Loading…
Hoofstuk 18— “Gaan uit op die Paaie en na die Lanings”
Na aanleiding van Lukas 14:1, 12-24
DIE Heiland was ‘n gas by die fees van ‘n Fariseër. Hy het uitnodigings van sowel die rykes as die armes aangeneem, en oudergewoonte het Hy die toneel voor Hom met Sy lesse van waarheid verbind. Die Jode se heilige feeste het met geleenthede van volksen godsdienstige vreugde saamgeval. Dit was vir hulle‘n sinnebeeld van die seëninge van die ewige lewe. Hulle het graag gesels oor die groot fees wanneer hulle saam met Abraham, Isak en Jakob sou aansit, en die heidene buite met verlangende oë sou staan en aankyk. Die waarskuwing en les wat Christus wou gee, het Hy nou met die gelykenis van ‘n groot maaltyd verduidelik. Die Jode wou die seëninge van God vir beide die hede en die hiernamaals vir hulleself afhok. Hulle het die heidene Gods genade ontsê. Deur middel van die gelykenis het Christus aangedui dat hulle self op daardie tydstip juis besig was om die genadige uitnodiging na Gods koninkryk, van die hand te wys. Hy het getoon dat die uitnodiging wat hulle van die hand gewys het na diegene gestuur sou word wat hulle verag het, diegene van wie hulle hulle klere weggehou het asof hulle melaats was en vermy moes word. DGC 151.1
Die Fariseër het gaste vir die maaltyd gekies wat sy eie selfsugtige belange sou dien. Christus het aan hom gesê: “Wanneer jy ‘n môreof middagete gee, moenie jou vriende nooi, of jou broers of bloedverwante of ryk bure nie, sodat hulle jou miskien ook eendag weer uitnooi en jy vergelding ontvang nie. Maar wanneer jy ‘n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.” DGC 151.2
Christus het hier die les herhaal wat Hy deur Moses aan Israel geleer het. By hulle heilige feeste het die Here beveel dat “die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is, [moet kom] en hulle moet eet en versadig word.” (Deut.14:29) Hierdie byeenkomste moes as aanskouingslesse vir Israel dien. Nadat hulle die lesse van die vreugde van ware gasvryheid so geleer het, moes die mense deur die jaar vir die bedroefdes en die armes sorg. DGC 151.3
_______________
“O Almal wat dors het, kom no die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.” Jes. 55:1, 2.
_______________
Hierdie feeste het ook‘n breër betekenis gehad. Die geestelike seëninge wat aan Israel gegee is, was nie net vir hulle nie. God het die brood van die lewe aan hulle gegee sodat hulle dit vir die wêreld kon breek. DGC 152.1
Hulle het hierdie werk nie uitgevoer nie. Christus se woorde het hulle selfsug bestraf. Vir die Fariseërs was Sy woorde onsmaaklik. Om die gesprek in ‘n ander rigting te probeer stuur, het een van hulle, met ‘n skynheilige houding, uitgeroep: “Salig is hy wat brood eet in die koninkryk van God.” Hierdie man het met groot versekering gepraat asof hy self seker was van ‘n plek in die koninkryk. Hy het dieselfde houding gehad as diegene wat hulle verheug omdat hulle deur Christus gered is, maar nie aan die voorwaardes voldoen waarop die saligheid belowe word nie. Sy gees was soos die van Bileam wat gebid het: “Laat my sterwe die dood van die opregtes, en laat my einde soos syne wees” (Num. 23:10) Die Fariseër het nie aan sy geskiktheid vir die hemel gedink nie, maar aan wat hy graag in die hemel wou geniet. Sy opmerking was bedoel om die gedagtes van die gaste weg te lok van die onder-werp, naamlik hulle praktiese plig. Hy wou hulle gedagtes van die teenswoordige lewe wegneem na die verre toekoms-tige tyd van die opstanding van die regverdiges. DGC 152.2
