Loading…
Hoofstuk 12—Vra om te Gee Na aanleiding van Lukas 11:1-13
CHRISTUS het gedurig van die Vader ontvang om aan ons te kan meedeel. “Die woord wat julle hoor,” het Hy gesê, “is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.” (Joh. 14:24), “net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien.” (Matt. 20:28) Hy het nie vir Homself geleef en gedink en gebid nie, maar vir andere. Nadat Hy ure met God deurgebring het, het Hy oggend na oggend uitgegaan om die lig van die hemel aan mense te bring. Daagliks is Hy opnuut met die Heilige Gees gedoop. In die vroeë ure van die nuwe dag het die Here Hom uit Sy slaap gewek, en Sy siel en Sy lippe is met genade gesalf sodat Hy aan andere iets kon meedeel. Sy woorde is vars uit die hemelhowe aan Hom gegee; woorde wat Hy tydig aan diegene kon spreek wat vermoeid en bedruk was. “Die Here Here het My‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge.” Jes. 50:4. DGC 89.1
Christus se dissipels is baie beïndruk deur Sy gebede en deur Sy gewoonte om met God gemeenskap te hou. Op‘n dag, nadat hulle‘n kort tydjie van hulle Here afwesig was, het hulle Hom in gebed verdiep aangetref. Skynbaar onbewus van hulle teenwoordigheid, het Hy steeds hardop gebid. Die harte van Sy dissipels is diep geroer. Toe Hy klaar gebid het, roep hulle uit: “Here, leer ons bid.” DGC 89.2
In antwoord hierop het Jesus die Onse Vader herhaal soos Hy dit tydens die bergpredikasie gegee het. Toe illustreer Hy die les wat Hy hulle wou leer deur middel van‘n gelykenis. DGC 89.3
“Wie van julle,” het Hy gesê, “sal‘n vriend hê en sal middernag na hom gaan en vir hom sê: Vriend, leen my drie brode, want‘n vriend van my het van ‘n reis by my aangekom, en ek het niks om aan hom voor te sit nie - en die van binnekant sal antwoord en sê: Moenie my lastig val nie; die deur is al gesluit, en my kinders is saam met my al in die bed; ek kan nie opstaan om vir jou te gee nie. Ek sê vir julle, al sou hy ook nie opstaan en hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog ter wille van sy onbeskaamdheid opstaan en hom gee soveel as hy nodig het.” DGC 89.4
Hier sê Christus dat die vraer vra om weer te gee. Hy moet die brood kry, anders kan hy nie in die behoeftes van die vermoeide en ontydige reisiger voorsien nie. Hoewel sy buurman onwillig is om gesteur te word, sal hy nie ophou om te pleit nie. Sy vriend moet gehelp word en uiteindelik word sy volharding beloon. In sy behoeftes word voorsren. DGC 90.1
Op dergelike wyse moes die dissipels van God seëninge vra. In die voeding van die menigte en in die preek oor die brood uit die hemel, het Christus aan hulle hul werk as Sy verteenwoordigers duidelik gestel. Hulle moes die brood van die lewe aan die mense gee. Hy wat hulle werk aan hul opgedra het, het geweet hoe dikwels hulle geloof getoets sou word. Dikwels sou hulle in onverwagte omstandighede beland, dan sou hulle hulle menslike ontoereikendheid besef. DGC 90.2
Siele wat na die brood van die lewe honger, sou na hulle toe kom, en hulle sou voel dat hulle behoeftig en hulpeloos was. Hulle moet geestelike voedsel ontvang, anders sou hulle niks hê om te gee nie. Maar hulle moes geen siel ongevoed van hulle wegstuur nie. Christus wys hulle op die toevoerbron. Die man wie se vriend kom herberg soek het, selfs op die ontydige middernaguur, het hom nie weggestuur nie. Hy het niks gehad om aan hom voor te sit nie, maar hy het na iemand gegaan wat wel voedsel gehad het en het gepleit totdat die buurman in sy behoefte voorsien het. En sou God, wat Sy diensknegte uitgestuur het om die hongeriges te voed, nie in hulle behoeftes vir Sy eie werk voorsien nie? DGC 90.3
Maar die selfsugtige buurman in die gelykenis stel nie die karakter van God voor nie. Die les word nie met ooreenstemming geleer nie, maar met teenstelling.‘n Selfsugtige man sal aan‘n dringende versoek voldoen om ontslae te raak van die rusverstoorder. Maar dit behaag God om te gee. Hy is die ene meegevoel en verlang om die versoeke van die wat in die geloof na Hom toe kom toe te staan. Hy gee aan ons sodat ons andere kan dien en sodoende soos Hy kan word. DGC 90.4
