Loading…
Hoofstuk 28—Die Beloning van Genade
Na aanleiding van Mattheus 19:16-30; 20:1-16; Markus 10:17-31; Lukas 18:18-30
DIE Jode het al byna vergeet dat die genade van God vry is. Die rabbi’s het geleer dat die guns van God verdien moet word. Hulle het gehoop dat hulle die beloning van die regverdiges deur hulle eie werke sou verdien. Hulle aanbidding is dus deur ‘n inhalige, baatsugtige gees besiel. Selfs Christus se dissipels was nie heeltemal vry van hierdie gees nie, en die Heiland het elke geleentheid gebruik om hulle op hulle dwaling te wys. Kort voordat Hy die gelykenis van die arbeiders vertel het, het iets gebeur wat Hom die geleentheid gebied het om die regte beginsels aan te bied. DGC 283.1
Langs die pad waar Hy geloop het, het ‘n jong owerste na Hom toe aangehardloop, gekniel en Hom eerbiedig gegroet. “Goeie Meester,” het hy gesê, “watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?” DGC 283.2
Die owerste het Christus as bloot ‘n geëerde rabbi aangespreek sonder om Hom as die Seun van God te herken. Die Heiland het geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God.” Om watter rede noem jy My goed? Dit is God wat goed is. As jy erken dat Ek goed is, moet jy My as Sy Seun en verteenwoordiger ontvang. DGC 283.3
Voorts het Hy gesê: “As jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.” God maak Sy karakter deur Sy wet bekend; en as u met God wil ooreenstem, moet die beginsels van Sy wet die oorsprong van u elke daad wees. DGC 283.4
Christus maak die eise van die wet nie minder nie. Hy sê onomwonde dat gehoorsaamheid daaraan die voorwaarde van die ewige lewe is - dieselfde voorwaarde wat voor die sondeval van Adam vereis is. Die Here verwag nou niks minder van die siel as wat Hy in die Paradys van die mens verwag het nie, naamlik volkome gehoorsaamheid, onbevlekte geregtigheid. Die vereiste onder die genadeverbond is net so omvattend soos die vereiste in Eden - ooreenstemming met Gods wet wat heilig, regverdig en goed is. DGC 283.5
Op die woorde: “Onderhou die gebooie,” het die jongman geantwoord: “Watter?” Hy het gedink dat Christus van ‘n seremoniële voorskrif praat, maar Hy het na die wet verwys wat op Sinai gegee is. Hy het verskeie gebooie uit die tweede tafel van die wet genoem; toe som Hy hulle almal met die voorskrif: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” DGC 284.1
Sonder om te aarsel het die jongman geantwoord: “Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. Wat kom ek nog kort?” Sy begrip van die wet was uiterlik en oppervlakkig. Na menslike standaarde geoordeel, het hy sy karakter vlekkeloos bewaar. Sy uiterlike lewe was in ‘n groot mate onbesproke; hy het waarlik gedink sy gehoorsaamheid was foutloos. Tog het hy in die geheim gevrees dat alles nie tussen sy siel en God reg was nie. Daarom die vraag: “Wat kom ek nog kort?” DGC 284.2
“As jy volmaak wil wees,” het Jesus geantwoord, “gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My. Maar toe die jong-man die woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad.” DGC 284.3
Hy wat die self liefhet, is ‘n wetsoortreder. Jesus wou die jongman graag daarop attent maak, en Hy het hom aan ‘n toets onderwerp wat die selfsug van sy hart sou openbaar. Hy het die pesbuil in sy karakter aan hom getoon. Die jongman het geen verdere inligting verlang nie. Hy het ‘n afgod in sy siel gekoester; die wêreld was sy god. Hy het voorgegee dat hy die gebooie onderhou, maar dit het hom ontbreek aan die beginsel wat juis die gees en lewe van hulle almal is. Hy het geen ware liefde vir God of mens gekoester nie. Daardie gebrek was die gebrek aan alles wat hom geskik sou maak om in die koninkryk van die hemele in te gaan. In sy liefde vir die self en vir wêreldse gewin het hy nie met die beginsels van die hemel saamgestem nie. DGC 284.4
Toe die jong owerste na Jesus toe gekom het, het Jesus hom weens sy opregtheid en erns liefgekry. Hy het “hom aangekyk en hom liefgekry.” In die jongman het Hy iemand gesien wat as ‘n prediker van geregtigheid kon dien. Hy sou die begaafde jong edelman net so geredelik ontvang het as die arm vissers wat hom gevolg het. As die jongman sy begaafdheid aan sielreddende werk gewy het, kon hy‘n getroue en geslaagde werker vir Christus geword het. DGC 284.5
