Loading…
Hoofstuk 4 - Dic Tiende
IN die Hebreeuse stelsel is een-tiende van die volk se inkomste afgesonder vir die instandhouding van die openbare aanbidding van God. Moses het Israel beveel: “Al die tiendes van die land, van die graan van die land, van die vrugte van die bome, behoort aan die Here; dit is heilig aan die Here.” “Wat betref al die tiendes van beeste en kleinvee - alles wat onder die herderstaf deurgaan - die tiende moet aan die Here heilig wees.” (Levitikus 27:30,32.) GF 23.1
Maar tiende heffing het nie by die Hebreërs ontstaan nie. GF 23.2
Van die begin af het die Here Hom die tiende toegeëien en is hierdie eis erken en geëerbiedig. Abraham het aan Melgisedek, die priester van die allerhoogste God, tiende betaal (Genesis 14:20). Op Bet-el het Jakob, toe hy ‘n balling en ‘n swerweling was, aan die Here beloof: “Van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan” (Genesis 28:22). Toe Israel gereed was om as ‘n nasie gevestig te word, is die wet betreffende tiende heffing herbevestig as een van die Goddelike instellings wat gehoorsaam moes word as hulle voorspoedig wou wees. GF 23.3
Die heffing van tiendes en offergawes was bedoel om ‘n groot waarheid onder die aandag van die volk te bring, naamlik dat God die bron is van elke seëning wat Sy skepsele ontvang, en dat die mens Hom dank verskuldig is vir die goeie gawes van Sy voorsienigheid. GF 23.4
Hy gee self“aan almal lewe en asem en alles” (Handelinge 17:25). Die Here getuig: “Al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende” (Psalm 50:10).” Aan My behoort die silwer en aan My die goud” (Haggai 2:8). En dit is God wat aan die mens die krag gee om rykdom te verwerf (Deuteronomium 8:18). Die Here het beveel dat almal moet erken dat alle dinge van Hom kom deur ‘n deel van die seëninge in die vorm van geskenke en offergawes aan Hom terug te gee vir die onderhoud van Sy aanbidding. GF 23.5
Die tiendes... behoort aan die Here.” Hier tref ons dieselfde uitdrukking aan as in die wet van die Sabbat:“Die sewende dag is die sabbat van die Here jou God” (Exodus 20:10). Die Here het ‘n bepaalde gedeelte van die mensdom se tyd en van sy middele vir Hom uitgehou, en niemand kon enigeen van die twee vir sy eie doeleindes gebruik sonder om hom te besondig nie. GF 23.6
Die tiende moes oorgegee word vir die uitsluitlike gebruik van die Leviete, die stam wat afgesonder was vir die diens van die heiligdom. Maar die gifte vir godsdienstige doeieindes is volstrek nie tot die tiende beperk nie. Die tabemakel, en Daarna die tempel, is uitsluitlik van vrywillige offergawes opgerig, en Moses het beveel dat so dikwels die volk getel word, elkeen ‘n halwe sikkel vir”die bediening van die tent van samekoms”moes gee sodat daar vir instandhouding en ander dienste voorsiening gemaak kon word. In Nehemia se tyd is daar jaarliks vir hierdie doel ‘n bydrae gemaak. Kyk Exodus 30:12-16; 2 Konings 12:4, 5; 2 Kronieke 24:4-13; Nehemia 10:32,33. Van tyd tot tyd is daar ook sonden dankoffers aan die Here gebring. Tydens die jaarfeeste is groot hoeveelhede gegee. En daar is ruim voorsiening gemaak vir die armes. GF 24.1
Selfs voordat die tiende gehef is, het mense die aansprake van die Here erken. Die eerstelinge van elke oes van die land is aan Hom gewy. Die eerste wol wanneer die skape geskeer is, die eerste graan wanneer die koring gedors is, die eerstelinge van die olie en die wyn is vir God afgesonder. So ook die eersgeborenes van al die diere; en daar moes vir die eerste seun ‘n losprys betaal word. Die eerstelinge moes by die heiligdom aan die Here gegee word waar dit dan aan die priesters vir hulle gebruik oorhandig is. GF 24.2
