Loading…
Hoofstuk 56—Eli en Sy Seuns
(Hierdie hoofstuk berus op 1 Samuel 2:12-36) PeP 558.1
ELI was priester en regter oor Israel. Hy het die hoogste en mees verantwoordelikste posisie onder God se volk beklee. As ‘n man wat Goddelik vir die heilige pligte van die priesterskap gekies is en as die hoogste gesagsowerheid oor die land aangestel is, is daar na hom as voorbeeld opgekyk en hy het ‘n groot invloed oor die stamme van Israel uitgeoefen. Maar hoewel hy oor die volk aangestel is om te heers, het hy geen beheer oor sy eie huisgesin gehad nie. Eli was ‘n toegeeflike vader. Lief vir vrede en gemaksug, het hy nie sy gesag gehandhaaf om die bose gewoontes en hartstogte van sy kinders reg te stel nie. Eerder as om met hulle te twis of hulle te bestraf, het hy hom aan hulle wil onderwerp en hulle hul eie weg laat volg. In stede van die opvoeding van sy seuns as een van die mees belangrikste van sy verantwoordelikhede te beskou, het hy die saak as minder belangrik beskou. Die priester en regter van Israel is nie in die duister gelaat aangaande die beperkings en beheer wat oor die kinders wat God in sy sorg geplaas het, gehandhaaf moet word nie. Maar Eli het teruggedeins van sy plig, omdat dit sou beteken dat hy teen die wil van sy seuns sou moes optree en die nodigheid laat ontstaan het om hulle te straf en te weier. Sonder om die verskriklike gevolge wat op sy optrede sou volg te oorweeg, het hy aan sy kinders, in alles wat hulle begeer het toegegee en die werk om hulle toe te rus vir die diens van God en lewenspligte verwaarloos. PeP 558.2
God het van Abraham gesê: “Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis na hom bevel sou gee dat hulle die weg van die Here moet hou om geregtigheid en reg te doen.” (Genesis 18:19). Maar Eli het toegelaat dat sy kinders hom beheer. Die vader het onderdanig aan die kinders geword. Die vloek van oortreding was duidelik te sien in die verdorwenheid en boosheid wat die gedrag van sy seuns gekenmerk het. Hulle het geen behoorlike waardering vir die karakter van God of van die heiligheid van Sy wet gehad nie. Sy diens was vir hulle ‘n algemene saak. Van kindsbeen af was hulle gewoond aan die heiligdom en sy diens; maar in stede van meer eerbiedig te PeP 558.3
word, het hulle alle sin van die heiligheid en betekenis daarvan verloor. Die vader het nie hulle gebrek aan eerbied vir sy gesag en ook nie hulle disrespek vir die plegtige dienste van die heiligdom aangespreek nie; en toe hulle manlikheid bereik het, was hulle vol van die dodelike vrugte van skeptisisme en rebellie. PeP 559.1
Hoewel hulle heeltemal ongeskik vir die amp was, is hulle as priesters in die heiligdom geplaas om voor God te dien. Die Here het die mees noukeurigste voorskrifte gegee met betrekking tot die offerdiens; maar hierdie goddelose manne het hulle minagting van gesag op die diens van God oorgedra en hulle het geen aandag aan die wet van offergawes, wat op die mees plegtigste wyse moes geskied geskenk nie. Die offergawes, wat vooruit na die dood van Christus gewys het, is bedoel om geloof in die Verlosser in die harte van die mense te bewaar; daarom was dit van die uiterste belang dat die Here se voorskrifte hieroor ten strengste uitgevoer moes word. Die dankoffers was veral ‘n uitdrukking van danksegging teenoor God. In hierdie offerandes moes net die vet op die altaar verbrand word; ‘n sekere spesifieke gedeelte was vir die priesters gereserveer, maar die grootste deel is aan die een wat die offer gebring het teruggegee, wat deur hom en sy vriende in ‘n offerfees geëet moes word. So is alle harte in dankbaarheid en geloof op die groot Offer wat die sonde van die wêreld sou wegneem gerig. PeP 559.2
