Loading...

Loading

Loading
(You are in the browser Reader mode)

Hoofstuk 21—“’n Groot Kloof Gevestig”

Na aanleiding van Lukas 16:19-31 

IN DIE gelykenis van die ryk man en Lasarus het Christus getoon dat die mens sy ewige lotsbestemming in hierdie lewe beslis. Gedurende die proeftyd word die genade van God vir elke siel aangebied. Maar as mense hulle geleenthede verkwis deur hulleself te behaag, sny hulle hulself van die ewige lewe af. Geen latere proeftyd sal aan hulle gegun word nie. Deur hulle eie keuse het hulle‘n onoorbrugbare kloof tussen hulle en hulle God gevestig. DGC 181.1

Die gelykenis vergelyk die rykes wat nie op God vertrou nie met die armes wat wel op God vertrou. Christus leer dat die tyd sal kom wanneer die bordjies verhang sal wees. Diegene wat arm is aan hierdie wêreld se goed, maar tog op God vertrou en lyding geduldig verduur, sal eendag bokant diegene verhoog word wat nou die hoogste poste beklee wat die wêreld kan aanbied, maar hulle lewens nie aan God oorgegee het nie. DGC 181.2

“Daar was ‘n ryk man,” het Christus gesê, “en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. En daar was’n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val.” DGC 181.3

Die ryk man was nie van die klas wat deur die onregverdige regter voor-gestel word, wat openlik gesê het dat hy God nog mens ontsien nie. Hy het geroem dat hy ‘n seun van Abraham was. Hy het die bedelaar geen geweld aangedoen nie, hom nie weggestuur nie. As die arme, veragtelike skepsel vertroosting kon vind deur hom te aanskou wanneer hy deur sy poorte ingaan, was die ryk man gewillig dat hy daar bly. Maar hy was selfsugtig en onverskillig teenoor die behoeftes van sy lydende broeder. DGC 181.4

Daar was destyds geen hospitale waar die siekes verpleeg kon word nie. Die lydendes en behoeftiges is onder die aandag van diegene gebring aan wie die Here rykdom toevertrou het, sodat hulle hulp en simpatie kon ontvang. So was dit dan ook met die bedelaar en die ryk man. Lasarus het groot behoefte aan hulp gehad, want hy was sonder vriende, tuiste, geld of voedsel. Tog is hy toegelaat om dag na dag in hierdie toestand te bly hoewel die ryk edelman alles in oorvloed gehad het. Die een wat in staat was om die lyding van sy medemens oorvloediglik te verlig, het vir homself geleef, soos sovele vandag nog doen. DGC 181.5

Daar is deesdae in ons onmiddellike omgewing baie wat honger, nakend en sonder tuiste is. Om na te laat om van ons middele aan hierdie behoeftige, lydendes te gee, plaas op ons ‘n skuldelas wat ons eendag sal vrees om in die gesig te staar. Alle gierigheid word as afgodery veroordeel. Alle selfverwenning is afstootlik in Gods oë. DGC 182.1

God het van die ryk man ‘n rentmeester oor Sy middele gemaak en dit was sy plig om juis vir sulke gevalle soos die van die bedelaar te sorg. Die bevel is gegee: “Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” (Deut. 6:5); en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Lev. 19:18) Die ryk man was ‘n Jood en hy was bekend met die bevel van God. Maar hy het vergeet dat hy rekenskap moes gee van sy gebruik van sy toevertroude middele en bekwaamhede. Die Here se seëninge het in oorvloed op hom gerus, maar hy het hulle selfsugtig gebruik, om homself, en nie sy Skepper nie, te verheerlik. Sy verpligtinge om sy gawes vir die opheffing van die mensdom te gebruik, was in verhouding tot sy oorvloed. Dit was die Here se bevel, maar die ryk man het nooit aan sy verpligting teenoor die Here gedink nie. Hy het geld uitgeleen en rente ingevorder vir wat hy uitgeleen het, maar hy het geen rente teruggegee vir wat God aan Hom geleen het nie. Hy het kennis en talente gehad, maar dit nie verbeter nie. Hy het vergeet dat hy aan God rekenskap moet gee en het al sy kragte aan plesier bestee. Alles waardeur hy omring was, sy vermaaklikhede, die lof en vleitaal van sy vriende, het alles sy selfsugtige genot bevorder. Hy was so verdiep in die geselskap van sy vriende dat hy sy verantwoordelikheid om met God saam te werk in Sy welwillendheidsdiens vergeet het. Hy het die geleentheid gehad om die Woord van God te verstaan en sy leer uit te leef, maar die plesiersoekende geselskap wat hy gekies het, het sy tyd so in beslag geneem dat hy die God van die ewigheid vergeet het. DGC 182.2

