Loading…
HOOFSTUK TWEE-EN-TWINTIG—ONSKRIFTUURLIKE HUWELIKE
(Deel IV, bls. 503-508.)
ONS lewe in die laaste dae, en die huweliksmanie wat daar bestaan, is een van die tekens van die spoedige wederkoms van Christus. God word nie in hierdie saak geraadpleeg nie. Godsdiens, pligte en beginsels word verloën ten einde te voldoen aan die begeertes van ‘n onbekeerde hart. Daar behoort geen vertoning en gejuig te wees oor die vereniging van die partye in die huwelik nie. Daar is nie een huwelik uit die honderd wat gelukkig is, wat die goedkeuring van God wegdra, en wat die partye in ‘n beter posisie stel om God te verheerlik as voor die huwelik nie. Die treurige gevolge van verkeerde huwelike is talryk. Die partye begeef hulle in die huwelik sonder om eers die saak te oorpeins. Daar word nooit aan gedink om die saak op verstandige wyse te oorweeg nie, en om ouer mense daaroor te raadpleeg, word as ouderwets beskou. UG1 165.1
Pleks van heilige liefde is dit onheilige drifte wat die spoorslag tot die huwelik gee. Baie stel hulle eie siele in gevaar en haal die vloek van God op hulle nek deur huwelike aan te gaan slegs om self te bevredig. Daar is gevalle aan my getoon van sommige wat voorgee om die waarheid te glo, maar ‘n groot fout begaan het deur met ongelowiges in die huwelik te tree. Hulle het die hoop gekoester dat die ongelowige eggenoot die waarheid sou aanneem; maar na hy sy doel bereik het, was hy verder van die waarheid as ooit tevore. En toe het die listige en aanhoudende pogings van die vyand begin om die gelowige van die waarheid afvallig te maak. UG1 165.2
Baie verloor vandag belangstelling en geloof in die waarheid omdat hulle so ‘n egverbintenis met ongelowiges aangegaan het. Hulle asem die lug van twyfeling en ongeloof in. Hulle hoor en sien ongeloof totdat hulle ook naderhand ongelowig word. Sommige mag die moed hê om hierdie invloede te beveg; maar in baie gevalle word die geloof ongemerk ondermyn en eindelik vernietig. In sulke gevalle het Satan geslaag in sy planne. Hy het so ongemerk deur sy werktuie gewerk dat die borswering van geloof en waarheid weggevoer is nog voordat die persone gewaar het waar hulle heen dryf. UG1 165.3
Dit is ‘n baie gevaarlike iets om ‘n wêreldlike egverbintenis aan te gaan. Satan weet baie goed dat die troudag van menige jong man en vrou ook die einde beteken van hulle geestelike lewe. Hulle is vir Christus verlore. Vir ‘n tyd mag hulle ‘n poging maak om ‘n Christelike lewe te lei, maar hulle het gedurig te kampe met ‘n invloed wat hulle in die teenoorgestelde rigting voer. Eers was dit vir hulle ‘n groot vreugde en voorreg om van hulle geloof en hoop te praat; maar nou praat hulle nie graag meer daaroor nie omdat die persoon met wie hulle verbind is, nie daarin belangstel nie. As gevolg daarvan verswak die geloof in die waarheid en sterf dit heeltemal uit die hart uit, terwyl Satan op listige wyse ‘n net van ongeloof om hulle span. UG1 166.1
Dit is onmatigheid in wettige dinge wat daarvan ‘n gruwelike sonde maak. Diegene wat die waarheid bely, vertrap die wil van God as hulle met ongelowiges in die huwelik tree; hulle verbeur die guns van God, en sal later bitter berou hê. Die ongelowige persoon mag ‘n goeie sedelike karakter hê; maar die feit dat hy of sy nie gehoor gee aan die vereistes van God en nie ag gee op so ‘n groot saligheid nie, is genoegsame rede waarom daar nie ‘n huwelik met hulle aangegaan moet word nie. Die karakter van die ongelowige party mag ooreenstem met die van die jong man aan wie Jesus gesê het: “Een ding ontbreek jy”; en dit is daardie een ding wat nodig is. UG1 166.2