Christus verklaar:“Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word,” DGC 90.5
Die Heiland gaan voort:“En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom‘n klip gee; of ook‘n vis, en hy sal hom in plaas van‘n vis ‘n slang gee; of ook as hy‘n eier vra, hom‘n skerpioen gee? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” DGC 90.6
Ten einde ons vertroue in God te versterk, leer Christus ons om Hom met‘n nuwe Naam aan te spreek, ‘n Naam wat in noue verband staan met die kosbaarste herinneringe van die mensehart. Hy gee ons die voorreg om die ewige God onse Vader te noem. Hierdie Naam waarmee ons tot en van Hom spreek is ‘n teken van ons liefde vir en vertroue in Hom, en‘n waarborg van Sy agting vir en verhouding tot ons. As ons dit noem wanneer ons Sy guns en seën vra, is dit soos musiek in Sy ore. Om ons nie te laat dink dat dit aanmatiging is om Hom by hierdie Naam te noem nie, het Hy dit keer op keer herhaal. Hy wil hê ons moet bekend word met hierdie aanspreekvorm. DGC 91.1
God beskou ons as Sy kinders. Hy het ons uit die roekelose wêreld verlos en het ons uitverkies om lede van die koningsgesin te word, seuns en dogters van die hemelse Koning. Hy nooi ons om op Hom te vertrou met ‘n vertroue wat dieper en sterker is as dié van’ n kind vir sy aardse vader. Ouers het hulle kinders lief, maar die liefde van God is groter, breër, dieper as wat menslike liefde ooit kon wees. Dit is onmeetlik. As aardse ouers dan weet hoe om goeie gawes aan hulle kinders te gee, hoeveel te meer sal ons Vader in die hemel nie Sy Heilige Gees aan diegene gee wat Hom vra nie? DGC 91.2
Christus se lesse aangaande gebed moet versigtig betrag word. Daar is ‘n Goddelike wetenskap in gebed, en Sy illustrasie beeld vir ons beginsels uit wat almal moet verstaan. Hy toon wat die ware gees van gebed is, Hy leer ons die noodsaaklikheid van volharding wanneer ons ons versoeke voor God stel en Hy verseker ons van Sy gewilligheid om gebed te verhoor. DGC 91.3
Ons gebede moet nie selfsugtige smekery wees, met die oog op ons eie voordeel nie. Ons moet vra sodat ons kan gee. Die beginsel van Christus se lewe moet die beginsel van ons lewens wees. “En Ek heilig Myself vir hulle,” het Hy gesê, toe Hy van Sy dissipels gepraat het, “sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.” (Joh. 17:19) Dieselfde toewyding, dieselfde selfopoffering, dieselfde onderwerping aan die eise van die Woord van God wat in Christus te sien was, moet ook in Sy diensknegte gesien word. Ons sending na die wêreld is nie om onsself te dien en te behaag nie; ons moet God verheerlik deur saam met Hom te werk in die redding van sondaars. Ons moet seëninge van God afvra sodat ons aan andere kan meedeel. Die vermoë om te ontvang word behou net deur te gee. Ons kan nie aanhou om hemelse skatte te ontvang tensy ons hulle aan ons medemense gee nie. DGC 91.4
In die gelykenis is hy wat gevra het herhaaldelik afgewys, maar hy het nie van sy doel afgesien nie. So word ons gebede ook oënskynlik nie altyd onmiddellik verhoor nie; maar Christus leer dat ons nie moet ophou bid nie. Gebed is nie daar om God te verander nie; dit is om ons in ooreenstemming met God te bring. Wanneer ons aan Hom ‘n versoek rig, sien Hy miskien dat dit vir ons nodig is om ons harte te deursoek en ons van sonde te bekeer. Daarom neem Hy ons deur toets en beproewing. Hy bring ons deur vernedering sodat ons kan sien wat die werking van die Heilige Gees deur ons verhinder. DGC 92.1
