Loading…
Hoofstuk 32—Strikke van Satan
Die groot stryd tussen Christus en Satan wat al byna sesduisend jaar voortduur, sal binnekort tot ‘n einde kom; en die bose een verdubbel sy pogings om die werk van Christus ten behoewe van die mens te verydel en om siele in sy strikke te vang. Sy doel wat hy wil bereik is om die mense in duisternis en onboetvaardigheid te hou totdat die Redder se bemiddeling beëindig is en daar nie meer ‘n soenoffer vir sonde is nie. GS 547.1
Wanneer daar geen spesiale poging aangewend word om sy mag te weerstaan nie en wanneer daar onverskilligheid in die kerk en in die wêreld heers, is Satan nie bekommerd nie; want hy loop geen gevaar om diegene wat hy na sy wil gevange neem te verloor nie. Maar wanneer die aandag op die ewige dinge gevestig word en siele vra: “Wat moet ek doen om gered te word?” (Hand 16:30), is hy op sy pos en probeer om sy krag teen die krag van Christus te meet en die invloed van die Heilige Gees teë te werk. GS 547.2
Die Skrifte verklaar dat Satan een keer, toe die engele van God by Hom gekom het om hulle voor die Here te stel (Job 1:6), ook onder hulle was, nie om voor die Ewige Koning neer te buig nie, maar om sy eie kwaadwillige voornemens teen die regverdiges te bevorder. Hy is met dieselfde doel teenwoordig wanneer mense saamkom om God te aanbid. Hoewel hy onsigbaar is, werk hy met alle ywer om die verstand van die aanbidders te beheer. Soos ‘n vaardige generaal, beplan hy sy strategie vooraf. Wanneer hy sien dat die boodskapper van God die Skrifte ondersoek, neem hy kennis van die onderwerp wat aan die mense voorgehou gaan word. Dan gebruik hy al sy sluheid en slinksheid om die omstandige te beheer, sodat die boodskap moontlik nie diegene wat hy op daardie spesifieke punt mislei, bereik nie. Die persoon wat die waarskuwing die meeste nodig het, sal aangehits word om sy aandag aan die een of ander besigheidstransaksie wat sy aandag vereis te bestee, of op enige ander manier verhinder word om die woorde wat vir hom ‘n reuk tot die lewe kan wees te hoor. GS 547.3
Dan weer sien Satan knegte van die Here belas as gevolg van die geestelike duisternis wat die mense omhul. Hy hoor hulle ernstige gebede vir Goddelike genade om die hipnose van onverskilligheid, sorgloosheid en lusteloosheid te verbreek. Dan beoefen hy sy lis met hernieude ywer. Hy verlei mense om te swig voor eetlus of na ‘n ander vorm van selfbevrediging en verdoof sodoende hulle sinne sodat hulle nie die dinge wat hulle die nodigste het om te leer, kan hoor nie. GS 548.1
Satan weet goed dat almal wat hy kan lei om gebed en ondersoek van die Skrif te verwaarloos, voor sy aanvalle sal swig. Daarom bedink hy allerhande moontlike werkinge om die verstand in beslag te neem. Daar was nog altyd ‘n klas wat ‘n skyn van godsdiens bely en wat, in plaas van die waarheid na te jaag, dit hulle geloof maak om een of ander fout van karakter of geloof te vind by diegene met wie hulle nie saamstem nie. Sulke mense is Satan se handlangers. Daar is baie wat die broeders beskuldig en hulle is altyd bedrywig wanneer God werk en wanneer Sy dienaars eer aan Hom betoon. Hulle sal aan die woorde en dade van diegene wat die waarheid liefhet en gehoorsaam, ‘n valse uitleg gee. Hulle sal die ernstigste, ywerigste en mees selfverloënende diensknegte van Christus as mislei of as bedrieërs voorhou. Dit is hulle werk om die motiewe agter elke opregte en edele daad as vals voor te stel, om insinuasies te versprei en agterdog by die onervares te wek. Op elke denkbare manier sal hulle probeer om dit wat rein en regverdig is, as vuil en bedrieglik te beskou. GS 548.2
