy dissipels dikwels nie Sy lesse verstaan nie. Maar latere gebeurtenisse het die betekenis van baie van hierdie lesse vir hulle verstaanbaar gemaak. Toe Hy nie meer met hulle gewandel het nie, het Sy woorde hulle harte versterk. KE 162.1
In hulle betrekking op die tempel van Jerusalem het die Heiland se woorde, “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal ek dit oprig,” 'n dieper betekenis gehad as wat die hoorders besef het. Christus was die fondament en lewe van die tempel. Die dienste daarin was tipes van die soendood van die Seun van God. Die priesterdom is in die lewe geroep om die middelaarswerk van Christus voor te stel. Die hele offerstelsel was n skaduwee van die Heiland se dood om die wêreld te red. Hierdie offers sou geen waarde meer hê wanneer die groot gebeurtenis waarna hulle vooruitgewys, plaasgevind het nie. KE 162.2
Aangesien die hele rituaal simbolies was van Christus, het dit geen waarde sonder Hom gehad nie. Toe die Jode hulle verwerping van Christus verseël het deur Hom in die dood oor te lewer, het hulle alles verwerp wat betekenis gegee het aan die tempel en sy dienste. Die heiligheid daarvan het gewyk. Dit was tot verwoesting gedoem. Van daardie dag af was die slagoffers en die dienste in verband daarmee, betekenloos. Soos die offer van Kain, het hulle nie geloof in die Verlosser geopenbaar nie. Deur Christus om die lewe te bring, het die Jode feitelik hulle tempel vernietig. Toe Christus gekruisig is, is die binneste voorhangsel van die tempel van bo na onder geskeur as teken dat die groot Soenoffer geslag is, en dat die offerstelsel vir altyd ten einde geloop het. KE 162.3
“In drie dae sal Ek dit oprig.” Met die dood van die Verlosser het dit geskyn of die magte van die duisternis die oorwinning behaal het, en hulle het hulle verbly in hulle oorwinning. Maar uit die geopende graf van Josef het Jesus voortgekom as oorwinnaar, “Nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar ten toon gestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.” Kol. 2: 15. Op grond van Sy dood en opstanding het Hy 'n bedienaar geword van “die ware tabernakel wat die Here opgerig het en nie 'n mens nie.” Heb. 8: 2. Mense het die Joodse tabernakel opgerig, en mense het die Joodse tempel gebou, maar die heiligdom daarbo, waarvan die aardse n tipe was, is nie deur 'n menslike argitek gebou nie. “Kyk, daar kom ´n man wie se Naam is Spruit, . . . en Hy sal die tempel van die Here bou en Hy sal majesteit verkry en sit om te heers op Sy troon; ook sal Hy 'n priester wees op Sy troon.” Sag. 6: 12, 13. KE 162.4
Die offerstelsel wat gewys het op Christus het ten einde geloop, maar die oë van die mense is gevestig op die ware Soenoffer vir die sondes van die wêreld. Die aardse priesterskap het verval, maar ons sien op Jesus, die middelaar van die nuwe verbond, en op “die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.” “Die weg na die heiligdom [was] nog nie geopen . . . solank die eerste tabernakel nog standhou nie. . . . Maar Christus wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie . . . deur Sy eie bloed, eenmaal ingegaan in die heiligdom en n ewige versoening teweeg gebring.” Heb. 12: 24; 9: 8-12. KE 163.1
“Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” Heb. 7:25. Hoewel die bediening van die aardse na die hemelse tempel verskuif sou word, en alhoewel die heiligdom van ons grote Hoëpriester nie sigbaar vir ons oë sou wees nie, sou die dissipels nogtans geen verlies daardeur ly nie. Hulle sou geen onderbreking in hulle gemeenskap en geen vermindering van hulle krag ondervind ten gevolge van die Heiland se afwesigheid nie. Terwyl Jesus dien in die hemelse heiligdom, is Hy deur Sy Gees nog die bedienaar van die kerk op aarde. Hy is nie meer sigbaar vir die vleeslike oog nie, maar Sy afskeids- belofte is vervul, “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Matt. 28: 20. Hoewel Hy Sy krag meedeel aan bedienaars, is Sy besielende teenwoordigheid nog in Sy kerk. KE 163.2
“Terwyl ons dan 'n groot Hoëpriester het, . . . naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie n Hoëpriester wat nie met ons swakhede kan medelyde hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” Heb.4: 14-16. KE 163.3