Loading…
Hoofstuk 27—Hedendaagse Herlewings
Oral waar die Woord van God getrou verkondig is, het resultate gevolg wat van die Goddelike oorsprong daarvan getuig het. Die Gees van God het die boodskap van Sy dienaars vergesel en die woord het met krag uitgegaan. Die gewete van sondaars is aangewakker. Die “...lig wat elke mens verlig was aan kom in die wêreld...” en het die verborge skuilhoeke van hul siele verlig en die verborge dinge van die duisternis is geopenbaar. Diepe oortuiging het hul gedagtes en harte aangegryp. Hulle is van sonde en geregtigheid oortuig en van die komende oordeel. Hulle het ‘n besef van die geregtigheid van Jehova en die verskrikking om in hul skuld en onreinheid voor die Ondersoeker van harte te verskyn, ervaar. In sieleangs het hulle uitgeroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Namate die kruis van Golgota met sy oneindige offer vir die sonde van die mense geopenbaar is, het hulle besef dat niks anders as die verdienste van Christus voldoende was om hul oortredings te versoen nie; dit alleen kan die mens met God versoen. In geloof en nederigheid het hulle die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, aangeneem. Deur die bloed van Jesus kon hulle vergifnis van die sondes van die verlede ontvang. GS 486.1
Hierdie siele het vrugte wat by bekering gepas het opgelewer. Hulle het geglo en is gedoop en het opgestaan om ‘n nuwe lewe te bewandel — nuwe skepsels in Christus Jesus; nie om hulself volgens hul vorige begeerlikhede te vorm nie, maar deur geloof in die voetstappe van die Seun van God te volg om Sy karakter te weerspieël en hulleself te reinig soos Hy rein is. Die dinge wat hulle voorheen gehaat het, het hulle nou liefgehad en die dinge wat hulle voorheen liefgehad het, het hulle nou gehaat. Die trotsaard en eiegeregtige het sagmoedig en nederig geword. Die wat ydel en verwaand was, het ernstig en onopsigtelik geword. Die onheiliges het eerbiedig geword, die dronkaards nugter en die losbandiges rein. Die ydele modes van die wêreld is versaak. Christene het nie gesoek na die uiterlike versiering van “...haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar na die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.” (1 Pet 3:3,4). GS 486.2
Herlewings het diepe selfondersoek en nederigheid tot gevolg gehad. Hulle is gekenmerk deur plegtige en ernstige oproepe tot sondaars en groot ontferming teenoor diegene wat met die bloed van Christus vrygekoop is. Mans en vroue het in gebed met God geworstel vir die redding van siele. Die vrugte van sulke herlewings is in siele gesien wat nie van selfverloëning en opoffering weggekrimp het nie, maar wat verheug was dat hulle waardig geag is om ter wille van Christus smaad en beproewing te ly. Mense het die verandering in die lewens van diegene wat die Naam van Jesus bely het, gesien. Die gemeenskap het voordeel uit hul invloed getrek. Hulle het hulle by Christus gevoeg en in die Gees gesaai, om die ewige lewe te oes. GS 487.1
Van hulle sou gesê kon word: “...want julle was bedroef volgens die wil van God ... want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding maar die droefheid van die wêreld werk die dood. Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God — wat ‘n groot ywer het dit in julle gewerk, ja verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is.” (2 Kor 7:9-11). GS 487.2
Dit is die gevolg van die werk van die Gees van God. Tensy dit hervorming teweegbring, is daar geen bewyse van opregte berou nie. As hy die pand herstel en teruggee wat hy beroof het, sy sondes bely en God en sy medemens liefhet, kan die sondaar seker wees dat hy vrede met God gevind het. Dit was die gevolge wat in vorige jare op seisoene van godsdienstige ontwaking gevolg het. Te oordeel aan hul vrugte, was dit duidelik dat hulle deur God geseën is in die redding van mense en die ophef van die mensdom. GS 487.3
Maar baie van die herlewings van die moderne tyd was in skerp kontras met die manifestasies van Goddelike genade wat in die vroeër dae op die arbeid van God se dienaars gevolg het. Dit is waar dat wye belangstelling opgewek word, dat baie bely dat hulle bekeerd is en dat daar ‘n groot toeloop na die kerke is; nietemin is die gevolge nie van so aard dat geglo kan word dat daar ‘n dienooreenkomstige toename van ware geestelike lewe is nie. Die lig wat vir ‘n kort tyd opvlam sterf gou uit en laat ‘n duisternis agter, digter as voorheen. GS 488.1
