Loading…
Hoofstuk 45—Die Skadu van die Kruis *Hierdie hoofstuk is op Mattheus 16:13-28; Markus 8:27-38; Lukas 9:18-27 gebaseer.
Die werk van Christus op aarde was besig om vinnig tot ‘n einde te kom. Voor Hom, in duidelike beelde, het die tonele waarheen Sy voetstappe Hom gelei het, afgespeel. Reeds voordat Hy as mens na die aarde gekom het, het Hy die hele pad waarop Hy moes gaan om diegene wat verlore was te red, gesien. Elke steek wat sy hart deurpriem het, elke belediging wat op Sy hoof gelaai sou word, elke ontbering wat Hy sou moes verduur, was oop voor Sy aangesig, nog voordat Hy Sy kroon en koninklike kleed neergelê en van die troon afgestap het om Sy Godheid met mensheid te beklee. Die pad van die krip na Golgota was duidelik voor Hom. Hy was bewus van die foltering wat Hy sou moes verduur. Hy het dit alles geweet en tog het Hy gesê: “Kyk, ek kom; in die boekrol is dit My voorgeskrywe. Ek het lus, o My God, om U welbehae te doen en U wet is binne-in My ingewande.” (Psalm 40:8,9). DKvDE 443.1
Hy het die gevolge van Sy sending gesien. Sy aardse lewe, so vol worsteling en selfopoffering, is deur die vooruitsig dat Hy nie al hierdie moeitevolle lyding tevergeefs sou deurmaak nie, opgehelder. Deur Sy lewe vir die lewe van mense af te lê, sou Hy die wêreld weer tot lojaliteit aan God terugwen. Hoewel Hy eers die bloeddoop sou moes ontvang; hoewel die sondes van die wêreld op Sy onskuldige siel sou rus; hoewel die skaduwee van onuitspreeklike smart op Hom gerus het, het Hy, vir die vreugde wat aan Hom voorgehou is, gekies om die kruis te verdra en die skande te verag. DKvDE 443.2
Vir Sy gekose metgeselle was die tonele van wat vir Hom voorgelê het, nog verborge; maar die tyd was naby dat hulle Sy lyde sou aanskou. Hulle sou Hom, wie hulle liefgehad en vertrou het, oorgelewer in die hande van Sy vyande sien en hang aan die kruis van Golgota. Binnekort sou Hy hulle verlaat om die wêreld, sonder die vertroosting van Sy sigbare teenwoordigheid, tegemoet te gaan. Hy het geweet hoe bittere haat en ongeloof hulle sou vervolg en Hy wou hulle op hul beproewings voorberei. DKvDE 443.3
Jesus en Sy dissipels het so pas in een van die stede van Cesarea-Filippi aangekom. Dit was buite die grense van Galiléa, in ‘n gebied waar afgodediens geheers het. Hier was die dissipels verwyder van die beheersende invloed van die Judaïsme en was hulle in nouer kontak met heidense aanbidding gebring. Rondom hulle was vorms van bygeloof wat verteenwoordigend van die hele wêreld was. Jesus wou hê dat die aanskouing van hierdie dinge hulle daartoe sou lei om ‘n verantwoordelikheid teenoor die heidene te ervaar. Tydens Sy verblyf in hierdie streek, het Hy gepoog om Hom van die onderrig van die volk te onttrek en Homself meer volledig aan Sy dissipels te wy. DKvDE 444.1
Hy wou hulle van die lyding wat op Hom wag vertel. Maar eers het Hy alleen eenkant gegaan en gebid dat hul harte gereed sou wees om Sy woorde te ontvang. Toe Hy weer by hulle aangesluit het, het Hy nie dadelik aan hulle gesê wat Hy wou nie. Hy moes hulle eers die geleentheid bied om hul geloof in Hom te bely, sodat hulle versterk kon word vir die beproewing. “Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is?” het Hy gevra. DKvDE 444.2
Met droefheid is die dissipels gedwing om te erken dat Israel Hom nie as hul Messias erken nie. Sommige het inderdaad, toe hulle Sy wonderwerke aanskou, Hom as die Seun van Dawid verklaar. Die menigtes wat by Betsáida gevoed is, wou Hom koning van Israel verklaar. Baie was bereid om Hom as ‘n profeet te aanvaar; maar hulle het nie geglo dat Hy die Messias is nie. DKvDE 444.3