Maar eers moes hy die voorwaardes van dissipelskap aanvaar. Hy moes hom onvoorwaardelik aan God gee. Toe die Heiland hulle geroep het, het Johannes, Petrus, Matthéüs en hulle makkers “alles verlaat en opgestaan en Hom gevolg.” (Lukas5:28) Dieselfde toewyding is van die jong owerste vereis. En daarmee het Christus geen groter opoffering geverg as wat Hy self gemaak het nie. “Alhoewel Hy ryk was”, het Hy “ter wille van julle arm geword ... sodat julle deur sy armoede ryk kan word.” (2 Kor. 8:9) Die jongman moes net volg waar Christus voorgegaan het. DGC 285.1
Christus het die jongman aangekyk en sy siel begeer. Hy het verlang om hom uit te stuur as ‘n heilgesant aan die mensdom. In ruil vir wat Hy gevra het dat hy moes opoffer, het Christus hom Sy eie geselskap aangebied. Hy het gesê: “Volg My.” Petrus, Jakobus en Johannes het hierdie voorreg as ‘n vreugde beskou. Die jongman self het Christus bewonder. Sy hart is tot die Heiland aangetrek. Maar hy was onwillig om die Heiland se beginsel van selfverloëning te aanvaar. Hy het sy rykdom bo Jesus verkies. Hy wou die ewige lewe hê, maar het geweier om daardie onselfsugtige liefde wat alleen lewe is in sy siel te ontvang, en hy is met ‘n bedroefde hart van Christus af weg. DGC 285.2
Toe die jongman wegstap, sê Jesus aan Sy dissipels: “Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan.” Die dissipels was verbaas oor hierdie woorde. Hulle is geleer dat die rykes die gunstelinge van die hemel is; hulle het self verwag om in die koninkryk van die Messias wêreldse gesag en rykdom te ontvang; as die rykes dan nie in die koninkryk kon ingaan nie, wat sou van die res van die mensdom word? DGC 285.3
“Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir‘n kameel om deur die oog van‘n naald te gaan as vir‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. En hulle was uitermate verslae.” Nou het hulle besef dat hierdie ernstige waarskuwing ook vir hulle was. Die lig van die Heiland se woorde het hulle eie geheime verlange na gesag en rykdom ontbloot. Met bedenkinge oor hulleself roep hulle uit: “Wie kan gered word?” DGC 285.4
“Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.” DGC 285.5
‘n Ryk man kan nie as sodanig in die hemel ingaan nie. Sy rykdom maak hom nie geregtig op die erfdeel van die heiliges in die lig nie. Dis net deur die onverdiende genade van Christus dat enige mens toegang het tot die stad van God. DGC 286.1
Die woorde van die Heilige Gees geld vir die rykes net soos vir die armes: “... dat julle nie aan julleself behoort nie ... want julle is duur gekoop.” (1 Kor. 6:19, 20) Wanneer mense dit glo, sal hulle hulle besittings as’n pand beskou wat volgens Gods leiding gebruik moet word om verlorenes te red en om die lydendes en die armes te troos. Vir die mens is dit onmoontlik, want die hart klem aan sy aardse skat vas. Die siel wat aan die diens van mammon verslaaf is, is doof vir die geroep van menslike behoeftes. Maar by God is alle dinge moontlik. Deur die ongeëwenaarde liefde van Christus te aanskou, word die selfsugtige hart versmelt en versag. Die ryk man sal oorreed word om soos Saulus van Tarsus te sê: “Wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here.” (Filip. 3:7,8) Dan sal hulle niks as hulle eie reken nie. Dit sal hulle vreugde wees om hulle as rentmeesters van die veelvuldige genade van God te beskou en om om Sy ontwil die knegte van alle mense te wees. DGC 286.2
Petrus was die eerste om hom reg te ruk na die geheime oortuiging wat die Heiland se woorde veroorsaak het. Hy het met tevredenheid gedink aan wat hy en sy broeders vir Christus prysgegee het. “Kyk,” het hy gesê, “ons het alles verlaat en U gevolg.” Met die voorwaardelike belofte aan die jong owerste in gedagte-“Jy sal ‘n skat in die hemel hê”verneem hy watter loon hy en sy makkers vir hulle opoffering sal ontvang. DGC 286.3
Die Heiland se antwoord was vir daardie Galilese vissers’n vreugde. Dit was’n uitbeelding van die grootste eer waarvan hulle kon droom: “Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalftrone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel.” En Hy gaan voort: “Daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe.” DGC 286.4
_______________
“Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang.” Kol. 3:23, 24. “Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.” Openb. 22:12.