Christus lees die hart van die veinser, en met Sy oë op hom, verduidelik Hy aan die geselskap die aard en waarde van hulle teenswoordige voorregte. Hy laat hulle verstaan dat hulle juis in hulle tyd ‘n rol moet speel om ‘n deel te hê in die seëninge van die toekoms. DGC 152.3
” ‘n Sekere man,” het Hy gesê, “het ‘n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi.” Toe die tyd vir die maaltyd aanbreek, het die gasheer sy dienskneg na die genooide gaste gestuur met ‘n tweede boodskap, “Kom, want alles is nou gereed.” Maar daar was’n eienaardige gebrek aan belangstelling. “Hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom gesê: Ek het‘n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog. En ‘n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u verskoon my tog. En ‘n ander een het gesê: Ek het‘n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.” DGC 152.4
Nie een van die verskonings was werklik noodsaaklik nie. Die man wat “noodsaaklik [moes] uitgaan om ... te kyk” na sy stuk grond, het dit reeds gekoop gehad. Sy haastigheid om daarna te kyk was weens die feit dat hy behep was met sy koop. Ook die osse was gekoop. Hy wou hulle net gaan probeer, omdat hulle sy aandag in beslag geneem het. Ook die derde verskoning was ewe ongegrond. Die feit dat die genooide gas’n vrou getrou het, was geen rede vir hom om nie die fees by te woon nie. Hulle sou sy vrou ook verwelkom het. Maar hy het self planne vir plesier gehad en dié was blykbaar meer na sy smaak as die maaltyd waarheen hy belowe het om te gaan. Hy het hom gewoond gemaak om ander geselskap as die van sy gasheer meer te geniet. Hy het nie om verskoning gevra nie, en het nie eens geprobeer om hoflik te weier nie. Daardie “ek kan nie” was om die waarheid te bedek - “Ek het nie lus om te kom nie.” DGC 153.1
Al die verskonings het getuig dat die gedagtes met ander dinge besig was. Hierdie genooide gaste se ander belange het allesoorheersend geword. Hulle het die uitnodiging wat hulle beloof het om aan te neem, van die hand gewys, en die gasvrye vriend deur hulle onverskillige houding beledig. DGC 153.2
Deur middel van die groot maaltyd, stel Christus die seëninge voor wat deur die evangelie kom. Die spys is niks anders as Christus self nie. Hy is die brood wat uit die hemel neerdaal; en uit Hom vloei die strome van verlossing. Die Here se boodskappers het die koms van die Heiland aan die Jode verkondig. Hulle het Christus aangewys as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Joh. 1:29) Met die maaltyd wat Hy voorsien het, het God vir hulle die grootste gawe aangebied wat die hemel kon skenk - ‘n onskatbare gawe. Die liefde van God het die duur feesmaal gegee en onuitputlike hulpbronne voorsien. “As iemand van hierdie brood eet,” het Christus gesê, “sal hy lewe tot in ewigheid.” (Joh. 6:51) DGC 153.3
Maar om die uitnodiging na die evangeliefees aan te neem, moet hulle hulle wêreldse belange aan die een doel onderwerp, naamlik om Christus en Sy geregtigheid aan te neem. God het alles ter wille van die mens ingeboet, en Hy vra hom dat hy Sy diens bo elke aardse en selfsugtige oorweging moet stel. Hy kan ‘n verdeelde hart nie aanneem nie. Die hart wat behep is met liefde vir aardse dinge kan nie aan God oorgegee word nie. DGC 154.1
Die les geld vir alle tye. Ons moet die Lam van God volg waar Hy ook al gaan. Ons moet Sy leiding kies, Sy geselskap bo die geselskap van aardse vriende waardeer. Christus sê: “Wie vader of moeder bo My liefhet, is DGC 154.2
_______________
“Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe. Dit is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het.” Joh. 6:48-51.