Jesus het toe ‘n tweede vraag, wat direk op die dissipels van toepassing was, gevra: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” DKvDE 445.1
Petrus het van die begin af geglo dat Jesus die Messias is. Baie ander wat deur die prediking van Johannes die Doper oortuig was en Christus aangeneem het, het aan Johannes se sending begin betwyfel toe hy opgesluit en gedood is; en nou het hulle getwyfel dat Jesus die Messias is op wie hulle so lank gewag het. Baie van die dissipels wat vuriglik gehoop het dat Jesus Sy plek op die troon van Dawid sou inneem, het Hom verlaat toe hulle besef het dat dit nie Sy voorneme was nie. Maar Petrus en sy metgeselle het nie hul trou verraai nie. Die wankelende gang van diegene wat gister geprys en vandag veroordeel het, het nie die geloof van die ware volgeling van die Verlosser vernietig nie. Petrus het verklaar: “U is die Christus, die Seun van die lewende God...” Hy het nie op koninklike eerbewyse gewag om sy Heer te kroon nie, maar het Hom in Sy vernedering aangeneem. DKvDE 445.2
Petrus het die geloof van die Twaalf uitgespreek. Maar die dissipels het nog lank nie die sending van Christus verstaan nie. Die teëstand en wanvoorstellings van die priesters en owerstes het, hoewel dit hulle nie van Christus kon afwend nie, tog groot verwarring vir hulle veroorsaak. Hulle weg was nie vir hulle duidelik nie. Die invloed van hul vroeë opleiding, die leer van die rabbi’s en die mag van tradisie, het steeds hul siening van die waarheid onderskep. Van tyd tot tyd het kosbare ligstrale van Jesus oor hulle geskyn, maar hulle was dikwels soos mense wat in die donker rondtas. Maar op hierdie dag, voordat hulle van aangesig tot aangesig met die groot beproewing van hul geloof gebring sou word, het die Heilige Gees kragtig op hulle gerus. Vir ‘n oomblik was hulle oë van die “...sigbare dinge... ” afgewend, om die “...onsigbare dinge...” (2 Korinthiërs 4:18) te sien. Onder die dekmantel van menslikheid het hulle die heerlikheid van die Seun van God onderskei. DKvDE 445.3
Jesus het Petrus geantwoord en gesê: “Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.” DKvDE 446.1
Die waarheid wat Petrus bely het, is die grondslag van die gelowige se geloof. Dit is wat Christus self as die ewige lewe verklaar het. Maar die besit van hierdie kennis was geen rede vir selfverheerliking nie. Deur geen wysheid of goedheid van sy eie was dit aan Petrus geopenbaar nie. Nooit kan die mensdom uit hul eie ‘n kennis van die Goddelike opdoen nie. “Hoogtes van die hemel is dit-wat kan jy doen? Dieper as die doderyk-wat kan jy weet?” (Job 11:8). Slegs die gees van aanneming kan die diepste dinge van God aan ons openbaar, want wat “...die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie... Maar God het dit aan ons deur Sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.” (1 Korinthiërs 2:9, 10). “Die verborgenheid van die Here is vir die wat Hom vrees...” (Psalm 25:14) en die feit dat Petrus die heerlikheid van Christus kon onderskei, was ‘n bewys dat hy “...deur God geleer...” is. (Johannes 6:45). Ja gewis, “Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie.” DKvDE 446.2
Jesus het voortgegaan: “Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” Die woord Petrus beteken ‘n klip-'n los klip. Petrus was nie die rots waarop die kerk gegrond was nie. Die poorte van die doderyk het hom oorweldig toe hy sy Here met ‘n gevloek verloën het. Die kerk is gebou op Een teen wie die poorte van die doderyk nie kan seëvier nie. DKvDE 446.3