‘n Tyd het gekom toe die toestand van die twee manne verander het. Die arm man het dag na dag gely, maar hy het geduldig en stilswyend volhard. Hy het naderhand gesterf en is begrawe. Daar was niemand om oor hom te rou nie, maar deur sy geduld en lyding het hy vir Christus getuig. Hy het die toets van sy geloof deurstaan, en na sy dood, het Christus vertel, het engele hom na Abraham se boesem gedra. DGC 182.3

Lasarus stel die lydende armes voor wat in Christus glo. Wanneer die basuin klink en almal wat in die grafte is, die stem van Christus hoor en uitkom, sal hulle hul beloning ontvang, want hulle geloof in God was nie net ‘n teorie nie maar‘n werklikheid. DGC 183.1

“En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.” DGC 183.2

In hierdie gelykenis het Christus die volk op hulle eie vlak behandel. Vele wat na Christus geluister het, het in die leer van ‘n bewuste voortbestaan tussen die dood en die opstanding geglo. Die Heiland het van hulle idees geweet en Hy het Sy gelykenis op so ‘n wyse gestel dat belangrike waarhede deur hierdie vooropgestelde menings ingebring kon word. Hy het vir Sy toehoorders ‘n spieël voorgehou waarin hulle hulle ware verhouding tot God kon sien. Hy het die heersende sienswyse gebruik om die gedagte oor te dra wat Hy voor almal wou benadruk, naamlik dat geen mens se waarde volgens sy besittings bereken kan word nie, want alles wat hy besit, is net deur die Here aan hom geleen. Misbruik van hierdie gawes sal hom onderkant die armste en mees geteisterde man stel wat God liefhet en op Hom vertrou. DGC 183.3

Christus wil hê dat Sy toehoorders moet verstaan dat dit onmoontlik is om die redding van hulle siele na die dood te verkry. “Kind,” sou Abraham geantwoord het, “onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat daar is, nie na ons kan oorkom nie.” So maak Christus dit duidelik dat daar geen tweede proeftyd is nie. Hierdie lewe is die enigste tyd wat aan die mens vergun word om hom vir die ewigheid voor te berei. DGC 183.4

Die ryk man het nie afstand gedoen van die idee dat hy ‘n kind van Abraham was nie, en in die verhaal roep hy in sy benoudheid na hom om hulp. “Vader Abraham,” het hy gebid, “wees my barmhartig.” Hy het nie tot God gebid nie, maar tot Abraham. Sodoende het hy laat blyk dat hy Abraham bo God gestel het, en dat hy op sy verwantskap met Abraham vir redding gesteun het. Die moordenaar aan die kruis het tot Christus gebid. “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom,” het hy gesê (Lukas 23:42) En dadelik kom die antwoord: “Voorwaar, Ek sê vir jou vandag (terwyl Ek hier in vernedering en smart hang), jy sal saam met My in die Paradys wees.” Maar die ryk man het tot Abraham gebid en sy versoek is nie toegestaan nie. Net Christus moet verhoog word as” Leidsman en Verlosser ... om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.” (Hand. 5:31) “Daar is ook geen ander naam ... waardeur ons gered moet word nie.” Hand. 4:12. DGC 183.5

Die ryk man het sy lewe in eiegenot deurgebring en te laat besef dat hy geen voorsiening vir die ewigheid gemaak het nie. Hy besef sy dwaasheid, en hy dink aan sy broers wat soos hy sou volhou en sou leef om hulleself te behaag. Toe rig hy hierdie versoek: “Ek bid u dan, vader, om hom [Lasarus] na my vader se huis te stuur want ek het vyf broers - om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.” “Toe sê Abraham vir hom: “Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na die luister.” Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.” Maar hy sê vir hom: “As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” DGC 184.1

Toe die ryk man pleit dat sy broers meer bewyse moet kry, is dit duidelik aan hom gestel dat al sou hierdie bewys gelewer word, dit hulle nie sou beweeg nie. Sy versoek was ‘n verwyt teen God. Dit was asof die ryk man gesê het: “As U my deegliker gewaarsku het, sou ek nie nou hier gewees het nie.” Abraham sou dan geantwoord het: “Jou broers is voldoende gewaarsku. Lig is aan hulle gegee, maar hulle wou nie sien nie. Waarheid is aan hulle voorgehou, maar hulle wou nie hoor nie.” DGC 184.2

“As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” Hierdie woorde is bewaarheid in die geskiedenis van die Joodse volk. Christus se laaste en kronende wonderwerk was die opwekking van Lasarus van Betanië, nadat hy vier dae lank dood was. Hierdie wonderlike bewys van die Heiland se godheid is aan die Jode gegee, maar hulle het dit verwerp. Lasarus het uit die dode opgestaan en voor hulle getuig, maar hulle het hulle harte teen alle getuienis verhard en het selfs geprobeer om sy lewe te neem. (Joh. 12:9-11) DGC 184.3

