Loading...

Loading

Loading
(You are in the browser Reader mode)

Nikodemus

NIKODEMUS het 'n hoë en verantwoordelike pos beklee onder die Joodse volk. Hy was goed geleerd, was buitengewoon I talentvol en hy was 'n geëerde lid van die nasionale raad. Soos by ander het die leer van Jesus 'n diep indruk op hom gemaak. Hoewel hy ryk en geleerd en geëerd was, het hy hom tog aangetrokke gevoel tot die nederige Nasarener. Die lesse wat hy van die Heiland se lippe gehoor het, het hom diep getref, en hy wou graag meer van daardie wonderbaarlike waarhede hoor. KE 165.1

Die gesag wat Christus gebruik het by die reiniging van die tempel, het die haat verwek van die priesters en owerstes. Hulle het die mag van hierdie vreemdeling gevrees. Sulke vrypostigheid van n onbekende Galileër sou hulle nie gedoog nie. Hulle het hulle beywer om Sy werk tot 'n end te bring. Maar nie almal was dit hieroor eens nie. Daar was sommige wat bang was om die Een te weerstaan wat so klaarblyklik deur die Gees van God gelei is. Hulle het onthou hoedat profete gedood is omdat hulle die sondes van die leiers van Israel bestraf het. Hulle het geweet dat hulle onderwerping aan 'n heidense volk die gevolg was van hulle hardnekkige verwerping van die teregwysings van God. Hulle het gevrees dat die priesters en owerstes in hulle bose planne teen Jesus besig was om te volg in die voetstappe van hulle vaders, en dat dit nuwe rampe op die volk sou bring. Nikodemus was een van die wat so gevoel het. Op 'n vergadering van die Sanhedrin, waar die stappe wat hulle teen Jesus sou doen, bespreek is, het Nikodemus hulle gemaan tot versigtigheid en moderasie. KE 165.2

Hy het aangevoer dat as Jesus regtig gehandel het op gesag van God, dit baie gevaarlik sou wees om Sy waarskuwings te verwerp. Die priesters kon dit nie waag om hierdie raad te veronagsaam nie, en vir 'n tyd het hulle nie opgetree teen die Heiland nie. KE 166.1

Vandat hy Jesus gehoor het, het Nikodemus ernstig die profesiee aangaande die Messias ondersoek; en hoe meer hy ondersoek het, hoe sterker was sy oortuiging dat dit die Een was wat sou kom. Saam met baie ander in Israel was hy gegrief oor die ontheiliging van die tempel. Hy het gesien hoe Jesus die kopers en verkopers uitgedryf het, hy het die wonderbaarlike openbaring van goddelike krag gesien; hy het gesien hoedat die Heiland die armes ontvang, en die siekes genees het, hy het hulle blydskap gesien en hulle woorde van lof gehoor: en hy kon nie twyfel dat Jesus van Nasaret die Een was wat deur God gestuur is nie. KE 166.2

Hy wou baie graag 'n onderhoud met Jesus hê, maar het nie die moed gehad om Hom openlik te gaan spreek nie. Dit sou te vernederend vir 'n owerste van die Jode gewees het om te erken dat hy saam gevoel het met so n onbekende leraar. En as die Sanhedrin sou hoor van sy besoek, sou hulle hom verag en bestraf het. Hy het toe besluit om n geheime onderhoud te hê, met die verskoning dat as hy openlik sou gaan, ander sy voorbeeld sou volg. Nadat hy deur navraag verneem het van die Heiland se woonplek op die Olyfberg, het hy gewag totdat die stad geslaap het, en Hom toe gaan opsoek. KE 166.3

In die teenwoordigheid van Christus, het Nikodemus 'n vreemde senuweeagtigheid gevoel wat hy wou verberg onder sy waardigheid. “Rabbi,” het hy gesê, “ons weet dat U 'n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.” Deur te praat van Christus se begaafdheid as leraar, en ook van Sy wonderbare krag om wonderwerke te doen, het hy gehoop om die weg te berei vir sy onderhoud. Sy woorde was bedoel om vertroue uit te lok; maar inderwaarheid het hulle ongeloof geopen baar. Hy het Jesus nie erken as die Messias nie, maar slegs as 'n leraar wat van God gekom het. KE 166.4

Pleks van hierdie begroeting te beantwoord, het Jesus stip na die spreker gekyk asof Hy sy siel gelees het. In Sy groot wysheid het Hy voor Hom 'n soeker na die waarheid gesien. Hy het die doel van die besoek geken, en met 'n begeerte om die oortuiging te verdiep wat alreeds in die besoeker se hart was, het Hy sommer reg op die man af gekom deur ernstig, dog vriendelik te sê, “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Joh. 3: 3. KE 167.1