Eeue voor die koms van die Heiland het Moses gewys op die heil van die Rots van Israel. (Sien Deuteronomium 32:4). Die psalmdigter het gedig: “Hy is my rots en my heil.” (Psalm 62:7). Jesaja het geskryf: “So sê die Here HERE: Kyk, Ek lê in Sion ‘n grondsteen, ‘n beproefde steen, ‘n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is.” (Jesaja 28:16). Petrus self het hierdie profesie wat onder Inspirasie geskryf is, op Jesus toegepas. Hy het gesê: “Kom na Hom toe, die lewende Steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis.” (1 Petrus 2:4,5) DKvDE 446.4
“Niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie; dit is Jesus Christus.” (1 Korinthiërs 3:11). “Op hierdie rots...” het Jesus gesê, “...sal Ek My gemeente bou.” In die teenwoordigheid van God en al die hemelse wesens, in die teenwoordigheid van die onsigbare weermag van die hel, het Christus Sy kerk op die lewende Rots gevestig. Daardie Rots is Hyself-Sy eie liggaam-wat vir ons gekneus en gebreek is. Teen die kerk wat op hierdie Fondament gebou is, sal die poorte van die doderyk nie seëvier nie. DKvDE 447.1
Hoe swak het die kerk voorgekom toe Christus hierdie woorde gespreek het! Daar was net ‘n handjievol gelowiges teen wie al die magte van demone en bose mense gerig sou word; tog moes die volgelinge van Christus nie vrees nie. Gebou op die Rots van hul sterkte, kon hulle nie omvergewerp word nie. DKvDE 447.2
Vir sesduisend jaar is die geloof op Christus gebou. Sesduisend jaar lank het die vloedgolwe en storms van sataniese toorn teen die Rots van ons heil geslaan; maar dit bly onwrikbaar staan. DKvDE 447.3
Petrus het die waarheid, wat die grondslag van die kerk se geloof is, uitgespreek en Jesus het hom nou as die verteenwoordiger van die hele liggaam van gelowiges vereer. Hy het gesê: “Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” DKvDE 447.4
“Die sleutels van die koninkryk van die hemele...” is die woorde van Christus. Al die woorde van die Heilige Skrif is van Hom en is hierby ingesluit. Hierdie woorde het die mag om die hemel te open en te sluit. Hulle verklaar die voorwaardes waarop mense aangeneem of verwerp word. So is die werk van diegene wat die Woord van God verkondig, ‘n reuk van die lewe tot die lewe of van die dood tot die dood. Hul sending dra die gewig van ewige gevolge. DKvDE 448.1
Die Heiland het nie die werk van die evangelie afsonderlik aan Petrus opgedra nie. Op ‘n later stadium, toe Hy die woorde wat Hy met Petrus gespreek het herhaal het, het Hy dit regstreeks op die kerk toegepas. En dieselfde is wesenlik ook aan die Twaalf, as verteenwoordigers van die gelowiges, geuiter. Indien Jesus enige besondere gesag aan een van die apostels bo die ander gedelegeer het, sou hulle nie so dikwels gestry het oor wie die vernaamste behoort te wees nie. Hulle sou hulle aan die wens van hul Meester onderwerp het en die een wat Hy gekies het, eerbiedig het. DKvDE 448.2
In plaas daarvan om een oor hulle aan te stel, om hulle hoof te wees, het Christus vir die dissipels gesê: “Laat julle nie rabbi noem nie...” (Mattheus 23:8); “...julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle Leermeester: Christus.” (Mattheus 23:10). DKvDE 448.3
“Julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man.” (1 Korinthiërs 11:3) God, wat alle dinge onder die Heiland se voete onderwerp het, het “...Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat Sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” (Efesiërs 1:22,23). Die kerk is op Christus as die Fondament gebou; dit moet Christus as Hoof gehoorsaam. Die kerk moet nie van die mens afhanklik wees of deur die mens beheer word nie. Baie beweer dat ‘n vertrouensposisie in die kerk hulle die mag gee om te bepaal wat ander mense moet glo en wat hulle moet doen. God het nie so ‘n aanspraak bemagtig nie. Die Heiland verklaar: “Julle is almal broeders.” Almal word aan versoeking blootgestel en kan dwaal. Ons kan op geen sterfling vir leiding vertrou nie. Die Rots van die geloof is die lewende teenwoordigheid van Christus in die kerk. Hierop kan die swakste vertrou en diegene wat hulself die sterkste ag, sal blyk die swakste te wees, tensy hulle Christus hul doeltreffendheid maak. “Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak.” (Jeremia 17:5). Hy is “...die Rots-volkome is Sy werk.” (Deuteronomium 32:4). “Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil.” (Psalm 2:12). DKvDE 448.4
Na die belydenis van Petrus, het Jesus die dissipels beveel om niemand te vertel dat Hy die Christus is nie. Hierdie opdrag is gegee vanweë die vasberade weerstand van die skrifgeleerdes en Fariseërs. Meer nog, het die volk en selfs die dissipels, so ‘n verwronge begrip van die Messias gehad, dat ‘n openbare aankondiging van Hom geen werklike begrip van Sy karakter of Sy werk sou gegee het nie. Maar Hy het Homself dag na dag aan hulle as die Verlosser geopenbaar en op dié wyse wou Hy hulle ‘n ware begrip van Hom as die Messias gee. DKvDE 449.1
Die dissipels het steeds verwag dat Christus as ‘n wêreldse vors sou regeer. Hoewel Hy Sy plan so lank verswyg het, het hulle geglo dat Hy nie altyd arm en onbekend sou bly nie; die tyd was naby dat Hy sy koninkryk sou vestig. Die gedagte dat die haat van die priesters en rabbi’s nooit oorwin sou word nie, dat Christus deur Sy eie volk verwerp sou word, as ‘n bedrieër veroordeel en as kwaaddoener gekruisig sou word, het nooit by die dissipels opgekom nie. Maar die uur van die mag van die duisternis het aangebreek en Jesus moes sy dissipels aangaande die konflik wat op hulle wag, inlig. Die vooruitsig van hierdie beproewing het Hom met hartseer gevul. DKvDE 449.2
Tot dusver het Hy Homself daarvan weerhou om enigiets met betrekking tot Sy lyding en dood aan hulle bekend te maak. In Sy gesprek met Nikodemus het Hy gesê: “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:14,15). Maar die dissipels het dit nie gehoor nie en indien hulle dit wel gehoor het, sou hulle dit nie begryp het nie. Maar nou was hulle by Jesus en het na Sy woorde geluister en Sy werke aanskou, totdat hulle, ondanks die nederigheid van Sy omgewing en die teenstand van priesters en mense, die getuienis van Petrus kon beaam: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Die tyd het nou aangebreek om die sluier wat die toekoms verberg het, te lig. “Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly en gedood en op die derde dag opgewek word.” DKvDE 449.3
Stom van droefheid en verbasing het die dissipels Hom aangehoor. Christus het Petrus se belydenis dat Hy die Seun van God is aanvaar; en nou het Sy woorde wat op Sy lyding en dood gewys het, onbegryplik geklink. Petrus kon nie swyg nie. Hy het sy Meester vasgegryp asof hy Hom van die naderende onheil wou wegsleep en uitgeroep: “Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie.” DKvDE 450.1