Daar is voorwaardes vir die vervulling van Gods beloftes, en gebed kan nooit die plek van plig inneem nie. “As julle My liefhet,” sê Christus, “bewaar my gebooie.” “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hom sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.” Joh. 14:15, 21. Diegene wat hulle versoeke tot God bring, en op Sy beloftes steun, maar tog nie aan die voorwaardes voldoen nie, beledig Jehova. Hulle noem die Naam van Christus as hulle gesag vir die vervulling van die belofte, maar hulle doen nie daardie dinge wat van geloof in, en liefde vir, Christus spreek nie. DGC 92.2
Vele verbeur die voorwaarde waarop hulle deur die Vader aangeneem sou word. Ons het nodig om noukeurig die trustakte te ondersoek waarmee ons God nader. As ons ongehoorsaam is, bring ons eintlik aan die Here ‘n tjek om gewissel te word terwyl ons nie voldoen het aan die voorwaardes wat dit aan ons betaalbaar sou maak nie. Ons herinner God aan Sy beloftes en vra dat Hy hulle moet vervul, terwyl Hy sodoende Sy Naam oneer sou aandoen. DGC 92.3
Die belofte is: “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.” Joh. 15:7. En Johannes verklaar: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom-en sy gebooie nie bewaar nie - is’n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword.” 1 Joh. 2:3-5. DGC 92.4
Een van Christus se laaste bevele aan Sy dissipels was: “dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het.” (Joh. 13: 34) Gehoorsaam ons hierdie bevel of koester ons skerp onchristelike karaktertrekke? As ons ‘n ander op enige manier bedroef of gewond het, is dit ons plig om ons oortreding te bely en versoening te soek. Dit is noodsaaklike voorbereiding voordat ons in die geloof na God kan kom om Sy seën te vra. DGC 93.1
Daar is’n ander saak wat te dikwels nagelaat word deur diegene wat die Here in die gebed soek. Was u eerlik met God? Deur die profeet Maleagi verklaar die Here: DGC 93.2
“Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie. Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer, sê die Here van die leërskare. Maar julle vra: Waarin moet ons terugkeer? Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe.” Mal. 3:7,8. DGC 93.3
As Gewer van alle seëninge, maak God aanspraak op ‘n sekere deel van alles wat ons besit. Dit is hoe Hy voorsiening maak vir die onderhoud van die evangelieprediking. En ons moet ons waardering vir Sy gawes bewys deur hierdie deel aan God terug te gee. Maar as ons weier om aan Hom te gee wat aan Hom behoort, hoe kan ons Sy seëning opeis? As ons ontroue rentmeesters is van aardse dinge, hoe kan ons verwag dat Hy die hemelse dinge aan ons moet toevertrou? Dit kan wees dat die geheim van onverhoorde gebede juis hier lê. DGC 93.4
Maar die Here is in Sy groot genade gereed om te vergewe, en Hy sê: “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin... of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle‘n oorvloedige seën sal uitstort nie. Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie. ... En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, sê die Here van die leërskare.” Mal. 3:10-12. DGC 93.5
So is dit met al die ander vereistes van God. Al Sy gawes word belowe op voorwaarde van gehoorsaamheid. God het‘n hemel vol seëninge vir diegene wat saam met Hom sal werk. Almal wat Hom gehoorsaam, kan met vertroue die vervulling van Sy beloftes opeis. DGC 94.1
Maar ons moet‘n vaste, onwrikbare vertroue in God toon. Dikwels vertraag Hy die antwoord sodat Hy ons geloof kan beproef of die opregtheid van ons verlange kan toets. As ons volgens Sy Woord gevra het, moet ons Sy belofte glo en ons versoeke na Hom bring met‘n volharding wat nie gestuit sal word nie. DGC 94.2
God sê nie: Vra een maal, en julle sal ontvang, nie. DGC 94.3
Hy sê dat ons moet vra. Volhard onvermoeid in die gebed. Deur aanhoudend te versoek word die een wat vra tot‘n ernstiger houding gebring, en dit gee hom ‘n sterker verlange om die dinge te ontvang waarvoor hy vra. By die graf van Lasarus het Christus aan Martha gesê, “As jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien.” (Joh. 11:40) DGC 94.4
