Loading…
Hoofstuk 27—“Wie Is My Naaste?”
Na aanleiding van Lukas 10:25-3 7
ONDER die Jode het die vraag: “Wie is my naaste?” eindelose twis veroorsaak. Oor die heidene en die Samaritane het hulle nie getwyfel nie, want hulle was vreemdelinge en vyande. Maar hoe moes hulle onder hulle eie volk en tussen die verskillende klasse van die samelewing onderskei? Wie moes die priester, die rabbi, die ouderling as sy naaste beskou? Hulle het hulle lewens deurgebring met seremonies om hulle te reinig. Aanraking met die onkundige en onverskillige menigtes, so het hulle geleer, sou verontreiniging veroorsaak wat net met moeite verwyder kon word. Moes hulle die “onreines” as hulle naaste beskou? DGC 273.1
Christus het hierdie vraag deur middel van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan beantwoord. Hy het aangetoon dat ons naaste nie iemand van ons kerk of ons geloof beteken nie. Dit het geen betrekking op ras, kleur of klasonderskeiding nie. Ons naaste is elke persoon wat ons hulp nodig het. Ons naaste is elke siel wat gewond en deur die teenstander seergemaak is. Ons naaste is elkeen wat die eiendom van God is. DGC 273.2
Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan is uitgelok deur‘n vraag wat ‘n wetgeleerde aan Christus gestel het. Terwyl die Heiland besig was om te leer, “het ‘n sekere wetgeleerde opgestaan wat Hom versoek het deur te sê: “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” DGC 273.3
Die Fariseërs het hierdie vraag aan die wetgeleerde voorgestel met die hoop dat hulle Christus miskien in Sy eie woorde kon verstrik en hulle het gretig op Sy antwoord gewag. Maar die Heiland het Hom nie in ‘n stryd begeef nie. Hy het die antwoord van die een wat die vraag gestel het, geëis. “Wat is in die wet geskrywe?” vra Hy, “Hoe lees jy?” Die Jode het Christus nog steeds beskuldig dat Hy die wet wat op Sinai gegee is, oppervlakkig beskou het, maar Hy het die ewige lewe van die onderhouding van Gods gebooie afhanklik gemaak. DGC 273.4
Die wetgeleerde het gesê: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart, en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.” “Jy het reg geantwoord,” het Christus gesê, “doen dit, en jy sal lewe.” DGC 273.5
Die wetgeleerde was nie tevrede met die houding en die dade van die Fariseërs nie. Hy het die Skrifte bestudeer met‘n verlange om hulle werklike betekenis te verstaan. Hy het opreg in die saak belang gestel en het eerlik gevra: “Wat moet ek doen?” In sy antwoord oor die vereistes van die wet het hy die talle seremoniële en rituele voorskrifte verontagsaam. Daaraan het hy geen waarde geheg nie, maar hy het die twee groot beginsels voorgehou waaraan die hele wet en die profete hang. Dat die Heiland sy antwoord aangeprys het, het Hom ‘n voordeel oor die rabbi’s gegee. Hulle kon Hom nie veroordeel omdat Hy‘n wetgeleerde se antwoord goedkeur nie. DGC 274.1
Doen dit, en jy sal lewe,” het Christus gesê. In Sy leer het Hy die wet altyd as’n Goddelike eenheid voorgehou en aangedui dat dit onmoontlik is om een voorskrif te onderhou en ‘n ander te breek, want dieselfde beginsel loop deur almal. Die lotsbestemming van die mens sal deur sy gehoor-saamheid aan die hele wet bepaal word. DGC 274.2
Christus het geweet dat niemand die wet in sy eie krag kon gehoorsaam nie. Hy wou die wetgeleerde help om die saak duideliker en dieper te ondersoek, sodat hy die waarheid kon vind. Net deur die deug en genade van Christus aan te neem, is ons in staat om die wet te onderhou. Geloof in die versoening vir sonde stel die sondige mens in staat om God met sy hele hart en sy naaste soos homself lief te hê. DGC 274.3