Die seuns van Eli, in stede van die plegtigheid van hierdie simboliese diens te besef, het slegs gedink hoe hulle dit vir hulle eie selfbevrediging kon aanwend. Nie tevrede met die deel van die dankoffers wat aan hulle toegesê is nie, het hulle ‘n addisionele porsie geëis; en die groot getal van hierdie offers wat by die jaarlikse feeste aangebied was, het aan die priesters ‘n geleentheid gebied om hulleself te verryk ten koste van die mense. Hulle het nie alleen aangedring op meer as wat hulle toekom nie, maar selfs geweier om te wag totdat die vet as ‘n offer aan God, uitgebrand het. Hulle het volgehou om aan te dring op watter deel hulle ook al behaag het en indien dit hulle geweier was, het hulle gedreig om dit met geweld af te neem. PeP 559.3
Hierdie oneerbiedigheid aan die kant van die priesters, het die diens spoedig van sy heilige betekenis beroof en die mense “...het die offer aan die Here verag.” Die groot anti-tipe van die Offer waarna hulle vooruitgesien het, is nie langer erken nie. PeP 559.4
Daarom “...was die sonde van die jongmanne baie groot voor die aangesig van die Here.” PeP 560.1
Hierdie ontroue priesters het ook die wet van God oortree en hulle heilige amp deur hulle veragtelike en verlagende praktyke onteer; nogtans het hulle volgehou om die tabernakel van God met hulle teenwoordigheid te besoedel. Baie van die mense, gevul met verontwaardiging oor die korrupte dade van Hofni en Pinehas, het opgehou om na die aangewese plek van aanbidding te kom. So is die diens wat God ingestel het, verag en verwaarloos omdat dit aan die sonde van goddelose mense gekoppel was, terwyl diegene wie se harte tot boosheid geneig het, in hulle sonde gesterk is. Goddeloosheid, losbandigheid en selfs afgodediens het onrusbarend toegeneem. PeP 560.2
Eli het ‘n grootliks gefouteer om toe te laat dat sy seuns in ‘n heilige amp bedien. Deur hulle optrede met een voorwendsel na die ander te verontskuldig, het hy blind vir hulle sondes geword; maar hulle het uiteindelik ‘n stadium bereik waar hy nie langer sy oë vir die misdaad van sy seuns kon verberg nie. Die mense het oor hulle dade van geweld gekla en die hoëpriester was gegrief en omgekrap. Hy kon nie waag om langer te swyg nie. Maar sy seuns is grootgemaak om aan niemand anders as hulleself te dink nie en nou het hulle vir niemand anders omgegee nie. Hulle het hulle vader se gegriefdheid raakgesien, maar hulle verharde harte is nie aangeraak nie. Hulle het sy flou bestraffings aangehoor, maar is nie daardeur beïndruk nie en het ook nie van hulle bose weë afgewyk nie, al is hulle teen die gevolge van hulle sondes gewaarsku. As Eli regverdig in sy optrede teenoor sy goddelose seuns was, sou hy hulle uit die priesterlike amp ontslaan en aan die doodstraf oorgelaat het. Vreesbevange om openbare skande en veroordeling oor hulle te bring, het hy hulle in die mees heilige posisies van vertroue behou. Hy het hulle steeds toegelaat om hulle verdorwenheid met die heilige diens van God te vermeng en die saak van waarheid skade aan te doen wat jare nie sou kon uitwis nie. Maar toe die regter van Israel sy plig versuim het, het God die saak in Sy eie hande geneem. PeP 560.3
“Daar het ‘n man van God by Eli gekom en vir hom gesê: So spreek die Here: Het Ek My nie duidelik geopenbaar aan die huis van jou vader toe hulle in Egipte in die huis van Farao was PeP 560.4
nie? En Ek het hom vir My as priester uitgekies uit al die stamme van Israel om op my altaar te klim om die reukwerk aan die brand te steek, om die skouerkleed te dra voor my aangesig; en Ek het aan die huis van jou vader al die vuuroffers van die kinders van Israel gegee. Waarom verag julle my slagoffer en my spysoffer wat Ek in my woning beveel het en eer jy jou seuns meer as vir My deur julle vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel? Daarom spreek die Here, die God van Israel: Ek het wel duidelik gesê: Jou huis en die huis van jou vader sal voor my aangesig wandel tot in ewigheid. Maar nou spreek die Here: Dit is ver van My; want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees ... Ek sal vir My ‘n getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is en Ek sal vir hom ‘n bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel.” PeP 561.1