Petrus het sy Here liefgehad; maar Jesus het hom nie oor hierdie begeerte om Hom teen lyding te beskerm geprys nie. Petrus se woorde was nie vir Jesus tot hulp of vertroosting in die groot beproewing voor Hom nie. Hulle was nie in harmonie met God se doel van genade vir ‘n verlore wêreld nie en ook nie met die les van selfopoffering wat Jesus met Sy voorbeeld kom leer het nie. Petrus wou nie die kruis in die werk van Christus sien nie. Die indruk wat sy woorde sou laat, was direk in teenstelling met wat Christus in die gedagtes van Sy volgelinge wou skep en die Heiland is beweeg om een van die strengste teregwysings wat ooit oor Sy lippe gekom het, uit te spreek: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.” DKvDE 450.2
Satan het probeer om Jesus te ontmoedig en Hom van Sy sending weg te keer; en in sy blinde liefde het Petrus uiting aan die stem van die versoeking gegee. Die vors van die bose was die outeur van die gedagte. Hy het hierdie impulsiewe woorde aangehits. In die woestyn het Satan aan Christus die heerskappy van die wêreld aangebied, op voorwaarde dat Hy die weg van vernedering en opoffering versaak. Nou het hy dieselfde versoeking aan Christus se dissipel gerig. Hy het gepoog om Petrus se blik op die aardse heerlikheid te vestig, sodat hy nie die kruis sou wou aanskou waarop Jesus sy oë wou vestig nie. En deur Petrus het die Satan weer die versoeking aan Jesus gerig. Maar die Heiland het nie gehoor daaraan gegee nie; Sy gedagte was vir Sy dissipel. Satan het tussen Petrus en sy Meester ingetree, sodat die hart van die dissipel nie deur die visioen van Christus se vernedering namens hom geraak sou word nie. Christus het die woorde nie aan Petrus gerig nie, maar aan die een wat hom van sy Verlosser wou skei. “Gaan weg agter My, Satan.” Moenie langer tussen My en My dwalende dienskneg kom nie. Laat ek Petrus van aangesig tot aangesig sien, sodat Ek die verborgenheid van My liefde aan hom kan openbaar. DKvDE 451.1
Dit was vir Petrus ‘n bitter les, wat hy traag was om te leer, dat die weg van Christus op aarde deur pyn en vernedering gelei het. Die dissipel het teruggedeins vir gemeenskap met Sy Here in Sy lyding. Maar in die hitte van die vuuroond sou hy die seën daarvan leer ken. Lank daarna, toe sy aktiewe gestalte geboë was met die las van jare en arbeid, het hy geskryf: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van Sy heerlikheid met blydskap kan jubel.” (1 Petrus 4:12,13) DKvDE 451.2
Toe het Jesus aan Sy dissipels verduidelik dat Sy eie lewe van selfopoffering vir hulle as voorbeeld moet dien. Teenoor die dissipels en ander mense wat om Hom getalm het, het Hy uitgeroep: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” Die kruis is met die mag van Rome geassosieer. Dit was ‘n instrument van die wreedste en vernederendste vorm van doodstraf. Die laagste misdadigers moes self hul kruis na die plek van teregstelling dra; en dikwels het hulle hul hewig daarteen verset wanneer die kruis op hul skouers gelê is en het hulle met desperate geweld weerstand gebied, totdat hulle oorweldig is en die instrument van marteling op hulle vasgemaak is. Maar Jesus het beveel dat na Hom, Sy volgelinge hulle kruis moes opneem en dra. Aan die dissipels het Sy woorde, hoewel hulle dit swak verstaan het, gewys op onderwerping, ter wille van Christus, aan die bitterste vernedering, selfs tot die dood. Die woorde van die Heiland kon geen vollediger selfoorgawe uitgebeeld het nie. Maar dit het Hy namens hulle aanvaar. Jesus het die hemel nie begeerlik geag terwyl ons verlore was nie. Hy het die hemelse howe vir ‘n lewe van smaad en belediging en ‘n skanddood verlaat. Hy wat ryk was in die onberekenbare skatte van die hemel, het arm geword, sodat ons deur Sy armoede ryk kon word. Ons moet die pad waarop Hy geloop het volg. DKvDE 452.1