Die wetgeleerde het geweet dat hy nog die eerste vier nog die laaste ses gebooie onderhou het. Hy het onder Christus se deurtastende woorde tot oortuiging gekom, maar pleks dat hy sy sonde bely het, het hy dit probeer goedpraat. Eerder as om die waarheid te erken, het hy geprobeer aantoon hoe moeilik dit was om die gebod na te kom. So het hy geprobeer om die oortuiging af te weer en om hom in die oë van die mense te regverdig. Die Heiland se woorde het aangetoon dat sy vraag onnodig was, aangesien hy self in staat was om dit te beantwoord. Tog het hy ‘n ander vraag gevra, en gesê, “Wie is my naaste?” DGC 274.4
Weer het Christus geweier om in ‘n woordestryd betrokke te raak. Hy het die vraag beantwoord deur van ‘n gebeurtenis te vertel wat nog vars in die geheue van sy toehoorders was.” ‘n Sekere man,” het Hy gesê, “het afgegaan van Jerusalem na Jerigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom halfdood lê.” DGC 274.5
Op sy reis van Jerusalem na Jerigo, moes die reisiger deur‘n gedeelte van die woestyn van Judea gaan. Die pad het deur‘n ruwe, rotsagtige kloof gegaan, wat gewemel het van rowers en daar is dikwels geweld gepleeg. Dit is daar waar die reisiger aangeval, van sy waardevolle besittings beroof en halfdood langs die pad gelaat is. Terwyl hy daar lê, kom‘n priester daarlangs verby. Hy het gesien hoe die man gewond en gekneus in sy eie bloed lê en spartel, maar hy het hom net so gelos sonder om hulp te verleen. Hy gaan toe “anderkant verby.” Toe verskyn daar‘n Leviet. Nuuskierig om te weet wat gebeur het, staan hy stil en kyk na die lydende. Hy was oortuig van wat hy moes doen, maar dit was nie ‘n aangename taak nie. Hy het gewens dat hy nie daarlangs gekom het nie; dan sou hy die gewonde man nie gesien het nie. Hy het hom oortuig dat die geval hom nie aangaan nie, en ook hy het “anderkant verbygegaan.” DGC 275.1
Maar‘n Samaritaan, op reis langs dieselfde pad, het die lydende gesien, en hy het die werk gedoen wat die ander geweier het. “Toe hy hom sien, het hy innig jammer gevoel, en na hom gegaan, sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na ‘n herberg geneem en vir hom gesorg.En toe hy die volgende more weggaan, haal hy twee pennings uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom.” Beide die priester en die Leviet het hulle vroom gehou, maar die Samaritaan het bewys dat hy waarlik bekeerd was. Dit was vir hom net so onaangenaam om die werk te doen as vir die priester en die Leviet, maar deur sy gees en sy werke het hy bewys dat hy eensgesind met God was. DGC 275.2
Deur middel van hierdie les het Christus die beginsels van die wet op regstreekse en kragtige wyse voorgehou, en Sy toehoorders daarop gewys dat hulle versuim het om hierdie beginsels uit te voer. Sy woorde was so duidelik en op die man af dat die toehoorders geen geleentheid kon vind om teë te praat nie. Die wetgeleerde het niks in die les gevind waarteen hy beswaar kon maak nie. Sy vooroordeel teenoor Christus is ver- wyder. Maar hy kon sy volksveragting nie voldoende oorwin om aan die Samaritaan by name eer te gee nie. Toe Christus vra: “Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?” het hy geantwoord: “Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het.” DGC 275.3
“Toe sê Jesus vir hom: Gaan en doen jy net so.” Betoon dieselfde tere vriendelikheid aan diegene wat behoeftig is. So sal jy bewys dat jy die hele wet onderhou. DGC 276.1