Dit word soms aangevoer dat die ongelowige persoon goedgesind is teenoor die godsdiens, dat hy ‘n goeie maat is, maar net, hy is nie ‘n Christen nie. Hoewel die gelowige miskien genoeg verstand besit om te besef dat ‘n verbintenis met ‘n ongelowige nie die regte ding is nie, word daar nogtans in nege gevalle uit die tien toegegee aan die neiging van die hart. Net sodra die huweliksbelofte voor die kansel gemaak is, begin die geestelike lewe af te neem; die ywer vir die godsdiens verswak, en die een vesting na die ander word ingeneem, totdat beide man en vrou saamstaan onder die swart banier van Satan. Selfs by die feesviering tydens die huwelik kry die wêreld die oorwinning oor die gewete en die geloof en die waarheid. Die uur van gebed word nie in die nuwe huis waargeneem nie. Die bruid en bruidegom het mekaar aangeneem en Jesus verban. UG1 166.3
Die ongelowige party mag in die begin geen teenstand bied nie, maar sodra die waarhede van die Bybel onder sy aandag gebring word, dan begin die moeilikheid, en hy neem die volgende houding in: “Jy het goed geweet wat my gevoelens was toe jy met my getrou het; moet my nie lastig val nie. Verstaan van nou af asseblief goed dat jou godsdienstige beskouings voortaan verbied is.” Waar die gelowige persoon erns en ywer aan die dag lê in verband met sy geloof, mag dit as onvriendelikheid deur die ander party wat geen belang in die Christelike lewe het, beskou word. UG1 167.1
Gewoonlik meen die gelowige party dat hy onder die nuwe omstandighede ‘n bietjie moet toegee aan sy maat. Daar word gevolglik deelgeneem aan wêreldlike vermake; eers is daar ‘n bietjie huiwering om dit te doen, maar stadigaan neem die belangstelling in die waarheid af, en geloof word verruil vir ongeloof en twyfeling. Niemand sou ooit verwag het dat die eertydse onwrikbare gelowige en navolger van Christus ooit kon verander in die twyfelaar wat hy nou is nie. O, die verandering wat deur onverstandige huwelike gekom het! UG1 167.2
Wat behoort die Christen te doen wanneer hy in die posisie beland waar die hegtheid van sy godsdienstige beginsels getoets word? Met ‘n navolgingswaardige beslistheid behoort hy te sê: “Ek is ‘n ernstige Christen. Ek is oortuig dat die sewende dag van die week die Bybelse Sabbat is. Ons geloof en oortuigings gaan in teenoorgestelde rigtings. Ons sal nie gelukkig saam wees nie. Want as ek voortgaan om meer en meer van die wil van God te leer, sal ek minder en minder wêreldsgesind word en toeneem in gelykvormigheid aan Christus. As jy geen lieflikheid in Christus kan sien nie en nie tot die waarheid getrokke is nie, sal jy die wêreld liefhê wat ek nooit kan liefhê nie, terwyl ek weer die dinge van God sal liefhê — wat jy nie liefhet nie. Geestelike dinge word geestelik onderskei. Sonder geestelike insig sal jy nooit kan sien wat God van my verwag nie, of my pligte verstaan teenoor die Meester wat ek dien nie; daarom sal jy voel dat ek jou verwaarloos vir my godsdienstige pligte. Jy sal nie gelukkig wees nie; jy sal jaloers wees oor die liefde wat ek aan God gee, en ek sal alleen staan in my geloof. Wanneer jy van insig verander, en wanneer jy jou verpligtings teenoor God besef en jy ook my Heiland leer liefkry, dan kan ons weer voortgaan met ons vriendskap.” UG1 167.3