Maar niemand hoef aangaande hulle mislei te word nie. Daar kan maklik gesien word wie se kinders hulle is, wie se voorbeeld hulle volg en wie se werk hulle doen. “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.” (Matt 7:16). Hulle werk stem ooreen met die van Satan, die giftige lasteraar, “...die aanklaer van ons broeders.” (Openb 12:10). GS 548.3
Die groot bedrieër het baie werkkragte wat gereed is om enige en elke soort dwaalleer aan te bied om siele te verstrik — ketterye wat volgens verskillende voorkeure en vermoëns van diegene wat hy wil vernietig, voorberei is. Dit is sy plan om onopregte en onwedergebore elemente in die kerk in te bring, wat twyfel en ongeloof sal aanmoedig en almal wat begeer om die werk van God te sien vorder en dit te bevorder, sal belemmer. Baie wat nie werklike vertroue in God of Sy Woord het nie, stem saam met sommige van die beginsels van waarheid en gaan deur as Christene en so word hulle bemagtig om hul dwalinge as skriftuurlike leerstellings aan te bied. GS 549.1
Die stelling dat dit wat ‘n mens glo geen gevolge het nie, is een van Satan se suksesvolste misleidings. Hy weet dat die waarheid wat in liefde ontvang is, die siel van die ontvanger heilig; daarom is hy voortdurend besig om dit met valse teorieë, versinsels, of ‘n ander evangelie te vervang. Van die begin af het die diensknegte van God teen valse leraars gestry, nie alleen omdat hulle bose mense was nie, maar ook omdat hulle valshede wat noodlottig vir die siel is verkondig het. Elia, Jeremia en Paulus het diegene wat mense van die Woord van God afgewend het, onwrikbaar en onbevrees teëgestaan. Die vryheid wat die ware geloof as onbelangrik beskou, is nie gunstig deur die heilige verdedigers van die waarheid aanvaar nie. GS 549.2
Die vae en fantasie-verklarings van die Skrif en die vele teenstrydige teorieë aangaande godsdienstige geloof wat in die Christen-wêreld aangetref word, is die werk van ons groot teëstander om die verstand van mense te verwar sodat hulle nie die waarheid kan onderskei nie. En die onenigheid en verdeeldheid tussen die kerke van die Christendom, is grootliks te danke aan die heersende gebruik om die Skrif te verdraai om ‘n gunsteling teorie te ondersteun. In plaas daarvan om God se Woord noukeurig met nederigheid van hart te bestudeer, om kennis van Sy wil op te doen, streef baie mense om iets vreemds of oorspronkliks te ontdek. GS 549.3
Met die doel om verkeerde leerstellings of onchristelike praktyke te handhaaf, sal sommige die teksgedeeltes van die Skrif wat uit konteks geneem is gebruik en miskien die helfte van ‘n enkele vers aanhaal, om te bewys dat dit die punt is, wanneer die oorblywende gedeelte die teenoorgestelde beteken. Met die sluheid van die slang versteek hulle hulself agter uitsprake wat uit verband geneem is, om hul vleeslike begeertes te pas. So verdraai baie mense die Woord van God. Ander, wat ‘n sterk aktiewe verbeelding het, gryp die figure en simbole van die Heilige Skrif aan en vertolk dit volgens hul verbeelding, met min aandag aan die getuienis van die Skrif as sy eie tolk en dan stel hulle hul vaaghede voor as die leer van die Bybel. GS 550.1
Wanneer die studie van die Skrif sonder ‘n biddende, nederige, leerbare gees aangepak word, sal die duidelikste en eenvoudigste, sowel as die moeilikste gedeeltes, van hul ware betekenis ontneem word. Die pouslike leiers kies die gedeeltes uit die Skrif wat hul doel die beste bevredig, vertolk dit om hulleself te pas en lê dit dan aan die volk voor, terwyl hulle hul van die voorreg ontneem om die Bybel te bestudeer en die heilige waarhede daarvan vir hulself te verstaan. Die hele Bybel moet aan die mense gegee word net soos dit lees. Dit sou beter vir hulle beter wees om geen Bybelse onderrig te ontvang nie, as om in so ‘n wanvoorstelling daarvan onderrig te word. GS 550.2