Die wet en die profete is Gods aangewese middele vir die redding van die mens. Christus het gesê, Laat hulle aan hierdie bewyse gehoor gee. As hulle nie na die stem van God in Sy Woord luister nie, sal hulle nie na die mededeling van ‘n getuie uit die dode luister nie. DGC 185.1

Diegene wat gehoor gee aan Moses en die Profete sal geen groter lig verlang as wat God reeds gegee het nie, maar as die mens die lig veronagsaam en nie die geleenthede waardeer wat aan hulle gegee is nie, sal hulle nie luister as iemand uit die dode met ‘n boodskap na hulle toe kom nie. Hulle sal selfs nie eens deur hierdie bewys oortuig raak nie, want diegene wat die wet en profete verwerp, verhard hulle harte in só ‘n mate dat hulle alle lig sal verwerp. DGC 185.2

Die gesprek tussen Abraham en die voormalige ryk man is figuurlik. Die les daaruit te leer, is dat aan elke mens voldoende lig gegee is vir die uitvoering van die pligte wat van hom verwag word. Die verantwoordelikhede van die mens is gelyk aan sy geleenthede en voorregte. God gee aan elkeen voldoende lig en genade om die werk te doen wat Hy hom gegee het om te doen. As ‘n mens nalaat om te doen wat ‘n bietjie lig as sy plig aanwys, sou groter lig net bewys dat hy nie getrou is om gebruik te maak van die seëning wat hy reeds het nie. “Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig.” Lukas 16:10. Diegene wat weier om deur Moses en die profete verlig te word en vra dat ‘n wonderwerk gedoen moet word, sal nie oortuig wees nie, al word hulle versoek toegestaan. DGC 185.3

Die gelykenis van die ryk man en Lasarus toon aan hoe die twee klasse wat deur hierdie manne voorgestel word in die onsigbare wêreld beskou word. Dit is geen sonde om ryk te wees as rykdom nie deur onreg verwerf word nie. ‘n Ryk man word nie veroordeel omdat hy rykdom besit nie, maar hy word veroordeel as die rykdom wat aan hom toevertrou is, selfsugtig bestee word. Dit sou veel beter wees as hy sy geld langs die troon van God sou opgaar deur daarmee goed te doen. Die dood kan geen mens arm maak wat hom daarop toelé om op hierdie manier die ewige rykdom te verkry nie. Maar die man wat sy skatte vir homself opgaar, kan niks daarvan hemel toe neem nie. Hy het bewys dat hy ‘n onbetroubare rentmeester is. Gedurende sy lewe het hy sy goeie dinge gehad, maar hy het sy verpligtinge teenoor God vergeet. Hy het nagelaat om die hemelse skat te verwerf. DGC 185.4

Die ryk man wat so baie voorregte gehad het, word aan ons voorgehou as een wat met sy talente moes gewoeker het sodat sy werke tot in die groot hiernamaals sou strek en vir hom geestelik tot voordeel kon gewees het. Die doel van die verlossing is nie net om sonde uit te wis nie, maar om aan die mens daardie geestelike gawes terug te gee wat weens die verdwergende krag van die sonde verlore is. Geld kan nie in die toekomstige lewe ingedra word nie. Daar is dit nie nodig nie. Maar die goeie dade wat gedoen word deur siele vir Christus te wen, word wel na die hemelhowe oorgedra. Maar diegene wat die gawes van die Here op selfsugtige wyse vir hulleself gebruik en hulle behoeftige medemense nie help nie en niks doen om Gods werk in die wéreld te bevorder nie, doen hulle Skepper oneer aan. Daar word in die boeke van die hemel teenoor hulle name opgeteken dat hulle God beroof het. DGC 186.1

Die ryk man het alles gehad wat geld kon koop, maar hy het nie die rykdom besit wat sy rekening by God sou vereffen het nie. Hy het gelewe asof alles wat hy besit het sy eie was. Hy het die roepstem van God en die behoeftes van die lydende armes veronagsaam. Maar uiteindelik kom daar ‘n roepstem wat nie veronagsaam kan word nie. n Mag wat hy nie kan bestry of weerstaan nie, beveel hom om die plek te verlaat waarvan hy nie meer die rentmeester is nie. Die man wat voorheen ryk was, word tot hopelose armoede verneder. Die kleed van Christus se geregtigheid, wat in die hemel geweef is, kan hom nooit dek nie. Hy wat voorheen die weelderigste purper, die fynste linne gedra het, is tot naaktheid verneder. Sy proeftyd is verby. Hy het niks in die wêreld ingebring nie en hy kan niks daaruit neem nie. DGC 186.2

Christus het die sluier gelig en hierdie prentjie aan die priesters, regeerders, skrifgeleerdes en Fariseërs getoon. Kyk daarna, u wat ryk is aan hierdie wêreld se besittings en nie ryk is tot God nie. Sal u nie nadink oor hierdie toneel nie? Wat mense hoog ag, is in die oë van God veragtelik. Christus vra: “Want wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?” (Markus 8: 36, 37) DGC 187.1