Loading…
HOOFSTUK TWEE-EN-VEERTIG—DIE BETWYFELING VAN DIE GETUIENISSKRIFTE
(Deel V, bls. 672-676.)
“Satan is daarop uit om die geloof van Gods volk in die Getuienisskrifte te verswak.” “Satan weet hoe om sy aanvalle te reël. Hy werk in die harte van die mense om hulle jaloers te maak op, en ontevrede te maak met diegene wat aan die hoof van die werk is. Daarna word die gawes aan die kerk in twyfel getrek, met die gevolg dat hulle min gewig het en die onderrig wat gegee is deur middel van die gesigte word verontagsaam.” “Daarna word die vernaamste waarhede van ons geloof betwyfel, die pilare waarop ons steun, en dan word die Heilige Skrif betwyfel en begin die afval wat in die verderf eindig. Wanneer die Getuienisskrifte wat eertyds aangeneem is, betwyfel en versaak word, weet Satan dat dit nie hierby sal bly nie; hy verdubbel dan sy pogings totdat die verleide persone openlik rebelleer; later is daar geen salf meer aan hulle te smeer nie en is hulle einde verdelging. “Deur toe te gee aan twyfel en ongeloof in verband met die werk van God en deur wantrouig en jaloers te wees, stel hulle hulle bloot aan die grootste bedrog. Hulle verset hulle met ‘n gevoel van bitterheid teen diegene wat dit durf waag om hulle op hulle foute te wys en hulle sondes te bestraf.” UG1 271.1
’n Getuienis aan ‘n sekere jongman, wat vir die eerste maal in die jaar 1880 gepubliseer is, spreek as volg in hierdie verband: “Daar bestaan ‘n toenemende betwyfeling van die getuienisskrifte van die Gees van God; en hierdie jongmense, in stede dat hulle die ongeloof versaak, moedig die betwyfeling aan omdat hulle in onkunde verkeer aangaande die gees en die krag van die Getuienisskrifte.” UG1 271.2
Aan my is getoon dat daar vele is wat so min geestelikheid besit dat hulle nie die waarde en die ware doel van die Getuienisskrifte kan besef nie. Hulle praat op ligsinnige wyse van die Getuienisskrifte wat deur God gegee is ten behoewe van Sy volk, en hulle het die Getuienisse veroordeel en dit en dat daarin gekritiseer, wanneer dit hulle sou betaam het om hulle hand op hulle mond te lê en hulle in die stof te verneder; want hulle kon nie die gees van die Getuienisskrifte verstaan nie, omdat hulle so min van die Gees van God verstaan het. UG1 272.1
“Daar is sommige op wat nie die vermanings ten voile aangeneem het nie. Hulle het hulle eie weg ingeslaan. Hulle het hulle nog altyd in ‘n minder of meerder mate verset teen diegene wat opgestaan het om reg te verdedig en verkeerde dinge te bestraf. Die invloed van hierdie persone op mense met wie hulle in aanraking kom, is baie nadelig. Hulle vul die harte van nuwelinge met vrae en twyfel aangaande die Getuienisse van die Gees van God. Hulle gee ‘n valse uitleg aan die Getuienisse; en in stede dat hulle mense help óm hulle aan God toe te wy en na die stem van die kerk te luister, leer hulle hulle om onafhanklik te wees en om die oordeel en menings van ander te verontagsaam. Die invloed van hierdie klas het in die stilte gewerk. Sommige besef nie die kwaad wat hulle doen nie; maar daar hulle self hoogmoedig, opstandig en ontoegewyd is, verlei hulle ook ander. ‘n Giftige atmosfeer word in die teenwoordigheid van hierdie ontoegewyde persone ingeasem. Hulle kleed is bevlek met die bloed van ander en op die afrekeningsdag sal Christus aan hulle sê: ,Gaan weg van My, julle werkers van ongeregtigheid.’ Hulle sal natuurlik verbaas wees; maar hulle geveinsde Christelike lewens was ‘n bedrog.” UG1 272.2
“Sommige meen dat die getuienisse van Suster White onbetroubaar is. En dit is net wat baie ontoegewyde persone wil hê. Die getuienisse het hulle ydelheid en hoogmoed bestraf; maar as hulle dit net durf doen het, sou hulle die uiterste modes gevolg het. Aan al sulkes sal God die geleentheid gee om te wys dat hulle tot inkeer gekom het, en ook om ‘n opregte karakter te ont-wikkel.” UG1 272.3