Gewilde herlewings word te dikwels deur ‘n beroep op die verbeelding, deur emosies aan te wakker, deur liefde vir dit wat nuut en opwindend is te bevredig, verkry. Hierdie bekeerlinge het min begeerte om na Bybelwaarhede te luister en toon min belangstelling in die getuienis van die profete en apostels. Tensy die diens opspraakwekkend van aard is, het dit vir hulle geen aantrekking nie. ‘n Boodskap wat ‘n beroep op passielose rede doen, ontketen geen reaksie nie. Die duidelike waarskuwings van God se Woord, wat direk verband met hul ewige belange hou, word nie gehoor aan gegee nie. GS 488.2
Vir elke waarlik bekeerde siel, sal die verhouding van die siel tot God en ewige dinge die hoof onderwerp van die lewe wees. Maar waar is die gees van toewyding aan God in die gewilde kerke van vandag? Die bekeerlinge versaak nie hulle hoogmoed en liefde vir die wêreld nie. Hulle is nie méér bereid om hulself te verloën, hul kruis op te neem en die sagmoedige en nederige Jesus te volg as voor hul bekering nie. Godsdiens het die sport van ongelowiges en twyfelaars geword omdat soveel wat die naam dra, nie die beginsels daarvan ken nie. Die krag van godsvrug het byna heeltemal uit baie van die kerke gewyk. Pieknieks, kerk-opvoerings, kerkbasaars, mooi huise en persoonlike vertoon, het alle gedagtes aan God verdryf. Landgoed, besittings en wêreldse beroepe, neem die verstand in beslag en die dinge van ewige belang geniet skaars ‘n verbygaande gedagte. GS 488.3
Nieteenstaande die wydverspreide agteruitgang van geloof en vroomheid, is daar ware volgelinge van Christus in hierdie kerke. Voor die finale besoek van God se oordele op die aarde, sal daar onder die volk van die Here so ‘n herlewing van primitiewe godsaligheid wees soos wat daar sedert die apostoliese tyd nie gesien is nie. Die Gees en krag van God sal op Sy kinders uitgestort word. In hierdie tyd sal baie mense hulself van die kerke waarin die liefde vir hierdie wêreld die liefde vir God en Sy woord verdring het, skei. Baie mense, beide predikante en leke, sal die groot waarhede wat God op hierdie stadium laat verkondig het om ‘n volk op die wederkoms van die Here voor te berei, aanvaar. Die vyand van siele wil hierdie werk verhinder; en voordat die tyd vir hierdie beweging aanbreek, sal hy poog om dit te voorkom deur ‘n namaaksel voor te stel. In daardie kerke wat hy onder sy misleidende invloed kan bring, sal hy dit laat voorkom asof God se spesiale seën uitgestort is; daar sal ‘n manifestasie wees van wat blyk van groot godsdienstige belang te wees. Menigtes sal hulself verheug omdat God, volgens hulle mening, op wonderbaarlike wyse vir hulle werk, terwyl dit die werk van ‘n ander gees is. Onder die dekmantel van godsdiens, sal Satan poog om sy invloed oor die Christelike wêreld uit te brei. GS 489.1
In baie van die herlewings gedurende die laaste helfte van die afgelope eeu, was dieselfde invloede in ‘n mindere of meerdere mate aan die werk, wat in die toekoms in die groter bewegings geopenbaar sal word. Daar is ‘n emosionele opwinding, ‘n vermenging van die ware met die valse, wat goed aangepas is om te mislei. Tog hoef niemand bedrieg te word nie. In die lig van God se Woord is dit nie moeilik om die aard van hierdie bewegings te bepaal nie. Oral waar mense die getuienis van die Bybel verwaarloos en wegdraai van duidelike siel-beproewende waarhede wat selfverloëning en versaking van die wêreld vereis, kan ons seker wees dat God se seën nie daaraan verleen sal word nie. En volgens die bepaling wat Christus self gegee het, naamlik: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken...” (Mat 7:16), is dit duidelik dat hierdie bewegings nie die werk van die Gees van God is nie. GS 489.2
In die waarhede van Sy Woord, het God aan mense ‘n openbaring van Homself gegee; en vir almal wat dit aanneem is dit ‘n skild teen die misleiding van Satan. Dit is die verwaarlosing van hierdie waarhede wat die deur vir die euwels wat tans so wydverspreid in die godsdienstige wêreld is, oopgemaak het. Die aard en belangrikheid van die wet van God, is tot ‘n groot mate uit die oog verloor. ‘n Verkeerde opvatting van die karakter, die ewigheid en die verpligting van die Goddelike wet, het tot dwalings in verband met bekering en heiligmaking gelei, met die gevolg dat die maatstaf van vroomheid in die kerk verlaag is. Hierin lê die geheim van die gebrek aan die Gees en die krag van God in die herlewings van ons tyd. GS 490.1