_______________
My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.” Matt. 10:37. DGC 154.3
In Christus se tyd het baie gesinne aan die tafel die woorde opgesê: “Salig is hy wat brood eet in die koninkryk van God.” Maar Christus het aangetoon hoe moeilik dit was om gaste te vind vir die tafel wat teen onskatbare koste voorsien is. Diegene wat na Sy woorde geluister het, het geweet dat hulle die uitnodiging van genade geminag het. DGC 154.4
Vir hulle was aardse besittings, rykdom en plesier, allesoorheersend. Hulle het almal eenparig verskoning gemaak. DGC 154.5
So is dit nou ook. Die dringende verskonings om die uitnodiging na die feesmaal van die hand te wys, behels al die verskonings wat aangebied word om die evangelie uitnodiging te weier. Mense sê dat hulle nie hulle aardse vooruitsigte in gevaar durf stel deur die vereistes van die evangelie na te kom nie. Hulle ag hulle tydelike belange as van meer waarde as die dinge van die ewigheid. Die einste seëninge wat hulle van God ontvang het, word ‘n versperring wat hulle siele van hulle Skepper en Verlosser skei. Hulle wil nie in hulle aardse ondernemings gesteur word nie, en hulle sê aan die genadeboodskapper: “Gaan vir hierdie keer heen, en as ek ‘n geleentheid vind, sal ek jou laat roep.” (Hand. 24:25) Ander wys weer op die moeilikhede wat hulle op sosiale gebied sou ondervind as hulle die roepstem van God sou gehoorsaam. Hulle sê dat hulle dit nie kan bekostig om anders te wees as hulle familie en kennisse nie. So laat hulle blyk dat hulle die persoonlikhede is wat in die gelykenis beskryf word. Die gasheer van die feesmaal aanvaar dat hulle flou verskonings ‘n minagting is van sy uitnodiging. DGC 154.6
Die man wat gesê het: “Ek het ‘n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie” stel ‘n groot groep mense voor. Daar is baie wat toelaat dat hulle vrouens of hulle mans hulle verhinder om die roepstem van God te gehoorsaam. Die man sê: “Ek kan my pligsoortuigings nie gehoorsaam terwyl my vrou my teenstaan nie. Haar invloed sou dit vir my besonder moeilik maak om dit te doen.” Die vrou hoor die oproep van genade: “Kom, want alles is nou gereed,” en sy sê,” Ek vra u, verskoon my tog.’ My man wys die uitnodiging van genade van die hand. Hy sê dat sy sake in die weg staan. Ek moet met my man saamgaan, en daarom kan ek nie kom nie.” Die kinders se harte word beïndruk. Hulle verlang om te kom. Maar hulle het hulle vader en moeder lief, en omdat hulle die evangelie oproep nie gehoorsaam nie, dink die kinders dat dit nie van hulle verwag kan word om te kom nie. Ook hulle sê, “Verskoon my tog.” DGC 155.1
Hulle weier almal die Heiland se oproep, want hulle vrees verdeeldheid in die familiekring. Hulle meen dat hulle die vrede en voorspoed van die huiskring verseker deur te weier om God te gehoorsaam, maar dit is ‘n misleiding. Diegene wat selfsug saai, sal selfsug maai. Deur die liefde van Christus te verwerp, verwerp hulle die enigste ding wat reinheid en vastigheid aan menslike DGC 155.2
_______________
“En hulle sê vir Hom: ... Om vaders het die manna in die woestyn qeëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet. En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. ...Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” Joh. 6:30-35.
_______________ liefde kan verleen. Hulle sal nie net die hemel kwyt wees nie, maar hulle sal ook nie waarlik die dinge geniet waarvoor hulle die hemel prysgegee het nie.
In die gelykenis het die gasheer van die feesmaal gehoor hoe sy uitnodiging bejeën is, en het “kwaad geword en vir sy dienskneg gesê: Gaan gou uit in die strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in.” DGC 156.1
Die gasheer het diegene verwerp wat sy gasvryheid verag het en ‘n klas uitgenooi wat behoeftig was, wat nie huise en grond besit het nie. Hy het diegene genooi wat arm en honger was, en wat die oorvloed sou waardeer wat hulle aangebied word. “Die tollenaars en die hoere” het Christus gesê, “gaan julle voor in die koninkryk van God.” (Matt. 21:31) Hoe ellendig ook al die menslike wesens wat deur mense verag en verwerp word, hulle is nie te gesonke, te ellendig vir die aandag en liefde van God nie. Christus verlang dat belaste, vermoeide en verdrukte mense na Hom toe moet kom. Hy verlang om aan hulle die lig en vreugde en vrede te gee wat nêrens anders te vind is nie. Die grootste sondaars is die voorwerpe van Sy diepe, ernstige bejammering en liefde. Hy stuur Sy Heilige Gees om tederlik na hulle te verlang en hulle na Hom toe aan te trek. DGC 156.2