Maar sovele het nie ‘n lewende geloof nie. Dit is juis hierom dat hulle nie meer van die krag van God sien nie. Hulle swakheid is die gevolg van hulle ongeloof. Hulle het meer geloof in hulle eie werk as in die werk van God vir hulle. Hulle neem hulle sake in hulle eie hande. Hulle beraam en smee planne, maar bid selde en het weinig ware vertroue in God. Hulle dink dat hulle geloof het, maar dit is net die aandrang van die oomblik. Omdat hulle nie besef dat hulle behoeftig is en dat God gewillig is om te gee nie, volhard hulle nie in hulle gebede nie. DGC 94.5
Ons gebede moet ernstig en volhardend wees soos die versoek van die vriend wat om middernag in sy behoefte brode gevra het. Hoe ernstiger en hoe meer vasberade ons vra, hoe hegter sal ons geestelike eenheid met Christus wees. Ons sal groter seëninge ontvang omdat ons groter geloof het. DGC 94.6
Onsaandeel is om te bid en te glo. Waak en bid. Waak en werk saam met die God wat gebede verhoor. Laat ons in gedagte hou dat ons “medewerkers van God” is. (1 Kor. 3:9) Spreek en handel in ooreenstemming met u gebede. Dit sal vir u ‘n oneindige verskil maak of beproewinge gaan bewys dat u geloof opreg is, of openbaar dat u gebede maar net‘n vorm is. DGC 94.7
Wanneer u met verwarring en moeilikhede te doen kry, moenie by mense hulp soek nie. Vertrou op God vir alles. Die gewoonte om ander van ons moeilikhede te vertel, maak ons net swak en dit maak hulle ook nie sterk nie. Dit belas hulle met ons geestelike swakhede en hulle kan dit nie verlig nie. Dan soek ons krag by sondige, nietige mense, terwyl ons die krag van die onfeilbare, ewige God kan hê. DGC 94.8
U hoef nie na die uiteindes van die aarde te gaan om wysheid te soek nie, want God is naby. Dit is nie die bekwaamhede wat u nou besit, of ooit sal besit, wat vir u sukses sal gee nie. Dit is wat die Here vir u kan doen. Ons moet veel minder vertroue hê in wat die mens kan doen en baie meer vertroue in wat God vir elke gelowige siel kan doen. Hy verlang dat u in geloof tot Hom moet uitreik. Hy verlang dat u groot dinge van Hom moet verwag. Hy verlang om u‘n begrip te gee van sowel tydelike as geestelike dinge. Hy kan die verstand verskerp. Hy kan takt en behendigheid verleen. Gebruik u talente in die werk, vra wysheid van God en dit sal aan u gegee word. DGC 95.1
Vertrou op die woord van Christus. Het Hy u dan nie genooi om na Hom toe te kom nie? U moet u nooit toelaat om op ‘n hopelose, mismoedige wyse te praat nie. As u dit doen, sal u veel verloor. Deur na omstandighede te kyk en te kla wanneer moeilikhede en druk kom, lewer u bewys van ‘n sieklike, verswakte geloof. Praat en handel asof u geloof onoorwinlik is. Die Here het baie planne. Die wêreld behoort aan Hom. Kyk hemelwaarts in die geloof. Vertrou op Hom wat lig, krag en bekwaamheid het. DGC 95.2
Egte geloof besit ‘n eie veerkrag, ‘n beginselvastheid, ‘n doelgerigtheid wat nie deur tyd en arbeid verswak kan word nie. “Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” Jes. 40:30, 31. DGC 95.3
Daar is baie wat verlang om andere te help, maar hulle voel dat hulle geen geestelike krag of lig het wat hulle kan meedeel nie. Laat hulle hulle versoeke voor die genadetroon bring. Smeek om die Heilige Gees. God rugsteun elke belofte wat Hy gemaak het. Neem u Bybel in u hand en sê, Ek het gemaak net soos U gesê het. Ek hou U belofte voor: DGC 95.4
“Bid, en vir julle sal gegee word; soek en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” DGC 95.5
Ons moenie net in die Naam van Christus bid nie, maar ook deur die ingewing van die Heilige Gees. Dit verduidelik wat bedoel word met die woorde: “Die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.” Rom. 8:26. Dit verheug die Here om sulke gebede te verhoor. Wanneer ons ernstig en vuriglik in die Naam van Christus bid, is daar juis in die vurigheid daarvan ‘n belofte van God dat Hy in gereedheid staan om ons gebed te beantwoord “ver bo alles wat ons bid of dink.” (Efe.3:20) DGC 96.1
