Loading...

Loading

Loading
(You are in the browser Reader mode)

Hoofstuk 19—Lig in die Duisternis

Deur die eeue heen het die werk van God op aarde ‘n opvallende ooreenkoms in alle groot hervormings of godsdienstige bewegings getoon. Die beginsels van God se omgang met die mens is altyd dieselfde. Die belangrike bewegings van die hede kom ooreen met dié van die verlede en daar is baie waarde in die ervaring van die kerk in die vorige eeue vir ons eie tyd. GS 358.1

Geen waarheid word duideliker in die Bybel geleer as dat God, deur Sy Heilige Gees, Sy diensknegte op aarde, vernaamlik in die groot bewegings om die werk van verlossing voort te dra, rig nie. Mense is instrumente in die hand van God wat deur Hom aangewend word om Sy voornemens van genade en barmhartigheid te vervul. Elkeen het sy rol om te speel; aan elkeen word ‘n mate van lig verleen, aangepas volgens die behoeftes van sy tyd, voldoende om hom in staat te stel om die werk wat God aan hom gegee het te verrig. Maar niemand, hoe hy ook deur die hemel vereer was, het ooit ‘n volle begrip van die verlossingsplan bereik nie, of selfs ‘n volkome waardering van die Goddelike doel met die werk vir sy eie tyd, gehad nie. Mense verstaan nie ten volle wat God deur die werk wat Hy aan hulle gee om te doen, wil verrig nie; hulle begryp nie die volle implikasie van die boodskap wat hulle in Sy Naam uitdra nie. GS 358.2

“Kan jy die dieptes van God peil? Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige? ... Want My gedagtes is nie julle gedagtes nie en julle weë is nie My weë nie, spreek die Here. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is My weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes ... Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig, die einde en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie.” (Job 11:7; Jes 55:8,9;46:9,10). GS 358.3

Selfs die profete wat met spesiale verligting van die Gees begunstig was, het nie die belangrikheid van die openbarings wat aan hulle gegee is, ten volle begryp nie. Die betekenis sou van eeu tot eeu ontvou word, namate die volk van God behoefte aan die onderrig wat daarin vervat is sou hê. GS 359.1

Petrus, wat oor die verlossing wat deur die evangelie aan die lig gebring is geskryf het, het gesê dat die profete wat oor die genade geprofeteer het, “...ondersoek en nagevors en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het.” (1 Pet 1:10-12). GS 359.2

Alhoewel dit nie aan profete gegee is om die dinge wat aan hulle geopenbaar is ten volle te begryp nie, het hulle ernstig gepoog om al die lig wat dit God behaag het om te openbaar te bekom. Hulle het “...ondersoek en nagevors, terwyl hulle nagespeur het op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het.” Wat ‘n les vir die volk van God in die Christelike bedeling, tot wie se voordeel hierdie profesieë aan sy dienaars gegee is! “Aan wie geopenbaar is dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het.” Aanskou hierdie heilige manne van God waar hulle aangaande die openbarings wat aan hulle gegee is vir geslagte wat nog nie gebore was nie “...ondersoek en nagevors...” het. Kontrasteer hulle heilige ywer met die lustelose onverskilligheid waarmee die begunstigdes van latere eeue hierdie gawe uit die hemel bejeën het. Wat ‘n teregwysing aan die gemaksugtige, wêreldliefhebbende onverskilligheid wat tevrede is met die verklaring dat die profesieë nie verstaan kan word nie! GS 359.3

Dit is omdat die verganklike menslike verstand nie by magte is om insae in die raadsbesluite van die Oneindige te hê, of om die uitwerking van Sy doel ten volle te begryp nie en as gevolg van dwalinge of nalatigheid, dat hulle so ‘n vae begrip van die boodskappe uit die hemel het. Dikwels word die verstand van die mens en selfs van die dienaars van God, so deur menslike opinies, tradisies en dwaalleringe benewel, dat hulle net gedeeltelik die groot dinge wat Hy in Sy Woord geopenbaar het, kan begryp. So was dit ook met die dissipels van Christus, al was die Verlosser persoonlik by hulle teenwoordig. Hulle was behep met die algemene opvatting dat die Messias ‘n tydelike vors was, wat Israel tot die troon van ‘n wêreldryk sou verhef en hulle kon nie die betekenis van Sy woorde wat sy lyding en dood voorspel het, verstaan nie. GS 359.4

