Loading...

Loading

Loading
(You are in the browser Reader mode)

Hoofstuk 49—Josua se Laaste Woorde

(Hierdie hoofstuk berus op Josua 23 en 24) PeP 500.1

Toe die oorloë en verowering verby was, het Josua onttrek na ‘n rustige aftrede by Timnat-Sera. ““n Geruime tyd daarna, nadat die Here aan Israel rus gegee het van al sy vyande rondom, het Josua die hele Israel laat roep, sy oudstes en sy hoofde en sy regters en sy opsigters.” PeP 500.2

Etlike jare het verloop sedert die volk in hulle erfnis gevestig is en daar kon reeds opgemerk word dat dieselfde booshede van gister en eergister wat die oordele oor Israel gebring het, begin kop uitsteek. En toe Josua begin om die swakhede van die ouderdom te ervaar en besef dat sy werk binnekort ten einde moes loop, was hy gevul met angstigheid oor die toekoms van sy volk. Dit was met meer as vaderlike belangstelling dat hy hulle toegespreek het, terwyl hulle weereens rondom die ou leier geskaar was. “Julle het self gesien...” het hy gesê, “...alles wat die Here julle God aan al hierdie nasies voor julle uit gedoen het; want die Here julle God, Hy het vir julle gestry.” Hoewel die Kanaaniete onderwerp was, het hulle steeds ‘n aansienlike deel van die land wat aan Israel belowe was bewoon en Josua het sy volk vermaan om nie te gerus te wees en te vergeet dat die Here hulle beveel het om daardie heidense volke heeltemal te verdryf nie. PeP 500.3

Die volk was oor die algemeen traag om die werk van die heidene uit te dryf, te voltooi. Die stamme het na hulle onderskeie erfdele versprei, die leër is ontbind en hulle het dit as ‘n moeilike en twyfelagtige onderneming beskou om die stryd voort te sit. Maar Josua het gesê: “Die Here julle God self sal hulle voor julle verjaag en hulle voor julle uit verdrywe, sodat julle hulle land in besit kan neem soos die Here julle God julle beloof het. Maar julle moet daar baie vas by staan om sorgvuldig te doen alles wat geskrywe staan in die wetboek van Moses, dat julle daar nie regs of links van afwyk nie.” PeP 500.4

Josua het ‘n beroep op die volk gedoen om self te getuig dat, namate hulle die voorwaardes nagekom het, God Sy beloftes aan hulle vervul het. Hy het gesê: “Julle moet erken met jul hele PeP 500.5

hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die Here julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.” Hy het aan hulle verklaar dat soos die Here Sy beloftes vervul het, so sal Hy ook Sy dreigemente vervul. “Soos al die goeie woorde oor julle gekom het wat die Here julle God oor julle gespreek het, so sal die Here oor julle al die onheilswoorde laat kom ... As julle die verbond van die Here julle God ... oortree ... dan sal die toorn van die Here teen julle ontvlam en julle sal gou omkom uit die goeie land wat Hy aan julle gegee het.” PeP 501.1

Die Satan verlei baie met die aanvaarbare teorie dat die liefde van God vir Sy volk so groot is dat Hy die sonde in hulle sal oorsien; hy beweer dat terwyl die dreigemente van God ‘n sekere doel in Sy morele regering moet dien, hulle nooit letterlik vervul sal word nie. Maar in al Sy handelinge met Sy skepsels, het God die beginsels van regverdigheid gehandhaaf deur die ware aard van sonde openbaar te maak, deur te demonstreer dat ellende en die dood die gewisse uiteinde daarvan is. Daar was nooit onvoorwaardelike vergifnis van sonde nie en daar sal ook nooit wees nie. So ‘n kwytskelding sou bewys dat die beginsels van geregtigheid, wat die grondslag van die regering van God is, afgeskaf is. Dit sou die ongevalle heelal met ontsteltenis vul. God het getrou die gevolge van sonde uitgewys en indien daardie waarskuwings nie eg was nie, hoe kan ons seker wees dat Sy beloftes vervul sal word? Daardie sogenaamde welwillendheid wat regverdigheid opsyskuif, is nie welwillendheid nie, maar swakheid. PeP 501.2

God is die Lewegewer. Van die begin af is al Sy wette tot lewe georden. Maar die sonde het inbreuk gemaak op die orde wat God ingestel het en onmin het gevolg. Solank as wat sonde bestaan, is lyding en die dood onvermydelik. Dit is net omdat die Verlosser die vloek van die sonde namens ons op Hom geneem het, dat daar vir die mens hoop is om in sy eie persoon die ernstige gevolge te ontkom. PeP 501.3

Voordat Josua gesterf het, het die hoofde en verteenwoordigers van die stamme, gehoorsaam aan sy oproep, weer te Sigem vergader. Geen ander plek in die land was so ryk aan heilige herinneringe, wat hulle gedagtes na God se verbond met Abraham en Jakob teruggevoer het en hulle ook PeP 501.4

aan hulle eie plegtige beloftes tydens hulle intog in Kanaan herinner het nie. Hier was die berge Ebal en Gerisim die stille getuies van daardie beloftes wat hulle nou, in die teenwoordigheid van hulle sterwende leier, kom hernu het. Aan alle kante was bewyse van wat God vir hulle vermag het; hoe Hy aan hulle ‘n land gegee het waarvoor hulle nie gewerk het nie, stede wat hulle nie gebou het nie, wingerde en olyfboorde wat hulle nie geplant het nie. Josua het weereens die geskiedenis van Israel hersien en hulle van die wonderwerke van God vertel, sodat almal bewus kon wees van Sy liefde en genade en Hom “...in opregtheid en waarheid...” kon dien. PeP 502.1