Die dienskneg wat die armes en blindes ingebring het, het as volg aan sy heer verslag gedoen: “Meneer, wat u beveel het, is gedoen, en daar is nog plek. Toe sê die heer vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word.” Hier het Christus op die werk van die evangelie buite die grense van die Jodedom, in die paaie en gangetjies van die wêreld, gewys. DGC 156.3
Gehoorsaam aan hierdie bevel, het Paulus en Barnabas aan die Jode verklaar:“Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie - kyk, ons wend ons tot die heidene. Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het u ‘n lig van die nasies gemaak, sodat u tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde. En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” Hand. 13:46-48. DGC 156.4
Die evangelieboodskap wat Christus se dissipels verkondig het, was die aankondiging van Sy eerste koms na die wêreld. Dit het die blye boodskap van saligheid deur die geloof in Hom na die mens gebring. Dit het vooruitgewys na Sy tweede koms in heerlikheid om Sy volk te verlos, en dit het aan die mens die hoop voorgehou om deur geloof en ge-hoorsaamheid met die heiliges te deel in die erfenis van die lig. Hierdie boodskap word tans aan die mensdom verkondig, en saam daarmee die aankondiging dat Christus se wederkoms ophande is. Die tekens van Sy koms wat Hy self gegee het, is vervul, en deur die leer van Gods Woord kan ons weet dat die Here voor die deur staan. DGC 157.1
In die Openbaring voorspel Johannes die verkondiging van die evan-gelieboodskap net voor Christus se wederkoms. Hy sien ‘n engel “in die middel van die lug...vlieg met‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke. En hy het met ‘n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom.” DGC 157.2
In die profesie word hierdie waarskuwing aangaande die oordeel, met sy aansluitende boodskappe, gevolg deur die koms van die Seun van die mens in die wolke van die hemel. Die bekendmaking van die oordeel is ‘n aankondiging dat Christus se wederkoms ophande is. En hierdie be-kendmaking word die ewige evangelie genoem. So word aangedui dat die prediking aangaande Christus se wederkoms, die aankondiging dat dit naby is, ‘n onmisbare deel is van die evangelie-boodskap. DGC 157.3
Die Bybel verklaar dat die mense in die laaste dae behep sal wees met wêreldse bedrywighede, plesier en geldmaak. Hulle sal blind wees vir ewige werklikhede. Christus sê: “En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” (Matt. 24:37-39) DGC 157.4
_______________
“Ek het bly kyk totdat trone reggesit is, en ‘n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ‘n brandende vuur; ‘n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uitge-gaan; duisend maal duisende het Hom gedien... die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen.” Daniel 7:9, 10.
_______________
So is dit ook vandag. Mense jaag wins en eie genot na asof daar geen God, geen hemel en geen hiernamaals is nie. In Noag se dag is mense aangaande die sondvloed gewaarsku om hulle te midde van hulle boosheid te laat skrik en tot bekering te roep. So is die boodskap van Christus se spoedige koms ook bedoel om mense uit hulle beheptheid met aardse dinge te wek. Dit is bedoel om hulle bewus te maak van ewige werklikhede, sodat hulle die uitnodiging na die tafel van die Here kan aanneem. DGC 158.1
Die evangelie uitnodiging moet aan die hele wêreld gegee word - “aan alle nasies en stamme en tale en volke.” (Openb. 14:6) Die laaste boodskap van waarskuwing en genade moet die hele aarde met sy heerlikheid verlig. Dit moet alle klasse mense, ryk en arm, hoog en laag, bereik. “Gaan uit op die paaie en na die lanings,” sê Christus, “en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word.” DGC 158.2
