Loading…
Hoofstuk 26—“Vriende Deur die Onregverdige Mammon”
Na aanleiding van Lukas 16:1-9
DIE koms van Christus het in ‘n tyd van intense wêreldsgesindheid geskied. Mense het die ewige aan die tydelik onderwerp, en die aansprake van die toekoms aan die dinge van die hede. Hulle het droombeelde vir werklikhede aangesien en werklikhede vir droombeelde. Hulle het nie die onsienlike wêreld deur geloof aanskou nie. Die Satan het die dinge van hierdie wêreld as die al-aantreklike en al-aangrypende aan hulle voorgehou en hulle het aan sy versoekings gehoor gegee. DGC 265.1
Christus het gekom om hierdie toedrag van sake te verander. Hy het getrag om die betowering te verbreek waardeur mense verdwaas en verstrik is. In Sy leer het Hy getrag om die aansprake van die hemel en die aarde reg te stel, om die mense se gedagtes van die hede na die toekomstige weg te keer. Uit hulle gejaag na die tydelike dinge het Hy hulle geroep om voorsiening te maak vir die ewigheid. DGC 265.2
“Daar was ‘n ryk man,” het Hy gesê, “wat ‘n bestuurder gehad het; en hy is by hom aangekla as een wat sy besittings verkwis.” Die ryk man het al sy besittings in die hande van hierdie dienaar toevertrou, maar die kneg was ontrou, en die heer was daarvan oortuig dat hy stelselmatig beroof word. Hy het hom voorgeneem om hom nie langer in sy diens te hou nie, en hy het gevra om ‘n ondersoek van sy rekening. “Wat is dit,‘‘ sê hy, “wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake; want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie.” DGC 265.3
Met die moontlikheid van ontslag voor hom, het die bestuurder drie weë oopgesien waaruit hy kon kies. Hy moes arbei, bedel of van die honger omkom. En hy het aan homself gesê: “Wat sal ek doen? Want my heer neem die bestuurderskap van my weg. Spit kan ek nie; om te bedel, skaam ek my. Ek weet wat ek sal doen, sodat wanneer ek van die bestuurderskap afgesit is, hulle my in hulle huise kan ontvang. Toe roep hy die skuldenaars van sy heer, een vir een, en sê vir die eerste: “Hoeveel skuld jy aan my heer? En hy antwoord: Honderd vat olie. En hy sê vir hom: Neem jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig. Daarna sê hy vir ‘n ander een: En jy, hoeveel skuld jy? En hy antwoord: Honderd mud koring. Toe sê hy vir hom: Neem jou skuldbewys en skryf tagtig.” DGC 265.4
Hierdie onbetroubare bestuurder het ander saam met hom in sy oneerlikheid laat deel. Hy het sy heer bedrieg om hulle te bevoordeel, en deurdat hulle hierdie voordeel aanvaar het, het hulle hulle verplig om hom as ‘n vriend in hulle huise te ontvang. DGC 266.1
“En die heer het die onregverdige bestuurder geprys, omdat hy verstandig gehandel het.” Die wêreldse man het die geslepenheid van die man wat hom bedrieg het, geprys. Maar die ryk man se aanprysing was nie die aanprysing van God nie. DGC 266.2
Christus het die onregverdige bestuurder nie geprys nie, maar Hy het ‘n bekende gebeurtenis gebruik om die les wat Hy wou leer, te illustreer: “Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon,” het Hy gesê, “sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.” DGC 266.3
Die Fariseërs het die Heiland bestraf omdat Hy met tollenaars en sondaars omgegaan het. Maar Hy het niks minder in hulle belang gestel nie, en Hy het nie opgehou om vir hulle te werk nie. Hy het gesien dat hulle werk hulle in die versoeking gebring het. Hulle was omring deur die verleiding van die sonde. Die eerste verkeerde stap was maklik, en gou het hulle in groter oneerlikheid en toenemende misdade verval. Christus het op allerlei maniere geprobeer om hulle tot hoër doelstellings en edeler beginsels te wen. Hierdie doel het Hy in die verhaal van die onbetroubare bestuurder in gedagte gehad. Daar was onder die tollenaars net so ‘n geval soos dié in die gelykenis, en in Christus se beskrywing het hulle hulle eie gewoontes bespeur. Hy het hulle aandag geboei en uit die beskrywing van hulle oneerlike gewoontes, het baie van hulle ‘n geestelike les geleer. DGC 266.4
Die gelykenis is egter regstreeks aan die dissipels vertel. DGC 266.5
Die suurdeeg van waarheid is eers aan hulle meegedeel en deur hulle moes dit andere bereik. Aanvanklik het die dissipels nie veel van Christus se onderrig verstaan nie en dikwels het dit geskyn asof Sy lesse byna vergeet is. Maar onder die invloed van die Heilige Gees is hierdie waarhede later duidelik voor die gees geroep en die dissipels het hulle duidelik voorgehou aan die nuwe bekeerlinge wat by die gemeente gevoeg is. DGC 266.6
_______________
“As die vermoë aangroei, sit daar die hart nie op nie !” Ps. 62:11. “Sou jy jou oë daarop laat afvlieg? Maar weg is dit! Want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe!” Spr. 21:5. “Die wat vertrou op hulle vermoë en hulle beroem op die grootheid van hulle rykdom? Niemand kan ooit ‘n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie.” Ps. 49:7, 8.