Die groot verskil tussen die Jode en die Samaritane was ‘n verskil van godsdienstige geloof, ‘n vraag oor wat ware aanbidding behels. Die Fariseërs het geweier om van die Samaritane iets goeds te sê, maar het hulle bitterlik vervloek. So sterk was die teësin van die Jode en die Samaritane vir mekaar dat dit vir die Samaritaanse vrou ‘n vreemde iets was dat Christus haar om water gevra het. “Hoe is dit,” sê sy, “dat U wat ‘n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek‘n Samaritaanse vrou is?” “Want,“voeg die evangelieskrywer by, “die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie.” (Joh. 4:9) En toe die Jode so met moorddadige haat teenoor Christus gevul is dat hulle in die tempel opgestaan het om Hom te stenig, kon hulle nie beter woorde vind om hulle haat uit te druk nie as: “Sê ons nie met reg dat U ‘n Samaritaan is en van die duiwel besete is nie?.” (Joh. 8:48) Tog het die priester en die Leviet juis daardie werk versuim wat die Here op hulle gelê het en dit aan ‘n gehate en veragte Samaritaan oorgelaat om een van hulle eie volksgenote te bedien. DGC 276.2
Die Samaritaan het die gebod gehoorsaam: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” en daardeur bewys dat hy regverdiger was as diegene wat hom aangekla het. Hy het sy eie lewe gewaag om die gewonde man soos sy broer te behandel. Hierdie Samaritaan het Christus voorgestel. Ons Heiland het liefde vir ons geopenbaar wat nie deur menslike liefde geëwenaar kon word nie. Toe ons verwond en sterwende was, het Hy Hom oor ons ontferm. Hy het nie anderkant verbygegaan en ons hulpeloos en hopeloos laat sterf nie. Hy het nie in Sy heilige en gelukkige tuiste gebly waar Hy deur die ganse hemelse skare bemin is nie. Hy het ons skreiende behoefte aanskou; Hy het ons saak op Hom geneem, en Sy belange met die van die mensdom vereenselwig. Hy het gesterf om Sy vyande te red. DGC 276.3
Hy het vir Sy moordenaars gebid. Hy het na Sy eie voorbeeld verwys en aan Sy volgelinge gesê: “Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê;” “soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” (Joh. 15:17; 13:34) DGC 277.1
Die priester en die Leviet het pas in die tempel aanbid. DGC 277.2
God het self die tempeldiens ingestel. Om in daardie diens ‘n deel te he, was ‘n groot en verhewe voorreg, en die priester en die Leviet het gevoel dat nadat hulle so vereer is, dit benede hulle was om aan ‘n onbekende Iyer langs die pad hulp te verleen. So het hulle die spesiale geleentheid laat verbygaan wat God hulle as Sy verteenwoordigers aangebied het om ‘n medemenste help. DGC 277.3
Baie begaan deesdae dieselfde fout. Hulle verdeel hulle pligte in twee duidelike groepe. Een groep word uit groot dinge saamgestel, om deur die wet van God gereël te word; die ander groep bestaan uit die sogenoemde klein dingetjies waarin die bevel: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” oor die hoof gesien word. Hierdie soort werk word aan giere oorgelaat, aan geneentheid of impuls onderwerp. So word die karakter geskend en die godsdiens van Christus verkeerd voorgestel. DGC 277.4
Daar is mense wat dink dit sal vir hulle ‘n vernedering wees om die lydende mensdom te dien. Baie sien met onverskilligheid en veragting neer op diegene wat die siele-tempel tot puin gebring het. Andere verwaarloos die armes om ‘n ander rede. Hulle werk, soos hulle glo, vir Christus se saak, om die een of ander waardige onderneming op te bou. Hulle voel dat hulle ‘n groot werk doen en nie tyd kan neem om op die behoeftes van die hulpbehoewendes en die noodlydendes ag te gee nie. In die bevordering van hulle sogenoemde groot werk kan hulle selfs besig wees om die armes te onderdruk. Hulle kan hulle miskien in moeilike en beproewende omstandighede bring, hulle hulle regte ontneem of hulle behoeftes verontagsaam. Tog voel hulle dat dit alles geregverdig is omdat hulle, soos hulle dink, die saak van Christus bevorder. DGC 277.5
Baie sal toelaat dat ‘n broer of‘n buurman sonder hulp onder moeilike omstandighede aansukkel. Omdat hulle belydende Christene is, kan hy tot die oortuiging kom dat hulle in hulle kille selfsug Christus verteenwoordig. Omdat die Here se belydende diensknegte nie met Hom saamwerk nie, word die liefde van God, wat uit hulle moet voortvloei, in ‘n groot mate van hulle medemense weggekeer. En so word verhoed dat veel van die lof en danksegging wat God toekom deur menseharte en lippe aan Hom gegee word. Hy word beroof van die heerlikheid wat Sy heilige Naam toekom. Hy word beroof van die siele vir wie Christus gesterf het, siele wat Hy verlang om in Sy koninkryk in te bring om deur die eindelose eeue in Sy teenwoordigheid te woon. DGC 277.6