Die Bybel is ontwerp om as riglyn vir almal wat die wil van hul Skepper wil leer ken, te dien. God het aan die mens die seker woord van profesie gegee; engele, en Christus self het gekom om aan Daniël en Johannes die dinge te openbaar wat binnekort moet gebeur. Daardie belangrike aangeleenthede aangaande ons redding, is nie in verborgenheid gehul nie. Hulle is nie op ‘n wyse geopenbaar wat ‘n eerlike soeker na waarheid sal verwar of mislei nie. Die Here het aan die profeet Habakuk gesê: “Skryf die gesig op en graveer dit op tafels, sodat hulle dit in die verbygaan kan lees.” (Hab 2:2). Die Woord van God is duidelik vir almal wat dit met ‘n biddende hart bestudeer. Elke opregte siel sal na die lig van die waarheid kom. “Die lig is vir die regverdige gesaai... ” (Ps 97:11) en geen kerk kan in heiligheid vorder nie, tensy sy lidmate ernstig na die waarheid soek soos na verborge skatte. GS 550.3
Deur die uitroep, “onbekrompenheid”, word mense vir die werkinge van hulle teëstander verblind, terwyl hy voortdurend besig is om geleidelik sy doel te bereik. Namate hy daarin slaag om die Bybel met menslike bespiegelinge te verdring, word die wet van God tersyde gestel en verkeer die kerke in slawerny, terwyl hulle daarop aanspraak maak dat hulle vry is. GS 551.1
Vir baie het wetenskaplike navorsing ‘n vloek geword. God het toegelaat dat ‘n vloed van lig oor die wêreld uitgestort word in wetenskaplike ontdekkings en kuns; maar selfs die grootste denkers, as hulle nie deur die Woord van God in hul navorsing gelei word nie, raak die pad byster in hul pogings om die verhouding tussen wetenskap en openbaring te ondersoek. GS 551.2
Menslike kennis van sowel materiële as geestelike dinge, is gedeeltelik en onvolmaak; daarom is baie nie in staat om hul siening van die wetenskap met die uitsprake van die Skrif te laat ooreenstem nie. Baie aanvaar blote teorieë en bespiegelings as wetenskaplike feite en hulle meen dat die Woord van God aan die leerstellings van “...die valslik sogenaamde kennis...” (1 Tim 6:20) getoets moet word. Die Skepper en Sy werke gaan hul begrip te bowe; en omdat hulle dit nie deur natuurwette kan verklaar nie, word die geskiedenis van die Bybel as onbetroubaar beskou. Diegene wat aan die betroubaarheid van die verslae van die Ouen Nuwe Testament twyfel, gaan dikwels ‘n stap verder en hulle betwyfel die bestaan van God en skryf Goddelike krag aan die natuur toe. Omdat hulle hul anker losgelaat het, word hulle gelaat om op die rotse van ontrou verpletter te word. GS 551.3
So dwaal baie van die geloof af en word hulle deur die duiwel verlei. Mense het gepoog om slimmer as hul Skepper te wees; menslike filosofie het gepoog om verborgenhede wat nooit geopenbaar sal word nie, na te speur en te verklaar. As mense maar net ondersoek wil instel en verstaan wat God wel van Homself en sy voornemens bekend gemaak het, sou hulle so ‘n siening van die heerlikheid, majesteit en mag van Jehova kry dat hulle hul eie nietigheid sou besef en tevrede sou wees met wat aan hulself en hul kinders geopenbaar is. GS 552.1
Dit is ‘n meesterstuk van Satan se misleidings om mense aan te spoor om na te speur en aannames te maak aangaande dit wat God nie bekend gemaak het nie en wat nie Sy voorneme was dat ons dit sal verstaan nie. Dit is op hierdie wyse wat Lucifer sy posisie in die hemel verloor het. Hy het ontevrede geraak omdat al die verborgenhede van God se voornemens nie aan hom toevertrou is nie en hy het die dinge wat in verband met sy eie werk geopenbaar is en die hoë posisie wat hy beklee het, heeltemal verontagsaam. Deur dieselfde ontevredenheid by die engele onder sy bevel te wek, het hy hulle val veroorsaak. Tans poog hy om mense met dieselfde gees te besiel en hulle te lei om die regstreekse opdragte van God te verontagsaam. GS 552.2
