Loading…
HOOFSTUK EEN-EN-DERTIG—DIE GEREG
(Deel IV, bls. 384-387.)
OP 23 Oktober 1879, omtrent twee-uur in die more, het die Gees van die Here op my gekom en die tonele in verband met die toekomstige gereg is aan my getoon. Woorde ontbreek my om ‘n beskrywing te gee van die dinge wat ek gesien het en die indruk wat dit op my gemaak het. UG1 210.1
Dit het geskyn of die groot dag van die uitvoerende oordeel van God aangebreek het. Tienduisendmaal tienduisend het voor die groot troon gestaan waarop ‘n persoon met ‘n majesteuse voorkomste gesit het. Daar het ‘n hele paar boeke voor Hom gelê, en op die omslae daarvan het daar in vlammende goue letters gestaan “Grootboek van die Hemel.” Een van die boeke wat die name bevat het van diegene wat voorgegee het om die waarheid te glo, is geopen. Dadelik het ek nie meer die ontelbare miljoene voor die troon gesien nie en my aandag is toe bepaal by diegene wat voorgegee het om die kinders van die lig en waarheid te wees. Terwyl die name van hierdie persone een vir een afgelees en hulle goeie dade genoem is, het hulle aangesigte gestraal van ‘n heerlikheid wat in alle rigtings weerkaats is. Maar dit het nie die grootste indruk op my gemaak nie. UG1 210.2
Daarna is ‘n ander boek geopen wat die sondes bevat het van diegene wat die waarheid bely het. Elke sonde het onder die algemene hoof, Selfsug, geval. Daar was verskillende ander kolomme, en daaronder weer is die minder ernstige sondes opgeteken. Onder die hoof, Gierigheid, is die sondes van valsheid, diefstal, rowery, bedrog en hebsug aangeteken; onder die hoof, Ambisie, het hoogmoed en spandabelheid gekom; onder Jaloesie het kwaadwilligheid, haat en nyd gekom; onder die hoof, Onmatigheid, het daar ‘n lang lys verskriklike misdade gestaan, soos b.v. ongebondenheid, owerspel, die botviering van die dierlike drifte ens. Terwyl ek so gestaan en kyk het, is ek met onbeskryflike vrees vervul, en ek het uitgeroep, Wie tog kan gered word? wie kan regverdig voor God staan? wie se kleed is vlekkeloos? wie is sonder skuld voor die reine en heilige God. UG1 210.3
Namate die Heilige Een so gesit en blaai het in die Grootboek, en Sy blik vir ‘n oomblik gerus het op die persone, het dit geskyn of Sy blik op hulle siele ingebrand het, en terselfdertyd het elke woord en daad van hulle lewens in hulle gedagtes opgekom asof dit in vlammende letters geskryf is. Hulle het begin bewe en hulle gesigte het bleek geword. Toe ek hulle eers voor die troon gesien staan het, het dit gelyk of hulle gans onverskillig was. Maar hoe het alles nie nou verander nie! Die geruste gevoel was weg en daar het ‘n naamlose vrees oor hulle gekom. Elke siel het gevrees dat hy miskien onder diegene sou wees wat geweeg en te lig gevind is. Alle oë was gerig op die Een wat op die troon gesit het; en terwyl Sy deursoekende blik die skare so gadeslaan, het hulle harte gebewe; want hulle het selfveroordeeld gevoel, hoewel daar geen woord geuiter is nie. In sieleangs het elkeen sy skuld bely, en dit met die vreeslike gewaarwording dat hulle deur hulle sonde die kostelike gawe van die ewige verbeur het. UG1 211.1
Een klas is in die boeke aangedui as diegene wat die grond nutteloos beslaan het. En toe die deurdringende oog van die Regter op hulle gerus het, is hulle sondes van nalatigheid duidelik geopenbaar. Met bleek, bewende lippe het hulle hulle ontrouheid aan hulle heilige pand bely. Hulle het waarskuwings en voorregte gehad, maar het dit nie ter harte geneem nie. Nou het hulle besef dat hulle die genade van God misbruik het. Dis waar, daar het nie sulke groot sondes teen hulle gestaan as teen die vuil en afskuwelike sondaars nie; maar soos die onvrugbare vyeboon is hulle vervloek omdat hulle geen vrugte gedra het, en die talente wat aan hulle toevertrou is nie gebruik het nie. UG1 211.2