Goddelike waarheid het min invloed op die wêreld hoewel dit deur ons gedrag baie invloed behoort te hê. Daar is baie wat voorgee om godsdienstig te wees, maar dit beteken nie veel nie. Ons kan wel voorgee dat ons volgelinge van Christus is, ons kan voorgee dat ons elke waarheid in die Woord van God glo, maar dit sal ons naaste niks baat tensy ons geloof ‘n deel van ons daaglikse lewe word nie. Ons belydenis kan so hoog soos die hemel wees, maar dit sal nóg onsself, nog ons medemense red tensy ons Christene is. ‘n Goeie voorbeeld sal vir die wêreld tot groter voordeel wees as ons hele belydenis. DGC 278.1
Selfsugtige dade kan die saak van Christus nie dien nie. Hy vereenselwig Hom met die verdruktes en die armes. In die harte van Sy belydende volgelinge moet die tere simpatie van Christus wees - meer liefde vir hulle wat vir Hom so kosbaar was dat Hy Sy eie lewe vir hulle redding gegee het. Hierdie siele is kosbaar, oneindig kosbaarder as enige ander offer wat ons aan God kan gee. Al span ons al ons kragte vir die een of ander groot werk in, terwyl ons die behoeftige verwaarloos of die vreemdeling Sy regte ontneem, sal Hy dit nie as diens aanvaar nie. DGC 278.2
Die heiligmaking van die siel deur die werking van die Heilige Gees is die inplanting van Christus se natuur in die mens. Ware godsdiens is Christus in die lewe -‘n lewende, werkende beginsel. Dit is die genade van Christus wat in die karakter geopenbaar en in goeie werke bewys word. Die beginsels van die evangelie kan van geen deel van die praktiese lewe geskei word nie. Elke Christelike lewensen werkrigting moet‘n voorstelling van die lewe van Christus wees. DGC 278.3
Liefde is die grondslag van godsvrug. Wat die belydenis ook al mag wees, geen mens het reine liefde tot God tensy hy onselfsugtige liefde vir sy broeder het nie. Maar ons kan nooit hierdie gesindheid verkry deur te probeer om ander lief te he nie. Wat nodig is, is die liefde van Christus in die hart. Wanneer die self met Christus saamgesmelt is, ontstaan die liefde spontaan. Die volwasse Christelike karakter word bereik wanneer die drang om andere te help en te seen voortdurend van binne af opbruis - wanneer die sonskyn van die hemel die hart vervul en op die gelaat geopenbaar word. DGC 278.4
Dit is nie moontlik vir die hart waarin Christus woon om sonder liefde te wees nie. As ons God liefhet omdat Hy ons eerste liefgehad het, sal ons almal liefhê vir wie Christus gesterf het. Ons kan nie met God in aanraking kom sonder om met mense in aanraking te kom nie, want in Hom wat op die troon van die heelal sit, word godheid en mensheid verenig. As ons met Christus verbind is, is ons met die goue skakels van die ketting van liefde met mense verbind. Dan sal die deernis en ontferming van Christus in ons lewens geopenbaar word. Ons sal nie wag dat die behoeftiges en minderbevoorregtes na ons gebring word nie. Dit sal onnodig wees dat daar‘n beroep op ons gemaak word om die leed van ander te voel. Dit sal vir ons so natuurlik wees om die behoeftiges en lydendes te help as wat dit vir Christus was om rond te gaan en goed te doen. DGC 279.1