Diegene wat onwillig is om die duidelike, snydende waarhede van die Bybel te aanvaar, is voortdurend op soek na gunstige fabels wat die gewete sal stil. Hoe minder geestelik, selfverloënend en nederig die leerstellings is, hoe gunstiger word hulle aanvaar. Hierdie mense verlaag hulle intellektuele krag om hul vleeslike begeertes te dien. Te slim in hul eie verwaandheid om die Skrif met ootmoed van die siel en ernstige gebed vir Goddelike leiding te deursoek, het hulle geen beskerming teen bedrog nie. Satan is gereed om in die begeertes van die hart te voorsien en hy sal sy bedrieglike misleidings in die plek van die waarheid aan hulle afsmeer. Dit was op hierdie wyse dat die pousdom sy mag oor die verstand van die mense verkry het; en deur die waarheid te verwerp omdat dit ‘n kruis behels, volg Protestante dieselfde weg. Almal wat nalaat om die Woord van God terwille van gemak en beleid te bestudeer, sodat hulle nie in stryd met die wêreld verkeer nie, sal oorgelaat word om verdoemende dwaalleringe vir godsdienstige waarheid te ontvang. Alle denkbare vorms van dwaling sal deur diegene wat die waarheid opsetlik verwerp, aanvaar word. Hy wat met afgryse na een misleiding kyk, sal geredelik ‘n ander aanvaar. Die apostel Paulus praat van diegene wat nie die liefde vir die waarheid ontvang het om gered te word nie en verklaar: “Daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” (2 Thes 2:10-12). Met so ‘n waarskuwing voor ons, is dit noodsaaklik om op ons hoede te wees aangaande leerstellings wat ons aanvaar. GS 552.3
Onder die suksesvolste werkinge van die groot bedrieër, is die misleidende leerstellings en leuenagtige wonders van spiritisme. Vermom as ‘n engel van lig, sprei hy sy nette oop waar dit die minste verwag word. As mense maar die Boek van God biddend wou bestudeer om dit te verstaan, sou hulle nie in die duisternis gelaat word om valse leerstellings te ontvang nie. Maar omdat hulle die waarheid verwerp, val hulle prooi vir misleiding. GS 553.1
Nog ‘n gevaarlike dwaling is die leerstelling wat die Godheid van Christus ontken en beweer dat Hy nie voor Sy koms na hierdie wêreld bestaan het nie. Hierdie teorie word gunstig deur ‘n groot groep aanvaar wat beweer dat hulle die Bybel glo; tog weerspreek dit regstreeks die duidelikste uitsprake van ons Verlosser aangaande Sy verhouding met die Vader, Sy Goddelike karakter en Sy voorbestaan. So ‘n leerstelling kan nie oorweeg word sonder om in die mees ongeregverdigde stryd met die Skrif te verkeer nie. Dit verlaag nie net die mens se opvattings aangaande die verlossingswerk nie, maar ondermyn die geloof in die Bybel as ‘n openbaring van God. Terwyl dit toenemende gevaar inhou, word dit ook moeiliker om te weerlê. As mense die getuienis van die geïnspireerde Skrif aangaande die Godheid van Christus verwerp, is dit tevergeefs om met hulle oor die saak te redeneer, want geen argument, hoe afdoende ook al, sal hulle oortuig nie. “Die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” (1 Kor 2:14). Niemand wat hierdie dwaling aanhang, kan ‘n ware opvatting van die karakter of die sending van Christus, of van die groot plan van God vir die verlossing van die mens hê nie. GS 553.2
Nog ‘n subtiele en onheilige dwaling is die vinnigtoenemende oortuiging dat Satan nie as persoonlike wese bestaan nie; dat die naam bloot in die Skrif gebruik word om mense se bose gedagtes en begeertes voor te stel. GS 554.1