God het Eli daarvan beskuldig dat hy sy seuns bo die Here vereer. Eli het toegelaat dat die offer wat God vir Israel tot seën beskik het ‘n gruwel word, eerder as om sy seuns openlik aan die skande van hulle goddelose en gruwelike dade bloot te stel. Diegene wat hulle eie neiging in blinde toegeneentheid vir hulle kinders volg, wat hulle toelaat om hulle selfsugtige begeertes te laat seëvier en nie die gesag van God om sondes te bestraf en die kwaad reg te stel uitoefen nie, toon daardeur dat hulle hul bose kinders meer as God vereer. Hulle is meer angstig om hulle goeie naam te beskerm as om God te verheerlik; meer begerig om hulle kinders te behaag as om die Here te behaag en om Sy diens van alle blyk van boosheid te bewaar. PeP 561.2
God het Eli as priester en regter van Israel, verantwoordelik vir die morele en godsdienstige stand van sy volk gehou en in ‘n spesiale sin, vir die karakter van sy seuns. Hy moes eers deur ligte maatreëls probeer het om die boosheid te beperk; maar as dit nie gebaat het nie, moes hy die boosheid op die strengste manier onderdruk het. Hy het die ontevredenheid van die Here op die hals gehaal deur nie die sonde te weerlê en reg aan die sondaar te laat geskied nie. Daar kon nie op hom vertrou word om Israel suiwer te hou nie. Diegene wat nie genoeg moed het om sonde te bestraf nie, of wat te traag of onverskillig is om ernstige pogings aan te wend om die familie of die kerk van God te reinig, word verantwoordelik gehou vir die kwaad wat op hulle pligsversuim mag volg. Ons word net so verantwoordelik gehou PeP 561.3
vir die euwels van ander wat ons, deur die uitoefening van ons ouerlike of herderlike gesag kon gekeer het, asof ons die misdade self bedryf het. PeP 562.1
Eli het nie sy huishouding bestuur volgens God se reëls vir gesinsregering nie. Hy het sy eie oordeel gevolg. Die liefdevolle vader het die gebreke en sondes van sy seuns in hulle kinderjare oor die hoof gesien en homself gevlei dat hulle uiteindelik hul bose neigings sou ontgroei. Baie begaan tans dieselfde fout. Hulle dink hulle weet van ‘n beter manier om hulle kinders groot te maak as wat God in Sy Woord gegee het. Hulle kweek verkeerde neigings in hulle en voer as verskoning aan: “Hulle is te jonk om gestraf te word. Wag totdat hulle ouer is en mens met hulle kan redeneer.” So word verkeerde gewoontes toegelaat om te verstewig totdat dit tweede natuur word. Die kinders word sonder selfbeheersing groot met karaktertrekke wat ‘n lewenslange vloek vir hulle is en moontlik in ander weergegee word. PeP 562.2
Daar is geen groter vloek wat op huisgesinne rus, as om kinders toe te laat om hulle eie sin te kry nie. Wanneer ouers gehoor gee aan elke begeerte van hulle kinders en hulle dinge toelaat wat hulle weet nie vir hulle goed is nie, verloor die kinders spoedig alle respek vir hulle ouers en alle agting vir die gesag van God of mens en word hulle ‘n gevangene van die wil van Satan. Die invloed van ‘n swak bestuurde huisgesin kring wyd uit en is rampspoedig vir die gemeenskap. Dit hoop op en word ‘n vloedgolf van boosheid wat huisgesinne, gemeenskappe en regerings affekteer. PeP 562.3
Weens Eli se amp was sy invloed groter en wyer as wat dit sou wees indien hy ‘n gewone persoon was. Sy gesinslewe is regdeur Israel nageboots. Die onheilspellende gevolge van sy nalatige, gemaksugtige lewenswyse is in duisende huise gesien wat deur sy voorbeeld gevorm is. As daar aan kinders in bose praktyke toegegee word, terwyl die ouers voorgee om godsdienstig te wees, word die waarheid van God verdag gemaak. Die beste toets van ‘n huis se Christelikheid is die tipe van karakter wat uit sy invloed gebore word. Dade spreek duideliker as die mees positiewe belydenis van godsaligheid. Indien belyers van godsdiens, in stede van ernstige, voortdurende en deurdagte pogings aan te wend om ‘n goed- PeP 562.4
