Loading…
HOOFSTUK SES-EN-DERTIG—EENHEID MET CHRISTUS IN GOD
(Deel VIII, bls. 239-243.)
DIE Here roep manne met ‘n opregte geloof en gesonde verstand, manne wat sal kan onderskei tussen die ware en die valse. Elkeen behoort op sy hoede te wees; hulle behoort die sewentiende hoofstuk van Johannes te studeer, die lesse wat daarin is uit te leef en ‘n lewende geloof in die waarheid vir hierdie dae te bewaar. Ons het behoefte aan daardie selfbeheersing wat ons in staat sal stel om ons gewoontes in ooreenstemming te bring met die gebed van Christus. UG1 246.1
Hierdie onderrig wat aan my gegee is deur Een wat gesag het, is dat ons moet leer om die gebed wat in die sewentiende hoofstuk van Johannes opgeteken is, uit te lewe. Elke evangeliedienaar, elke mediese sendeling, moet bekend wees met die wetenskap van hierdie gebed. My broeders en susters, ek versoek julle om ag te slaan op hierdie woorde, ondersoek hulle met ‘n nederige, verbryselde gees en met die verstand wat geheelenal onder die beheersing van God is. Diegene wat nalaat om ag te slaan op die lesse wat in hierdie gebed bevat is, loop gevaar om eensydig te ontwikkel sodat geen opleiding in die toekoms die gebreke sal kan verbeter nie. “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie,” het Christus gesê, “maar ook vir die wat deur hulle woord in My glo — dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. UG1 246.2
“En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U my gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het. Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, 246 ook saam met My sal wees, sodat hulle My heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld. Regverdige Vader, al het die wêreld U nie geken nie, tog het Ek U geken, en hulle hier het erken dat U My gestuur het. En Ek het U Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.” Joh. 17: 20-26. UG1 246.3
Dit is Gods doel vir Sy kinders dat hulle eensgesind sal wees. Verwag hulle dan nie om eendag saam in dieselfde hemel te woon nie? Is Christus teen Homself verdeel? Sal Hy Sy volk seen met sukses aleer hulle alle twis en tweedrag uit die weg ruim, en voordat werkers, in eensgesindheid hart en siel en kragte bestee aan die werk wat so heilig is in die oë van God? Eendrag maak mag; verdeeldheid is swakheid. Verenig met mekaar, en deur saam te werk vir die redding van mense, sal ons waarlik “medewerkers van God” wees. Diegene wat weier om in eensgesindheid saam te werk, onteer God. Die sielevyand is verheug as hy sien dat daar tweedrag onder die werkers is. Sulke werkers behoort broederlike liefde aan te kweek en hulle moet leer om teerhartig te wees. As hulle die gordyn opsy kon trek, ‘n blik in die toekoms kon werp en die gevolge van hulle tweedrag kon sien, sou hulle gewis tot bekering gelei word. UG1 247.1
Die wêreld aanskou met welbehae die tweedrag onder Christene. Die ongelowiges is bly daaroor. God roep om ‘n verandering onder Sy volk. Vereniging met Christus en eensgesindheid onder mekaar is ons enigste veiligheid in hierdie laaste dae. Moenie dat ons Satan die geleentheid gee om met die vinger na kerklede te kan wys en te sê: “Kyk hoedat hierdie mense, wat onder die banier van Christus staan, mekaar haat. Solank as hulle meer tyd daaraan bestee om mekaar te beveg as om my magte te bestry, het ons niks van hulle kant te vrees nie.” UG1 247.2
Na die uitstorting van die Heilige Gees het die dissipels die verrese Heiland verkondig, en hulle een doel was die redding van siele. Hulle het hulle verbly in die heerlikheid van die gemeenskap met die heiliges. Hulle was teerhartig, bedagsaam, selfopofferend en gewillig om enige opoffering te maak vir die waarheid. In hulle daelikse omgang met mekaar het hulle die liefde vir mekaar geopenbaar wat Christus hulle beveel het om te doen. Deur middel van onselfsugtige woorde en dade het hulle getrag om hierdie liefde ook in ander harte op te wek. UG1 247.3
Die gelowiges moes altyd die liefde koester wat die harte van die apostels vervul het na die uitstorting van die Heilige Gees. Hulle moes met alle gewilligheid die nuwe gebod gehoorsaam: “Soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” Joh. 13: 34. Hulle moes so met Christus verenig wees dat hulle in staat kon wees om aan Sy eise te voldoen. Hulle sou dan die krag van ‘n Heiland wat hulle deur Sy geregtigheid kan regverdig, groot maak. UG1 248.1
