Loading...

Loading

Loading
(You are in the browser Reader mode)

“Die Volheid van die Tyd”

“TOE die volheid van die tyd gekom het, het God Sy Seun uitgestuur, . . . om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.” Gal. 4: 4, 5. KE 26.1

Die Verlosser se koms is in Eden voorspel. Toe Adam en Eva die belofte die eerste maal gehoor het, het hulle uitgesien na 'n spoedige vervulling. Hulle het hulle eersgebore seun met blydskap verwelkom, hopende dat hy die Verlosser sou wees. Maar die vervulling van die belofte het uitgebly. Diegene aan wie dit in die begin gegee is, het gesterf sonder om die vervulling te sien. Van die tyd van Henog af is die belofte herhaal deur die patriarge en profete wat die hoop op Sy koms aan die lewe gehou het, en nog het Hy nie gekom nie. Die profesie van Daniël het die tyd van Sy koms voorspel, maar nie almal het die boodskap reg vertolk nie. Eeu na eeu het verloop; die stem van die profete het verstil. Die hand van die verdrukker was swaar op Israel, en baie was klaar om uit te roep, “Die dae gaan voort, en van al die gesigte kom niks nie.” Eseg. 12: 22. Maar soos die sterre in hulle groot vasgestelde bane, ken Gods planne geen haas en geen vertraging nie. Deur die simbole van die groot duisternis en die rokende oond, het God aan Abraham die slawerny van Israel in Egipte geopenbaar, en het Hy gesê dat hulle daar sou bly vir vierhonderd jaar. “Daarna,” het Hy gesê, “sal hulle uittrek met baie goed.” Gen. 15: 14. Teen daardie woord het die hele mag van Farao se trotse leër tevergeefs geveg. Op “daardie selfde dag,” soos in die goddelike belofte bepaal, “het al die leërskare van die Here uit Egipteland uitgetrek.” Exod. 12:41. Net so ook in die raadsbesluite van die hemel was die uur vir die koms van Christus bepaal. Toe die groot uurwerk van die eeue die tyd aangewys het, is Jesus in Betlehem gebore. KE 26.2

“Toe die volheid van die tyd gekom het, het God Sy Seun uitgestuur.” Die Voorsienigheid het die bewegings van die nasies gereël, en ook die menslike drifte en invloede, totdat die wêreld ryp was vir die koms van die Verlosser. Die volkere was verenig onder een regering. Een taal is byna algemeen gepraat en is orals erken as die taal van die letterkunde. Uit alle lande het die Jode van die verstrooiing te Jerusalem vergader vir die jaarlikse feeste. Wanneer hulle weer na hulle woonplekke teruggegaan het, kon hulle oor die wêreld die boodskap versprei van die Messias se koms. KE 27.1

In daardie tyd ook het die heidense stelsels hulle houvas op die volk begin verloor. Die mense was sat van die optogte en fabels. Hulle het verlang na 'n godsdiens wat die hart kon bevredig. Hoewel dit geskyn het of die lig van die waarheid gewyk het van die mense, was daar siele wat gesoek het na lig en wat in verbystering en droefheid verkeer het. Hulle het gedors na 'n kennis van die lewende God, en na sekerheid van 'n lewe anderkant die graf. KE 27.2

Namate die Jode van God afgedwaal het, het hulle geloof verflou, en hulle het byna geen hoop meer gehad vir die toekoms nie. Die woorde van die profete het hulle nie verstaan nie. Vir die massas van die volk was die dood 'n gevreesde misterie; oorkant die graf was onsekerheid en duisternis. Dit was nie alleen die geween van die moeders van Betlehem wat na die profeet gekom het op die wieke van die eeue nie, maar die angskreet van die mensheid — die stem wat uit Rama gehoor is, “rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.” Matt. 2: 18. “In die land van die skaduwee van die dood,” het die mense troosteloos gesit. Met verlangende oë het hulle uitgesien na die koms-van die Verlosser, wanneer die duisternis verdryf en die verborgenheid van die toekoms verklaar sou word. KE 27.3

Buite die Joodse nasie was daar manne wat die koms van 'n goddelike leraar voorspel het. Hierdie mense het gesoek na die waarheid, en aan hulle is die Gees van Inspirasie gegee. Die een na die ander, soos sterre aan 'n donker hemeltrans, het sulke leraars verrys. Hulle profetiese woord het hoop laat ontvlam in die harte van duisende in die heidenwêreld. KE 28.1