Orals waar daar‘n drang van liefde en medelyde is, orals waar die hart hom beywer om ander te seen en op te hef, daar word die werking van Gods Heilige Gees geopenbaar. In die dieptes van die heidendom het mense wat die geskrewe wet van God nie geken het nie, wat nog nooit eens die Naam van Christus gehoor het nie, aan Sy diensknegte vriendskap bewys en hulle eie lewens gewaag om hulle te beskerm. Hulle dade toon die werking van Gods krag. Die Heilige Gees het die genade van Christus in die hart van die barbaar ingeplant, en in stryd met sy aard en sy opleiding sy meegevoel verwek. Die “lig wat elke mens verlig”wat in die wêreld kom (Joh. 1:9), skyn in die siel, en as hierdie lig gehoorsaam word, sal dit sy voete na die koninkryk van God lei. DGC 279.2
Dit is die heerlikheid van die hemel om die gevallenes op te rig en die noodlydendes te troos. En orals waar Christus in menseharte woon, daar sal Hy op dieselfde manier geopenbaar word. Orals waar dit handel, sal die godsdiens van Christus ‘n seen wees. Orals waar dit werk, is daar lig. DGC 279.3
God erken geen onderskeid vanweë nasionaliteit, ras of klas nie. Hy is die Skepper van die ganse mensdom. Alle mense is deur die skepping een familie, en almal is deur die verlossing een. Christus het gekom om elke muur van skeiding af te breek, om elke afdeling van die tempel oop te gooi sodat elke siel vrye toegang tot God kan hê. Sy liefde is so breed, so diep, so vol dat dit orals indring. Dit lig die arme siele wat deur die Satan se misleidings bedrieg is, uit sy sfeer. Dit bring hulle binne bereik van die troon van God, die troon wat deur die reënboog van die belofte omring word. DGC 280.1
_______________
“Die God wot die wereld gemaak het en alles wat daarin is. ... En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon... sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind.” Hand. 17:24-27. “Na hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte... uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande.” Openb. 7:9.
_______________
In Christus is daar nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman nie. Almal word deur Sy kosbare bloed naby gebring. (Ga 1.3:28; Efe. 2:13) DGC 280.2
Watter verskil daar ook al op godsdienstige gebied mag wees, die roep-stem van die lydende mensdom moet gehoor en beantwoord word. Waar bitter gevoelens weens godsdiens geskille bestaan, kan daar veel goeds deur persoonlike diens verrig word. Liefdesdiens sal vooroordeel afbreek en siele vir God wen. DGC 280.3
Ons behoort vooruit vir die droefheid, moeilikheid en swaarkry van andere gereed te wees. Ons behoort met beide die hoes en die nederiges, die rykes en die armes in hulle vreugde en sorge saam te voel. “Julle het dit verniet ontvang,” sê Christus, “verniet moet julle dit gee.” (Matt. 10:8) Orals om ons is arm, beproefde siele wat woorde van meegevoel en behulpsame dade nodig het. Daar is weduwees wat simpatie en bystand nodig het. Daar is wese, en Christus het beveel dat Sy volgelinge hulle as ‘n pand van God moet ontvang. Te dikwels word hulle verwaarloos. Hulle is miskien verflenter, onbeskof en skynbaar in alle opsigte onaantreklik, tog is hulle Gods eiendom. Hulle is duur gekoop en hulle is in Sy oë net so kosbaar soos ons. Hulle is lede van Gods groot huisgesin, en die Christene as Sy rentmeesters is verantwoordelik vir hulle. “Hulle siele,” sê Hy, “sal Ek van jou hand eis.” DGC 280.4
Sonde is die grootste van alle euwels en dit is ons plig om sondaars te bejammer en te help. Maar mens kan nie almal op dieselfde manier bereik nie. Daar is baie wat hulle sielshonger verberg. Mens kan hulle met ‘n vriendelike woord en‘n bietjie bedagsaamheid baie help. Daar is ander wat in die grootste behoefte verkeer, maar dit nie weet nie. Hulle besef nie die vreeslike gebrek van die siel nie. Menigtes is so in sonde versonke dat hulle geen begrip meer van ewige waarhede het nie; hulle het die beeltenis van God verloor en weet skaars of hulle siele het wat gered moet word. Hulle het nog geloof in God nog vertroue in die mens. Baie van hierdie soort kan alleenlik deur onbaatsugtige vriendelikheid bereik word. Daar moet eers in hulle tydelike behoeftes voorsien word. Hulle moet gevoed, skoongemaak en ordentlik geklee word. Wanneer hulle die bewyse van u onselfsugtige liefde sien, sal dit vir hulle makliker wees om in die liefde van Christus te glo. DGC 281.1
