Loading…
HOOFSTUK DRIE-EN-VEERTIG—DIE PLIG OM DIE SONDE TE BESTRAF
(Deel V, bls. 676-678.)
“As daar verkeerde dinge onder Gods volk is en die diensknegte van God sluit hulle oë daarvoor, verskoon hulle feitelik die sondaar en word hulle net so skuldig en sal hulle net so gewis die misnoeë van God op hulle hals haal; want God sal hulle verantwoordelik hou vir daardie sondes. In gesigte is daar baie voorbeelde aan my getoon waar God mishaag is omdat Sy diensknegte nagelaat het om die sondes van Sy volk te bestraf. Diegene wat hierdie sondes oor die hoof sien is deur die volk beskou as beminlike en lieftallige persone, juis omdat hulle geskroom het om hulle duidelike plig volgens die Skrifte na te kom. Omdat hulle gevoel het dat die werk onaangenaam is, het hulle dit vermy.” UG1 275.1
Die deursoekende getuienis van die Gees van God “sal diegene onder Israel uit verwyder wat gedurig in stryd is met die middel wat God daargestel het om bederf uit Sy kerk te weer. Verkeerde dinge moet bestraf word. Growwe sondes moet op hulle regte naam genoem word. Gods volk moet nader aan Hom kom. . . . Dan sal hulle die sonde in sy ware lig sien en sal hulle ook besef hoe afskuwelik dit in die oë van God is.” “Eenvoudige, reguitgetuienisse, moet in die kerk gegee word, of die vloek van God sal Sy volk tref net so gewis as dit Israel vanouds getref het as gevolg van hulle sondes.” UG1 275.2
“Daar was nog nooit groter behoefte aan getroue waarskuwings en bestraffings ... as vandag nie. Satan gaan op die aarde rond wetende dat hy maar ‘n kort tydjie het. Hy vervul die wêreld met aanneemlike fabels, en die volk van God hou graag van sulke vleitaal. . . . Aan my is getoon dat Gods volk vasberade pogings moet aanwend om die duisternis uit hulle midde te verdryf. Die hulp van die Gees van God is vandag soos nog nooit tevore nodig nie.” UG1 275.3
Toe ek in my jeug die werk aanvaar het wat God aan my gegee het, het ek die belofte verkry dat ek spesiale hulp sou ontvang van die magtige Helper. Toe ook is die plegtige opdrag aan my gegee om Gods boodskappe getrou af te lewer sonder aansien van vriende of vyande. Daar is geen aanneming van persone by God nie. Of hulle met rykes of armes, hooggeplaasdes of nederiges, geleerdes of ongeleerdes handel, moet die boodskappers van God nooit ontrou wees aan hulle heilige roeping nie. UG1 276.1
“Laat niemand die gedagte koester dat ek spyt het oor die getuienisse wat ek aan verskillende persone gegee het, of dat ek selfs een daarvan sal herroep nie. As ek ooit ‘n fout begaan het, dan was dit nie in verband met my bestraffing van die sonde nie. Sommige van die broeders het dit op hulleself geneem om my werk te kritiseer en hulle het makliker manier aangewys om verkeerde dinge te bestraf. Aan hierdie persone wil ek sê: Ek neem Gods weg aan, en nie julle s’n nie. Wat ek in die Getuienisse geskryf het, is nie te kras uitgedruk nie. . . . UG1 276.2
“Diegene wat die kragtige bestraffings wil verswak wat God my beveel het om uit te spreek, sal in die gereg moet rekenskap gee van hulle werk. . . . Aan diegene wat dit op hulleself geneem het om my te bestraf en volgens hulle eie beperkte wysheid ‘n beter weg voorgestel het, herhaal ek weer: Ek neem nie julle wenke aan nie. Laat my met God en laat Hy my leer. Ek sal die woord van God aan die mense verkondig. Ek verwag nie dat almal die bestraffing sal aanneem en hulle lewens sal verbeter nie; maar ek moet nietemin my plig doen. Ek sal ootmoedig voor God wandel en my werk vir die tyd en die ewigheid doen. UG1 276.3
“Die Here het nie aan my broeders die werk gegee wat Hy aan my gegee het nie. Daar is aangevoer dat die wyse waarop ek my bestraffings in die openbaar gegee het, ander beweeg het om ook hard en krities op te tree. As dit die geval is, moet hulle die saak met God uitmaak. As ander verantwoordelikhede op hulleself neem wat God nie op hulle gelê het nie, en as hulle die bevele wat God hulle keer op keer deur Sy nederige werktuie gegee het, om vriendelik, geduldig en verdraagsaam te wees, veronagsaam, sal hulle verantwoording moet doen vir die gevolge. Met ‘n bedroefde hart het ek my onaangename taak om selfs my beste vriende te bestraf, uitgevoer; selfs my eggenoot moes ek bestraf, en ek sal nie minder getrou wees wat ander betref nie, of hulle die bestraffings aanneem of nie. UG1 276.4
“Wanneer ek die mense toespreek, sê ek baie dinge wat ek nie vooraf bedink het nie. Die Gees van die Here neem dikwels besit van my, wanneer dit skyn asof ek uit myself, weg van myself gevoer word; die lewens en karakters van verskillende persone word dan duidelik aan my voorgestel. Ek sien hulle foute en gevare, en dan voel ek gedwonge om openbaar te maak wat op hierdie wyse aan my getoon is. Ek durf nie die Gees van God weerstaan nie.” UG1 277.1
* * * * *
EK het getrag, in die vrees van die Here, om aan die volk van God hulle sondes en die gevare wat hulle bebedreig, bekend te maak, en tot die beste van my vermoë het ek probeer om hulle wakker te skud. Ek het onrusbarende dinge aan hulle verkondig wat, as hulle dit geglo het, hulle baie bevrees en beangs sou gemaak het en hulle sou beweeg het om hulle sondes en ongeregtighede te versaak. Ek het aan hulle gesê dat daar, volgens wat aan my getoon is, maar ‘n geringe aantal van diegene wat voorgee om die waarheid te glo, uiteindelik gered sou word — nie omdat hulle nie gered kon word nie, maar omdat hulle nie volgens Gods weg gered wou word nie. Die weg wat die Here voor ons stel is te nou en die poort is te eng om hulle deur te laat terwyl hulle nog die wêreld vashou, of selfsug of sonde in hulle harte koester. Daar is geen plek vir hierdie dinge in die hemel nie; en tog is daar so min wat hierdie dinge wil laat vaar sodat hulle die smal pad kan bewandel en deur die nou poort kan gaan.— Deel II, bls. 445, 446. UG1 277.2