Liefde vir siele vir wie Christus gesterf het, het die kruisiging van die eie-ek beteken. Wie ‘n kind van God is, moet homself voortaan as ‘n skakel in die ketting wat neergelaat is om die wêreld te red, beskou, een met Christus in Sy plan van genade, wat saam met Hom uitgaan om die verlorenes te soek en te red. Die Christen moet altyd onthou dat hy hom aan God gewy het en dat hy Christus in sy karakter aan die wêreld moet openbaar. Selfopoffering, simpatie, liefde wat in die lewe van Christus geopenbaar is, moet in die lewe van die werker vir God weergegee word. DKvDE 452.2
“Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red.” Selfsug is die dood. Geen deel van die liggaam sou kon lewe as die diens net tot self beperk was nie. As die hart nie sy lewensbloed na die hand en die hoof stuur nie, sal hy spoedig sy krag verloor. Soos ons lewensaar, word die liefde van Christus ook deur elke deel van sy mistieke liggaam versprei. Ons is lede van mekaar en die siel wat weier om te gee, sal vergaan. “Wat sal dit ‘n mens baat...” het Jesus gevra, “...as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?” DKvDE 453.1
Agter die armoede en vernedering van die hede, het Hy die dissipels op Sy koms in heerlikheid gewys, nie in die prag van ‘n aardse troon nie, maar met die heerlikheid van God en die leërskare van die hemel. En dan, het Hy gesê: “...sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.” Daarna het Hy hulle met die volgende belofte bemoedig: “Voorwaar, Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in Sy koninkryk sien kom het nie.” Maar die dissipels het sy woorde nie begryp nie. Die heerlikheid het geblyk ver weg te wees. Hulle blik was op die hier en nou gerig; die aardse lewe van armoede, vernedering en lyding. Moes hul gloeiende verwagtinge van die Messias se koninkryk prysgegee word? Sou hulle nie hul Heer, tot die troon van Dawid verhef, aanskou nie? Kan dit wees dat Christus as ‘n nederige, daklose swerwer moes leef, verag, verwerp en gedood sou word? Hulle harte het bedroef geraak, want hulle het hul Meester liefgehad. Twyfel het ook hulle gedagtes geteister, want dit was onbegryplik dat die Seun van God aan sulke wrede vernedering onderwerp moes word. Hulle wou weet waarom Hy vrywilliglik na Jerusalem wou gaan om die behandeling waarvan Hy hulle vertel het, daar te ontvang. Hoe kon Hy Homself in so ‘n lot berus en hulle in groter duisternis laat as waarin hulle rondgetas het voordat Hy Hom aan hulle geopenbaar het? DKvDE 453.2
Die dissipels het geredeneer dat Christus in die omtrek van Cesarea-Filippi buite bereik van Herodes en Kajafas was. Hier het Hy niks te vrees gehad vir die haat van die Jode of die mag van die Romeine nie. Waarom nie hier, weg van die Fariseërs, arbei nie? Waarom moes Hy Homself aan die dood oorlewer? As Hy sou sterf, hoe sou Sy koninkryk so stewig gevestig word dat die poorte van die doderyk dit nie sal kan oorweldig nie? Vir die dissipels was dit inderdaad ‘n raaisel. DKvDE 454.1
Hulle was reeds op reis langs die oewer van die See van Galiléa in die rigting van die stad waar al hul hoop verpletter sou word. Hulle het dit nie gewaag om met Christus te redeneer nie, maar het op ‘n gedempte, bedroefde wyse saamgesels oor wat die toekoms sou inhou. Selfs te midde van hul vrae, het hulle steeds aan die gedagte vasgeklou dat een of ander onvoorsiene omstandighede die onheil wat op hul Here wag, moontlik sou afweer. So het hulle ses lang, donker dae getreur en getwyfel, gehoop en gevrees. DKvDE 454.2