Vir honderde jare reeds was die Skrifte vertaal in Grieks wat toe algemeen oor die Romeinse Ryk gepraat is. Die Jode is orals verstrooi, en hulle verwagting van die Messias se koms was in 'n mate ook die verwagting van die heidene. Onder diegene wat deur die Jode as heidene beskou is, was daar manne wat 'n beter begrip gehad het van die Skrifte aangaande die Messias as die leraars van Israel. Daar was sommige wat gehoop het op Sy koms as 'n Verlosser van die sonde. Filosowe het die misterie van die Hebreeuse ekonomie probeer peil, maar die bekrompenheid van die Jode het die verspreiding van die lig belet. Vasbeslote om die skeiding tussen hulle en die nasies te handhaaf, was hulle onwillig om die kennis mee te deel wat hulle nog gehad het aangaande die simboliese diens. Die ware Leraar moes kom; die Een wat die teenbeeid was van al die tipes, moes hulle kom verklaar. KE 28.2

Deur die natuur, deur tipes en simbole, deur patriarge en profete, het God tot die wêreld gespreek. Die lesse aan die mensdom moes gegee word in die taal van die mens. Die Boodskapper van die Verbond moes praat. Sy stem moes gehoor word in Sy eie tempel. Christus moes kom en woorde spreek wat duidelik en reg verstaan kon word. Hy, die bron van die waarheid, moes die waarheid skei van die menslike kaf wat dit kragteloos gemaak het. Die beginsels van Gods regering en verlossingsplan moes duidelik gestel word. Die lesse van die Ou Testament moes duidelik aan die mense gestel word. KE 29.1

Onder die Jode was daar nog opregte siele, nasate van daardie heilige geslag deur wie die kennis van God bewaar gebly het. Hulle het nog uitgesien na die vervulling van die belofte aan die vaders gegee. Hulle het hulle geloof versterk deur die versekering van Moses: “Die Here julle God sal vir julle 'n profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek.” Hand. 3: 22. Verder het hulle gelees hoe God iemand sou salf om “'n blye boodskap te bring aan die sagmoediges,” “om te verbind die gebrokene van hart, om vir die gevangene 'n vrylating uit te roep . . . om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die Here.” Jes. 61:1, 2. Hulle het gelees hoe Hy “die reg op aarde” sal grond, hoe “die eilande wag op Sy leer” en hoe die nasies sal kom na Sy lig en konings na Sy glans. (Jes. 42: 4; 60: 3.) KE 29.2

Die sterwenswoorde van Jakob het hulle nog met hoop vervul: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nog die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom.” Gen. 49: 10. Die tanende mag van Israel het getuig dat die koms van die Messias naby was. Die profesie van Daniël het die glorie geskilder van Sy regering oor 'n ryk wat die aardse koninkryke sou opvolg, en die profeet het gesê dat dit “in ewigheid nie vernietig sal word nie.” Dan. 2:44. Hoewel maar 'n paar die aard van Christus se sending verstaan het, was daar 'n algemene verwagting van 'n magtige vors wat sy koninkryk oor Israel sou oprig, en wat as verlosser van die volke sou kom. KE 29.3

Die volheid van die tyd het gekom, die mensdom, wat steeds laer gesink het deur die eeue van oortreding, het gesmag na die koms van die Verlosser. Die Satan het hom daarop toegelê om die kloof tussen die aarde en die hemel onoorbrugbaar te maak. Deur sy bedrog het hy die mense vermetel gemaak om te sondig. Dit was sy doel om die lankmoedigheid van God uit te put, en om Sy liefde vir die mens uit te blus, sodat Hy die wêreld sou oorgee aan die regering van die Satan. KE 30.1

Die Satan was daarop uit om die kennis van God van die mense weg te hou, om hulle aandag af te wend van die tempel, en om sy eie koninkryk te bevestig. Sy strewe na opperheerskappy was skynbaar heeltemal suksesvol. Dit is waar dat God in elke geslag Sy werktuie gehad het. Selfs onder die heidene was daar manne deur wie Christus gewerk het om die mense te verhef uit hulle sonde en verlaging. Maar hierdie manne is verag en gehaat. Baie van hulle het 'n gewelddood gesterf. Die donker skaduwee wat die Satan oor die wêreld laat neersak het, het steeds donkerder geword. KE 30.2

Deur die heidendom het die Satan vir eeue die mens van God j weggehou; maar sy grootste oorwinning was die verdraaiing van die godsdiens van Israel. Deur hulle eie opvattings te bepeins en te aanbid, het die heidene die kennis van God verloor, en hulle het steeds meer verdorwe geword. So was dit met Israel ook. Die beginsel I dat die mens homself deur sy eie werke kon red, lê ten grondslag van alle heidense godsdienste; en nou het dit ook die beginsel van die Joodse godsdiens geword. Die Satan het hierdie beginsel geplant. Waar dit heers, is daar geen muur teen die sonde nie. KE 31.1