Op hierdie wyse is die volk gedurig daaraan herinner dat God die eintlike eienaar was van hulle lande, hulle kuddes en hulle kleinvee; dat Hy saaityd en oestyd, die sonskyn en die reen gestuur het, en dat Hy die Skepper was van alles wat hulle besit het - dat Hy hulle aangestel het as rentmeesters oor Sy goedere. GF 24.3
Toe die manne van Israel die eerstelinge van land en boord by die tabemakel kom aflaai het, het hulle die goedheid van God in die openbaar erken. Wanneer die priester die Offer ontvang het, het die offeraar, asof hy in die teenwoordigheid van Jehova praat, gesê: “My vader was ‘n swerwende, Arameër;” dan het hy sy verblyf in Egipte en die verdrukking waaruit God Israel verlos het, beskryf:“Die Here het ons uit Egipte uitgelei deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders.” Dan het hy gesê: “Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, Here, my gegee het.” (Deuteronomium 26:5,8-11.) GF 24.4
Die Israeliete moes ruim een-vierde van hulle inkomste vir godsdienstige en liefdadigheidsdoeleindes afstaan. Mens sou verwag dat so ‘n swaar belasting op hulle inkomste hulle sou verarm; maar die getroue nakoming van hierdie reëls was inteendeel een van die voorwaardes van hulle voorspoed. Op voorwaarde van hulle stipte gehoorsaamheid het God hulle beloof: “Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van jullie grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie... En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, sê die Here van die leërskare” (Maleagi 3:11,12). GF 24.5
“n Treffende voorbeeld van die gevolge van die selfsugtige terughou van vrywillige offergawes aan die saak van God is in die dae van die profeet Haggai gegee. Nadat hulle uit hulle Babiloniese ballingskap teruggekeer het, het die Jode ondemeem om die tempel van die Here te herbou; maar omdat hulle hardnekkige teenstand van hulle vyande ondervind het, het hulle die werk gestaak; en ‘n groot droogte wat hulle in werklike armoede gedompel het, het hulle oortuig dat dit vir hulle onmoontlik was om die herbouing van die tempel te voltooi. Hulle het gesê:“Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van die Here gebou moet word nie.” Maar die profeet van die Here het ‘n boodskap aan hulle gebring: “Is dit vir julleself wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê? So sê die Here van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het: julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ‘n stukkende beurs te steek.” (Haggai 1:2-6.) Dan word die rede verstrek:“Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die Here van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop. Daarom het die hemel bo julle die dou ingehou en die aarde het sy opbrings teruggehou. En Ek het droogte oor die land geroep en oor die berge en oor die koring en oor die mos en oor die olie en oor alles wat die grond oplewer; en oor die mense en oor die diere en oor alle arbeid van die hande.” (Verse 9-11.) “In die tyd het iemand gekom by ‘n koringmied van twintig maat, en daar was maar tien; hy het gekom by die parskuip om vyftig emmers te skep, en daar was maar twintig. Ek het julle swaar getref met brandkoring en heuningdou en hael al die werk van julle hande.” (Haggai 2:16,17.) GF 25.1
Deur die bestraffing aangespoor, het die volk die huis van God weer begin bou. Toe kom die woord van die Here tot hulle: “Merk tog op, van hier die dag af terug, van die vieren-twintigste dag van die negende maand, naamlik van die dag af toe hulle die fondament van die tempel van die Heregelê het;...van hierdie dag afsal Ekseën” (Verse 18,19). GF 26.1