_______________
Maar Petrus se vraag: “Wat sal daar dan vir ons wees?” het van ‘n gees gespreek wat, indien dit nie reggestel word nie, die dissipels ongeskik sou maak om boodskappers vir Christus te wees, want dit was die gees van ‘n huurling. Hoewel die dissipels deur Christus se liefde getrek is, was hulle nog nie heeltemal van fariseïsme bevry nie. Hulle het nog gewerk met die verlange om volgens hulle werk beloon te word. Hulle het ‘n gees van selfverheffing en self tevredenheid gekoester en die een met die ander vergelyk. As een van hulle in enige opsig ‘n fout begaan het, het die ander gevoel hulle is beter as hy. DGC 287.1
Sodat die dissipels die beginsels van die evangelie nie uit die oog moes verloor nie, het Christus hulle ‘n gelykenis vertel om die manier waarop God met Sy dienare handel en die gees wat Hy in hulle werk van hulle verwag, te illustreer. DGC 287.2
“Die koninkryk van die hemele,” so het Hy gesê, “is soos ‘n huisheer wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur.” Dit was gebruiklik vir mense wat werk soek om op die markplein te wag, en daar het werkgewers arbeiders gaan soek. Die man van die gelykenis gaan verskeie kere op ‘n dag om arbeiders te huur. Die wat in die vroeë oggend gehuur word, kom ooreen om vir‘n vasgestelde loon te werk; die wat later gehuur word, laat dit aan die werkgewer oor om die loon vas te stel. DGC 287.3
“En toe dit aand geword het, sê die heer van die wingerd vir sy opsigter: Roep die arbeiders en betaal hulle hul loon; en begin van die laastes af tot by die eerstes. En die wat omtrent die elfde uur begin het, het gekom en elkeen ‘n penning ontvang. Die eerstes kom toe en dink dat hulle meer sal ontvang, en hulle het ook elkeen ‘n penning ontvang.” DGC 287.4
Die heer se behandeling van die arbeiders in sy wingerd stel Gods behandeling van die mensdom voor. Dis anders as mense se gewoontes. In wêreldse sake word elkeen vergoed volgens die werk wat hy verrig het. Die arbeider verwag net om te kry wat hy verdien het. Maar in die gelykenis het Christus die beginsels van Sy koninkryk beskryf-‘n koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie. Hy meet Hom nie aan ‘n menslike maatstaf nie. Die Here sê: DGC 287.5
“My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie. ... Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.” Jes. 55:8,9 In die gelykenis het die eerste arbeiders ooreengekom om vir ‘n vasgestelde bedrag te werk, en hulle het daardie bedrag gekry - niks meer nie. Die wat later gehuur is, het die heer se belofte aanvaar: “Wat reg is, sal ek aan julle gee.” Hulle het hulle vertroue in hom bewys deur nie te vra wat hulle loon sou wees nie. Hulle het op sy regverdigheid en billikheid vertrou. Hulle is nie volgens die hoeveelheid van hulle werk beloon nie, maar volgens sy beplande milddadigheid. DGC 288.1
So wil God hê moet ons op Hom vertrou wat die goddeloses regverdig. Hy beloon ons nie na ons verdienste nie, maar volgens Sy eie voorneme “wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here” (Efe. 3:11 ) “Nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered.” Titus 3:5. En vir almal wat in Hom vertrou, sal Hy“ver bo alles” doen “wat ons bid of dink.” (Efe. 3:20) DGC 288.2
Dis nie hoeveel werk ons doen of wat die sigbare gevolge is wat dit waardevol maak nie, maar wel die gees waarin dit gedoen word. Hulle wat in die elfde uur in die wingerd gaan werk het, was dankbaar vir die voorreg om te kan werk. Hulle harte was vol dankbaarheid teenoor hom wat hulle aanvaar het; en toe die heer hulle aan die einde van die dag vir‘n voile dag se werk betaal het, was hulle verbasing groot. Hulle het geweet hulle het nie so‘n loon verdien nie. En die vriendelikheid op die aangesig van hulle werkgewer het hulle met vreugde vervul. Hulle het die goedheid van die huisheer nooit vergeet nie, en ook nie die ruim betaling wat hulle ontvang het nie. So is dit met die sondaar wat weet hy is onwaardig en wat ter elfder ure eers in die Here se wingerd gekom het. Sy dienstyd lyk so kort, hy voel dat hy die loon nie verdien nie; maar hy is verheug dat God hom hoegenaamd aangeneem het. Hy werk met ‘n nederige, vertrouende gees, dankbaar vir die voorreg om ‘n medewerker van Christus te wees. God vereer graag so ‘n gees. DGC 288.3
_______________
“So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei. Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. Want ons is mede-werkers van God; ... niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. ...Elkeen se werk sal aan die lig kom. ... As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang.” 1 Kor. 3:7-14.