In die verskillende denominasies is daar mense wat bekend is vir hul vroomheid, wat hierdie feit erken en betreur. Professor Edwards A Park, in sy uiteensetting van die huidige godsdienstige gevare, sê: “Een bron van gevaar, is die verwaarlosing vanaf die kansel om die Goddelike wet te beklemtoon. Vroeër dae, was die kansel ‘n weerklank van die stem van die gewete ... Ons mees roemryke predikers het ‘n wonderlike gesag aan hul preke gegee deur die voorbeeld van die Meester te volg en deur die voorskrifte van die wet en die bedreiging daarvan te beklemtoon. Hulle het die twee groot beginsels, dat die wet ‘n transkripsie van Goddelike volmaaktheid is en dat die man wat die wet nie liefhet nie, ook nie die evangelie liefhet nie, beklemtoon; want die wet sowel as die evangelie is ‘n spieël wat die ware karakter van God weerspieël. Hierdie gevaar lei tot ‘n verdere gevaar, naamlik die onderskatting van die boosheid van sonde, die omvang en die onverdienstelikheid daarvan. In verhouding tot die regmatigheid van die gebod, is die onregmatigheid om ongehoorsaam daaraan te wees. GS 490.2
“Gepaard met die gevare reeds genoem, is die gevaar om 466 die geregtigheid van God te onderskat. Die neiging vanaf die moderne preekstoel, is om Goddelike geregtigheid uit Goddelike welwillendheid te filtreer, om welwillendheid in ‘n sentiment te laat versink eerder as om dit tot ‘n beginsel te verhef. Die nuwe teologiese prisma skei dit wat God saamgevoeg het. Is die goddelike wet goed of sleg? Dit is goed. Dan is geregtigheid goed; want dit is ‘n voorneme om die wet uit te voer. Van die gewoonte om die Goddelike wet en geregtigheid en die omvang en afname van menslike ongehoorsaamheid te onderskat, verskuif mense maklik na die gewoonte om die genade wat versoening vir sonde voorsien het, te onderskat.” Sodoende verloor die evangelie sy waarde en belangrikheid in die gemoed van mense en kort voor lank is hulle gereed om selfs die Bybel ter syde te stel. GS 491.1
Baie godsdienstige leraars beweer dat Christus, deur Sy dood, die wet afgeskaf het en dat die mense nou vry is van die vereistes daarvan. Daar is sommige wat dit as ‘n swaar juk beskryf en in teenstelling met die slawerny van die wet, bied hulle vryheid aan om onder die evangelie geniet te word. GS 491.2
Maar die profete en die apostels het die heilige wet van God nie so beskou nie. Dawid het gesê: “Dan wil ek U wet altyddeur onderhou ... en in die ruimte wandel, want ek soek U bevele.” Na die dood van Christus, het die apostel Jakobus die Dekaloog “...die koninklike wet...” genoem en “...die volmaakte wet van vryheid.” En ‘n halwe eeu na die kruisiging, word ‘n seën in die boek Openbaring uitgespreek oor “...die wat Sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.” (Ps 119:44,45; Jak 2:8;1:25; Openb 22:14). GS 491.3
Die bewering dat Christus deur Sy dood, Sy Vader se wet afgeskaf het, is ongegrond. As dit moontlik was om die wet te verander of af te skaf, sou dit nie vir Christus nodig gewees het om te sterf ten einde die mens van die straf van sonde te verlos nie. Die dood van Christus bewys eerder die onveranderlikheid van die wet. Die Seun van God het gekom om die wet te verhoog en te vereer. Hy het gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie ... Voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan...” nie. Van Homself het Hy gesê, “Ek het lus, o my God, om U welbehae te doen en U wet is binne-in My ingewande.” (Mat 5:17,18; Ps 40:9). GS 491.4
Die wet van God is uiteraard onveranderlik. Dit is ‘n openbaring van die wil en karakter van die Outeur daarvan. God is liefde en Sy wet is liefde. Die twee hoofbeginsels daarvan is liefde tot God en liefde tot die mens. “Daarom is die liefde die vervulling van die wet.” (Rom 13:10) Die karakter van God is geregtigheid en waarheid, dit is ook die aard van Sy wet. Die psalmis sê: “U wet is waarheid ... al u gebooie is geregtigheid.” (Ps 119:142,172). En die apostel Paulus verklaar: “Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed.” (Rom 7:12). So ‘n wet, wat ‘n uitdrukking van die wysheid en wil van God is, moet net so ewigdurend wees soos die Outeur daarvan. GS 492.1
Die werk van bekering en heiligmaking, is om mense met God te versoen deur hulle in ooreenstemming met die beginsels van Sy wet te bring. In die begin is die mens na die beeld van God geskape. Hy was in perfekte harmonie met die natuur en die wet van God; die beginsels van geregtigheid was in sy hart gegraveer. Maar die sonde het hom van sy Skepper vervreem. Hy het nie meer die Goddelike beeld weerspieël nie. Sy hart was in stryd met die beginsels van God se wet. “...omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.” (Rom 8:7). Maar “...so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het...” om die mens met God te versoen. Op grond van die verdienste van Christus kan hy weer in ooreenstemming met sy Skepper gebring word. Sy hart moet deur Goddelike genade vernuwe word; hy moet ‘n nuwe lewe van omhoog ontvang. Hierdie verandering is die wedergeboorte waarsonder, sê Jesus, iemand “...die koninkryk van God nie kan sien nie.” GS 492.2