geordende huishouding groot te maak as getuie van die voordele van geloof in God, nalatig in die beheer en toegewing aan die bose begeertes van hulle kinders is, doen hulle wat Eli gedoen het en bring skande oor die saak van Christus en vernietiging oor hulleself en hulle huishoudings. Maar so groot as wat die euwels van ouerlike onbetroubaarheid onder enige omstandighede is, is dit tienvoudig groter wanneer dit in die gesinne van diegene wat as leraars van die mense aangestel is, bestaan. Wanneer hulle misluk om hulle eie huisgesinne te beheer, mislei hulle baie deur hulle verkeerde voorbeeld. Hulle skuld is in verhouding, net so groot as wat die verantwoordelikheid van hulle posisie is. PeP 563.1
Die belofte is gemaak dat die huis van Aaron vir ewig voor die aangesig van God sou wandel; maar hierdie belofte is gemaak op voorwaarde dat hulle hulself met ‘n onverdeelde hart aan die werk van die heiligdom sal wy en God in al hulle weë sal eer en nie hulself behaag of hulle eie perverse neigings volg nie. Eli en sy seuns is getoets en die Here het hulle totaal onwaardig vir die verhewe amp van priesters in Sy diens bevind. En God het verklaar: “Dit is ver van My.” Hy kon nie die goeie wat Hy vir hulle bedoel het bereik nie, want hulle het nie hulle deel nagekom nie. PeP 563.2
Die voorbeeld van diegene wat in die heilige dinge bedien, moet van so ‘n aard te wees dat dit eerbied vir God en vrees om Hom te mishaag by mense inboesem. Wanneer mense wat “...as gesante om Christus wil...” (2 Korinthiërs 5:20) opstaan om God se boodskap van genade en versoening tot die volk te bring en hulle heilige roeping as ‘n kleed gebruik om hulle eie selfsugtige of wellustige bevrediging te bedek, stel hulle hulself tot beskikking as Satan se doeltreffendste werktuie. Soos Hofni en Pinehas, veroorsaak hulle dat mense “...die offer aan die Here verag.” Hulle kan hulle bose weë ‘n tyd lank in die geheim volhou, maar wanneer hulle ware aard ontbloot word, word die vertroue van mense so geskok, dat dit dikwels tot gevolg het dat hulle vertroue in godsdiens vernietig word. Hulle begin met wantroue neersien op almal wat beweer dat hulle verkondigers van God se Woord is. Die boodskap van Christus se opregte boodskapper word in twyfel getrek. Die vraag ontstaan voortdurend: “Sal hierdie man nie ook wees soos die een wat PeP 563.3
ons as so heilig beskou en so bedorwe bevind het nie?” So verloor die Woord van God sy invloed op die siele van mense. PeP 564.1
In die teregwysing van Eli teenoor sy seuns, is woorde van plegtige en angswekkende belang-woorde waarby almal wat in die heilige bediening staan, sal baat vind om te oorweeg: “As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as ‘n mens teen die Here sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree?” As hulle misdade slegs hulle medemense benadeel het, kon die regter versoening bewerk het deur ‘n boete op te lê en vergoeding te eis; en so kon die oortreders vergifnis ontvang het. Of as hulle nie skuldig was aan ‘n moedswillige sonde nie, kon daar vir hulle ‘n sondoffer gebied word, maar hulle sondes was so in die bediening van die sondoffer met hulle bediening as priesters van die Allerhoogste verweef, dat die werk van God so onteer en ontheilig voor die mense was, dat geen versoening vir hulle aanvaarbaar was nie. Hulle eie vader, hoewel hy ‘n hoëpriester was, kon dit nie waag om namens hulle in te tree nie; hy kon hulle nie beskerm teen die wraak van ‘n heilige God nie. Van alle sondaars was hulle die skuldigste, wat minagting gewerp het op die middele wat die Hemel vir die verlossing van die mens voorsien het en wat “...ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” (Hebreërs 6:6). PeP 564.2