Loading...

Loading

Loading
(You are in the browser Reader mode)

Hoofstuk 61—Saggeus *Hierdie hoofstuk is op Lukas 19:1-10 gebaseer.

Onderweg na Jerusalem het Jesus “...in Jerigo gekom en daar deurgegaan.” ‘n Paar kilometer van die Jordaan, aan die westelike rand van die vallei wat hier tot ‘n vlakte verbreed het, het die stad te midde van tropiese lower en weelderige skoonheid gelê. Met sy palmbome en vrugbare tuine, wat deur lewende fonteine besproei is, het dit soos ‘n smarag tussen die kalkheuwels en verlate klowe wat tussen Jerusalem en die stad op die vlakte gestrek het, geglinster. DKvDE 597.1

Baie karavane onderweg na die fees het deur Jerigo getrek. Hul aankoms was altyd ‘n feestelikheid, maar nou was daar ‘n dieper belangstelling by die mense. Dit was bekend dat die Galilese Rabbi wat so onlangs vir Lasarus uit die dood opgewek het, in die skare was; en hoewel daar volop gerugte oor die priesterlike komplotte was, was die skare gretig om hulde aan Hom te bring. DKvDE 597.2

Jerigo was een van die stede wat in die antieke tyd vir die priesters afgesonder is en in hierdie tyd het ‘n groot aantal priesters daar gewoon. Maar die stad het ook ‘n bevolking van ‘n heel ander karakter gehad. Dit was ‘n groot sentrum van verkeer en Romeinse amptenare en soldate, met vreemdelinge uit verskillende oorde, was hier te vinde, terwyl die invordering van belasting dit die tuiste van baie tollenaars gemaak het. DKvDE 597.3

“Saggeus, ‘n hoof onder die tollenaars...” was ‘n Jood en is deur sy landgenote verag. Sy rang en rykdom was die beloning van ‘n beroep wat hulle verafsku het en wat as ‘n ander naam vir onreg en afpersing beskou was. Tog was die ryk doeanebeampte nie heeltemal die hardvogtige man van die wêreld waarvoor hy aangesien was nie. Onder die voorkoms van wêreldsheid en trots, was ‘n hart wat ontvanklik vir Goddelike invloede was. Saggeus het van Jesus gehoor. Die berig van Iemand wat vriendelikheid en beleefdheid teenoor die veragte klasse betoon het, het wyd versprei. In hierdie hoof van die tollenaars het ‘n verlange na ‘n beter lewe ontstaan. Slegs ‘n paar kilometers van Jerigo af, het Johannes die Doper by die Jordaan gepreek en Saggeus het van die oproep tot bekering gehoor. Die opdrag aan die tollenaars, “...moenie meer invorder as wat julle voorgeskrywe is nie...” (Lukas 3:13) het, hoewel hy dit uiterlik verontagsaam het, tog ‘n indruk op sy gewete gemaak. Hy het die Skrif geken en was oortuig dat sy optrede verkeerd was. Toe hy hoor dat die woorde van die Groot Onderwyser afkomstig was, het hy besef dat hy ‘n sondaar in die oë van God was. Maar wat hy aangaande Jesus gehoor het, het die hoop in sy hart laat opvlam. Bekering en hervorming in sy lewe was vir hom moontlik. Was een van die mees betroubare dissipels van die nuwe Leraar nie ‘n tollenaar nie? Saggeus het dadelik begin gehoor gee aan die oortuiging in sy hart en het begin om diegene wat hy veronreg het, te vergoed. DKvDE 597.4

Hy het reeds begin om op sy voetspore terug te gaan, toe tyding deur Jerigo trek dat Jesus die stad binnegekom het. Saggeus was vasbeslote om Hom te sien. Hy het begin besef hoe bitter die vrugte van sonde is en hoe moeilik die pad, vir iemand wat poog om van ‘n verkeerde weg terug te draai, was. Om misverstaan en met agterdog bejeën te word wanneer jy jou foute probeer regstel, was moeilik om te verduur. Die tollenaar het verlang om die aangesig van Hom, wie se woorde hoop in sy hart gebring het, te sien. DKvDE 598.1

Die strate was stampvol en Saggeus, wat kort van gestalte was, kon nie oor die mense se koppe sien nie. Niemand wou vir hom plek maak nie; toe hardloop hy ‘n entjie vooruit na waar ‘n groot vyeboom se takke oor die pad gehang het. Die ryk tollenaar het in die boom geklim en op een van die takke gaan sit vanwaar hy die optog onder hom kon gadeslaan. Die skare het onder hom verbybeweeg en Saggeus het met gretige oë na die een Persoon wat hy so graag wou sien gesoek. DKvDE 598.2

Bo die geskarrel van priesters en rabbi’s en die uitroepe van verwelkoming uit die skare, het die onuitgesproke begeerte van die tollenaar tot die hart van Jesus gespreek. Skielik, reg onder die vyeboom, het die groep tot stilstand gekom. Die skare voor en agter Hom het tot stilstand gekom en Een, met ‘n blik wat gelyk het asof dit tot in sy siel te kyk, het opgekyk. Die man in die boom kon skaars sy ore glo toe hy die woorde hoor: “Saggeus, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly.” DKvDE 599.1

Die skare het gewyk en Saggeus het, soos in ‘n droom, die pad na sy huis gelei. Maar die rabbi’s het dit met grimmige gesigte aanskou en het ontevrede en met minagting gemurmureer: “Hy het by ‘n sondige man tuisgegaan.” DKvDE 599.2

Saggeus was oorweldig, verbaas en sprakeloos oor die liefde en minsaamheid van Christus teenoor so ‘n onwaardige mens soos hy. Toe het liefde en lojaliteit teenoor sy nuutgevonde Meester sy mond oopgemaak. Hy sal sy belydenis en bekering openbaar maak. DKvDE 599.3