Christus self het hulle met die boodskap uitgestuur: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.” Hierdie boodskap is op Daniël 9 gegrond. Die nege-en-sestig weke, is deur die engel verklaar dat dit “...tot ‘n gesalfde, ‘n vors...” sou strek en met groot hoop en vreugdevolle afwagting het die dissipels uitgesien na die vestiging van die Messias se koninkryk in Jerusalem om oor die hele aarde te heers. GS 360.1

Hulle het die boodskap wat Christus aan hulle toevertrou het verkondig, alhoewel hulle die betekenis daarvan verkeerd verstaan het. Terwyl hulle boodskap op Daniël 9:25 gegrond was, het hulle nie in die volgende vers van dieselfde hoofstuk gesien dat die Messias ‘afgesny’ sou word nie. Reeds van hul geboorte af was hulle harte op die verwagte glorie van ‘n aardse ryk gerig en dit het hulle begrip vir die spesifikasies van die profesie en die woorde van Christus afgestomp. GS 360.2

Hulle het hulle plig nagekom om die uitnodiging van barmhartigheid aan die Joodse nasie voor te hou en op die oomblik toe hulle verwag het om hul Heer te sien die troon van Dawid te bestyg, het hulle gesien hoe Hy soos ‘n misdadiger gevang, gegesel, bespot en veroordeel is en aan die kruis van Golgota opgelig is. Watter wanhoop en angs het die harte van die dissipels gedurende daardie dae, toe hulle Heiland in die graf geslaap het, gewring! GS 360.3

Christus het op die presiese tyd en wyse wat deur die profesieë voorspel is gekom. Die getuienis van die Skrif is in elke besonderheid van Sy bediening vervul. Hy het die boodskap van verlossing verkondig en “...Sy woorde was met krag.” Die harte van Sy toehoorders was oortuig dat dit uit die hemel afkomstig was. Die Woord en die Gees van God het van die Goddelike opdrag van Sy Seun getuig.  GS 361.1

Die dissipels het steeds met onsterflike liefde hul Meester aangehang. En tog was hul harte vol van onsekerheid en twyfel. Het hulle dan nie in hulle angs die woorde van Christus wat Sy lyding en dood voorspel het, onthou nie? As Jesus van Nasaret die ware Messias was, sou hulle dan in droefheid en teleurstelling gedompel gewees het? Dit was die vraag wat hul siele gemartel het terwyl die Verlosser gedurende die hopelose ure van daardie Sabbat, wat tussen Sy dood en Sy opstanding geval het, in Sy graf gelê het. GS 361.2

Alhoewel die donker nag van droefheid oor daardie volgelinge van Jesus toegesak het, was hulle tog nie verlate nie. Die profeet het gesê: “Al sit ek in duisternis, die Here is ‘n lig vir my ... Hy sal my uitlei in die lig; ek sal met welgevalle sien hoe Hy geregtigheid oefen ... Dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.” God het gesê: “Vir die opregtes gaan Hy op as ‘n lig in die duisternis ... Ek sal blindes lei op ‘n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie.” (Miga 7:8,9; Ps 139:12;112:4; Jes 42:16). GS 361.3

Die aankondiging wat deur die dissipels in die Naam van die Here gemaak is, was in alle opsigte korrek en die gebeure waarop dit gewys het, het toe reeds plaasgevind. Hulle boodskap was: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom.” Aan die einde van die nege-en-sestig weke van Daniël, wat tot by die Messias, “die Gesalfde” sou strek, het Christus, nadat Hy deur Johannes in die Jordaan gedoop is, die salwing van die Gees ontvang. En “...die koninkryk van God... ” wat hulle verkondig het op hande was, is deur die dood van Christus gevestig. Hierdie koninkryk was nie, soos hulle geleer was om te glo, ‘n aardse ryk nie. Dit was ook nie die toekomstige, ewige koninkryk wat opgerig sal word wanneer “...die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee [sal word] aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste...” nie; daardie ewige koninkryk waarin al die heerskappye Hom sal vereer en sal gehoorsaam. (Dan 7:27). Soos in die Bybel, word die uitdrukking “koninkryk van God” gebruik om die koninkryk van genade en die koninkryk van heerlikheid aan te dui. Die koninkryk van genade word deur Paulus in sy sendbrief aan die Hebreërs ter sprake gebring. Nadat hy op Christus gewys het, die medelydende Middelaar wat met ons swakhede medelye kan hê, sê die apostel: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind.” (Heb 4:15,16). Die troon van genade verteenwoordig ‘n koninkryk van genade; want die bestaan van ‘n troon impliseer die bestaan van ‘n koninkryk. In baie van Sy gelykenisse gebruik Christus die uitdrukking “die koninkryk van die hemele” om die werk van Goddelike genade in die harte van mense aan te dui. GS 361.4