Maar die vroeë Christene het begin soek na gebreke in mekaar se karakters. Deur oor die foute van ander te dink en toe te gee aan onvriendelike kritiek, het hulle die Heiland uit die oog verloor, asook die groot liefde vir sondaars, wat Hy geopenbaar het. Hulle het die uiterlike seremonies steeds stipter nagekom, meer waarde geheg aan die teorie van die geloof, en heftiger kritiek uitgeoefen. In hulle ywer om ander te veroordeel, het hulle hulle eie foute skoon vergeet. Hulle het die les van broederlike liefde wat Christus hulle geleer het heeltemal vergeet. En treurigste van alles, hulle het nie hulle verlies besef nie. Hulle was nie daarvan bewus dat vreugde en geluk uit hulle lewens verdyn het en dat hulle eerlank in duisternis sou moes wandel omdat hulle die liefde van God uit hulle harte uitgesluit het. UG1 248.2
Die apostel Johannes het besef dat broederlike liefde aan verdwyn was in die kerk, en daarom het hy groot nadruk daarop gelê. Tot sy dood toe het hy die gelowiges aangemaan om mekaar gedurig lief te hê. Hierdie onderwerp deurstraal al sy briewe aan die kerke. “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê,” het hy geskryf, “want die liefde is uit God . . . dat Hy ons liefgehad het en Sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.”1 Joh. 4: 7-11. UG1 248.3
In die kerk van God vandag is daar groot gebrek aan broederlike liefde. Baie van diegene wat voorgee om die Heiland lief te hê, bly in gebreke om diegene lief te hê met wie hulle in Christelike gemeenskap verkeer. Ons bely almal dieselfde geloof, ons is lede van dieselfde gesin, kinders van dieselfde hemelse Vader, met dieselfde salige hoop op die ewige lewe. Hoe teer behoort die band nie te wees wat ons aan mekaar bind nie. Die mense van die wêreld hou ons dop om te sien of ons geloof ‘n heiligmakende invloed op ons harte het. Hulle sien maar te gou die gebreke in ons handel en wandel raak. Laat ons hulle geen geleentheid gee om ons geloof verwyte toe te werp nie. UG1 249.1
Dit is nie die teenstand van die wêreld wat ons die meeste te vrees het nie; dit is die boosheid wat in die harte van die sogenaamde gelowiges gekoester is wat ons die grootste skade berokken, en die werk van God die meeste terughou. Daar is geen sekerder manier om ons geestelike lewe te verswak as om agterdogtig en jaloers te wees, kwaad te dink en fout te vind nie. “Dit is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade. Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.” Jakobus 3: 15-18. UG1 249.2
Harmonie en eensgesindheid onder mense van verskillende karaktertrekke is die sterkste bewys wat kan aangevoer word dat God Sy Seun in die wêreld gestuur het om sondaars te red. Dit is ons voorreg om bewys hiervan te lewer. Maar om dit te kan doen, moet ons ons aan Christus oorgee om Hom te gehoorsaam. Ons karakters moet gevorm word in die ewebeeld van Sy karakter en ons wil moet ondergeskik wees aan Sy wil. Dan sal ons sonder botsing kan saamwerk. UG1 249.3
Klein verskilletjies wat maar nie kan vergeet word nie, het naderhand as gevolg dat ons Christelike gemeenskap met mekaar verbreek word. Moenie dat ons toelaat dat die vyand hierdie oorwinning oor ons behaal nie. Laat ons steeds nader aan God en nader aan mekaar kom. Dan sal ons soos bome van geregtigheid wees wat langs waterstrome staan, deur die Here geplant en benat met die water van die rivier van die lewe. Hoe vrugbaar sal ons dan nie wees nie. Het Christus nie gesê nie: “Hierin is My Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra?” Joh. 15: 8. UG1 249.4
Die Heiland het Sy hart daarop gesit dat Sy navolgers die doel van God sou bereik in sy hoogte en diepte. Hulle moet een in Hom wees al is hulle ook oor die aarde versprei. Maar die Here kan hulle nie een in Christus maak tensy hulle gewillig is om hulle eie weë te versaak vir Sy weg nie. UG1 250.1
Wanneer die gebed van Christus ten voile aangeneem is en wanneer die onderrig wat daarin vervat is, uitgeleef word in die daelikse lewe van die volk van God, sal daar eensgesindheid onder alle range gesien word. Broeder sal aan broeder verbind wees met die goue koorde van die liefde van Christus. Dis die Gees van God alleen wat hierdie eenheid kan bewerk. Hy wat Homself geheilig het kan ook Sy dissipels heilig. Verenig met Hom sal hulle met mekaar verenig wees deur die allerheiligste geloof. As ons ons vir hierdie eenheid beywer soos God dit van ons verwag, sal ons dit ook verkry. UG1 250.2