In die teenwoordigheid van die skare het Saggeus “...gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” DKvDE 599.4

“Toe sê Jesus aan Hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook ‘n seun van Abraham is.” DKvDE 599.5

Toe die ryk jong owerste van Jesus weggedraai het, was die dissipels verwonderd oor hul Meester se woorde: “Hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan!” (Markus 10:24). Hulle het teenoor mekaar uitgeroep: “Wie kan dan gered word?” (Markus 10:26). Nou het hulle ‘n demonstrasie van die waarde van Christus se woorde gesien: “Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik.” (Lukas 18:27). Hulle het gesien hoe ‘n ryk man deur die genade van God die koninkryk kan binnegaan. DKvDE 599.6

Voordat Saggeus in die aangesig van Jesus gekyk het, het hy reeds met die werk, wat getoon het dat sy bekering opreg was, begin. Voordat hy deur die mense beskuldig is, het hy sy sonde bely. Hy het aan die oortuiging van die Heilige Gees toegegee en het begin om uitvoering aan die woorde wat vir antieke Israel sowel as vir ons geskryf is, te gee. Lank tevore het die Here gesê: “As jou broer by jou verarm en agter raak, moet jy hom ondersteun, soos ‘n vreemdeling en bywoner, dat hy by jou kan lewe. Jy moenie rente of wins van hom neem nie, maar jy moet jou God vrees, dat jou broer by jou kan lewe. Jou geld mag jy hom nie op rente gee nie en jou eetware mag jy nie teen wins gee nie.” (Levitikus 25:35-37). “Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God.” (Levitikus 25:17). Hierdie woorde is deur Christus self gespreek toe Hy in die wolkkolom gehul was en Saggeus se heel eerste reaksie op die liefde van Christus, was om ontferming teenoor die armes en lydendes te openbaar. DKvDE 600.1

Onder die tollenaars was daar ‘n sameswering sodat hulle die mense kon onderdruk en mekaar in hul bedrieglike praktyke kon ondersteun. In hul afpersing het hulle eintlik ‘n praktyk gevolg wat byna ‘n universele gebruik geword het. Selfs die priesters en rabbi’s, wat hulle verag het, was daaraan skuldig dat hulle hulself deur oneerlike praktyke en onder die dekmantel van hul heilige roepings verryk het. Maar Saggeus het skaars toegegee aan die invloed van die Heilige Gees, of hy het elke praktyk wat teenstrydig met integriteit was, versaak. DKvDE 600.2

Geen berou is eg wat nie hervorming meebring nie. Die geregtigheid van Christus is nie ‘n dekmantel om onbelyde en onversaakte sonde mee te verberg nie; dit is ‘n lewensbeginsel wat die karakter verander en die gedrag beheer. Heiligheid is volkomenheid vir God; dit is die totale oorgawe van hart en lewe aan die inwoning van die hemelse beginsels. DKvDE 600.3

In die sakelewe moet ‘n Christen aan die wêreld toon hoe ons Here sakeondernemings sal bedryf. In elke transaksie moet hy laat blyk dat God sy Leermeester is. “Heilig aan die Here... ” moet op joernale en grootboeke, geskryf word, op aktes, kwitansies en wisselbewyse. Diegene wat beweer dat hulle navolgers van Christus is en wat op ‘n onregmatige wyse handel dryf, lewer vals getuienis teen die karakter van ‘n heilige, regverdige en barmhartige God. Elke bekeerde siel sal, soos Saggeus, die inwoning van Christus in sy hart aandui, deur die onregverdige praktyke wat sy lewe gekenmerk het, te laat vaar. Soos die tollenaar, sal hy bewys van sy opregtheid lewer, deur restitusie te doen. Die Here sê: “Gee die goddelose die pand terug, vergoed hy wat geroof is, wandel hy in die insettinge van die lewe, sodat hy geen onreg doen nie ... al sy sondes wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie ... hy sal sekerlik lewe.” (Esegiël 33:15,16). DKvDE 601.1

As ons andere skade berokken het deur enige onregverdige saketransaksie, as ons iemand in die handel uitoorlê het, of iemand bedrieg het, selfs al is dit binne die perke van die wet, moet ons ons onreg bely en sovêr dit in ons vermoë is, terugbetaal. Dit is reg vir ons om nie slegs dit wat ons onregmatiglik bekom het terug te gee, maar ook die vermeerdering in waarde, wat toegevoeg sou word indien dit reg en verstandig aangewend was gedurende die tyd wat dit in ons besit was. DKvDE 601.2

Die Heiland het vir Saggeus gesê: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom.” Nie alleen is Saggeus self geseën nie, maar sy hele huisgesin saam met hom. Christus het na sy huis gegaan om hom lesse van waarheid te leer en sy huisgesin aangaande die dinge van die koninkryk te onderrig. Hulle was, as gevolg van die minagting van die rabbi’s en aanbidders, uit die sinagoges uitgesluit; maar nou, die mees begunstigde huis in die hele Jerigo, het hulle in hul eie huis rondom die goddelike Meester en vir hulleself die woorde van die lewe gehoor. DKvDE 601.3

Dit is wanneer Christus as persoonlike Verlosser aangeneem word, dat verlossing tot die siel kom. Saggeus het Jesus in sy huis ontvang, nie net as ‘n verbygaande gas nie, maar as die Een wat in die tempel van die siel woon. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het hom as ‘n sondaar veroordeel; hulle het teen Christus gemurmureer omdat Hy ‘n gas in sy huis was, maar die Here het hom as ‘n seun van Abraham erken. Want “...die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.” (Galasiërs 3:7). DKvDE 602.1