“Aan my is ook die rede getoon waarom daar in die laaste tyd nie meer gesigte gegee is nie; dit is omdat die gesigte nie deur die kerk op prys gestel word nie. Die gemeentelede het byna al hulle geestelikheid en geloof verloor, en die bestraffings en waarskuwings het maar min uitwerking op hulle gehad. Baie van diegene wat voorgegee het dat hulle die Getuienisse aanneem, het nie daarop ag geslaan nie.” UG1 273.1
“As u vertroue verloor in die Getuienisskrifte sal u ook afvallig word van die Bybelse waarhede. Ek het gevrees dat sommige die Getuienisse in twyfel sou trek, en omdat ek belang stel in u siele wil ek u waarsku. Hoeveel sal agslaan op die waarskuwing? Soos u nou teenoor die Getuienisskrifte staan, as daar een teen u gegee word wat u wys op u foute, sal u dit gedeeltelik of heeltemal verwerp? Die deel wat u die minste aanstaan, is juis die deel waaraan u die grootste behoefte het.” UG1 273.2
“My broeders, pas op vir ‘n bose hart van ongeloof. Die Woord van God is baie duideiik in sy beperkings; dit bestraf u selfsug; en daarom verwerp u dit. Die Getuienisse van Sy Gees vestig u aandag op die Skrifte, wys u op die gebreke in u karakter en bestraf u sondes; daarom wil u hulle nie gehoorsaam nie. En om u vleeslike, gemaksugtige weg te regverdig, begin u daaraan te twyfel of die Getuienisskrifte werklik van God kom. As u maar net die Getuienisse wil gehoorsaam, sal u verseker wees van hulle goddelike oorsprong. Onthou, die feit dat u die Getuienisse nie glo nie, doen niks af van die geloofwaardigheid daarvan nie. As hulle van God kom, sal hulle staande bly.” UG1 273.3
“Aan my is getoon dat ongeloof in die vermanings, bemoedigings en bestraffings van die Getuienisse die weg versper sodat die lig van God nie op Sy volk kan skyn nie. Ongeloof verblind hullle oë sodat hulle nie hulle ware toestand kan besef nie.” “Hulle meen dat die bestraffing van die Gees van God deur die Getuienisse nie nodig is nie, of dat dit nie vir hulle bedoel is nie. Dis juis daardie mense wat die grootste behoefte het aan die genade van God en geestelike insig, sodat hulle kan sien waar hulle kortskiet wat geestelike kennis betref.” UG1 273.4
“Baie wat afvallig geword het van die waarheid, meen dat die oorsaak van hulle afdwaling toe te skryf is aan die feit dat hulle nie die Getuienisse glo nie. . . . Maar die vraag ontstaan nou, sal hulle die afgod opgee wat God veroordeel, of sal hulle voortgaan op die verkeerde weg en die lig verwerp wat God aan hulle gegee het en wat juis die dinge veroordeel waarin hulle behae het? Die vraag wat hulle moet beantwoord is: Sal ek self verloën en die Getuienisse aanneem as Gods bestraffing van my sondes, of sal ek die Getuienisse verwerp omdat hulle my sondes bestraf? UG1 274.1
“In baie gevalle word die Getuienisse aangeneem en die sondes word versaak, en dadelik begin daar ‘n hervorming wat die lewe in ooreenstemming bring met die lig wat God gegee het. In ander gevalle weer, word daar volgehou met die sonde, die Getuienisse word verwerp en daar word baie redes aangevoer, wat nie waar is nie, vir die verwerping van die Getuienisse. Hulle gee nie die ware redes nie. Die ware rede vir die verwerping van die Getuienisse is ‘n gebrek aan sedelike moed om die verkeerde gewoontes op te gee.” UG1 274.2
“Satan besit die vermoë om mense te laat twyfel aan die Getuienisse wat deur God gegee is, en hy fabriseer selfs redes waarom dit nie aangeneem moet word nie, en daar is baie mense wat dit as ‘n deug en as ‘n teken van intelligensie beskou as hulle die Getuienisse betwyfel en daarmee fout vind. Diegene wat graag wil twyfel sal baie rede vind om dit te doen. Die Here neem gladnie alle grond vir ongeloof weg nie. Hy gee egter getuienis wat sorgvuldig en met ‘n ootmoedige en geseglike gees moet ondersoek word; en almal moet self besluit volgens die bewyse wat hulle het.” “Aan die opregtes gee die Here genoegsame grond vir geloof; maar diegene wat die getuienis verwerp omdat daar ‘n paar dingetjies is wat hulle beperkte verstand nie kan begryp nie, sal in die kille atmosfeer van twyfel en ongeloof bly en hulle geloof sal skipbreuk ly.” UG1 274.3