_______________
Die Here begeer dat ons in Hom moet rus sonder om te dink hoeveel loon ons sal ontvang. Wanneer Christus in die siel woon, is die vergoeding nie hoofsaak nie. Dis nie die dryfveer wat ons diens uitlok nie. Dis waar dat ons in ‘n ondergeskikte sin na die beloning moet uitsien. God wil hê dat ons Sy beloofde seëninge moet waardeer. Maar Hy wil nie hê dat ons gretig moet wees vir die beloning of dat ons moet voel dat ons vir elke ou pliggie beloon moet word nie. Ons moet nie net so gretig wees om beloon te word, as wat ons is om te doen wat reg is ongeag die wins nie. Liefde vir God en vir ons medemens behoort die dryfveer te wees. DGC 289.1
Hierdie gelykenis is geen verskoning vir diegene wat die eerste geroep hoor, maar nalaat om tot die Here se wingerd toe te tree nie. Toe die huisheer teen die elfde uur nog werkloses op die markplein aangetref het, het hy gesê: “Wat staan julle hier die hele dag ledig?” die antwoord was: “Omdat niemand ons gehuur het nie.” Geeneen van die wat later in die dag geroep is, was in die vroeë more daar nie. Hulle het die oproep nie geweier nie. Hulle wat weier en later berou kry, doen reg om berou te kry, maar dis nie veilig om die eerste genade-oproep te minag nie. DGC 289.2
Toe die arbeiders in die wingerd “elkeen ‘n penning ontvang” het, het die wat vroeg in die dag begin het, aanstoot geneem. Het hulle dan nie twaalf uur gewerk nie? het hulle geredeneer, en was dit dan nie reg dat hulle meer moes kry as die wat net een uur in die koelte van die dag gewerk het nie? Hulle het gesê: “Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle gelykop behandel met ons wat die las van die dag en die hitte gedra het.” DGC 289.3
“Vriend,” het die huisheer aan een van hulle geantwoord, “ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir ‘n penning nie? Neem dan wat joue is, en gaan heen. Ek wil aan hierdie laaste een gee net soos aan jou. Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd omdat ek goed is? DGC 289.4
“So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.” DGC 290.1
Die eerste arbeiders in die gelykenis stel diegene voor wat weens hulle diens voorkeur bo ander eis. Hulle aanvaar hulle werk met‘n gees van selfgelukwensing en bring daar geen selfverloëning of opoffering in nie. Hulle het miskien hulle lewe lank voorgegee om God te dien, hulle het miskien die grootste ongerief, ontbering en beproewinge verduur, en daarom dink hulle dat hulle geregtig is op ‘n groot loon. Hulle dink meer van die beloning as van die voorreg om dienaars van Christus te wees. Hulle meen dat hulle arbeid en hulle opofferings hulle geregtig maak op groter eer as andere, en omdat hulle dit nie kry nie, neem hulle aanstoot. As hulle met‘n gees van liefde en vertroue gewerk het, sou hulle nog eerste gewees het, maar hulle ontevrede, klaerige geaardheid is onchristelik en bewys dat hulle onbetroubaar is. Dit openbaar hulle begeerte om selfbevordering, hulle wantroue in God en hulle gees van jaloesie en misgunning teenoor hulle broeders. Die goedheid en milddadigheid van die Here is vir hulle net rede om te kla. So bewys hulle dat daar geen verbinding tussen hulle siele en God is nie. Hulle ken nie die vreugde van samewerking met die Meesterwerker nie. DGC 290.2
Niks is vir God meer aanstootlik as hierdie enge, selfgerigte gees nie. Hy kan nie met iemand saamwerk wat hierdie hoedanighede aan die dag lê nie. So iemand is ongevoelig vir die werking van Sy Gees. DGC 290.3