So stel die troon van heerlikheid die koninkryk van heerlikheid voor en na hierdie koninkryk word verwys in die woorde van die Heiland: “Wanneer die Seun van die mens in Sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op Sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies bymekaargebring word.” (Matt 25:31,32). Hierdie koninkryk is nog in die toekoms. Dit sal eers na die tweede koms van Christus opgerig word. GS 362.1

Die koninkryk van genade is onmiddellik na die val van die mens ingestel, toe ‘n plan bedink is vir die verlossing van die skuldige ras. Dit was reeds die doel en belofte van God; en deur geloof kon die mens onderdane daarvan word. Tog is dit eintlik nie gevestig tot met die dood van Christus nie. Selfs nadat Hy met Sy aardse bediening begin het, kon die Heiland, ontmoedig deur die hardkoppigheid en ondankbaarheid van die mense, Hom nog van die groot offer op Golgota onttrek het. In Getsémané het die beker van wee in Sy hand gebewe. Hy kon selfs die bloedsweet van sy aangesig afgevee en die skuldige mensdom in hul ongeregtigheid laat sterf het. As Hy dit gedoen het, sou daar geen verlossing vir die gevalle mens gewees het nie. Maar toe die Heiland Sy lewe opgeoffer en met Sy laaste asem uitgeroep het: “Dit is volbring”, is die vervulling van die verlossingsplan verseker. Die belofte van verlossing aan die sondige paar in Eden, is bekragtig. Die koninkryk van genade wat voorheen deur die belofte van God bestaan het, is toe gevestig. GS 362.2

Die dood van Christus — daardie gebeurtenis wat die dissipels as die finale vernietiging van hul hoop beskou het — was die gebeurtenis wat dit vir altyd vasgestel het. Hoewel dit vir hulle ‘n wrede teleurstelling teweeggebring het, was dit die hoogtepunt van die bewys dat hulle oortuiging korrek was. Die gebeurtenis wat hulle met rou en wanhoop gevul het, was die deur van hoop vir elke kind van Adam en waarin die toekomstige lewe en die ewige geluk van al die getroue kinders van God in alle eeue, gesentreer is. GS 363.1

Selfs in die dissipels se teleurstelling, het doelwitte van oneindige barmhartigheid tot vervulling gekom. Terwyl hulle harte deur die Goddelike genade en krag van Sy leer gewen is, waarvan gesê is: “Nooit het ‘n mens só gespreek soos hierdie man...” nie, was die suiwer goud van hulle liefde vir Jesus tog met die skuim van wêreldse trots en selfsugtige ambisies vermeng. Selfs in die lokaal van die Pasga-ete, op daardie plegtige uur toe hul Meester reeds die skaduwee van Getsémané betree het, was daar “...twis onder hulle oor wie van hulle die grootste geag moet wees.” (Luk 22:24). Hulle visie was met die troon gevul, die kroon en die heerlikheid, terwyl die skande en sieleangs van die tuin, die geregsaal en die kruis van Golgota, reg voor hulle was. Dit was hulle hoogmoed van hart en hul dors na wêreldse glorie wat hulle daartoe gelei het om so hardnekkig aan die valse leer van hulle tyd vas te hou en om ongehoorsaam aan die woorde van die Heiland te wees deur die ware aard van Sy koninkryk, wat na Sy pyn en dood vooruitgewys het, te verontagsaam. En hierdie dwalings het bittere maar noodsaaklike beproewing, wat vir hulle teregwysing toegelaat is, tot gevolg gehad. Hoewel die dissipels die betekenis van hulle boodskap verkeerd verstaan het en dit nie aan hulle verwagtings voldoen het nie, het hulle tog die waarskuwing wat God aan hulle gegee het verkondig en die Here sou hulle geloof beloon en hul gehoorsaamheid eer. Die heerlike evangelie van hul opgestane Here sou aan hulle toevertrou word om aan alle nasie te verkondig. Dit was om hulle vir hierdie taak voor te berei dat daardie ervaring wat vir hulle so bitter voorgekom het, toegelaat was. GS 363.2