Die wêreld vergaan vanweë gebrek aan die evangelie. DGC 158.3
Daar is’n hongersnood wat die woord van God betref. Daar is maar min wat die woord sonder die oorlewering van mense preek. Alhoewel mense die Bybel in hulle hande het, ontvang hulle nie die seën wat God vir hulle daarin geplaas het nie. Die Here roep sy diensknegte om Sy boodskap na die volk te bring. Die woord van die ewige lewe moet aan diegene gegee word wat in hulle sondes sterf. Met die bevel om na die paaie en lanings te gaan, verduidelik Christus die werk van almal wat Hy roep om in Sy Naam te dien. Die hele wêreld is die veld van Christus se dienaars. Die hele mensdom is hulle gemeente. Die Here verlang dat Sy genade woord tot elke siel tuisgebring moet word. DGC 158.4
Dit moet in ‘n groot mate deur persoonlike werk volbring word. Dit was Christus se metode. Sy werk het hoofsaaklik uit persoonlike onderhoude bestaan. Hy het die eensiel-gehoor getrou in ag geneem. Deur daardie een siel is die boodskap dikwels na duisende versprei. DGC 158.5
Ons moenie wag vir siele om na ons toe te kom nie. Ons moet hulle gaan soek waar hulle is. Nadat die woord van die kansel af gepreek is, het die werk maar net begin. Daar is menigtes wat nooit deur die evangelie bereik sal word tensy dit na hulle geneem word nie. DGC 159.1
Die uitnodiging na die feesmaal is eerste aan die Joodse volk gegee, die volk wat geroep is om leermeesters en leiers onder die mensdom te wees, die volk wat in besit was van die profetiese boeke wat die koms van Christus voorspel het, en aan wie die simboliese diens toevertrou is wat Sy sending voorafgeskadu het. As priesters en volk die opdrag gehoorsaam het, sou hulle met Christus se boodskappers saamgewerk het om die evangelie uitnodiging aan die wêreld te bring. Die waarheid is aan hulle gestuur sodat hulle dit kon verkondig. Toe hulle die beroep geweier het, is dit aan die armes, die verminktes, die kreupeles en die blindes gestuur. Tollenaars en sondaars het die uitnodiging ontvang. Wanneer die evangelie oproep na die heidene gestuur word, moet dieselfde plan gevolg word. Die boodskap moet eers “op die paaie” verkondig word - aan mense wat ‘n aktiewe aandeel het in die werk van die wêreld, aan die onderwysers en leiers van die volk. DGC 159.2
Laat die Here se boodskappers dit in gedagte hou. Die herders van die kudde, die leermeesters wat deur God aangestel is, moet dit as ‘n woord beskou wat gehoorsaam moet word. Diegene wat aan die hoër klasse van die samelewing behoort, moet met tere liefde en broederlike agting gesoek word. Mense in die sakewêreld, die wat hoë, verantwoordelike poste beklee, vindingryke mense met wetenskaplike insig, manne van aanleg en evangeliedienaars wat nie bekend is met die spesiale waarhede vir hierdie tyd nie - hierdie mense moet eerste die oproep hoor. Aan hulle moet die uitnodiging gegee word. DGC 159.3
Vir die rykes moet ‘n besondere werk gedoen word. Hulle moet wakker geskud word om hulle verantwoordelikheid te besef teenoor die gawes wat deur die hemel aan hulle toevertrou is. Hulle moet herinner word dat hulle rekenskap moet gee aan Hom wat die lewende en die dode sal oordeel. Die ryk man het u bearbeiding in die liefde en vrees van God nodig. Te dikwels vertrou hy op sy rykdom en is hy nie bewus van die gevaar waarin hy verkeer nie. Sy geestesoog moet op die dinge van blywende waarde gerig word. Hy moet die gesag van ware goedheid erken, wat sê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Matt. 11:28-30) DGC 159.4
Diegene wat weens hulle geleerdheid, rykdom of roeping in die wêreld hoog aangeskrewe staan, word selde persoonlik genader oor die belange van die siel. Baie Christelike werkers aarsel om hierdie klasse te nader. Maar dit behoort nie so te wees nie. As iemand verdrink, sal ons nie net staan en toekyk omdat hy ‘n prokureur of handelaar of regter is nie. As ons mense sien wat van ‘n krans gaan afstort, sal ons nie aarsel om hulle te probeer terughou nie, ongeag hulle stand of beroep. Ook moet ons nie aarsel om mense te waarsku aangaande die gevaar waarin die siel verkeer nie. DGC 160.1