Daar is baie wat dwaal en hulle skande en dwaasheid besef. Hulle aanskou hulle dwalinge en tekortkominge en word byna tot wanhoop gedryf. Ons moet hierdie siele nie verwaarloos nie. As iemand stroom op swem, is die voile krag van die stroom teen hom. Laat daar dan ‘n helpende hand na hom uitgestrek word soos die hand van die Ouer Broer na die sinkende Petrus uitgestrek is. Spreek hom met hoopvolle woorde aan, woorde wat vertroue sal inboesem en liefde sal wek. DGC 281.2
U broeder, krank na gees, het u nodig, net soos u self‘n broeder se liefde nodig gehad het. Hy het behoefte aan die ondervinding van een wat net so swak was soos hy, een wat met hom kan saamvoel en wat hom kan help. Die besef van ons eie swakheid behoort ons te help om ‘n ander in sy groot behoefte te help. Nooit behoort ons een lydende siel verby te gaan sonder om te trag om aan hom die vertroosting te gee waarmee ons deur God vertroos is nie. DGC 281.3
Dit is gemeenskap met Christus. persoonlike kontak met die lewende Heiland, wat die verstand en die hart en die siel in staat stel om die laer natuur te oorwin. Vertel die verdwaalde van ‘n almagtige hand wat hom sal ondersteun, van die oneindige mensheid in Christus wat hom bejammer. Dis nie genoeg dat hy in wet en krag glo nie; dinge wat geen meegevoel het en nooit die hulpgeroep hoor nie. Dit is vir hom nodig om aan ‘n hand vas te klem wat warm is, om in ‘n hart wat vol tederheid is, te vertrou. Vestig sy gedagtes op ‘n Goddelike teenwoordigheid wat altyd aan sy sy is, wat hom altyd met meegevoelige liefde bejeën. Sê hy moet aan ‘n Vaderhart dink wat altyd bedroef is oor sonde, aan ‘n Vaderhand wat steeds uitgestrek is, aan ‘n Vaderstem wat sê: “Of hulle moet my beskutting aangryp, vrede met My maak, vrede met My maak.” (Jes. 27:5) DGC 281.4
Wanneer u hierdie werk doen, het u metgeselle wat vir menslike oë onsigbaar is. Engele van die hemel was aan die sy van die Samaritaan wat vir die gewonde vreemdeling gesorg het. Engele uit die hemelhowe staan by almal wat God dien deur hulle medemense te help. En u het die samewerking van Christus self. Hy is die Hersteller, en waar u onder Sy toesig werk, sal u groot gevolge sien. DGC 282.1
Van u getrouheid in hierdie werk hang nie alleenlik die welsyn van ander af nie, maar ook u eie ewige lotsbestemming. Christus verlang om almal op te hef wat gewillig is om tot die vlak van vriendskap met Hom opgehef te word, sodat ons een met Hom kan wees soos Hy een met die Vader is. Hy laat toe dat ons met lyding en ellende in aanraking kom sodat Hy ons uit ons selfsug kan wegroep. Hy trag om in ons Sy karaktertrekke te ontwikkel, naamlik meegevoel, tederheid en liefde. Deur hierdie diens aan te neem, skryf ons ons by Sy skool in, om ons vir die howe van God geskik te maak. Om dit te verontagsaam, beteken om Sy onderrig te verontagsaam en om te kies om vir ewig van Sy teenwoordigheid geskei te wees. DGC 282.2
“As jy my verordening onderhou ... “verklaar die Here, “sal [Ek] jou vrye toegang verleen onder diegene wat hier staan” - dit wil sê, onder die engele wat rondom Sy troon staan. (Sag. 3:7) Deur met hemelse wesens in hulle werk op aarde saam te werk, berei ons ons voor vir hulle geselskap in die hemel. “Dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe.” (Heb. 1:14), engele in die hemel sal diegene verwelkom wat op aarde geleef het“nie ... om gedien te word nie, maar om te dien (Matt. 20:28) In hierdie salige geselskap sal ons tot ons ewige vreugde alles leer wat opgesluit lê in die vraag: “Wie is my naaste?” DGC 282.3