Die Jode was eerste na die wingerd van God geroep, en daarom was hulle hoogmoedig en eiegeregtig. Hulle het gemeen dat hulle lange jare van diens hulle op ‘n groter loon as andere geregtig maak. Niks het hulle meer vertoorn as die aanduiding dat die heidene gelyke voorregte met hulle in die dinge van God sou geniet nie. DGC 290.4
Christus het die dissipels wat eerste geroep is om Hom te volg, gewaarsku sodat hulle nie dieselfde euwel sou koester nie. Hy het besef dat die swakheid, die vloek van die kerk, juis hierdie eiegeregtige gees sou wees. Mense sou dink dat hulle iets kan doen om ‘n plek in die koninkryk van die hemele te verdien. Hulle sou hulle verbeel dat die Here hulle sou help nadat hulle tot ‘n sekere punt gevorder het. DGC 290.5
Daar sou dus volop van die self en min van Christus wees. Talle wat effens gevorder het, sou opgeblase wees en dink hulle is beter as andere. Hulle sou graag gevlei word en jaloers wees as hulle nie as die belangrikste beskou word nie. Christus trag om Sy dissipels teen hierdie gevaar te beskerm. DGC 291.1
Alle roem oor deug in onsself is onvanpas. “Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die Here is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in die dinge het Ek‘n behae, spreek die Here.” Jer. 9:23, 24. DGC 291.2
_______________
“Mag die Here jou daad vergelde, en mag jou loon volkome wees van die Here, die God van Israel.” Rut 2:12. “Gewis, daar is vrug vir die regverdige.” Ps. 58:12. “Hy wat geregtigheid saai, [behaal] ‘n betroubare loon. “Spr. 11:18.
_______________
Die beloning is nie uit werke nie, sodat niemand mag roem nie; dit is alles uit genade. “Wat sal ons dan sê, het Abraham, ons vader na die vlees, verkry? Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar nie teenoor God nie. Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; aan hom, egter, wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.” Rom. 4:1 - 5. Daar is dus geen rede vir iemand om hom bo ‘n ander te verhef of om ‘n wrok teen ‘n ander te koester nie. Niemand word bo ‘n ander bevoorreg nie en niemand kan op‘n beloning as sy reg aanspraak maak nie. DGC 291.3
Die eerstes en die laastes sal in die groot, ewige beloning deel, en die eerstes moet die laastes met blydskap verwelkom. Hy wat ‘n ander die loon misgun, vergeet dat hy self net deur genade gered is. Die gelykenis van die arbeiders bestraf alle jaloesie en agterdog. Die liefde verheug hom in die waarheid en maak geen afgunstige vergelykings nie. Hy wat liefde besit, vergelyk sy eie onvolmaakte karakter net met die lieflikheid van Christus. DGC 291.4
Hierdie gelykenis is ‘n waarskuwing vir alle arbeiders, ongeag hoe lank hulle dien, hoeveel hulle werk, dat hulle sonder liefde vir hulle broeders en sonder nederigheid voor God niks is nie. Daar is geen godsdiens in selfverering nie. Hy wat selfverheerliking nastreef, sal ontdek dat hy daardie genade ontbreek wat alleen in staat is om hom in die diens van Christus doeltreffend te maak. Wanneer hoogmoed en selftevredenheid gekoester word, word die werk bederf. DGC 292.1
Dis nie hoe lank ons werk nie, maar hoe gewillig en getrou ons werk wat dit vir God aanneemlik maak. In al ons diens word voile oorgawe van die self vereis. Die geringste pliggie wat opreg en sonder inagneming van die self gedoen word, is vir God aanneemliker as die grootste werk wat deur eiebelang bederf word. Hy kyk hoeveel van die gees van Christus ons koester en hoeveel gelykvormigheid aan Christus in ons werk geopenbaar word. Hy gee meer ag op die liefde en getrouheid waarmee ons werk as op hoeveel werk ons doen. DGC 292.2