Niemand moet afgeskeep word weens sy skynbare gehegtheid aan aardse dinge nie. Vele van die hoëlui is hartseer, en sat van ydelheid. Hulle verlang na vrede wat hulle nie het nie. In die hoogste range van die samelewing is daar mense wat honger en dors na verlossing. Vele sou hulp ontvang as die Here se werkers hulle persoonlik op vriendelike wyse sou nader, met ‘n hart wat sag gemaak is deur die liefde van Christus. DGC 160.2
Die welslae van die evangelie boodskap hang nie van geleerde toesprake, oortuigende getuienisse of diepgaande argumente af nie. Dit hang van die eenvoud van die boodskap af en van die toepassing daarvan op die siele wat honger is vir die brood van die lewe. “Wat moet ek doen om gered te word?” Dit is die behoefte van die siel. DGC 160.3
Duisende kan op die eenvoudigste en nederigste wyse bereik word. Die geleerdste, diegene wat beskou word as die wêreld se begaafdste manne en vroue, word dikwels verkwik deur die eenvoudige woorde van een wat God liefhet, en wat net so spontaan van daardie liefde kan praat as wat die wêreldling van die dinge praat waarin hy die meeste belang stel. DGC 160.4
Dikwels het die woorde wat goed voorberei en bestudeer is, maar weinige invloed. Maar die ware, eerlike uitlating van ‘n seun of dogter van God, wat natuurlik en eenvoudig gespreek is, het krag om harte deure te ontgrendel wat lank reeds vir Christus en Sy liefde toe is. DGC 160.5
Laat die werker vir Christus onthou dat hy nie in sy eie krag moet arbei nie. Laat hom met geloof in God se reddende krag aan Sy troon vashou. Laat hom in die gebed met God worstel, en laat hom dan met al die bekwaamhede te werk gaan wat God hom gegee het. Die Heilige Gees word voorsien om sy krag te wees. Dienende engele sal aan sy sy wees om op harte‘n indruk te maak. DGC 160.6
Het die leiers en leermeesters te Jerusalem die waarheid ontvang wat Christus gebring het, sou hulle stad ‘n geweldige sendingsentrum gewees het. Die afvallige Israel sou bekering ondervind het. Daar sou ‘n ontsaglike leërmag vir die Here op die been gekom het. En hoe spoedig sou hulle nie die evangelie aan die hele wêreld kon verkondig het nie. So is dit vandag. As mense met invloed en ‘n groot werksvermoë vir Christus gewen kan word, sou hulle ‘n geweldige werk kan verrig in die opheffing van die geval-lenes, in insameling van die verworpenes, en in die verspreiding, wyd en syd, van die verlossingsboodskap. Spoedig sou die uitnodiging gegee en die gaste vir die tafel van die Here byeengebring kon word. DGC 161.1
Maar ons moet nie net aan belangrike en begaafde mense dink en die arm klasse verwaarloos nie. Christus beveel Sy boodskappers om ook na bewoners van die paaie en lanings, na die armes en nederiges van die aarde te gaan. In binnepleine en stege van die groot stede, op die eensame plaas paadjies is daar gesinne en persone - miskien vreemdelinge in ‘n vreemde land - wat sonder kerkverband is, en wat, in hulle eensaamheid, begin voel dat God hulle vergeet het. Hulle verstaan nie wat hulle moet doen om gered te word nie. Vele is in sonde versink. Baie verkeer in nood. Hulle gaan gebuk onder lyding, behoefte, ongeloof en wanhoop. Elke denkbare siekte teister hulle, in beide liggaam en siel. Hulle verlang in hulle moeilikhede na vertroosting en die Satan versoek hulle om dit in wellus en plesier te vind, wat tot verwoesting en die dood lei. Hy bied vir hulle die appels van Sodom aan, wat op hulle lippe in as sal verander. Hulle weeg hulle geld af vir wat nie brood is nie, en hulle arbeid vir wat nie versadig nie. DGC 161.2
In hierdie lydendes moet ons diegene sien wat Christus kom red het. Sy uitnodiging aan hulle is, “o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys. ... Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig. Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe.” (Jes. 55:1-3) DGC 161.3
God het‘n spesiale bevel gegee dat ons ag moet slaan op die vreemdeling, die verstoteling en die arme siele wat sedelike krag ontbreek. Vele wat skynbaar heeltemal onverskillig staan teenoor godsdienstige sake, verlang in hulle harte na rus en vrede. Al het hulle tot die uiterste dieptes van die sonde gesink, is daar‘n moontlikheid om hulle te red. DGC 162.1