Op bevel van Josua is die verbondsark van Silo af daarheen gebring. Dit was ‘n baie plegtige geleentheid en hierdie simbool van die teenwoordigheid van God sou die indruk verdiep wat hy graag op die volk wou maak. Nadat hy oor die goedheid van God teenoor Israel gepraat het, het hy in die Naam van Jehova ‘n beroep op hulle gedoen om te kies wie hulle sou dien. Die aanbidding van afgode is steeds tot ‘n mate in die geheim beoefen en Josua het nou gepoog om hulle tot ‘n besluit te bring wat sonde uit Israel sou verban. Hy het gesê: “As dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien.” Josua het verlang om hulle te lei om God nie uit dwang nie, maar uit vrye wil te dien. Liefde vir God is die ware grondslag van godsdiens. Om Hom te dien bloot om beloon te word of om straf te vermy, sal niks baat nie. Openlike afvalligheid sal nie meer aanstootlik vir God wees as skynheiligheid of blote vormgodsdiens nie. PeP 502.2

Die bejaarde leier het die volk aangemoedig om in alle opsigte te oorweeg wat hy voor hulle gestel het en te besluit of hulle werklik begeer om te lewe soos die vervalle, afgodiese nasies om hulle. As dit vir hulle verkeerd voorgekom het om Jehova, die Bron van krag, die Fontein van alle seëninge, te dien, moes hulle daardie dag kies wie hulle wou aanbid-“...die gode wat julle vaders gedien het...” onder wie Abraham uitgeroep is, of “...die gode van die Amoriete in wie se land julle woon.” Hierdie laaste woorde was ‘n skerp bestraffing vir Israel. Die gode van die Amoriete was nie in staat om hulle aanbidders te beskerm nie. Weens hulle gruwelike en verlagende sondes, is daardie goddelose nasie uitgedelg en die goeie grond wat hulle voorheen besit het, was in die besit van God se volk. Hoe PeP 502.3

dwaas van Israel om die gode, die aanbidding waarvan die Amoriete uitgedelg is te kies! “Ek en my huis...” het Josua gesê, “...ons sal die Here dien.” Dieselfde heilige ywer wat die leier se hart besiel het, is aan die volk oorgedra. Op sy oproep het hulle sonder om te aarsel geantwoord: “Dit is ver van ons, dat ons die Here sou verlaat om ander gode te dien.” PeP 503.1

“Julle kan die Here nie dien nie...” het Josua gesê, “...want Hy is ‘n heilige God, ... Hy sal julle oortreding en julle sondes nie vergewe nie.” Voordat daar enige blywende vernuwing onder die volk kon wees, moes hulle gelei word om hulle uiterste onvermoë in hulleself om aan God gehoorsaam te wees, besef. Hulle het Sy wet oortree en dit het hulle as oortreders veroordeel en geen uitweg voorsien nie. Terwyl hulle op hulle eie krag en geregtigheid staatgemaak het, was dit onmoontlik vir hulle om vergifnis van hulle sondes te verkry; hulle kon die eise van God se volmaakte wet nie nakom nie en dit was tevergeefs dat hulle belowe het om God te dien. Dit was alleen deur die geloof van Jesus Christus dat hulle vergifnis van sonde kon verkry en krag kon ontvang om God se wet te gehoorsaam. Hulle moes ophou om op hulle eie insigte om saligheid te verkry, staat te maak; hulle moes geheel en al op die deugde van die beloofde Verlosser vertrou as hulle vir God aanneemlik wil wees. PeP 503.2

Josua het sy toehoorders probeer oorreed om hulle woorde goed te oorweeg en om hulle te weerhou van geloftes wat hulle onvoorbereid was om aan te voldoen. Met diepe erns het hulle die verklaring herhaal: “Nee, maar ons sal die Here dien.” Plegtig het hulle ingestem om teen hulleself te getuig dat hulle Jehova gekies het en weereens die belofte van trou bevestig: “Ons sal die Here onse God dien en na Sy stem luister.”, “En op dié dag het Josua met die volk ‘n verbond gesluit en vir hulle ‘n insetting en ‘n reg vasgestel in Sigem.” Nadat hy ‘n verslag van hierdie plegtige ooreenkoms neergeskryf het, het hy dit saam met die wetboek aan die kant van die verbondsark gesit. En hy het ‘n pilaar as gedenksteen opgerig en gesê: “Kyk, hierdie klip sal ‘n getuie teen ons wees, want hy het al die woorde van die Here gehoor wat Hy met ons gespreek het; en hy sal ‘n getuie teen julle wees, sodat julle jul God nie verloën nie. Toe het Josua die volk laat gaan, elkeen na sy erfdeel toe.” PeP 503.3

Josua se werk vir Israel was afgehandel. Hy het “...volgehou om die Here te volg” en daar staan in die Boek van God geskryf: PeP 503.4

“Die kneg van die Here.” Die edelste getuienis van sy karakter as ‘n openbare leier, is die geskiedenis van die generasie wat onder sy leiding was: “Israel het die Here gedien al die dae van Josua en al die dae van die oudstes wat lank na Josua nog in die lewe was.” PeP 504.1