Die eerste stap tot versoening met God, is ‘n oortuiging van sonde. “Want die sonde is wetteloosheid.” (1 Joh 3:4). “Deur die wet is die kennis van die sonde.” (Rom 3:20). Ten einde sy skuld te besef, moet die sondaar sy karakter aan God se groot maatstaf van geregtigheid toets. Dit is die spieël wat die volmaaktheid van ‘n regverdige karakter weerkaats en dit stel hom in staat om sy eie gebreke te onderskei. GS 493.1
Die wet openbaar sy sondes aan die mens, maar dit bied geen genesing nie. Terwyl dit lewe aan die gehoorsames belowe, verklaar dit dat die dood die deel van die oortreder is. Slegs die evangelie van Christus, kan hom van die veroordeling en die besoedeling van sonde bevry. Hy moet berou teenoor God, wie se wet hy oortree het, toon en geloof in Christus, sy Soenoffer, hê. So verkry hy vergifnis van sondes “...wat voorheen gedoen is...” is en word hy die Goddelike natuur deelagtig. Hy word ‘n kind van God, omdat hy “...die Gees van aanneming...” ontvang het waardeur hy roep: “Abba, Vader!” GS 493.2
Is hy nou vry om God se wet te oortree? Paulus sê: “Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.” (Rom 3:31). “Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Rom 6:2). En Johannes sê: “Want dit is die liefde tot God, dat ons Sy gebooie bewaar; en Sy gebooie is nie swaar nie.” (1 Joh 5:3). In die wedergeboorte word die hart in harmonie met God gebring, namate dit in ooreenstemming met Sy wet gebring word. Wanneer hierdie kragtige verandering in die sondaar plaasgevind het, het hy oorgegaan van die dood na die lewe, van sonde na heiligheid, van oortreding en opstand na gehoorsaamheid en lojaliteit. Die ou lewe van vervreemding van God is beëindig; die nuwe lewe van versoening en geloof en liefde het begin. Die “...reg van die wet...” sal dan “...vervul word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” Rom 8:4). En die taal van die siel sal wees: “Hoe lief het ek U wet; dit is my bepeinsing die hele dag.” (Ps 119:97). GS 493.3
“Die wet van die Here is volmaak: dit verkwik die siel.” (Ps 19:8). Sonder die wet, het die mense geen behoorlike begrip van die reinheid en heiligheid van God nie en ook nie van hul eie skuld en onreinheid nie. Hulle het geen ware oortuiging van sonde en ook geen behoefte aan bekering nie. Omdat hulle nie hul verlore toestand as oortreders van God se wet besef nie, besef hulle nie hul behoefte aan die versoenende bloed van Christus nie. Die hoop op redding word aangeneem sonder ‘n radikale verandering van hart of hervorming van lewe. Daarom is daar oppervlakkige bekerings in oorvloed en word daar menigtes by die kerk gevoeg wat nog nooit met Christus verenig was nie. GS 494.1
Foutiewe teorieë oor heiligmaking, wat as gevolg van verwaarlosing of verwerping van die Goddelike wet ontstaan het, het ‘n prominente plek in die godsdienstige bewegings van die dag. Hierdie teorieë is onwaar in leerstelling en gevaarlik in die praktiese gevolge daarvan; en die feit dat dit so algemeen begunstig word, maak dit dubbel noodsaaklik dat almal ‘n duidelike begrip het van wat die Skrif aangaande hierdie punt leer. GS 494.2
Ware heiligmaking is ‘n Bybelse leerstelling. Die apostel Paulus verklaar in sy brief aan die kerk in Thessalonika: “Dit is die wil van God - julle heiligmaking.” En toe het hy gebid: “Mag Hy, die God van vrede, julle volkome heilig maak” (1 Thes 4:3;5:23). Die Bybel leer duidelik wat heiligmaking is en hoe dit bereik moet word. Die Heiland het vir Sy dissipels gebid: “Heilig hulle in U waarheid; U woord is die waarheid.” (Joh 17:17). En Paulus het geleer dat gelowiges “...deur die Heilige Gees...” geheilig word (Rom 15:16). Wat is die werk van die Heilige Gees? Jesus het vir Sy dissipels gesê: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, Hy sal julle in die hele waarheid lei.” (Joh 16:13). En die psalmis sê: “U wet is die waarheid.” Deur die Woord en die Gees van God word die groot beginsels van geregtigheid soos in Sy wet vervat, vir die mense oopgestel. En Aangesien die wet van God “...heilig en regverdig en goed is... ” (Rom 7:12), ‘n transkripsie van die Goddelike volmaaktheid, volg dit dat ‘n karakter wat deur gehoorsaamheid aan die wet gevorm word, heilig sal wees. Christus is ‘n volmaakte voorbeeld van so ‘n karakter. Hy het gesê: “Ek [het] die gebooie van my Vader bewaar ... Ek doen altyd wat Hom welgevallig is.” (Joh 15:10;8:29). Die volgelinge van Christus moet soos Hy word; deur die genade van God moet hulle karakters, wat in ooreenstemming met die beginsels van Sy heilige wet is, vorm. Dit is Bybelse heiligmaking. GS 494.3