_______________
Die Heiland het ook met die Fariseërs gepraat. Hy het nog altyd gehoop dat hulle die krag van Sy woorde sou begryp. Baie was diep oortuig en namate hulle die waarheid onder die ingewing van die Heilige Gees sou hoor, sou baie gelowiges in Christus word. DGC 267.1
Die Fariseërs het geprobeer om Christus in onguns te bring deur Hom te beskuldig dat Hy met tollenaars en sondaars omgegaan het. Nou bestraf Hy Sy aanklaers. Dit was bekend dat die voorval onder die tollenaars plaasgevind het en Jesus hou dit aan die Fariseërs voor om hulle gedrag te verteenwoordig en om die enigste manier aan te toon waarop hulle hul foute kan reg maak. DGC 267.2
Die heer het sy besittings vir weldadigheids doeleindes aan die ontroue bestuurder toevertrou, maar hy het dit vir homself gebruik. So was dit met Israel. God het die saad van Abraham uitverkies. Met ‘n sterk arm het Hy hulle uit die slawehuis van Egipte uitgelei. Hy het heilige waarhede aan hulle toevertrou om vir die wêreld tot seën te wees. Hy het die lewende godsprake aan hulle toevertrou sodat hulle die lig aan andere kon oordra. Maar Sy rentmeesters het hierdie gawes gebruik om hulleself mee te verryk en te verheerlik. DGC 267.3
Die Fariseërs was behep met hulle eie belangrikheid en eiegeregtigheid en het misbruik gemaak van die ware wat God vir Sy eie verheerliking aan hulle toevertrou het. DGC 267.4
Die dienskneg in die gelykenis het geen voorsiening vir die toekoms gemaak nie. Hy het die goedere wat tot voordeel van andere aan hom toevertrou is, vir homself gebruik, maar hy het net aan die hede gedink. As die bestuurderskap hom ontneem sou word, sou hy niks hê wat hy sy eie kon noem nie. Maar sy heer se besittings was nog in sy hande en hy het hom voorgeneem om dit te gebruik om homself teen toekomstige gebrek te verseker. Om dit te verkry, moet hy volgens ‘n nuwe plan handel. Pleks dat hy vir homself bymekaarmaak, moet hy nou aan ander uitdeel. Sodoende kan hy vir hom vriende verwerf wat hom, sodra hy ontslaan is, sal ontvang. So was dit met die Fariseërs. Die rentmeesterskap sou hulle spoedig ontneem word, en hulle moes voorsiening maak vir die toekoms. Net deur die belange van andere te behartig, kon hulle hulself bevoordeel. Net deur die gawes van God in die teenswoordige lewe uit te deel kon hulle vir die ewigheid voorsiening maak. DGC 267.5
Nadat Hy die gelykenis vertel het, sê Christus, “Die kinders van hierdie wêreld is verstandiger teenoor hulle geslag as die kinders van die lig,” Dit beteken dat wêreldlinge in hulle eie belange meer wysheid en erns aan die dag lê as die belydende kinders van God in hulle diens vir Hom. So was dit in Christus se tyd. So is dit ook nou. Kyk na die lewe van baie wat beweer dat hulle Christene is. Die Here het hulle met bekwaamhede, krag en invloed bedeel. Hy het geld aan hulle toevertrou sodat hulle medewerkers saam met Hom in die groot verlossingswerk kan wees. Al Sy gawes moet gebruik word om die mensdom te seën, om die lyding van behoeftiges te verlig. Ons moet die hongeriges voed, die wat nakend is, klee, die weduwee en wees versorg, die noodlydendes en onderdruktes bedien. God het nooit bedoel dat die huidige wydverspreide ellende in die wêreld moes bestaan nie. Hy het nooit bedoel dat een man ‘n oorvloed van die weelde van die lewe moes hê terwyl die kinders van andere om brood moet uitroep nie. Die middele wat meer is as die werklike noodsaaklikhede word aan die mens toevertrou om mee goed te doen, om die mensdom mee te seen. Die Here sê: “Verkoop julle besittings en gee aalmoese.” (Lukas 12:33) Wees “vrygewig, mededeelsaam.” (1 Tim. 6:18) “Maar wanneer jy ‘n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes.‘‘ (Lukas 14:13) Maak los “die bande van goddeloosheid,” laat die verdruktes vry weggaan, en breek “elke juk” stukkend. DGC 268.1