Christus se diensknegte moet Sy voorbeeld volg. In Sy omswerwinge van plek tot plek het Hy die lydendes vertroos en die siekes genees. Dan het Hy die groot waarhede aangaande Sy koninkryk aan hulle voorgelê. Dit is die werk van Sy volgelinge. Namate u liggaamlike lyding verlig, sal u maniere ontdek om in die behoeftes van die siel te voorsien. U kan na die gekruisigde Heiland wys en van die liefde van die groot Geneesheer vertel wat alleen mag het om te genees. DGC 162.2
Vertel aan die arme wanhopiges wat verdwaal het dat hulle nie wanhopig hoef te wees nie. Al het hulle foute begaan en al het hulle nie ‘n goeie karakter opgebou nie, verheug God Hom daarin om hulle te herstel, ja, die vreugde van Sy verlossing. Hy skep daarin behae om skynbaar hopelose stof te neem, diegene deur wie die Satan gewerk het, en om van hulle die voorwerpe van Sy genade te maak. Dit is Sy vreugde om hulle van die toorn te verlos wat op die ongehoorsames sal val. Vertel hulle dat daar vir elke siel genesing en reiniging is. Daar is vir hulle ‘n plek aan die Here se tafel. Hy wag om hulle te verwelkom. DGC 162.3
Diegene wat na die paaie en lanings gaan, sal andere vind wat heeltemal anders van aard is, wat hulle bediening nodig het. Daar is diegene wat al die lig naleef wat hulle het, en hulle dien God na die beste van hulle vermoë. Maar hulle besef dat daar ‘n groot werk is wat vir hulleself en vir hulle bure gedoen moet word. Hulle verlang na meer kennis van God, maar hulle het skaars begin om ‘n deurskemering van meer lig te sien. Hulle bid met trane dat God hulle die seëning sal stuur wat hulle van ver af kan waarneem. Baie van hierdie siele word te midde van die boosheid van die groot stede gevind. Baie van hulle verkeer in baie behoeftige omstandighede, en daarom word hulle nie deur die wêreld opgemerk nie. Daar is vele van wie predikante en kerke niks weet nie. Maar in nederige, ellendige plekke getuig hulle vir die Here. Hulle het miskien weinig lig gehad en min geleenthede vir ‘n Christelike opleiding, maar te midde van naaktheid, honger en koue, probeer hulle om andere van diens te wees. Laat die rentmeesters van die oorvloedige genade van God hierdie siele gaan soek, by hulle huise aandoen, en hulle deur die krag van die Heilige Gees in hulle behoeftes dien. Bestudeer die Bybel saam met hulle en bid saam met hulle met daardie eenvoud waarmee die Heilige Gees mens besiel. Christus sal aan Sy diensknegte‘n boodskap gee wat soos die hemelse brood vir die siel sal wees. Die kosbare seën sal van hart tot hart, van gesin tot gesin oorgedra word. DGC 162.4
Die bevel van die gelykenis: “Dwing hulle om in te kom,” word dikwels verkeerd uitgelê. Sommige dink dat dit leer dat ons mense moet dwing om die evangelie te ontvang. Maar dit dui eerder op die dringendheid van die uitnodiging en op hoe effektief die beweegredes wat voorgehou word, moet wees. Die evangelie maak nooit gebruik van dwang om mense na Christus te bring nie. Sy boodskap is:” O, Almal wat dors het, kom na die waters.” (Jes. 55:1) “Die Gees en die bruid sê: Kom! ... En laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” (Openb. 22:17) Die krag van Gods liefde en genade dring ons om te kom. DGC 163.1
Die Heiland sê, “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.” (Openb. 3:20) Hy word nie deur hoon teruggedryf of deur dreigemente afgekeer nie, maar soek voortdurend na die verlorenes, met die woorde: “Hoe kan ek jou oorgee ... jou prysgee?” (Hosea 11:8) Hoewel Sy liefde teruggedryf word deur die hardnekkige hart, keer Hy weer terug om met groter krag te pleit, “Kyk, ek staan by die deur en Ek klop.” Die trekkrag van Sy liefde dwing siele om in te kom. En aan Christus sê hulle: “U neerbuigende goedheid het my groot gemaak.” (Ps. 18:36) DGC 163.2
Christus sal Sy boodskappers met dieselfde hunkerende liefde bedeel wat Hy self in die soektog na die verlorenes het. Ons moet nie net sê:“Kom” nie. Daar is diegene wat die roepstem hoor, maar hulle ore is te dof om die betekenis daarvan in te neem. Hulle oë is te blind om te sien dat daar iets goeds is wat op hulle wag. Vele besef hulle vervalle toestand. Hulle sê: Ek is nie werd om gehelp te word nie; los my. Maar die werkers moet nie ophou nie. Hou met tedere, bejammerende liefde aan die mismoediges en hulpeloses vas. Gee u moed, u hoop, u krag aan hulle. Dwing hulle deur vriendelikheid om te kom: “En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys; maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk.” Judas 22, 23. DGC 163.3