Hierdie werk kan slegs deur geloof in Christus gedoen word, deur die krag van die inwonende Gees van God. Paulus vermaan die gelowiges: “Werk julle eie verlossing uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae.” (Filip 2:12,13). Die Christen sal die aanmoediging tot sonde ervaar, maar hy sal voortdurend daarteen veg. Dit is hier waar Christus se hulp nodig is. Menslike swakheid word met goddelike krag verenig en geloof roep uit: “Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.” (1 Kor 15:57). GS 495.1
Die Skrif toon duidelik dat die werk van heiligmaking progressief is. Wanneer die sondaar in bekering vrede met God vind deur die bloed van versoening, het die Christelike lewe pas begin. Nou moet hy tot “...volmaaktheid voortgaan.” (Heb 6:1). Hy moet groei tot “...die mate van die volle grootte van Christus.” Paulus sê: “Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is en jaag na die doel om die prys te kry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” (Filip 3:14). En Petrus hou aan ons die stappe waardeur Bybelse heiligmaking bereik moet word voor: “En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug en by die deug die kennis en by die kennis die selfbeheersing en by die selfbeheersing die lydsaamheid en by die lydsaamheid die godsvrug en by die godsvrug die broederliefde en by die broederliefde die naasteliefde ... want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.” (2 Pet 1:5-7,10). GS 495.2
Diegene wat die heiligmaking van die Bybel ervaar, sal ‘n gees van nederigheid openbaar. Soos Moses, het hulle ‘n blik op die ontsagwekkende majesteit van heiligheid gekry en hul eie onwaardigheid in teenstelling met die reinheid en verhewe volmaaktheid van die Oneindige gesien. GS 496.1
Die profeet Daniël was ‘n voorbeeld van ware heiligmaking. Sy lang lewe was ‘n lewe, gevul met edele diens vir sy Meester. Hy was ‘n “geliefde man” in die hemel. (Dan 10:11). In plaas daarvan om te beweer dat hy rein en heilig is, het hierdie geëerde profeet hom met sondige Israel vereenselwig en hy het as volg voor God vir sy volk gepleit: “Want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van U grote barmhartigheid ... Ons het gesondig, ons was goddeloos.” Hy het gepraat van “...my sonde en die sonde van my volk Israel.” En toe die Seun van God later aan hom verskyn het om hom opdrag te gee, het Daniël gesê: “My gesonde kleur het aan my verander en verdwyn en ek het geen krag oorgehou nie.” (Dan 9:18,15,20;10:8). GS 496.2
Toe Job die stem van die Here uit die stormwind gehoor het, het hy uitgeroep: “Daarom herroep ek en het berou in stof en as.” (Job 42:6). Toe Jesaja die heerlikheid van God gesien en die gerubs gehoor sing het “Heilig, heilig, heilig, is die Here van die leërskare,” het hy uitgeroep: “Wee my, ek is verlore!” (Jes 6:3,5). Nadat Paulus in die derde hemel opgeneem is en dinge gehoor het wat onmoontlik was vir ‘n mens om te spreek, het hy homself as “...die geringste van al die heiliges...” (Efe 3:8) beskou. Dit was die geliefde Johannes, die een wat op Jesus se bors geleun en Sy heerlikheid aanskou het, wat soos ‘n dooie aan die voete van die engel neergeval het. (Openb 1:17.) GS 496.3
Daar kan geen selfverheffing wees nie, geen spoggerige aanspraak op vryheid van sonde vanaf die kant van diegene wat in die skaduwee van die kruis van Golgota wandel nie. Hulle voel dat dit hulle sonde was wat die lyding veroorsaak het, wat die hart van die Seun van God gebreek het en hierdie gedagte lei hulle tot self-vernedering. Diegene wat die naaste aan Jesus lewe, sien die boosheid en sondigheid van die mensdom die duidelikste en hulle enigste hoop is op die verdienste van ‘n gekruisigde en opgestane Heiland. GS 497.1
Die heiligmaking wat tans prominent in die Godsdienstige wêreld word, openbaar ‘n gees van selfverheffing en minagting vir die wet van God, wat dit as vreemd aan die godsdiens van die Bybel aandui. Die voorstanders daarvan leer dat heiligmaking die werk van ‘n oomblik is, waardeur hulle deur geloof alleen, tot volmaakte heiligheid kom. “Glo net...” sê hulle “...en die seën is joune.” Hulle meen dat geen verdere pogings aan die kant van die ontvanger nodig is nie. Terselfdertyd ontken hulle die gesag van die wet van God en dring daarop aan dat hulle van die verpligting om die gebooie te onderhou vrygestel is. Maar is dit moontlik vir die mens om heilig te wees en in ooreenstemming met die wil en karakter van God te leef, sonder om ook in ooreenstemming met die beginsels, wat ‘n uitdrukking van Sy karakter en wil is en wat openbaar wat welbehaaglik vir Hom is, te kom? GS 497.2