Breek jou brood “vir hom wat honger het,” bring “ellendiges, swerwelinge in die huis.” “As jy iemand sien wat naak is,” klee hom, en versadig “die neergeboë siel.” (Jes. 58:6, 7, 10) “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.” (Markus 16:15) Dit is die Here se bevele. Doen die groot massa belydende Christene hierdie werk? DGC 269.1
Helaas, hoeveel eien hulle die gawes van God toe! Hoeveel voeg nie huis by huis en grond by grond nie. Hoeveel spandeer hulle geld op plesier, op bevrediging van die aptyt, op weelderige huise, meubels en klere. Hulle medemense word aan ellende, misdaad, siekte en die dood oorgelaat. Menigtes sterf sonder een bejammerende blik, sonder een woord of daad van simpatie. DGC 269.2
Mense beroof God. Hulle selfsugtige gebruik van middele beroof God van die heerlikheid wat Hom toekom wanneer menslike lyding verlig en siele gered word. Hulle verduister die goedere wat Hy aan hulle toevertrou het. Die Here verklaar: “En Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou, en Ek sal ‘n haastige getuie wees teen ... die wat die dagloner in sy loon, die weduwee en die wees verdruk; en teen die wat die vreemdeling wegstoot.” “Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!.” (Mal. 3:5, 8, 9.) “Kom nou julle rykes, ... julle rykdom is bedorwe, en julle klere is deur die motte verniel. Julle goud en silwer is verroes, en hulle roes sal tot ‘n getuienis teen julle wees. ... Julle het skatte vergader in die laaste dae.” “Julle het op die aarde ‘n weelderige en losbandige lewe gelei.” “Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore van die Here van die leërskare.” Jak. 5:1-3, 5, 4. DGC 269.3
Almal sal hulle toevertroude gawes moet teruggee. In die dag van die finale oordeel sal die opgehoopte rykdom van die mense vir hulle nutteloos wees. Hulle het niks wat hulle hul eie kan noem nie. DGC 269.4
Diegene wat hulle lewens in die ophoop van aardse skatte deurbring, lê minder wysheid, minder voorbedagtheid en sorg vir hulle ewige welsyn aan die dag as wat die onregverdige bestuurder vir sy aardse bestaan getoon het. Hierdie belydende kinders van die lig is minder wys as die kinders van hierdie wêreld in hulle geslag. Dit is hulle van wie die profeet in sy gesig van die groot oordeelsdag verklaar het:“ln dié dag sal die mens sy silwerafgode en sy goue afgode wat hy vir hom gemaak het om voor neer te buig, weggooi vir die molle en die vlermuise; om te gaan in die skeure van die rotse en in die klowe van die kranse van-weë die skrik van die Here en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik.” Jes. 2:20, 21. DGC 269.5
“Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon” sê Christus, “sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang “God en Christus en die engele sorg almal vir die lydendes, die siekes en die sondaars. Gee uself aan God oor vir hierdie werk, gebruik Sy gawes vir hierdie doel, dan tree u in vennootskap met hemelse wesens. U hart sal meewarig met hulle harte saamklop. U karakter sal soos hulle s‘n wees. Vir u sal hierdie bewoners van die ewige tente nie vreemdelinge wees nie. As die aardse dinge verbygegaan het, sal die wagte by die hemelpoort u verwelkom. DGC 270.1