Nikodemus het na die Here gekom, hopende om 'n gesprek met Hom aan te knoop, maar Jesus het aan hom die grondbeginsels van die waarheid geopenbaar. Hy het aan Nikodemus gesê dat dit nie soseer teoretiese kennis was waaraan hy behoefte gehad het nie, maar liewer 'n geestelike wedergeboorte. Wat jy nodig het, is nie om jou nuuskierigheid te bevredig nie, maar 'n nuwe hart. Jy moet 'n nuwe lewe van omhoog ontvang voordat jy hemelse dinge sal waardeer. Aleer hierdie verandering plaasvind waarin alle dinge nuutgemaak word, sal dit tog nie vir jou redding bring om met My te praat oor die gesag van My sending nie. KE 167.2

Nikodemus het die prediking van Johannes die Doper gehoor aangaande bekering en die doop, asook wat hy gesê het oor die Een wat met die Heilige Gees sou doop. Hy self het gevoel dat daar 'n gebrek aan geestelikheid onder die Jode was, en dat hulle, in 'n groot mate, dweepsugtig en vol wêreldse eersugtigheid was. Hy het gehoop dat daar 'n beter toestand van sake sou kom met die koms van die Messias. Maar die hartdeursoekende boodskap van die Doper het hom nie tot oortuiging van sonde gebring nie. Hy was n nougesette Fariseër, en het homself beroem op sy goeie werke. Hy het hoog aangeskryf gestaan weens sy welwillendheid, en sy vrygewigheid teenoor die onderhouding van die tempeldienste; hy was seker dat hy in die guns van God was. Hy was verbaas om te hoor van 'n koninkryk wat te rein was vir hom om te sien in sy huidige toestand. KE 167.3

Die beeld van die wedergeboorte, wat Jesus gebruik het, was nie heeltemal onbekend vir Nikodemus nie. Bekeerlinge uit die heidendom tot die geloof van Israel is dikwels vergelyk met pasgebore kindertjies. Hy moes dus geweet het dat die woorde van Christus nie in 'n letterlike sin opgeneem moes word nie. Maar kragtens sy geboorte as n Israeliet het hy homself beskou as iemand wat seker kon wees van n plek in Gods koninkryk. Hy het nie gevoel dat hy 'n verandering nodig gehad het nie. Dit verklaar sy verbasing oor die Heiland se woorde. Hy het hom vererg omdat hulle regstreeks op hom toe- gepas is. Die hoogmoed van die Fariseër het in botsing gekom met die opregte begeerte van die soeker na waarheid. Hy was verbaas dat Christus so tot hom kon spreek, sonder om sy posisie as owerste in Israel in aanmerking te neem. KE 167.4

Hy was so verbaas dat hy nie langer op sy hoede was nie, en het Christus ironies geantwoord, “Hoe kan 'n mens as hy oud is, gebore word?” Net soos baie ander wanneer hulle getref word deur snydende waarheid, het hy die feit geopenbaar dat die vleeslike mens nie die dinge van die Gees van God kan verstaan nie. Daar was in hom niks wat kon reageer op geestelike dinge nie, want geestelike dinge word geestelik beoordeel. KE 168.1

Maar die Heiland het nie argument met argument beantwoord nie. Plegtig en met groot waardigheid het Hy Sy hand opgehef en die waarheid met groter sekerheid herhaal, “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.” Nikodemus het geweet dat Christus hier bedoel het die waterdoop en die vernuwing van die hart deur die Gees van God. Hy was nou oortuig dat hy in die teenwoordigheid was van die Een wie se koms Johannes voorspel het. KE 168.2

Jesus het voortgegaan: “Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.” Van nature is die hart boos; “kon maar 'n reine voortkom uit 'n onreine? Nie een nie.” Job 14: 4. Geen menslike vernuf kan 'n raat voortbring vir die sondige hart nie. “Omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.” “Want uit die hart kom daar siegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, die- wery, valse getuienis, lastertaal.” Matt. 15: 19. Die fontein van die hart moet gereinig word voordat die strome daaruit rein kan wees. Die een wat probeer om die hemel binne te gaan deur sy eie pogings om die wet te hou, probeer die onmoontlike. Daar is geen veiligheid vir die persoon wat slegs 'n wettiese godsdiens en 'n vorm van godsaligheid het nie. Die Christen se lewe is nie 'n wysiging of ver betering van die ou lewe nie, maar 'n verandering van sy natuur. Daar is 'n afsterwe van die eie-ek en die sonde, en n heeltemal nuwe lewe. Hierdie verandering kan alleen kom deur die werking van die Heilige Gees. KE 168.3