Die begeerte na ‘n maklike godsdiens wat geen strewe, geen selfverloëning en geen skeiding van die dwaashede van die wêreld verg nie, het die leerstelling van geloof en geloof alleen, ‘n gewilde leerstelling gemaak; maar wat sê die Woord van God? Die apostel Jakobus sê: “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het die werke nie? Die geloof kan hom tog nie red nie? ... Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is? Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie? Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke? ... Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?” (Jak 2:14-24). GS 497.3
Die Woord van God getuig teen hierdie verstrikkende geloofsleer sonder werke. Om die guns van die Hemel op te eis sonder om aan die voorwaardes waaraan barmhartigheid verleen moet word te voldoen, is die geloof nie; dit is aanmatiging, want ware geloof het sy grondslag in die beloftes en bepalings van die Skrif. GS 498.1
Laat niemand hulself mislei met die oortuiging dat hulle heilig kan word terwyl hulle doelbewus een van God se voorskrifte oortree nie. Volharding in ‘n bekende sonde, maak die getuienis van die Gees stil en skei die siel van God. “Want die sonde is wetteloosheid.” (1 Joh 3:4). “Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien nie en Hom nie geken nie.” (1 Joh 3:6). Alhoewel Johannes in sy sendbriewe so volkome by die liefde stilgestaan het, het hy tog nie gehuiwer om die ware karakter van daardie klas wat beweer dat hulle geheilig is terwyl hulle in oortreding van die wet van God lewe, te openbaar nie. “Hy wat sê: Ek ken Hom — en Sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat Sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword.” (1 Joh 2:4,5). Hier is die toets vir elke mens se belydenis. Ons kan nie heiligheid toedig aan iemand, sonder om hom aan God se enigste maatstaf van heiligheid in hemel en op aarde te meet nie. As mense geen gewig aan die sedewet gee nie; as hulle die voorskrifte van God verkleineer en gering ag en hulle een van die minste van hierdie gebooie oortree en mense so leer, sal hulle nie in die hemel geag word nie. En ons kan verseker wees dat hulle aansprake ongegrond is. GS 498.2
En die aanspraak dat hy sonder sonde is, is op sigself ‘n bewys dat hy wat hierdie bewering maak, nog lank nie heilig is nie. Dit is omdat hy geen ware besef het van die oneindige reinheid en heiligheid van God of van wat hulle moet word om in harmonie met Sy karakter te lewe nie; omdat hy geen ware begrip van die reinheid en verhewe lieflikheid van Jesus en die kwaadwilligheid en die boosheid van die sonde het nie, kan die mens homself as heilig beskou. Hoe verder hy van Christus verwyderd is en hoe meer onvoldoende sy opvattings oor die Goddelike karakter en vereistes is, hoe regverdiger skyn hy in sy eie oë te wees. GS 498.3
Die heiligmaking wat in die Skrif uiteengesit word, omvat die hele wese - gees, siel en liggaam. Paulus het vir die Thessalonicense gebid: “Mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” (1 Thes 5:23). En weer skryf hy aan die gelowiges: “Ek vermaan julle dan; broeders, deur die ontferminge van God, wat julle jul liggame stel as ‘n lewendige, heilige en aan God welgevallige offer...” (Rom 12:1). In die dae van eertydse Israel, was elke offergawe wat aan God gebring is, noukeurig ondersoek. As daar enige defek in die dier wat aangebied is ontdek is, is dit geweier; want God het beveel dat die offer sonder gebrek moet wees. Christene word dus gevra om hul liggame aan te bied, as “...'n lewendige, heilige en aan God welgevallige offer...” Om dit te kan doen, moet al hul vermoëns in die beste moontlike toestand bewaar word. Elke gebruik wat liggaamlike of geestelike krag verswak, maak ‘n mens ongeskik vir diens aan sy Skepper. En sal God tevrede wees met enigiets minder as die beste wat ons kan bied? Christus het gesê: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart...” (Deut 6:5). Diegene wat God van harte liefhet, sal daarna streef om aan Hom die beste diens van hul lewe te lewer en hulle sal voortdurend poog om elke mag van hul wese in harmonie met die wette wat hul vermoë sal bevorder om Sy wil te doen, te bring. Hulle sal nie die offer wat hulle aan hul hemelse Vader aanbied, deur die toegewing aan aptyt of passie verswak of besoedel nie. GS 499.1