Die wyse man sê:“Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek.” Spreuke 11:24. En in die Nuwe Testament leer die apostel Paulus dieselfde les: “Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.” “God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.” 2 Korinthiërs 9:6,8. GF 26.2
God wou hê dat Sy volk Israel die lig aan al die bewoners van die aarde moes oordra. Deur Sy openbare aanbidding te onderhou, het hulle van die bestaan en oppermag van die lewende God getuig. En dit was hulle voorreg om hierdie aanbidding te onderhou om van hulle trou en hulle liefde teenoor Hom te getuig. Die Here het dit so verorden dat die verspreiding van lig en waarheid op aarde afhanklik moet wees van die arbeid en die offergawes van diegene wat deelgenote is in die hemelse gawe. Hy kon engele aangestel het as gesante van Sy waarheid; Hy kon Sy wil, soos op Sinai, met Sy eie stem bekend gemaak het; maar in Sy oneindige liefde en wysheid het Hy mense geroep om Sy medearbeiders te wees deur hulle te kies om hierdie werk te doen. GF 26.3
In die dae van Israel was die tiende en die vrywillige offergawes nodig om die godsdiensinstellinge te onderhou. Behoort die volk van God in hierdie eeu dan minder te gee? Die beginsel wat Christus neergelê het, is dat ons offers aan God in verhouding behoort te wees met die lig en voorregte wat ons geniet. “Elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word.” Lukas 12:48. Toe die Heiland Sy dissipels uitgestuur het, het Hy aan hulle gesê:“julle het dit vemiet ontvang, vemiet moet julle dit gee” (Matthéus 10:8). Namate ons meer seëninge en voorregte ontvang - veral omdat ons die ongeëwenaarde selfopoffering van die heerlike Seun van God as voorbeeld het - behoort ons ons dankbaarheid nie met ruimer offergawes te betuig sodat die verlossingsboodskap ook aan andere oorgedra kan word nie? Namate die evangeliewerk uitbrei, vereis dit ook groter ondersteuning as in die ou tyd, en dit maak die wet van tiendes en offergawes ‘n dringender noodsaaklikheid as selfs in die dae van die Joodse bedeling. As Sy volk Sy saak ruim deur middel van hulle vrywillige offergawes sou ondersteun pleks daarvan dat hulle onchristelike en onheilige metodes aanwend om die skatkis vol te maak, sou hulle God vereer en baie meer siele sou vir Christus gewin word. GF 26.4
Moses se plan om middele vir die bou van die tabemakel te versamel, het uitmuntend geslaag. Geen aansporing was nodig nie. Hy het hom ook nie tot die metodes gewend waarvan soveel kerke in ons tyd gebruik maak nie. Hy het geen groot fees gehou nie. Hy het die mense nie na plesier, danspartye of ander openbare vermaaklikhede genooi nie; ook het hy nie van loterye of iets anders van so ‘n ongewyde aard gebruik gemaak om middele te kry vir die oprigting van die tabemakel van God nie. Die Here het Moses beveel om die kinders van Israel te nooi om huile offergawes te bring. Hy moes geskenke neem van elkeen wat dit gewilliglik uit sy hart gee. En daar het soveel offergawes gekom dat Moses die volk moes beveel om nie meer te bring nie, want hulle het meer gegee as wat gebruik kon word. GF 27.1
God het mense as Sy rentmeesters aangestel. Die besittings wat Hy in hulle hande toevertrou het, is die middele wat Hy voorsien het vir die verbreiding van die evangelie. Aan diegene wat bewys dat hulle getroue rentmeesters is, sal Hy ‘n groter pand toevertrou. Die Here sê: GF 27.2
“Die wat My eer, sal Ek eer” (1 Samuel 2:30). “God het ‘n blymoedige gewer lief,“en wanneer Sy volk hulle geskenke en offergawes uit dankbare harte aan Hom gee,” nie met droefheid of uit dwang nie,” sal Hy hulle seën soos Hy beloof het.” Bring die hele tiende na die skathuis. sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare. of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie.” Maleagi 3:10. GF 27.3