Nog steeds was Nikodemus verbyster, en Jesus het toe die wind as simbool gebruik om toe te lig wat Hy bedoel het: “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarnatoe hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. KE 169.1

Die wind word gehoor in die takke van die bome, tussen die blare en die blomme, maar hy is onsigbaar, en niemand weet waarvandaan hy kom of waarheen hy gaan nie. So is dit ook met die werk van die Heilige Gees in die hart; dit kan net so min verklaar word as die bewegings van die wind: 'n Persoon mag miskien nie in staat wees om die juiste tyd en plek aan te wys, of al die omstandighede te noem wat tot sy bekering gelei het nie, maar dit bewys nie dat hy nie tot bekering gekom het nie. Deur 'n werktuig net so onsigbaar as die wind werk Christus gedurig in die hart. Geleidelik, miskien sonder dat die ontvanger daarvan weet, word daar indrukke gelaat wat die siel tot Christus trek. Hulle mag kom deur oor Hom te dink, deur die lees van die Skrifte, of deur die woord van n prediker. Skielik,wanneer die Gees 'n regstreekse beroep doen, gee die siel homself blymoedig oor aan Jesus. Sommige noem dit 'n skielike bekering,maar dit is die gevolg van 'n langdurige werking van die Gees van God—'n geduldige, uitgerekte proses. KE 169.2

Hoewel die wind self onsigbaar is, kan die uitwerking gesien en gevoel word. So sal ook die werk van die Gees in die siel sigbaar word in elke daad van die persoon wat sy reddende krag voel. Wanneer die Gees van God besit neem van die hart, verander dit die lewe. Sondige gedagtes word verban, en bose dade versaak; liefde, nederigheid, en vrede neem die plek in van woede, afguns, en strydlustigheid. Vreugde vervang droefheid, en die gelaat straal van die lig van die hemel. Niemand sien die hand wat die las wegneem, of die lig wat neerdaal van die hemelse howe daarbo nie. Die seën kom wanneer die siel homself in geloof aan God oorgee. Dan skep daardie krag wat geen menslike oog kan sien nie, 'n nuwe wese in die beeid van God. KE 169.3

Dit is onmoontlik vir die beperkte menslike verstand om die ver-lossingswerk te verstaan. Dit is 'n verborgenheid wat bokant die menslike verstand is, en nogtans ondervind die een wat uit die dood tot die lewe oorgaan 'n goddelike werklikheid. Die begin van die verlossing kan ons alreeds hier persoonlik ondervind. Die gevolge daarvan strek deur die ewigheid. KE 169.4

Terwyl Jesus besig was om te praat, het strale van die waarheid deurgedring tot die verstand van die owerste. Die versagtende, vreed- same invloed van die Heilige Gees het 'n indruk op sy hart gemaak. Maar hy het nog nie ten volle die Heiland se woorde verstaan nie. Hy het nie soseer onder die indruk van die noodsaaklikheid van die wedergeboorte gekom as die wyse waarop dit bewerk word nie. Verbaas het hy gesê, “Hoe kan hierdie dinge gebeur?” KE 170.1

“Jy is 'n leraar van Israel en weet jy hierdie dinge nie?” het Jesus gevra. Iemand aan wie die godsdiens-onderrig van die volk toevertrou is, behoort seker tog nie onkundig te wees aangaande sulke belangrike waarhede nie. Met hierdie woorde wou Jesus dit aan die verstand van Nikodemus bring dat hy, pleks van gesteurd te voel oor die duidelike waarheid, baie ootmoedig behoort te wees oor sy geestelike onkunde. Christus het egter met so 'n plegtige waardigheid gespreek, en Sy uitdrukking en stem het sulke op regte liefde geopenbaar, dat Nikodemus glad nie geafïronteer gevoel het toe hy besef dat hy verneder was nie. KE 170.2

Maar toe Jesus verduidelik het dat Sy koms na die aarde die stigting van 'n geestelike, pleks van 'n stoflike, koninkryk ten doel gehad het, was Sy hoorder ontstel. Toe Jesus dit merk, het Hy gesê, “As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?” As Nikodemus Jesus se leer aangaande die werk van genade in die hart nie kon aanneem nie, hoe sou hy die aard van die heerlike hemelse koninkryk kon begryp? As hy nie die aard van Christus se werk op aarde kon sien nie, sou hy nie Sy werk in die hemel verstaan nie. KE 170.3