Christus het gesê: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.” (Markus 11:24) “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.” (Joh. 14:13) En die geliefde Johannes, onder ingewing van die Heilige Gees, spreek met groot duidelikheid en versekering:” ... dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.” 1 Joh. 5:14, 15. Dan moet u u versoek in die Naam van Jesus voor die Vader lê. God sal daardie Naam vereer. DGC 96.2
Die reënboog rondom die troon is’n versekering dat God getrou is, dat daar by Hom geen verandering of skaduwee van omkering is nie. Ons het teen Hom gesondig en verdien nie Sy guns nie; tog het Hy self die mooiste van pleitbedes op ons lippe geplaas, naamlik: “Verwerp ons nie ter wille van u Naam; onteer die troon van u heerlikheid nie: hou tog in gedagtenis, verbreek nie u verbond met ons nie.” (Jer. 14:21) Hy het beloof dat Hy sal hoor wanneer ons na Hom toe kom met belydenis van ons onwaardigheid en sonde. Die eer van Sy troon is op die spel vir die vervulling van Sy woord aan ons. DGC 96.3
Soos Aaron, wat Christus gesimboliseer het, dra Christus die name van al Sy volksgenote in die heilige plek op Sy hart. Ons Hoëpriester onthou al die woorde waarmee Hy ons tot vertroue bemoedig het. Hy hou altyd Sy verbond in gedagte. DGC 96.4
Almal wat by Hom aanklop, sal vind. Vir almal wat klop, sal die deur oopgemaak word. Die verskoning sal nie gehoor word: Moet My nie lastig val nie; die deur is gesluit; Ek wil dit nie oopmaak nie. Nooit sal aan iemand gesê word: Ek kan jou nie help nie. Diegene wat om middernag om brode smeek waarmee hulle honger siele kan voed, sal suksesvol wees. DGC 96.5
In die gelykenis sal hy wat vir die vreemdeling brode vra, “soveel as hy nodig het,” ontvang. En in watter mate sal God aan ons gee sodat ons aan ander kan gee?” DGC 97.1
Volgens die mate van die gawe van Christus.” (Efe. 4:7) Engele kyk met intense belangstelling om te sien hoe die mens sy medemens behandel. Wanneer hulle sien dat iemand teenoor dwalendes Christelike simpatie betoon, kom hulle nader aan sy sy en herinner hom aan woorde om te spreek, wat vir die siel soos die brood van die lewe sal wees. So sal God “elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.” (Filip. 4:19) Hy sal u getuienis in Sy opregtheid en werklikheid kragtig maak in die krag van die toekomstige lewe. Die woord van die Here sal in u mond soos waarheid en geregtigheid wees. DGC 97.2
Persoonlike pogings wat ons ter wille van andere aanwend, moet voorafgegaan word deur veel gebed in die geheim; want dit vereis groot wysheid om te verstaan hoe om siele te red. Voordat u met mense praat, praat eers met Christus. Laat u by die troon van hemelse genade voorberei om mense te bedien. DGC 97.3
Laat u hart breek met smagting na God, na die lewende God. Die lewe van Christus het bewys wat‘n mens kan doen wanneer hy die Goddelike natuur deelagtig geword het. Alles wat Christus van God ontvang het, kan ons ook hê. Vra dus en ontvang. Maak met die volhardende geloof van Jakob, met die onwrikbare deursettingsvermoë van Elia, aanspraak op alles wat God belowe het. DGC 97.4
Laat die heerlike begrippe aangaaande God van u gedagtes besit neem. Laat u lewe met onsigbare bande met die lewe van Christus verenig word. Hy wat beveel het dat die lig uit duisternis moet skyn, is gewillig om in u hart te skyn om die lig van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus te gee. Die Heilige Gees sal die kennis van God neem en aan u toon, en dit as ‘n lewende krag in die gehoorsame hart oordra. Christus sal u na die drumpel van die oneindige God lei. U kan die heerlikheid agter die voorhangsel aanskou en aan die mensdom die genoegsaamheid openbaar van Hom wat altyd leef om vir ons in te tree. DGC 97.5