Die lering wat so wyd vanaf gewilde kansels verkondig word, naamlik dat die tweede koms van Christus, Sy koms na elke individu by sy dood is, is ‘n werktuig om mense se aandag van Sy persoonlike koms op die wolke van die hemel weg te lei. Satan verklaar al jare lank: “Kyk, Hy is in die binnekamer...” en baie siele het verlore gegaan deur hierdie misleiding te aanvaar. (Matt 24:23-26). GS 554.2
Wêreldse wysheid leer ook dat gebed nie nodig is nie. Wetenskaplikes beweer dat daar geen werklike antwoord op gebed kan wees nie; dat dit ‘n oortreding van die wet sou wees, ‘n wonderwerk en dat wonderwerke nie bestaan nie. Die heelal, sê hulle, word deur vaste wette beheer en selfs God doen niks in stryd met hierdie wette nie. Hulle stel God dus voor as iemand wat deur Sy eie wette gebind is — asof die werking van Goddelike wette, Goddelike vryheid kan uitsluit. Sulke leringe is in stryd met die getuienis van die Skrif. Het Christus en Sy apostels nie wonderwerke verrig nie? Dieselfde ontfermende Verlosser leef vandag en Hy is net so gewillig om die gebed van geloof te verhoor soos toe Hy sigbaar tussen mense gewandel het. Die natuurlike werk saam met die bonatuurlike. Dit is deel van God se plan om aan ons, in antwoord op gebed in geloof, daardie dinge te gee wat Hy nie sou gegee het as ons nie daarvoor gevra het nie. GS 554.3
Talryke foutiewe leerstellings en fabelagtige idees word in die kerke van die Christendom aangetref. Dit is onmoontlik om die skade te bereken wat ontstaan as een van die bakens wat deur die Woord van God vasgestel is, verwyder word. Min van hulle wat dit waag, hou by die verwerping van ‘n enkele waarheid op. Die meerderheid gaan voort om die beginsels van die waarheid een na die ander ter syde te stel, totdat hulle werklik ongelowig word. GS 555.1
Die dwalings van gewilde teologie het menige siel wat andersins in die Skrif sou kon glo, tot skeptisisme gedryf. Dit is vir hom onmoontlik om leerstellings te aanvaar wat sy sin vir regverdigheid, barmhartigheid en welwillendheid omvergooi; en omdat dit as Bybelse leerstellings voorgehou word, weier hy om dit as die Woord van God te aanvaar. GS 555.2
En dit is die doel wat Satan wil bereik. Daar is niks wat hy meer begeer as om vertroue in God en Sy Woord te vernietig nie. Satan staan aan die hoof van ‘n groot leër van twyfelaars en hy werk met alle mag om siele tot sy geledere te mislei. Dit word die mode om te twyfel. Daar is ‘n groot groep wat die Woord van God met dieselfde wantroue bejeën as wat hulle die Outeur daarvan bejeën, omdat dit sondes bestraf en veroordeel. Diegene wat onwillig is om aan die vereistes van die Woord te voldoen, probeer om die gesag daarvan te ondermyn. GS 555.3
Hulle lees die Bybel, of luister na die leringe soos dit vanaf die kansel aangebied word, bloot om fout met die Skrif of die preek te vind. Menige word ongelowig deur hulself vir hul pligsversuim te regverdig of te verskoon. Ander neem skeptiese beginsels uit trots en traagheid aan. Omdat hulle te gemaklik is om hulself te onderskei deur enigiets van waarde wat moeite en selfverloëning verg, te bereik, streef hulle daarna om ‘n reputasie vir voortreflike wysheid te verwerf deur die Bybel te kritiseer. Daar is baie wat magteloos is om die verganklike verstand, onverlig deur Goddelike wysheid, te verstaan; en skep hulle ‘n geleentheid om te kritiseer. Daar is baie wat blykbaar voel dat dit ‘n deug is om aan die kant van ongeloof, skeptisisme en ontrouheid te staan. Maar agter die skyn van openhartigheid sal gevind word dat sulke persone deur selfvertroue en trots geaktiveer word. Baie skep behae daarin om iets in die Skrif te ontdek wat die verstand van ander te bowe gaan. Sommige kritiseer aanvanklik en redeneer aan die verkeerde kant, bloot uit strydgierigheid. Hulle besef nie dat hulle hulself daardeur in die strikke van die voëlvanger verstrengel nie. Maar nadat hulle hul ongeloof openlik uitgespreek het, voel hulle dat hulle hul posisie moet handhaaf. Sodoende verenig hulle met die goddelose en sluit hulle die poorte van die paradys vir hulself. GS 555.4
