Loading…
Hoofstuk 25—Talente
Na aanleiding van Mattheus 25:13-30
Op die Olyfberg het Christus met Sy dissipels oor Sy wederkoms gepraat. Hy het sekere tekens genoem wat moes aandui wanneer Sy koms naby sou wees en Hy het Sy dissipels beveel om te waak en gereed te wees. Weer het Hy die waarskuwing herhaal: “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.” Toe het Hy verduidelik wat dit beteken om in verband met Sy koms te waak. Die tyd moet deurgebring word, nie met stil sit en wag nie, maar met vlytige arbeid. Hierdie les het Hy met die gelykenis van die talente geleer. DGC 231.1
“Die koninkryk van die hemele,” het Hy gesê, “is soos ‘n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou. En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan.” DGC 231.2
Die man wat na ‘n ver land wou reis, stel Christus voor wat, toe Hy hierdie gelykenis gespreek het, weldra van die aarde na die hemel sou vertrek. Die “diensknegte” of slawe van die gelykenis stel die volgelinge van Christus voor. Ons is nie ons eie nie. Ons is “duur gekoop.” (1 Kor. 6:20); nie “deur verganklike dinge, silwer of goud ... nie, maar deur die kosbare bloed van Christus.” (1 Pet. 1:18, 19); “sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.” (2 Kor. 5:15) DGC 231.3
Alle mense is teen hierdie onberekenbare prys gekoop. Deur al die rykdom van die hemel aan hierdie wêreld te bestee, deur in Christus die hele hemel aan ons te gee, het God die wil, die liefde, die verstand, die siel van elke mens gekoop. Of dit nou gelowiges of ongelowiges is, alle mense is die eiendom van die Here. Almal is geroep om Hom te dien en in die groot oordeelsdag sal almal rekenskap moet gee van die manier waarop hulle hierdie eis nagekom het. DGC 231.4
Maar die eise van God word nie deur almal erken nie. Dit is diegene wat beweer dat hulle in die diens van Christus is, wat in die gelykenis as Sy diensknegte voorgestel word. DGC 231.5
Christus se volgelinge is gered om te dien. Die Here leer ons dat dit die ware doel van die lewe is om te dien. Christus self was ‘n werker, en aan al Sy volgelinge gee Hy die wet van diens - diens aan God en aan ons medemens. Hier het Christus aan die wêreld ‘n hoër begrip van die lewe voorgestel as wat hulle ooit tevore geken het. Deur te lewe om andere te dien, word die mens met Christus in aanraking gebring. Die wet van diens word die verbindingskakel wat ons aan God en aan ons medemense bind. DGC 232.1
Aan Sy diensknegte vertrou Christus “Sy besittings” toe - iets wat vir Hom gebruik moet word. Hy gee “vir elkeen sy werk.” Elkeen het sy plek in die ewige plan van die hemel. Elkeen moet met Christus saamwerk vir die redding van siele. DGC 232.2
Net so seker as wat daar vir ons in die hemelse wonings ‘n plek berei is, is vir ons op aarde ‘n spesiale plek aangewys waar ons vir God moet werk. DGC 232.3