Ná sy opstanding, het Jesus aan Sy dissipels op weg na Emmaus verskyn en “Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.” (Luk 24:27). Hulle harte was ontroerd. Hulle geloof het opgevlam. Hulle is weer opgewek tot ‘n lewendige hoop, nog voordat Jesus Homself aan hulle geopenbaar het. Dit was Sy doel om hulle begrip te verlig en om hul geloof aan die seker woord van profesie vas te maak. Hy wou hê dat die waarheid in hulle gedagtes moet wortelskiet, nie slegs omdat dit deur Sy persoonlike getuienis bevestig is nie, maar ook vanweë die onweerlegbare bewyse wat deur die simbole en skaduwees van die tipiese wet en deur die profesieë van die Ou Testament aangebied word. Dit was nodig vir die volgelinge van Christus om ‘n intelligente geloof te hê, nie net ten behoewe van hulself nie, maar dat hulle die kennis van Christus na die wêreld sou kon uitdra. En as die eerste stap om hierdie kennis oor te dra, het Jesus die dissipels na Moses en al die profete verwys. Dit was die getuienis wat die opgestane Verlosser aangaande die waarde en belangrikheid van die OuTestamentiese geskrifte gelewer het. GS 364.1

Wat ‘n verandering het daar in die harte van die dissipels plaasgevind toe hulle weereens in die aangesig van hulle geliefde Meester gekyk het! (Luk 24:32). In ‘n meer volledige en volmaakte sin as ooit tevore het hulle “...Hom gevind van wie Moses in die wet en al die profete geskryf het.” Die onsekerheid, die angs en die wanhoop het plek gemaak vir volkome versekering van hul onbenewelde geloof. Geen wonder dat hulle ná Sy Hemelvaart “...gedurig in die tempel was en God geprys en gedank het...” nie. Die volk, wat net bewus was van die Heiland se onheilspellende dood, het verwag om op hul gesigte ‘n uitdrukking van droefheid, verwarring en wanhoop te sien; maar in plaas daarvan het hulle blydskap en oorwinning gesien. Wat ‘n voorbereiding het hierdie dissipels vir die werk voor hulle ondergaan! Hulle het die diepste beproewing wat vir hulle moontlik was om te beleef deurgemaak en het gesien hoe die Woord van God, selfs wanneer alle menslike hoop verdwyn het, seëvierend in vervulling gegaan het. Wat kon hulle geloof voortaan laat wankel of die ywer van hul liefde verkoel? In hul grootste droefheid het hulle kragtige vertroosting gehad, ‘n hoop wat vir hulle “...'n anker van die siel wat veilig en vas is...” was. (Heb 6:18,19). Hulle was getuie van die wysheid en krag van God en hulle was oortuig dat “...geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel...” hulle kon skei “...van die liefde van God wat daar in Christus Jesus onse Here is nie.” GS 365.1

“In al hierdie dinge...” het hulle gesê, “...is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.” (Rom 8:38,39,37). “Die woord van die Here bly tot in ewigheid” (1 Pet 1:25). “Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” (Rom 8:34). GS 365.2

