Loading…
HOOFSTUK SEWEN-EN-DERTIG—DIE GETUIENISSE VIR DIE KERK— HULLE AARD EN INVLOED
(Deel V, bls. 654-660.)
NAMATE die einde naderkom en die werk om aan die wêreld die laaste waarskuwing te gee steeds uitbrei, word dit belangriker vir alle belyers van die teenwoordige waarheid om ‘n helder begrip te hê van die aard en die invloed van die getuienisse wat God in Sy voorsienigheid, van die begin af, met die Derde-engelboodskap verbind het. In die volgende bladsye word daar uittreksels gegee van wat ek gedurende die afgelope veertig jaar geskryf het betreffende my eie vroeëre ondervindings in hierdie besondere werk, en ook wat God aan my meegedeel het aangaande die aard en belangrikheid van getuienisse, die wyse waarop hulle gegee is, en hoe hulle moet beskou word. UG1 251.1
“Dit was nie lank na die tyd verbygegaan het in 1844, dat die eerste gesig aan my gegee is nie. Ek was op besoek by ‘n dierbare suster in Christus, wie se hart aan myne verbonde was. Vyf van ons — almal vroumense, het stil neergekniel rondom die huisaltaar. Onder die gebed het die krag van God van my besitgeneem soos nog nooit tevore nie. Dit het geskyn asof ‘n lig my omring het en asof ek steeds hoër en hoër van die aarde opgestyg het.” Toe het ek ‘n gesig gesien van die ervaring van die adventgelowiges, die koms van Christus, en die loon wat aan die getroues gegee sal word. UG1 251.2
“In ‘n tweede gesig, kort na die eerste, is aan my die beproewings getoon wat ek sou moes deurmaak, en dat dit my plig was om aan ander te gaan meedeel wat God aan my geopenbaar het. Daar is aan my getoon dat my werk met groot teenstand sou te kampe hê, dat my hart met vrees vervul sou wees, dog dat die genade van God my deur alles heen sou dra. Die inhoud van hierdie gesig het my baie ontstel, want dit het my plig duidelik aangewys om uit te gaan onder die mense en die waarheid te verkondig.” UG1 251.3
“Ek het een groot vrees gehad, n.l. dat as ek die roeping sou aanvaar en myself sou uitgee as iemand wat deur die Allerhoogste begenadig is met gesigte en openbarings vir die mense, ek in die versoeking sou kom om my te verhef en dus die misnoeë van God op my sou bring en verlore sou gaan. Ek wis van verskillende dergelyke gevalle en ek het teruggedeins vir die gewigtige taak. UG1 252.1
“Ek het toe gesmeek dat ek, as ek moet gaan vertel wat die Here aan my getoon het, van selfverheffing mag bewaar word. Toe sê die engel: Jou gebed is verhoor. In geval hierdie kwaad wat jy vrees jou bedreig, sal Gods hand oor jou uitgestrek word om jou te red; deur lyding sal Hy jou tot Hom trek en Hy sal jou nederig hou. Lewer die boodskap getrou af. Volhard tot die einde, en jy sal van die vrug van die boom van die lewe eet, en van die water van die lewe drink.” UG1 252.2
In hierdie tyd het daar fanatisme geheers onder sommige wat die eerste boodskap aangeneem het. Daar was ernstige dwalinge in leer en in wandel, en sommige was gereed om almal te veroordeel wat nie met hulle beskouings akkord gegaan het nie. God het hierdie dwalinge in ‘n gesig aan my getoon, en my na Sy dwalende kinders gestuur om dit aan hulle duidelik te maak; maar by die uitvoering van hierdie plig het ek met bittere teenstand en verwyte te kampe gehad. UG1 252.3
“Dit was ‘n sware kruis vir my om aan die dwalendes mee te deel wat my aangaande hulle getoon was. Dit het groot smart veroorsaak om ander bekommerd of bedroef te sien. En waar ek verplig was om die boodskappe af te gee, het ek hulle baiemaal versag en so gunstig moontlik aan die persoon voorgestel, om dan alleen te gaan ween in sieleangs. Ek het diegene wat slegs hulle eie siele het om voor te sorg betrag, en het gedink dat as ek in hulle plek was, sou ek nie murmureer nie. Dit was swaar om die reguit, snydende, getuienisse wat God aan my meegedeel het, te gee. Angstig het ek die gevolge afgewag, en as die tereggewese persone hulle verset het teen die teregwysing en lateraan die waarheid teengewerk het, het die volgende vrae by my opgekom: Het ek die boodskap reg afgelewer? Was daar miskien nie ‘n ander manier om hulle te red nie? En dan het ek so ellendig gevoel dat ek baiemaal gevoel het dat die dood welkom sou wees en die graf ‘n heerlike rusplaas. UG1 252.4
“Ek het nie die gevaar en sonde van so ‘n handelwyse besef alvorens ek in ‘n gesig in die teenwoordigheid van Jesus gebring is nie. Hy het my met ‘n frons aangekyk en Sy gesig weggedraai. Dis onmoontlik om die vrees en angs wat ek gevoel het te beskryf. Ek het op my aangesig voor Hom neergeval, maar het nie die krag gehad om één woord te uiter nie. O, hoe het ek nie verlang om bedek te wees vir daardie vreeslike frons nie! Ek kon toe enigsins besef wat die gevoelens van die verloregaandes moet wees wanneer hulle uitroep tot die berge en die rotse en sê: ,Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam!’ UG1 253.1
“Terstond beveel ‘n engel my om op te staan, en wat my oë toe gesien het kan nouliks beskryf word. Voor my het ‘n groep gestaan met uitgeplukte hare en geskeurde klere, en wie se aangesigte ‘n beeld van wanhoop en verskrikking getoon het. Hulle het teen my gekom en hulle klere teen myne geskuur. Toe ek na my klere kyk, het ek bemerk dat dit met bloed bevlek is. Weer het ek as dood neergeval aan die voete van die engel wat by my was. Ek kon nie één verskoning maak nie, en het verlang om weg te wees van daardie heilige plek. Die engel het my opgerig en gesê: ,Dit is nie jou lot nie, maar hierdie toneel is voor jou gestel sodat jy kan weet hoedat dit met jou sal gaan as jy nalaat om aan ander mee te deel wat die Here aan jou geopenbaar het.’ ” Met hierdie ernstige waarskuwing voor oë het ek na die mense gegaan om aan hulle die teregwysings en voorligting mee te deel wat deur God aan my toevertrou was. UG1 253.2