Die Jode wat deur Christus uit die tempel verdryf is, het daarop aanspraak gemaak dat hulle die kinders van Abraham was, maar hulle het van die Heiland se teenwoordigheid weggevlug omdat hulle nie die heerlikheid van God kon verduur wat in Hom geopenbaar was nie. Daardeur het hulle bewys dat hulle nie deur die genade van God geskik was om deel te neem aan die heilige dienste van die- tempel nie. Hulle was baie ywerig om die skyn van heiligheid te bewaar, maar die heiligheid van hulle hart het hulle verwaarloos. Terwyl hulle baie gesteld was op die letter van die wet, het hulle gedurig die gees daarvan oortree. Hulle groot behoefte was juis aan daardie verandering wat Jesus aan Nikodemus verduidelik het, naamlik n nuwe sedelike geboorte, reiniging van die sonde, 'n vernuwing in kennis en heiligheid. KE 170.4

Daar was geen ekskuus vir Israel oor hulle onkunde aangaande die wedergeboorte nie. Onder ingewing van die Heilige Gees, het Jesaja geskryf, “Ons het almal geword soos 'n onreine, en al ons geregtighede soos 'n besoedelde kleed.” Dawid het gebid, “Skep vir my n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my n vaste gees.” KE 171.1

En deur Esegiël is die belofte gegee, “Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sál die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee. En Ek sal My Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in My insettinge wandel en My verordeninge onderhou en doen.” Jes 64: 6; Ps. 51: 12, Eseg. 36: 26, 27. KE 171.2

Nikodemus het hierdie skrifte met 'n beneweide verstand gelees, maar nou het hy hulle betekenis begin verstaan. Hy het gesien dat die mees nougesette gehoorsaamheid aan die letter van die wet, toegepas op die uiterlike lewe, 'n mens nie die reg gee om die koninkryk van die hemel binne te gaan nie. Volgens die maatstaf van mense was sy lewe regverdig en eerlik, maar in die teenwoordigheid van Christus het hy gevoel dat sy hart onrein was, en sy lewe onheilig. KE 171.3

Nikodemus het aangetrokke gevoel tot Christus. Toe die Heiland aan hom die wedergeboorte verduidelik het, het hy verlang na daardie verandering. Hoe sou dit bewerkstellig kon word? Jesus het sy on- uitgesproke vraag beantwoord: “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” KE 171.4

Nou was Nikodemus op grond wat hy geken het. Die simbool van die verhoogde slang het die sending van die Heiland aan hom verstaanbaar gemaak. Toe die volk gesterf het ten gevolge van die byt van die slange, het God Moses beveel om 'n koperslang te maak en dit onder die volk te verhoog. En toe het die woord uitgegaan tot die hele vergadering dat almal wat na daardie slang kyk, SOU lewe. Die volk het goed geweet dat daardie slang op sigself geen krag gehad het om hulle te genees nie. Dit was 'n simbool van Christus. Net soos die beeid van die slang verhoog is vir hulle genesing, so sou Een, gemaak “in die gelykheid van die sondige vlees” “hulle Verlosser wees.” Rom. 8:3. Baie van die Israeliete het die offerstelsel beskou as iets wat op sigself krag gehad het om hulle van die sonde te verlos. God wou hulle leer dat dit net so min waarde gehad het as die koperslang. Dit moes hulle aandag vestig op die Verlosser. Of dit vir die genesing van hulle wonde òf die vergifnis van hulle sondes was, kon hulle uit hulleself niks doen behalwe hulle geloof te toon in die Gawe van God nie. Hulle moes kyk en lewe. KE 171.5

Diegene wat deur die slange gebyt is, kon uitgestel het om te kyk. Hulle mag dit betwyfel het hoe daar enige geneeskrag in daardie koper simbool kon wees. Hulle mag aangedring het op 'n wetenskaplike verklaring. Maar geen verklaring is gegee nie. Van hulle was verwag om die woord van God deur Moses aan te neem. Om te weier om te kyk, het die dood beteken. KE 172.1

Die siel word nie verlig deur besprekings en stryery nie. Ons moet kyk en lewe. Nikodemus het die les aangeneem en dit in sy hart gedra. Hy het die Skrifte op 'n nuwe manier ondersoek, nie om teorieë te bespreek nie, maar om lewe vir sy siel te vind. Namate hy hom oorgegee het aan die leiding van die Heilige Gees, het hy die koninkryk van die hemele begin sien. KE 172.2