Petrus sê: “Onthou julle van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel.” (1 Pet 2:11). Elke sondige bevrediging is geneig om die vermoëns te verswak en die geestelike waarnemingsvermoë te verdoof, sodat die Woord of die Gees van God slegs ‘n swak indruk op die hart kan maak. Paulus het aan die Korinthiërs geskryf: “Laat ons van alle besoedeling van die vlees en die gees ons reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” (2 Kor 7:1). By die vrug van die Heilige Gees, “...liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid...” het hy ook “matigheid” geklassifiseer. (Gal 5:22). GS 499.2
Ondanks hierdie geïnspireerde verklarings, hoeveel verklaarde Christene verswak hul vermoë in die strewe na wins, of aanbidding van die mode; hoeveel verlaag hul Goddelike manlikheid deur vraatsug, drink van wyn en verbode plesier! En in plaas van om hulle te bestraf, moedig die kerk die kwaad dikwels aan deur ‘n beroep op die eetlus te doen, om wins of liefde vir plesier te begeer, om die kerk se skatkis, wat as gevolg van gebrek aan liefde vir Christus te swak is om te voorsien, weer te vul. Indien Jesus die kerke van vandag besoek en die feestelike en onheilige verkeer in die naam van godsdiens aanskou, sou Hy nie die ontheiligers verdryf soos Hy die geldwisselaars uit die tempel verban het nie? GS 500.1
Die apostel Jakobus verklaar dat die wysheid van bo, in die eerste plek, rein is. Maar as hy diegene teëkom wat die kosbare naam van Jesus, op lippe wat deur tabak besoedel is neem, diegene wie se asem en persoon deur die slegte reuk daarvan besmet is en wat die lug van die hemel besoedel en mense dwing om die gif daarvan in te asem; indien hy met ‘n gewoonte wat só teen die reinheid van die evangelie was in aanraking gekom het, sou hy dit nie as “...aards, vleeslik, en duiwels...” veroordeel het nie? Slawe van tabak, wat op algehele heiligmaking aanspraak maak, praat van hul hoop op die hemel; maar God se Woord verklaar duidelik dat “...daarin sal nie inkom iets wat verontreinig...” nie. (Openb 21:27) GS 500.2
“Weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” (1 Kor 6:19,20). Diegene wie se liggaam die tempel van die Heilige Gees is, sal nie deur ‘n verderflike gewoonte verslaaf word nie. Sy kragte behoort aan Christus, wat hom met die prys van Sy bloed gekoop het. Sy besittings behoort aan die Here. Hoe kan hy onskuldig wees as hy die kapitaal wat aan hom toevertrou is verkwis? Beweerde Christene bestee jaarliks geweldige bedrae aan nuttelose en verderflike begeerlikhede, terwyl siele vergaan vir die Woord van die lewe. God word van tiendes en offergawes beroof, terwyl hulle meer op die altaar van wellus verbrand as wat hulle gee om verligting aan die armes te bring of om die evangelie te ondersteun. As almal wat voorgee om volgelinge van Christus te wees waarlik geheilig is, sal hulle hul middele, in plaas daarvan dat hulle dit aan onnodige en selfs skadelike begeertes verkwis, in die Here se skatkis stort en Christene sou ‘n voorbeeld in matigheid, selfverloëning en selfopoffering wees. Dan sou hulle die lig van die wêreld wees. GS 500.3
Die wêreld is aan selfbevrediging oorgegee. “Die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe... ” beheer die volksmassa. Maar Christus se volgelinge het ‘n heiliger roeping: “Gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie.” In die lig van God se Woord, is ons geregverdig om te verklaar dat ‘n heiligmaking, wat nie hierdie volslae verloëning van die sondige strewes en bevrediging van die wêreld versaak nie, nie eg is nie. GS 501.1
Aan diegene wat aan die voorwaardes voldoen: “Gaan onder hulle uit en sonder julle af ... en raak nie aan wat onrein is nie... ” is die belofte van God: “Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” (2 Kor 6:17,18). Dit is die voorreg en die plig van elke Christen om ‘n ryk en oorvloedige ervaring in die dinge van God te hê. “Ek is die lig van die wêreld...” het Jesus gesê. “Wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” (Joh 8:12). “Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die móreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.” (Spr 4:18). Elke stap van geloof en gehoorsaamheid bring die siel nader aan die Lig van die wêreld in Wie daar geen duisternis is nie. Die helder strale van die Son van Geregtigheid skyn oor die dienaars van God en hulle moet Sy ligstrale weerspieël. Soos die sterre ons vertel dat daar ‘n groot lig in die hemel is, deur wie se heerlikheid hulle verhelder word, moet Christene dit ook laat manifesteer dat daar ‘n God op die troon van die heelal is wie se karakter lof en navolgenswaardig is. Die genade van Sy Gees en die reinheid en heiligheid van Sy karakter, sal in Sy getuies sigbaar wees. GS 501.2