Op hierdie wyse maak die gelowige ‘n opoffering vir Christus wat sy gewete goedkeur, en wat aantoon dat hy die ewige lewe te hoog waardeer as om stappe te doen waardeur hy dit miskien kan verloor. Hy voel dat dit beter sou wees om ongetroud te bly as om homself met een te verbind wat die wêreld liewer het as Jesus en wat hom sal weglei van die kruis van Christus. Maar die gevaar om mens liefde aan ongelowiges te gee, word nie besef nie. Vir jongmense lyk die huwelik baie romanties, en dit is baie moeilik om hierdie aspek van die saak in die verbeelding van die jongmense te bestry en hulle onder die indruk te bring van die groot verantwoordelikhede wat die huwelik meebring. Die huweliksbelofte verbind dit lewenslot van twee persone so heg, dat niks behalwe die dood die band kan verbreek nie. UG1 168.1
Sal iemand wat soek na eer, heerlikheid en die ewige lewe, hom verbind met ‘n ander persoon wat hom nie onder die kruisgesante van Christus wil skaar nie? Sal u wat voorgee dat u Christus gekies het as Meester om Hom in alle dinge te gehoorsaam, u belange verbind met die van iemand wat deur die vors van die duisternis geregeer word? “Sal twee ooit met mekaar wandel tensy dat hulle eers afgespreek het?” “As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat julle mag vra, sal dit hulle te beurt val van My Vader wat in die hemel is.” Maar hoe vreemd! Terwyl een van die persone wat in die huwelik verbind is besig is om te bid, is die ander een heeltemal onverskillig; terwyl die een soek na die ewige lewe, gaan die ander een voort op die bree weg wat na die verderf lei. UG1 168.2
Daar is honderde wat Christus en die hemel prysgegee het omdat hulle met onbekeerde persone in die huwelik getree het. Kan dit wees dat die liefde en gemeenskap van Christus van so min waarde vir hulle is dat hulle die geselskap van arme sterwelinge soek? Waardeer hulle die hemel so min dat hulle gewillig is om die heerlikheid daarvan te waag vir iemand wat geen liefde vir die dierbare Heiland het nie? UG1 169.1
Die voorspoed en geluk van die huwelikslewe hang af van die eensgesindheid van die partye. Hoe kan die vleeslike hart in ooreenstemming gebring word met ‘n hart wat in harmonie is met die van Christus? Die een saai vir die vlees; hy dink en handel ooreenkomstig die neigings van sy eie hart; die ander een saai vir die Gees en soek steeds om selfsug te onderdruk, die eie vleeslike neigings te oorwin, en die Meester gehoorsaam te wees. Daar ontstaan dus ‘n verskil van smaak, doel en strewe. Tensy die gelowige, deur ‘n onwrikbare handhawing van beginsel, die ongelowige win, sal hy, en so dikwels is dit die geval, ontmoedig word en sy godsdienstige beginsels opgee vir die geselskap van een wat geen verbintenis met die hemel het nie. UG1 169.2
God het Sy volk vanouds verbied om huwelike aan te gaan met die ander volke. Daar word nou aangevoer dat hierdie verbod gegee is om te verhoed dat die Hebreërs hulle verbind met afgodedienaars en heidene. Maar die heidene was destyds in ‘n gunstiger posisie as die ongelowiges van hierdie eeu, wat, hoewel hulle die lig van die waarheid het, botweg weier om dit aan te neem. Die sondaars van vandag is baie skuldiger as die heidene, want die lig van die waarheid skyn helder rondom hulle. Hulle verkrag hulle gewete, en is moedswillige vyande van God. God het die huweliksverbintenisse met die heidene destyds om die volgende rede verbied; “Want hy sal jou seun van My afvallig maak.” Diegene onder Israel vanouds wat hierdie verbod van God veronagsaam het, het dit gedoen ten koste van hulle godsdienstige beginsels. UG1 169.3