Die boodskap van verlossing word aan die mense verkondig deur menslike werktuie. Maar die Jode het probeer om die alleenhouers I te wees van die waarheid wat die ewige lewe is. Hulle het die lewende manna opgegaar en dit het bederf. Die godsdiens wat hulle uitsluitlik vir hulleself wou bewaar, het 'n aanstoot geword. Hulle het God beroof van Sy heerlikheid, en die wêreld bedrieg met 'n ver- I valsing van die evangelie. Hulle het geweier om hulleself aan God oor te gee vir die redding van die wêreld, en hulle het die werktuie I van die Satan geword vir die ondergang daarvan. KE 31.2

Die volk wat God geroep het om die pilaar en grondslag van die waarheid te wees, het die verteenwoordigers van die Satan geword. Hulle het die werk gedoen wat hy graag wou hê dat hulle moet doen, naamlik om Gods karakter verkeerd voor te stel sodat die wêreld Hom sou beskou as 'n tiran. Selfs die priesters wat in die tempel gedien het, het nie die betekenis verstaan van die werk wat hulle gedoen het nie. Hulle kon nie verby die simbool sien op wat I gesimboliseer is nie. Waar hulle die verskillende offers geoffer het was hulle soos akteurs op die verhoog. Die insettinge van God het die middels geword wat die verstand benewel en die hart verhard het. God kon niks meer vir die mens deur hierdie kanale doen nie. Die hele stelsel moes weggeveeg word. KE 31.3

Die bedrog van die sonde het sy hoogtepunt bereik. Al die middels vir die verlaging van die siel van die mens is in werking gestel. Waar die Seun van God die wêreld aanskou het, het Hy die lyding en eilende gesien. Met ontferming het Hy gesien hoedat die mense die slagoffers geword het van sataniese wreedheid. Hy het in barmhartigheid gesien op diegene wat besoedel, vermoor, en verloe was. Hulle het 'n leier gekies wat hulle aan sy wa vasgebind het as sy gevangenes. Verbysterd en bedroë het hulle voortbeweeg tot ewige ondergang — na die dood waar daar geen hoop is nie, na die nag waar daar geen daeraad is nie. Sataniese werktuie het deur die mense gewerk. Die liggame van menslike wesens, geskape as woonplek van God, het die woonplek van demone geword. Die sinne, die senuwees die drifte, en die organe van die mens was onder beheer van bonatuurlike werktuie om hulle oor te gee aan die vuilste dinge. Selfs in die gelaat van die mense kon die afdruk van die demone gesien word. Mense se gesigte het die uitdrukking van die legioene van boosheid waarvan hulle besete was, geweerkaats. Dit was die toneel waarop die Verlosser van die wêreld gekyk het. Wat 'n toneel vir die Ewige Reinheid om te aanskou! KE 31.4

Die sonde het 'n wetenskap geword, en ontug is geheilig as deel van die godsdiens. Die gees van rebellie het diep wortelgeskiet in die hart, en die vyandskap van mense was geweldig teen die hemel. Voor die heelal is dit gedemonstreer dat die mensdom, sonder God, nooit opgehef kon word nie. Daar moes 'n nuwe element van lewe en krag ingeplant word deur Hom, die Skepper van die wêreld. KE 32.1

Met die grootste belangstelling het die ongevalle wêrelde gekyk om te sien hoedat Jehova opstaan om die bewoners van die aarde weg te veeg. En as God dit sou gedoen het, sou die Satan klaar gewees het om sy plan uit te voer om die trou van die hemelse wesens te win. Hy het verklaar dat die beginsels van Gods regering vergifnis onmoontlik gemaak het. As God die wêreld sou verdelg het, sou hy aangevoer het dat sy aantygings waar was. Hy was gereed om al die blaam op God te werp, en om sy rebellie te voer na die wêrelde daarbo. Maar pleks van hierdie wêreld te verdelg, het God Sy Seun gestuur om dit te red. Alhoewel korrupsie en opstand gesien kan word in alle dele van hierdie opstandige provinsie, is daar 'n weg tot herstel voorsien. By elke krisis wanneer dit geskyn het dat die Satan sou triomfeer, het die Seun van God gekom as gesant van goddelike genade. In elke eeu, in elke uur, het die liefde van God uitgevloei na 'n gevalle mensdom. Ondanks die koppigheid van mense is die tekens van genade maar altyd vertoon. En toe die volheid van die tyd gekom het, is die Godheid verheerlik deur die uitgieting op hierdie wêreld van 'n vloedgolf van genesende genade wat nooit versper of afgesluit sou word totdat die verlossingsplan volvoer is nie. KE 32.2

Die Satan het hom daarin verheug dat hy die beeid van God in die mense geskend het. Toe het Jesus gekom om weer in die mens die beeid van sy Maker te herstel. Niemand dan Christus alleen kan die karakter opnuut vorm wat deur die sonde geruïneer is nie. Hy het gekom om die demone uit te werp wat die wil beheers het. Hy het gekom om ons op te hef uit die stof, om die geskonde karakter te hervorm volgens die patroon van Sy goddelike karakter, en om dit te verheerlik deur Sy eie heerlikheid. KE 32.3