As die diensknegte van God in geloof met Hom sal wandel, sal Hy aan hulle boodskap krag gee. Hulle sal in staat wees om Sy liefde en die gevaar van veragting van die genade van God op so‘n wyse voor te stel dat mense genoodsaak sal voel om die evangelie aan te neem. Christus sal wonderwerke verrig as mense maar net hulle Godgegewe aandeel sal doen. Daar kan in hedendaagse mense net so ‘n groot verandering plaasvind as in vorige geslagte. John Bunyan is uit lastering en brassery gered en John Newton uit die slawehandel, om ‘n gekruisigde Heiland bekend te maak. ‘n Bunyan en ‘n Newton kan vandag nog onder die mensdom gered word. Deur mense wat met God saamwerk, kan menige arme verworpeling herwin word, wat op sy beurt sal streef om die beeld van God in ander mense te herstel. Daar is diegene wat maar skrale geleenthede gehad het, wat in die dwaalweë gewandel het omdat hulle geen beter weg geken het nie, na wie ligstrale sal kom. Soos, die woord van Christus na Saggeus gekom het, naamlik “Ek moet vandag in jou huis bly.” (Lukas 19: 5), net so sal die woord tot hulle kom, en daar sal ontdek word dat diegene wat skynbaar geharde sondaars was, net sulke teer harte het soos ‘n kind, omdat Christus Hom verwerdig het om op hulle ag te slaan. Vele sal uit die grootste dwaling en sonde kom en die plek van andere inneem wat geleenthede en voorregte gehad het, maar dit nie gewaardeer het nie. Hulle sal gereken word as die uitverkorenes van God, gekose en kosbaar; en wanneer Christus in Sy koninkryk kom, sal hulle langs Sy troon staan. DGC 164.1
Maar“pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie.” (Heb. 12:25) Jesus het gesê dat “nie een van daardie manne wat genooi is,” Sy “maaltyd sal smaak nie.” Hulle het die uitnodiging verwerp en nie een van hulle sou weer uitgenooi word nie. Omdat hulle Christus verwerp het, was die Jode besig om hulle harte te verhard en hulleself aan die mag van die Satan oor te gee sodat dit vir hulle onmoontlik sou wees om Sy genade aan te neem. So is dit nou. As die liefde van God nie gewaardeer word nie en nie‘n blywende beginsel word om die siel week te maak en onderworpe te hou nie, is ons geheel en al verlore. Die Here kan geen groter openbaring van Sy liefde gee as wat Hy reeds gegee het nie. As die liefde van Christus nie die hart onderwerp nie, is daar geen ander wyse waardeur ons bereik kan word nie. DGC 164.2
Elke keer as u weier om na die genade boodskap te luister, versterk u u ongeloof. Elke keer as u weier om die deur vir Christus oop te maak, word u al hoe onwilliger om na die stem te luister van Hom wat spreek. U verminder u kanse om ag te slaan op die laaste oproep van genade. Laat dit nie van u geskrywe wees soos van Israel van ouds nie: “Efraim is gekoppel aan die afgode; laat hom staan!” (Hosea 4:17) Moenie toelaat dat Christus oor u ween soos oor Jerusalem nie: “Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie. Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat.” (Lukas 13: 34, 35) DGC 165.1
Ons leef in ‘n tyd wanneer die laaste genade boodskap, die laaste uit-nodiging aan die mensekinders, verkondig word. Die bevel: “Gaan uit op die paaie en na die lanings,” word vir die laaste keer gehoorsaam. Aan elke siel sal Christus se uitnodiging gegee word. Die boodskappers sê: “Kom, want alles is nou gereed.” Hemelse engele is nog altyd besig om met mense saam te werk. Die Heilige Gees bied elke rede om u te oorreed om te kom. Christus soek na ‘n teken dat u die grendels losmaak en die deur van u hart oopmaak sodat Hy kan ingaan. Engele wag om die tyding na die hemel te bring dat nog ‘n verlore sondaar gevind is. Die leërskare van die hemel wag, gereed om hulle harpe te bespeel en ‘n vreugdelied aan te hef oor nog ‘n siel wat die uitnodiging na die evangelie feesmaal aangeneem het. DGC 165.2