God het voldoende bewys vir die Goddelike karakter van Sy Woord gelewer. Die groot waarhede aangaande ons verlossing word duidelik uiteengesit. Met behulp van die Heilige Gees wat aan almal wat in opregtheid daarna soek beloof word, kan elkeen hierdie waarhede self verstaan. God het aan die mens ‘n sterk fondament gegee waarop hulle hul geloof kan berus. GS 556.1
Tog is die verganklike verstand van die mens nie in staat om die planne en doel van die Oneindige ten volle te begryp nie. Ons kan nooit die wysheid van God deurgrond nie. Ons moenie op aanmatigende wyse probeer om die gordyn waaragter God Sy majesteit bedek weg te trek nie. Die apostel roep uit: “O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele en onnaspeurlik Sy weë!” (Rom 11:33). Ons kan genoeg van Sy handelinge met ons begryp en die motiewe wat Hom beweeg, sodat ons Sy grenslose liefde en barmhartigheid, met ewige krag verenig, kan sien. Ons hemelse Vader beveel alles in wysheid en geregtigheid en ons moenie ontevrede en wantrouig wees nie, maar in eerbiedige onderdanigheid neerbuig. Hy sal soveel van Sy voornemens aan ons openbaar wat goed vir ons is om te weet en vir die res moet ons die Hand wat almagtig is en die Hart vol liefde vertrou. GS 556.2
Terwyl God voldoende bewyse vir geloof gelewer het, sal Hy nooit enige verskoning vir ongeloof verwyder nie. Almal wat soek na hakies om hul twyfel aan op te hang, sal dit vind. En diegene wat weier om die Woord van God te aanvaar en te gehoorsaam totdat elke beswaar uit die weg geruim is en daar geen grond vir twyfel meer is nie, sal nooit tot die lig kom nie. GS 557.1
Wantroue in God is die natuurlike uitvloeisel van die onhernieude hart wat in vyandskap met Hom verkeer. Maar geloof word deur die Heilige Gees ingegee en dit sal, in verhouding tot die mate waarmee dit gekoester word, toeneem. Geen mens kan in sy geloof versterk word sonder ‘n vasberade poging nie. Ongeloof versterk namate dit aangemoedig word; en as mense, in plaas van by die bewyse wat God gelewer het om hul geloof te handhaaf stilstaan, hulself toelaat om te bevraagteken en fout te vind, sal hul twyfel voortdurend meer bevestig word. GS 557.2
Maar diegene wat aan God se beloftes twyfel en die versekering van Sy genade wantrou, doen Hom oneer aan; en hul invloed, in plaas daarvan om ander na Christus te trek, sal geneig wees om hulle van Hom af te weer. Hulle is onvrugbare bome wat hulle donker takke wyd en syd uitsprei, die sonlig van ander plante wegkeer en in die koue skaduwee laat verwelk en doodgaan. Die werk van sulke persone sal ‘n ewige getuienis teen hulle wees. Hulle saai saad van twyfel en skeptisisme wat ‘n onfeilbare oes sal oplewer. GS 557.3
Daar is net een weg vir diegene wat eerlik begeer om van alle twyfel bevry te word. In plaas daarvan om te twyfel oor wat hulle nie verstaan nie, moet hulle let op die lig wat reeds op hulle skyn en hulle sal groter lig ontvang. Laat hulle elke plig nakom wat aan hulle begrip duidelik gemaak is en hulle sal in staat gestel word om die pligte waaroor hulle tans twyfel te verstaan en uit te voer. GS 557.4
Satan kan ‘n namaaksel wat so baie soos die waarheid lyk voorlê, dat dit diegene wat bereid is om mislei te word, wat die selfverloëning en opoffering wat deur die waarheid geëis word wil vermy, te mislei; maar dit is onmoontlik vir hom om een siel wat eerlik, teen elke prys, begerig is om die waarheid te ken, in sy mag te hou. Christus is die Waarheid en die Lig en “...die waaragtige Lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.” (Joh 1:9). Die Gees van waarheid is gestuur om mense in die hele waarheid te lei. En op gesag van die Seun van God word verklaar: “Soek en julle sal vind ... As iemand gewillig is om Sy wil te doen, sal hy omtrent die leer weet of dit uit God is en of Ek uit Myself spreek.” (Mat 7:7; Joh 7:17). GS 558.1