Die Here het gesê: “My volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie.” (Joel 2:26). “Saans vernag die geween, maar smorens is daar gejuig.” (Ps 30:6). Toe die dissipels op die opstandingsdag die Heiland ontmoet het en hulle harte binnein hulle brandend was terwyl hulle na Sy woorde geluister het; toe hulle Sy hande en voete aanskou het wat vir hulle verwond was; en toe Hy hulle voor Sy Hemelvaart na Betanië gelei het, het Hy Sy hande in seën opgehef en hulle gebied: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie...” en bygevoeg “...kyk, Ek is met julle al die dae... ” (Mark 16:15; Matt 28:20); toe die beloofde Trooster op Pinksterdag neergedaal het en die krag van omhoog geskenk is en die siele van die gelowiges in die bewuste teenwoordigheid van hulle Heiland wat opgevaar het gejuig het, sou hulle toe, al het hulle weg net soos Syne, tot opoffering en ‘n marteldood gelei, die bediening van die evangelie van Sy genade, met die kroon van geregtigheid wat hulle by Sy wederkoms sou ontvang, verruil vir die heerlikheid van ‘n aardse troon waarop hulle aan die begin van hulle dissipelskap staatgemaak het? Hy wat “...mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink...” het aan hulle, met die gemeenskap van Sy lyding, ook die gemeenskap van Sy vreugde gegee — die vreugde om baie kinders na die heerlikheid te bring, onuitspreeklike vreugde, ‘n “...allesoortreffende ewige gewig van heerlikheid...” waarvan Paulus sê dat ons “...ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is...” nie daarteen opweeg nie. GS 366.1

Die ervaring van die dissipels wat die evangelie van die koninkryk tydens die eerste koms van Christus verkondig het, het Sy ewebeeld in die ervaring van diegene wat die boodskap van Sy tweede koms verkondig het. Soos die dissipels uitgegaan en gepreek het: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom...” het Miller en sy medewerkers verkondig dat die langste en laaste profetiese tydperk wat in die Bybel gesien is, byna verstreke was, dat die uur van oordeel aangebreek het en dat die ewige koninkryk ingelei moes word. Die prediking van die dissipels met betrekking tot tyd, was gebaseer op die sewentig weke van Daniël 9. Die boodskap wat Miller en sy medewerkers verkondig het, het die beëindiging van die 2 300 dae van Daniël 8:14 aangekondig, waarvan die sewentig weke deel uitmaak. Die prediking van elkeen was op die vervulling van ‘n ander deel van dieselfde groot profetiese tydperk gegrond. GS 366.2

Soos die eerste dissipels, het William Miller en sy medewerkers nie self die belangrikheid van die boodskap wat hulle verkondig het, begryp nie. Dwalings wat al lank in die kerk gesetel was, het hulle verhinder om tot die korrekte vertolking van ‘n belangrike punt in die profesie te kom. Daarom alhoewel, hulle die boodskap wat God aan hulle toevertrou het om aan die wêreld oor te dra verkondig het, het hulle as gevolg van ‘n wanbegrip van die betekenis daarvan, teleurstelling ervaar. GS 367.1

In die verklaring van Daniël 8:14, naamlik “...tweeduisend driehonderd aande en mores, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word...” het Miller, soos genoem, die algemene opvatting aanvaar dat die aarde die heiligdom is en hy het geglo dat die reiniging van die heiligdom, die reiniging van die aarde deur vuur, met die koms van die Here verteenwoordig. Toe hy dus ontdek dat die einde van die 2 300 dae beslis voorspel is, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat dit die tyd van die tweede koms openbaar. Sy fout was die gevolg van die aanvaarding van die algemene siening van wat die heiligdom uitmaak. GS 367.2

In die tipiese stelsel, wat ‘n skaduwee van die offer en priesterskap van Christus was, was die reiniging van die heiligdom die laaste diens wat die hoëpriester in die jaarlikse verloop van bediening verrig het. Dit was die afsluitingswerk van die versoendag — die verwydering of uitwissing van die sondes van Sy volk wat in die hemelse verslae opgeteken is. Hierdie diens het ‘n werk van ondersoek behels, ‘n werk van oordeel; en dit gaan onmiddellik voor die koms van Christus op die wolke van die hemel, met krag en groot heerlikheid plaasvind; want wanneer Hy kom, sal elke saak reeds beslis wees. Jesus het gesê: “My loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.” (Openb 22:12). Dit is hierdie werk van oordeel, onmiddellik voor die tweede koms, wat in die eerste engel se boodskap van Openbaring 14:7 aangekondig word: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom.” GS 367.3