Hierdie klas het self eerste geplaas en net vir hulle eie belange gewerk. Hulle was nie ryk in God nie, omdat hulle nie die eise van God nagekom het nie. Hoewel hulle voorgegee het om diensknegte van Christus te wees, het hulle geen siele tot Hom gebring nie. As die saak van God afhanklik sou gewees het van hulle, sou dit maar baie treurig gegaan het; want nie alleen het hulle die middele teruggehou wat God aan hulle geleen het nie, maar hulle het ook hulleself teruggehou. Hulle het nou gesien en besef dat hulle, deur geen verantwoordelikheid te aanvaar ten opsigte van die werk van God nie, hulleself aan die linkerhand geplaas het. Hulle het geleenthede gehad, maar hulle het nie die werk gedoen wat hulle kon en moes gedoen het nie. UG1 212.1
Die name van almal wat die waarheid bely het, is nagegaan. Sommige was bestraf weens hulle ongeloof, en ander weer omdat hulle trae diensknegte was. Hulle het toegesien dat ander die werk in die Meester se wingerd doen en die swaar verantwoordelikhede dra, terwyl hulle op selfsugtige wyse hulle eie tydelike belange gedien het. As hulle die vermoëns wat God aan hulle gegee het sou gebruik het, sou hulle betroubare werkers gewees het wat die belange van hulle Meester op hulle hart sou gedra het. Die Regter het gesê: “Almal sal deur hulle geloof geregverdig word en deur hulle werke geoordeel word.” Hoe duideiik het hulle nalatigheid nie nou geblyk nie, en hoe verstandig is die plan van God wat voorsiening maak sodat almal ‘n aandeel daarin kan hê tot redding van sy medemens. Elkeen moes ‘n lewende geloof getoon het in sy huis en in sy buurt, deur vriendelikheid te bewys aan die armes, medelyde te hê met die siekes, deur sendingwerk te doen en deur die saak van God geldelik te ondersteun. Maar soos in die geval van Meros, het die vloek van God hulle getref vir wat hulle nie gedoen het nie. Hulle het die werk liefgehad wat die grootste winste in hierdie lewe afgewerp het; en in die Grootboek waarin die goeie werk opgeteken is, het daar niks teenoor hulle name gestaan nie. UG1 212.2
Die woorde wat aan hierdie klas gespreek is, was baie plegtig: “Julle is geweeg en te lig bevind. Julle het julle geestelike verantwoordelikhede verwaarloos omdat julle te besig was met die tydelike dinge, terwyl juis die posisie wat julle beklee het dit noodsaaklik gemaak het dat julle goddelike wysheid en oordeelkundigheid aan die dag moes gelê het. Hierdie wysheid het julle nodig gehad om selfs die meganiese deel van julle werk te doen; Maar toe julle julle in julle besigheid van God en Sy heerlikheid afgeskei het, het julle julle ook afgeskei van Sy seen.” UG1 212.3
Die vraag is toe gestel: “Waarom het julle nie die kleed van julle karakter witgewas in die bloed van die Lam nie? God het Sy Seun in die wêreld gestuur, nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kon word. My liefde vir julle was sterker as die van ‘n moeder. Dit was om julle sondes uit te delg en die beker van die saligheid aan julle lippe te bring dat Ek aan die kruis gely en gesterf en julle sondeskuld gedra het. Die verskrikking van die dood en die duistemis van die graf het Ek verduur, sodat Ek hom wat die mag oor die dood het kon oorwin, die deure van die gevangenis en die poorte van die ewige lewe vir julle kon oopmaak. Ek het Myself oorgegee aan skande en foltering omdat Ek julle met ‘n ewige liefde liefgehad het, en My afgedwaalde skape wou terugbring na die paradys van God en die boom van die lewe. Die heerlike lewe wat Ek vir julle teen so ‘n ontsettende prys gekoop het, het julle versmaai. Skande, verwyt en smaad, soos wat julle Meester vir julle gely het, het julle vermy. Die voorregte wat Hy met Sy lewe vir julle gekoop het, het julle nie op prys gestel nie. Julle wou nie deelneem aan Sy lyding nie, en nou kan julle ook nie deel in Sy heerlikheid nie.” Toe het ek die plegtige woorde gehoor: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word; en laat die heilige nog heiliger word. Daarna is die boek toegemaak, en die mantel het geval van die persoon wat op die troon gesit het, en die verskriklike heerlikheid van die Seun van God is geopenbaar. UG1 213.1