In sy brief aan die Kolossense, hou Paulus die heerlike seëninge wat aan die kinders van God gegee word voor. Hy sê: “Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van Sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardig voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei en met alle krag bekragtig word volgens die mag van Sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap.” (Kol 1:9-11). GS 502.1
En weer skryf hy van sy begeerte dat die broeders in Éfese, die hoogtepunt van die voorreg van die Christen mag begryp. Hy beskryf aan hulle in die mees omvattende taal van die wonderbaarlike krag en kennis wat hulle as seuns en dogters van die Allerhoogste mag besit. Hy sê dat God “...aan julle mag gee ... om met krag versterk te word deur Sy Gees in die innerlike mens...” om in “...die liefde gewortel en gegrond...” te wees, sodat hulle “...in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref.” Maar die gebed van die apostel bereik die hoogtepunt van hierdie voorreg, wanneer hy bid dat “...julle vervul kan word tot al die volheid van God.” (Efe 3:16-19). GS 502.2
Hier word die hoogtes geopenbaar wat ons deur geloof in die beloftes van ons Hemelse Vader kan bereik, wanneer ons aan Sy vereistes voldoen. Deur die verdienste van Christus, het ons toegang tot die troon van Oneindige Mag. “Hy wat selfs Sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy ook nie saam met Hom ons alles genadiglik skenk nie?” (Rom 8:32). Die Vader het Sy Gees sonder maat aan Sy Seun gegee en ons kan ook in die volheid daarvan deel hê. Jesus sê: “As julle wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid? ... As julle iets in My Naam vra, sal Ek dit doen ... Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” (Luk 11:13; Joh 14:14;16:24). GS 503.1
Alhoewel die Christen se lewe deur nederigheid gekenmerk word, moet dit nie met hartseer en minderwaardigheid gekenmerk word nie. Dit is elkeen se voorreg om so te kan lewe dat God hom sal aanvaar en seën. Dit is nie die wil van ons hemelse Vader dat ons altyd onder veroordeling en in duisternis moet verkeer nie. Dit is geen bewys van ware nederigheid deur met neergeboë hoof en die hart met gedagtes van die eie-ek gevul, rond te gaan nie. Ons kan na Jesus gaan om gereinig te word en sonder skaamte en berou voor die wet staan. “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die gees.” (Rom 8:1). GS 503.2
Deur Jesus word die gevalle seuns van Adam, seuns van God, “...want Hy wat heilig maak sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie.” (Heb 2:11). Die Christen se lewe moet ‘n lewe van geloof, oorwinning en vreugde in God wees. “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.” (1 Joh 5:4). Tereg het God se kneg, Nehemia, gesê: “Want die blydskap in die Here — dit is julle beskutting.” (Neh 8:11). En Paulus sê: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” (Filippus 4:4). “Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” (1 Thes 5:16-18). GS 503.3
Dit is die vrugte van Bybelse bekering en heiligmaking; en dit is omdat die groot beginsels van geregtigheid, soos in die wet van God vervat, so onverskillig deur die Christelike wêreld beskou word, dat hierdie vrugte so selde gesien word. Dit is om hierdie rede dat daar so min van daardie diepgaande, blywende werk van die Gees van God gesien word wat herlewings in die vroeër jare gekenmerk het. GS 504.1
Dit is deur te aanskou dat ons verander word. En namate die heilige voorskrifte waarin God die volmaaktheid en heiligheid van Sy karakter aan die mense geopenbaar het, verwaarloos word en die gemoed van mense tot menslike leerstellings en teorieë aangetrek word, is dit geen wonder dat daar ‘n afname aan vroomheid in die kerk is nie. Die Here het gesê: “My, die Fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.” (Jer 2:13). GS 504.2
“Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose ... nie; maar sy behae is in die wet van die Here en hy oordink Sy wet dag en nag. En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.” (Ps 1:1-3). Dit is slegs wanneer die wet van God tot sy regmatige posisie herstel word, dat daar ‘n herlewing van primitiewe geloof en Godsaligheid onder Sy verklaarde volk kan plaasvind. “So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.” (Jer 6:16). GS 504.3