Die middele wat gebruik word om andere te seen, sal ook winste oplewer. Rykdom wat reg aangewend word, sal groot weldade verrig. Daar sal vir Christus siele gewen word. Hy wat Christus se lewensplan volg, sal in die howe van God diegene sien vir wie hy op aarde gearbei en opgeoffer het. Met dankbaarheid sal die verlostes diegene onthou wat in hulle verlossing behulpsaam was. Die hemel sal kosbaar wees vir diegene wat getrou was in sielreddende werk. DGC 270.2
Die les in hierdie gelykenis geld vir almal. Elkeen sal vir die genade wat Christus aan hom skenk, verantwoordelik gehou word. Die lewe is te ernstig dat ons in tydelike of aardse dinge verdiep moet wees. Die Here verlang dat ons aan andere moet meedeel wat die ewige en onsienlike aan ons meedeel. DGC 270.3
Elke jaar gaan miljoene der miljoene siele ongewaarsku en ongered die ewigheid in. Van uur tot uur in ons lewensverskeidenheid gaan daar geleenthede om siele te bereik en te red voor ons oop. Hierdie geleenthede kom en gaan voortdurend. God verlang dat ons hulle op die beste manier moet benut. Dae, weke en maande gaan verby. Ons het een dag, een week, een maand minder waarin ons ons werk kan doen. Nog ‘n paar jaar op die meeste en die stem waarop ons nie kan weier om te antwoord nie, sal sê: “Gee verslag van jou bestuur van sake.” DGC 270.4
Christus doen op elkeen ‘n beroep om na te dink. DGC 271.1
Bereken eerlik. Sit Jesus-en dit beteken die ewige skat, lewe, waarheid, die hemel en die vreugde van Christus in die verlossing van siele-in die een kant van die skaal. Sit in die ander kant elke aantreklikheid wat die wêreld kan aanbied. Sit die verlies van u eie siel en die siele van diegene wat u kon help red het, in die een kant van die skaal. Sit in die ander kant, vir uself en vir hulle, ‘n lewe volgens die maatstaf van God. Weeg dan vir tyd en ewigheid. Terwyl u daarmee besig is, spreek Christus:“Want wat sal dit‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?.” (Markus 8:36) DGC 271.2
God verlang dat ons die hemelse ding pleks van die aardse dinge moet kies. Hy maak ons bewus van die moontlikhede van ‘n hemelse belegging. Hy wil ons hoogste doelstellings aanmoedig, aan ons kosbaarste skatte sekerheid gee. Hy verklaar: “En Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir.” (Jes. 13:12) Wanneer die rykdom wat die motte verniel en die roes bederf, weggevee sal word, sal die volgelinge van Christus hulle oor hulle hemelse skat, die onbederflike rykdom, kan verheug. DGC 271.3
Beter as al die vriendskap van die wêreld is die vriendskap van Christus se verlostes. Beter as die besitreg op die edelste paleis op aarde is besitreg op die wonings wat die Here gaan berei het. En beter as al die aardse lofwoorde sal die woorde van die Heiland aan Sy getroue diensknegte wees: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.” (Matt. 25:34) DGC 271.4
Aan diegene wat Sy besittings verkwis het, gee Christus nog ‘n geleentheid om ewige rykdom te verwerf. Hy sê: “Gee, en aan julle sal gegee word.” “Maak vir julle beurse wat nie oud word nie,‘n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie.” (Lukas 6:38; 12:33.) “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld ... dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ‘n skat weglê, ‘n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.” (1 Tim. 6:17-19) DGC 271.5
Laat u eiendom dan voor u uit na die hemel gaan. Hoop u skatte langs die troon van God op. Maak seker van u reg op die onnaspeurlike rykdom van Christus. “Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.” DGC 272.1