Daar is duisende vandag wat dieselfde waarheid moet leer wat Nikodemus geleer het deur die verhoogde slang. Hulle maak staat op hulle gehoorsaamheid aan Gods wet om hulle in Sy guns te bring. Wanneer hulle gevra word om op Jesus te sien en te glo dat Hy hulle red alleenlik deur Sy genade, dan vra hulle, “Hoe kan hierdie dinge gebeur?” KE 172.3

Net soos Nikodemus moet ons gewillig wees om die lewe in te gaan op dieselfde wyse as die grootste sondaar. “Want daar is ook geen ander Naam” as die van Christus, “onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” Hand. 4: 12. Deur die geloof ontvang ons die genade van God; maar die geloof is nie ons verlosser nie. Dit verdien niks nie. Dit is die hand waarmee ons Christus beetneem, en Sy Verdienstes wat die raat teen die sonde is, aanneem. En ons kan ons nie bekeer sonder die hulp van die Gees van God nie. Die Skrifte sê van Christus, “Hom het God as 'n Leidsman en Verlosser deur Sy regterhand verhoog om aan Israel bekenne en vergifnis van sondes te skenk.” Hand. 5: 31. Bekering kom van Christus net so gewis as vergifnis. KE 172.4

Hoe, dan, word ons gered? “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het,” so moet die Seun van die mens verhoog word, en elkeen wat deur die slang verlei en gebyt is, mag kyk en lewe. “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Joh. 1: 29 Die lig wat skyn van die kruis openbaar die liefde van God. Sy liefde trek ons tot Hom. As ons nie die aantrekkingskrag weerstaan nie, sal ons na die voet van die kruis gebring word in berou oor ons sondes wat die Heiland gekruisig het. Dan sal die Gees van God deur die geloof 'n nuwe lewe in die siel verwek. Die gedagtes en begeertes word gehoorsaam gemaak aan die wil van Christus. Die hart en die verstand word opnuut geskape in die beeid van Hom wat in ons werk om alle dinge aan Hom te onderwerp. Dan word die wet van God in ons hart en verstand geskryf, en kan ons saam met Christus sê, “Ek het lus, o My God, om U welbehae te doen.” Ps. 40: 9. KE 173.1

In die gesprek met Nikodemus het Jesus die verlossingsplan en Sy sending in die wêreld verduidelik. In geeneen van Sy latere gesprekke het Hy so volledig, stap vir stap, die werk verduidelik wat in die hart gedoen moet word van almal wat die koninkryk van die hemele wil beërf nie. Reg aan die begin van Sy bediening het Hy die waarheid aan 'n lid van die Sanhedrin verklaar, aan 'n verstand wat baie ontvanklik was en aan 'n aangestelde leraar van die volk. Maar die leiers van Israel het nie die lig verwelkom nie. Nikodemus het die waarheid in sy hart gebêre, en vir drie jaar was daar maar nun merkbare vrugte. KE 173.2

Maar Jesus was bekend met die aarde waarin Hy die saad gesaai het. Die woorde wat in die nag aan een luisteraar gespreek is daar op die heilige berg, het nie verlore gegaan nie. Vir 'n tyd het Nikodemus Christus nie openlik bely nie, maar hy het Sy lewe dopgehou en gepeins oor Sy leer. In die vergaderings van die Sanhedrin het hy herhaaldelik die planne van die priesters om Hom dood te maak, gedwarsboom. Toe Jesus eindelik aan die kruis genael is, het Nikodemus onthou wat aan hom geleer is op die Olyfberg: “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Die lig van daardie geheime onderhoud het die kruis op Golgota verlig, en Nikodemus het in Jesus die Verlosser van die wêreld gesien. KE 173.3

Ná die Here se hemelvaart, toe die dissipels verstrooi is deur die vervolging, het Nikodemus onverskrokke na vore gekom. Hy het sy middele bestee aan die onderhoud van die pasgebore kerk wat volgens die verwagting van die Jode tot niet sou gaan by die dood van Christus. In die tyd van gevaar het hy wat eers so versigtig was, so vas as 'n rots gestaan, die dissipels aangemoedig, en geld gegee om die verkondiging van die evangelie te bevorder. Hy is verag en vervolg deur diegene wat hom eers geëer het. Wat wêreldse goed betref, het hy arm geword, maar hy het nie gewankel in die geloof wat begin het tydens daardie nagtelike onderhoud met Jesus nie. KE 174.1

Nikodemus het aan Johannes vertel van daardie onderhoud, en deur sy pen is dit te boek gestel vir die onderrig van miljoene. Die waarhede wat daar geleer is, is vandag nog net so belangrik as hulle was daardie aand op die berg toe die Joodse owerste die weg van die lewe kom leer het van die nederige Leraar van Galilea. KE 174.2