Diegene wat hierdie waarskuwing verkondig het, het die regte boodskap op die regte tyd verkondig. Maar soos die vroeë dissipels verklaar het “...die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom...” en hulle nie besef het dat die dood van die Messias in daardie selfde skriftuur voorspel is nie, so het Miller en sy medewerkers die boodskap op grond van Daniël 8:14 en Openbaring 14:7 verkondig en kon nie sien dat daar nog ander boodskappe in Openbaring 14, wat ook voor die koms van die Here gegee moes word, ter sprake gebring is nie. Net soos die dissipels ‘n fout begaan het met betrekking tot die koninkryk wat aan die einde van die sewentig weke opgerig sou word, het die Adventiste hulle ook misgis met betrekking tot die gebeurtenis wat aan die einde van die 2 300 dae sou plaasvind. In albei gevalle was daar ‘n aanvaarding van, of eerder ‘n nakoming van heersende foute wat die verstand vir die waarheid verblind het. Albei klasse het die wil van God vervul deur die boodskap wat Hy wou gee oor te dra het en albei het deur hul eie wanbegrip van die boodskap, teleurstelling ervaar. GS 368.1

Tog het God Sy eie weldadige doel bereik deur toe te laat dat die waarskuwing van die oordeel presies soos dit gegee is, verkondig word. Die groot dag was op hande en in Sy voorsienigheid is die mense deur ‘n bepaalde tyd op die proef gestel, ten einde aan hulle te openbaar wat in hulle harte was. Die boodskap was bedoel om die kerk te toets en te reinig. Hulle moes gelei word om te sien of hulle geneenthede op hierdie wêreld of op Christus en die hemel gerig was. Hulle het beweer dat hulle die Verlosser liefhet; nou moes hulle hul liefde bewys. Was hulle bereid om van hulle wêreldse hoop en ambisies afstand te doen en met vreugde die koms van hul Here te verwelkom? Die boodskap was bedoel om hulle in staat te stel om hul ware geestelike toestand te onderskei; dit is genadiglik gestuur om hulle op te wek om die Here met ootmoed en nederigheid te soek. GS 368.2

Ook die teleurstelling, hoewel dit die gevolg van hul eie wanbegrip van die boodskap wat hulle verkondig het was, moes ten goede oorheers word. Dit sou die harte van diegene wat beweer het dat hulle die waarskuwing aanvaar het, toets. In die aangesig van hul teleurstelling, sou hulle oorhaastig hul ervaring prysgee en hul vertroue in God se woord versaak; of sou hulle in gebed en nederigheid poog om te onderskei waar hulle gefaal het om die betekenis van die profesie te begryp? Hoeveel was deur vrees of deur impuls en opgewondenheid gedrewe? Hoeveel was halfhartig en ongelowig? Menigtes het beweer dat hulle die verskyning van die Here liefhet. As hulle geroep sou word om die spot en smaad van die wêreld en die toets van vertraging en teleurstelling te verduur, sou hulle hul geloof verloën? Omdat hulle nie onmiddellik die optrede van God teenoor hulle verstaan het nie, sou hulle die waarhede wat deur die duidelikste getuienis van Sy woord ondersteun word, verwerp? GS 369.1

Hierdie toets sou die krag van diegene wat in ware geloof gehoorsaam was aan wat hulle geglo het die lering van die Woord en die Gees van God was, openbaar. Dit sou hulle van die gevaar, soos slegs ‘n ervaring soos hierdie kon doen om die teorieë en interpretasies van mense te aanvaar, in plaas daarvan om die Bybel sy eie tolk te maak, leer. Vir die kinders van die geloof, sou die verwarring en hartseer as gevolg van hul dwaling die nodige regstelling teweegbring. Hulle sou leer om die grondslag van hul geloof noukeuriger te ondersoek en alles wat nie op die Skrif van die waarheid berus nie, te verwerp, hoe algemeen dit ook al deur die Christelike wêreld aanvaar word. GS 369.2

Net soos vir die eerste dissipels, sou dit wat vir hierdie gelowiges in die uur van beproewing duister gelyk het, duidelik word. Wanneer hulle die “...einde van die Here...” sou sien, sou hulle weet dat, ongeag die beproewing as gevolg van hul dwalinge, Sy liefdevolle doel vir hulle, geleidelik in vervulling gegaan het. Hulle sou, deur ‘n geseënde ervaring leer dat Hy “...vol medelyde en ontferming is...” en dat Sy weë “...goedertierenheid en trou [is] vir die wat Sy verbond en Sy getuienisse bewaar.” GS 370.1