Eers wanneer selfsug dood is, wanneer daar nie meer na die hoogste plek gestreef word nie, wanneer dankbaarheid die hart vul en liefde die lewe geurig maak - eers dan woon Christus in die siel en word ons as medewerkers van God erken. DGC 292.3
Hoe hard hulle ook al werk, die ware werkers beskou dit nie as ‘n oorlas nie. Hulle is bereid om alles te gee. Maar dis gewillige werk met ‘n blymoedige hart gedoen. Vreugde in God word deur Jesus Christus verwoord. Hulle vreugde is die Vreugde wat aan Christus voorgehou is “om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” (Joh. 4:34) Hulle werk met die Here van die heerlikheid saam. Hierdie gedagte maak alle arbeid soet, dit onderskraag die wil, dit versterk die gees vir wat ook al mag kom. Hulle werk met ‘n onselfsugtige hart, word veredel deur in Christus se lyding te deel, is eensgesind met Hom, werk met Hom saam en help so om Sy vreugde groter te maak en om lof en eer aan Sy verhewe Naam te bring. DGC 292.4
Dit is die gees van alle ware diens vir God. Omdat hulle hierdie gees nie het nie, sal talle wat skynbaar eerste is, laaste word, terwyl diegene wat dit het, hoewel hulle laaste skyn te wees, eerste sal word. DGC 292.5
Daar is talle wat hulle aan Christus oorgegee het, maar nog nie ‘n geleentheid sien om in Sy diens ‘n groot werk te doen of groot opofferings te maak nie. Hulle kan hulle troos aan die gedagte dat dit nie noodwendig die martelaar se selfoorgawe is wat vir God die aanneemlikste is nie; dis miskien nie die sendeling wat daagliks met gevare en die dood te kampe het wat die hoogste in die hemelse boeke aangeteken staan nie. Die Christen wat in sy private lewe, in sy daaglikse oorgawe van die self, in die opregtheid van sy strewe, in die reinheid van sy gedagtes, in sagmoedigheid onder uittarting, in geloof en vroomheid, in getrouheid in die geringste so is, hy wat die karakter van Christus in die huislike lewe weerspieël - so ‘n mens kan in die oë van God kosbaarder as die wêreldberoemde sendeling of martelaar wees. DGC 293.1
Ag, hoe anders is die maatstawe waarmee God en mens karakters meet. God sien talle versoekings wat weerstaan word waarvan die wêreld en intieme vriende niks weet nie - versoekings in die huis, in die hart. Hy sien die nederigheid van die siel teen die agtergrond van sy eie swakheid, die opregte berou oor selfs een sondige gedagte. Hy sien die heelhartige toewyding aan Sy diens. Hy het kennis geneem van die ure van harde stryd met die self - stryd wat die oorwinning verseker het. God en engele is van al hierdie dinge bewus. ‘n Gedenkboek word voor Hom geskryf vir hulle wat die Here vrees en Sy Naam eer. DGC 293.2
Dis nie ons geleerdheid, ons status, ons getalle of ons toevertroude talente nie, dis nie in die wil van‘n mens dat die geheim van sukses skuil nie. Ons moet ons ondoeltreffendheid aanvoel en oor Christus peins, en deur Hom wat die krag van alle krag, die gedagte van alle gedagtes is, sal die gewillige en gehoorsame oorwinning na oorwinning behaal. DGC 293.3
En al is ons diens ook hoe kort of ons werk hoe nederig, as ons Christus in eenvoudige geloof volg, sal ons nie teleurgesteld wees oor die beloning nie. Wat selfs die belangrikste en slimste nie kan verdien nie, kan die swakste en nederigste ontvang. Die goue hemelpoort gaan nie vir die selfverhewene oop nie. Dit word nie vir die trotses van gees opgehef nie. Maar die ewige poorte sal wyd oopgaan vir die bewende aanraking van ‘n klein kindjie. Salig sal die beloning van genade vir diegene wees wat in die eenvoud van geloof en liefde vir God gewerk het. DGC 293.4