Die volgelinge van Christus weet min van die komplotte wat Satan en sy leërskare teen hulle smee. Maar Hy wat in die hemel is, sal al hierdie werkkragte oorheers om Sy verhewe planne te bewerkstellig. Die Here laat toe dat Sy volk aan die vuurproef van versoeking onderwerp word, nie omdat Hy behae skep in hul ellende en verdrukking nie, maar omdat hierdie proses noodsaaklik vir hul finale oorwinning is. Hy kan nie, konsekwent met Sy eie heerlikheid, hulle teen versoeking beskerm nie; want die doel van beproewing is juis om hulle voor te berei om die verloklikheid van die bose te weerstaan. GS 558.2
Geen bose mense of duiwels kan die werk van God belemmer of Sy teenwoordigheid van Sy volk uitsluit nie, as hulle met onderworpe en verslae harte hulle sondes bely en versaak en in geloof Sy beloftes opeis nie. Elke versoeking, elke teenstrydige invloed, openlik of heimlik, kan met sukses weerstaan word, “...nie deur krag of deur geweld nie, maar deur My Gees, sê die Here van die leërskare.” (Sag 4:6). GS 558.3
“Want die oë van die Here is op die regverdiges en Sy ore tot hulle gebed... En wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van die goeie?” (1 Pet 3:12,13). Toe Bíleam, deur die belofte van ‘n ryk beloning verlei is om towery teen Israel te beoefen en deur offers aan die Here gepoog het om ‘n vloek oor Sy volk uit te spreek, het die Gees van God hom die kwaad wat hy graag wou uitspreek verbied en Bíleam moes noodgedwonge uitroep: “Hoe sal ek vloek wie God nie vloek nie? En hoe sal ek verwens vir wie die Here nie verwens nie?” ... “Laat my sterwe die dood van die opregtes, en laat my einde soos syne wees!” Nadat hy weer ‘n offer gebring het, het die goddelose profeet verklaar: “Kyk, ek het ontvang om te seën; en het Hy geseën, dan kan ek dit nie keer nie. ‘n Mens aanskou geen ongeregtigheid in Jakob en sien geen onheil in Israel nie. Die Here sy God is met hom en die gejubel tot eer van die Koning is by hom ... Want daar is geen towery teen Jakob of waarsêery teen Israel nie. Nou sal van Jakob en van Israel gesê word wat God gedoen het.” Nog ‘n derde keer is altare opgerig en weer het Bíleam onderneem om ‘n vloek uit te spreek. Maar uit die onwillige lippe van die profeet het die Gees van God voorspoed vir Sy uitverkorenes uitgespreek en die dwaasheid en kwaadwilligheid van hulle vyande bestraf. “Geseënd is hulle wat jou seën en vervloek is hulle wat jou vervloek.” (Num 23:8,10,20,21,23;24:9). GS 558.4
Die volk van Israel was in hierdie tyd lojaal aan God; en solank as wat hulle Sy wet gehoorsaam het, kon geen mag op aarde of die hel teen hulle seëvier nie. Maar die vloek wat Bíleam nie toegelaat was om teen die volk van God uit te spreek nie, het hy uiteindelik verkry deur hulle tot sonde te verlei. Toe hulle die gebooie van God oortree het, het hulle hulself van Hom geskei en hulle is gelaat om die mag van die verwoester te ervaar. GS 559.1
Satan is deeglik daarvan bewus dat die swakste siel wat in Christus bly, meer as opgewasse is teen die leërskare van die duisternis en dat, indien hy homself openlik sou openbaar, hy weerstaan sal word. Daarom wil hy die soldate van die kruis van hul sterk Vesting wegtrek, terwyl hy met sy magte gereed in ‘n hinderlaag lê om almal wat hulle op sy terrein bevind te vernietig. Slegs in nederige vertroue in God en gehoorsaamheid aan al Sy gebooie, kan ons veilig wees. GS 559.2